Saturday, July 03, 2010

Haarstyle vertel die hele storie... Oor metal bands

Op ons eerste voldag in Nijmegen, hier in ons woonstel langs ‘n reuse park, is daar ‘n Metal Fees. Die name lees soos die inventaris van weggelegdes in ‘n tronk-begraafplaas.

Ek sit en wonder wat hierdie dag, vlak langs die poorte van die fees, vir ons sal oplewer. Ek wil-wil apokaliptiese verwagtinge koester. Maar niks in die soel rustigheid van hierdie omgewing gee enige suggestie van ‘n komende ondergang van die wêreld deur hierdie fees nie. Nêrens is ‘n weermag, of ‘n polisiemag of onluste-eenhede in sig nie.

Die prentjie is amper die teenoorgestelde: Vanoggend vroeg toe ek op die balkon die geparkeerde busse van die bands bekyk, staan ‘n ou langs die bus en kam sy hare asof hy op pad is om in ‘n ballet te gaan dans.

En die hare is lank – dit hang agter sy rug af. So lank, slap, reguit. Hy staan homself en bekam soos my susters op ouderdom 7 toe hulle gedink het hoe meer ‘n mens jou hare kam, hoe sagter en blinker en gesonder en onweerstaanbaarder sal dit wees.

Dit vang my oog, hierdie gekammery. En ek neem ‘n foto of drie.

Middag se kant kom die mense drupsgewys aan. En die klandisie kan jy op ‘n paar myl weg herken – selfs deur ‘n ignoramus van metal musiek soos ek. Die swart klere, baard, t-hemde met hul wilde prente. En hier en daar ‘n stewel of ‘n silwer skoen. Dis die kwaai manne hierdie.

Ons hoor die fees is van 12 uur die middag en sal strek tot 12 uur vanaand. Dit help nogal om te weet wanneer dit tot ‘n eind sal kom. Jy is voorbereid vir enige pyn omdat dit kort termyn is.

Ek sit later af om te gaan foto’s neem. ‘n Mens word in die park toegelaat, maar die area waar die bands optree is omhein. Ek loop al langs die heining, want ‘n mens kan oral insien en kry nogal ‘n idee wat aangaan. Langs my agter die omheining staan ‘n outjie wat ook deur die openinge loer. Hy vra my waarvandaan ek kom. Toe ek sê Suid-Afrika toe lag hy – “too much soccer, so you escape to Europe?” is sy terstondse reaksie. Hier is dit nou baie in om uit Suid-Afrika te kom. Ons is nou die middelpunt van die wêreld.

Maar op die stadium is ek meer geïnteresseerd in die fees. Ek neem foto’s en verkyk my. Dit is my eerste lewendige blootstelling aan metal musiek, laat staan nou maar ‘n metal fees.

Dit is Kreator wat aan die beurt is as ek foto’s neem– vertel iemand my. Hulle is ‘n Duitse Metal-band wat alles in hul vermoë doen om die skare aan die gang te kry en op te sweep. Die hoofsanger wat lyk of hy kole op ‘n stoomskip laai, is wild aan die sing. Langs hom staan twee ander bandlede wat behoorlik op hul kitare perform.

Elke keer as die sanger klaar gebulder is, laat sak die band hul koppe asof dit sementblokke is en ruk hulle koppe op so ‘n manier dat die lang hare heen en weer oor hulle gesigte waai, soos propellors. Dit is asof hulle beserk gaan. (Ek lees in Wikipedia: “Many metal musicians when performing live engage in headbanging, which involves rhythmically beating time with the head, often emphasized by long hair.” En, vind ek later uit, dit is nie sommer net vir jou kop ruk nie: “There are various styles of headbanging. Various styles are often mixed together according to taste and to the tempo and heaviness of the music. They can also be performed with eyes closed and/or in combination with hand gestures such as the sign of the horns. singing, yelling, and lip syncing. Headbangers' bodies usually bang with the head, reducing the strain on the neck and making the body move in a serpentine, up-and-down fashion to the music. There are a number of different stances a headbanger can adopt.”

Ek staan en verkyk my. Dit is nou die kinders van die sub-kultuur wat deur mense soos die berugte Black Sabbath verteenwoordig is. Hulle is die ikone van die anti-establishment beweging wat saam met die hippies begin het. Dit is nou die klein Metaltjies wat hier aan die gang is.

Vandaar blykbaar die lang hare. Want die drie van Kreator se hare is lank. En blinkskoon. En glansend blinkend. Dit lyk asof hulle kort voor hul optrede in hul luukse-busse nog gepoeier, gepaint en geblow-dry is.

Ek lees dat daar streng reëls vir Metal Bands geld. Enige een van hulle wat maar net ‘n bietjie van ‘n knikkie na die establishment se kant gee, oombliklik uit is. Die aanhangers is genadeloos. As jy Metal is, is jy teen. Dit is ‘n nuwe establishment in hierdie sub-kultuur.

Maar dit is daardie hare wat my gedagtes besig hou. Nie net daardie ou wat so sy hare gestaan en kam het soos my sustertjies destyds nie, maar ook die twee bandlede van Kreator wat hul lang hare oor hul gesigte gepropel het asof hulle in ‘n dik trance is.

Ek loop die volgende opmerking op wikipedia raak:

The heavy metal hair of the 80's and 90's symbolised the hate, angst and disenchantment of a generation that seemingly never felt at home. Like Samson their long hair provided them with the power they needed to rebel against nothing in general. They were a generation of absurdists without even knowing it; their attempts to find meaning in life inevitably led them to the belief that nothing was true or worth living for. Albert Camus famously talked of a “conscious revolt” against trying to dodge the absurdity of the universe and for the youth of the heavy metal era, their lifestyle, fashion and hair were all they could express their hopelessness through. Their “conscious revolt” has in a way resulted in unconscious stereotyping. Long hair on any man now is still associated with heavy metal and their “all is lost so why bother doing anything” attitude.

Simson het krag in sy hare gehad. Hierdie ouens het ook krag in hul lang hare, ontdek ek, maar om te wys dat hulle alles om hulle kragtig verwerp. Niks en dan ook niks maak sin nie, wys hulle al hare-kammende en al kop-swaaiende. “Alles is gemors. Waarom nou sukkel.”

Laat my dink aan prediker se “alles is vergeefs,” maar sonder die subtiliteit en die boeiende einde van Prediker.

Dis net dat hierdie Metal Bands op hierdie somer-aand in Nijmegen so vaal is. Deur die dag is daar die sangers wat hees met stemme van die dood wrede klanke uit hul kele probeer wurg. Die musiek is wild, polsend – tipies Metal. Die gitaarklanke is verwronge. Die klanke is bietjie heavy en donker. Maar die toneel bly vaal en verlep. Die hoofsanger van Kreator sukkel nie verniet om sy gehoor op te werk nie.

Dit lyk ook nie asof die skare baie opgepomp is nie. Elfuur is almal se stoom afgeblaas. Die mense begin om die pad vat. Dit is ‘n stroom van stilles wat koers kry van die fees af. Die show het toe maar so ‘n uurtjie vroeër opgehou.

Ek sien dit: Wanhoop kan nie inspireer nie.





In hierdie park (langs ons blyplek) sal die bees geslag word....




Die bands



Die bands se lorries staan al van vroegoggend af:




Die manne daag op:




Hare




Nog so bietjie hare regmaak:





Die gehoor gaan mal:




Hier is die manne nog aan die tokkel:





Die manne gaan toe mal:




Die manne hou aan mal gaan:




Die koolstoker:




Deur die dag, terwyl die lot hul fees in die park hou, het hierdie lugballon stil bo Nijmegen gesweef. Asof verhewe bo al ons menslike gebrousels...

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive