Friday, July 16, 2010

'n Boekvol genade. Bybelstudie oor Openbaring (5)

Openbaring 1:3: Geseënd is hy wat die woorde van die profesie lees, en die wat dit hoor en ter harte neem wat daarin geskrywe is, want die tyd is naby. Johannes, aan die sewe kerke in Asië. Genade vir julle en vrede.

Openbaring, ontdek ons sommer aan die begin, is ‘n boek wat die sleutel tot geluk hou.

Dit is ‘n boek wat “gelees” en “gehoor” word. Dit is woorde wat daarop wys dat die boek binne die byeenkomse van gelowiges geplaas word: mense gaan op ‘n Sondagoggend, die dag van die Here, as deel van die eredienste van die gelowiges sien hoe die boek oopgemaak en gelees word.

Sewe gemeentes sal daarna luister. En herhaaldelik weer daaraan aandag gee. Soos die ander boeke van die Bybel wat keer op keer beluister word, is hierdie ook ‘n “profesie” wat heilig is en in die versameling van die heiliges aangehoor word.

Die boek hoort in die liturgie, in die erediens. Daar waar mense bymekaar is rondom God se woord, lees en luister hulle ook hierdie woord. En neem hulle dit ter harte...

Deur dit in hierdie ruimte van die heiliges te plaas, kry die boek ‘n spesiale karakter. Dit word ‘n heilige boek.

Johannes het groot drome vir sy profesie. Hier, in sy boek, praat God met gelowiges in die plek van aanbidding. Daarom sou hy die boek ekstra versigtig skryf: hy het geweet mense gaan daarna luister en hy wou gehad het hulle moet dit goed verstaan.

Hoe versigtig hy is, merk ons selfs uit die manier waarop hy in hierdie inleidende opmerking oor sy eie boek praat. Hy doen dit as ‘n saligspreking: “Salig is hy wat lees en hulle wat hoor...” In Johannes se boek is sewe as simbool belangrik (seëls, trompette, bakke, engele). En hierdie saligspreking is een van sewe wat op belangrike plekke voorkom (sien ook Open.14:13; 16:15; 19:9; 20:6; 22:7, 14). As die eerste een van die klomp, is hierdie een spesiaal. Sewe keer, dus, wil Johannes met sy lesers oor geluk praat. En die eerste keer wil hy hulle daarop wys dat geluk in sy boek te vinde is.

Johannes het op ‘n dag sy visioene gehad. God het toe met hom die verborge dinge oor wat moet gebeur, gedeel. Nou skryf hy die visoene neer. Versigtig, nadenkend, beplannend bring hy sy boodskap na mense. Maar hy wil ook sorg dat dit reg ontvang word. Hy stel sy lesers in op wat vir hulle wag. Hulle ingesteldheid, weet hy goed, is deurslaggewend. As julle, skryf hy eintlik, hierdie boek optel, gaan dit om ‘n lewensbelangrike saak. Hy weet dat hulle sal besef dat hulle daarom met spesiale aandag moet luister.

Maar hoe verstaan ‘n mens die saligspreking inhoudelik?

Deur die saligspreking word die leser en die hoorder direk by die boek betrek. Die boek is nie sommer in die algemeen geskryf vir mense se vermaak nie. Dit is nie ‘n vryblywende boek nie. Dit gaan om ‘n boek wat ‘n verskil maak aan hulle wat dit lees en hoor. Die leser word by die teks ingetrek. Die boek met die profesie, met God se woorde, is ‘n transformatiewe boek. As ‘n mens daarmee te doen kry, sal dit jou lewe omkeer.

‘n Mens wat God hoor en fyn luister, sal nie onaangeraak kan bly nie.

Maar méér gebeur, want Johannes maak duidelik waartoe ‘n mens getransformeer word: die leser en die hoorder word getransformeer tot geluk. Hulle ervaar God se genade. Die hartseer, onsekerheid, vyandigheid en twyfel van die tye waarin hulle hul bevind, word deur die boek omgekeer. Daar is nie twyfel nie – hierdie profesie wil mense in God se sfeer van genade intrek. Wie sy hart aan God skenk, sal genade en vrede ontvang.

‘n Mens kan jou indink hoe mense in daardie eerste dienste hulle ore gespits het. Ons trane vloei, ons harte is stukkend, ons vra wanneer gaan God gehoor gee. En dan hoor ons op so ‘n somber Sondagoggend: gelukkig kan julle wees.... God is naby met ‘n boekvol genade.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive