Saturday, July 17, 2010

Hoe langer, hoe meer... Oor die groeiende verlange na die liefde.

Daar is in spiritualiteit ‘n fokus op die liefde. Daarom word Hooglied so dikwels in spiritualiteitstekste bespreek.

Maar eers ‘n opmerking: Hoe het die wetenskap ons tog reduserend geleer om Hooglied as ‘n boek oor huweliksseks te lees. Natuurlik gaan die boek ook oor die liggaamlike. En dit is ook waar dat die kerk dikwels pruim-suur was oor intieme liefdesake, asof dit maar ‘n bietjie sondig en vuil is. En dit kon inderdaad 'n rede wees waarom sommige mense Hooglied wou vergeestelik.

Maar dit is ook net so waar dat die kerk in sy groot stryd teen die gnostiek en die dosetisme steeds weer vasgehou het aan die belangrikheid van die liggaamlike. Die liggaam, as skepping van God, was vir gelowiges steeds weer heilig. Paulus het daarom die liggaam as tempel van God beskryf. In die liggaam kan ‘n mens God se heiligende teenwoordigheid ook ervaar.

Dit is goed wanneer ons die liggaamlike as ‘n gawe vier en geniet.

Maar ons moet nie ‘n kosbare skat verloor deur die interpretasie-geskiedenis van Hooglied as fout en dwaling af te skiet nie. Daar is hier ook ‘n baba in die badwater.

In die kerkgeskiedenis het Hooglied vir mense ‘n diepe geestelike betekenis aangeneem waarin veral die intimiteit van die mens en God na vore kom. En, al klink dit vir sommige na allegorie, is dit ‘n geestelike boodskap wat die toets van Bybelse denke deurstaan. Want wat latere Bybellesers doen, is om die geestelike boodskap van intimiteit wat dikwels in ander Bybelse tekste voorkom, met ‘n boek soos Hooglied oor liggaamlike intimiteit te koppel.

Paulus sou later die verhouding tussen Christus en gelowiges op ‘n mistieke manier in liggaamstaal beskryf: die kerk is die liggaam van Christus. En elke deel van die liggaam is onontbeerlik. Die geestelike intimiteit word in konkrete, liggaamlike kategorieë uitgebeeld.

Selfs al was Hooglied dus ‘n boek oor fisieke liefde, doen lesers niks ketters nie wanneer hulle die boek ook lees as ‘n loflied op die liefde tussen God en mens.

In die geskiedenis is Hooglied gedurig en deur baie bekende skrywers gelees as ‘n aanduiding van die liefde tussen God en die mens. Die bruidegom is Christus en die bruid is die kerk. Uit die verhouding met Christus vloei daar wysheid vir die gelowige mens. Gedurig staan die gelowige verwonderd oor Christus se wyse woorde. Die liefde raak die mens aan en transformeer hom of haar deurgrondiglik. Dit is ‘n lewenswysheid wat ‘n mens na liggaam en siel deurdring.

Dit is hierop dat die kerkvader Origines sterk fokus. In Hooglied, het hy byvoorbeeld gesê, word in metaforiese taal oor die liefde wat die mens tot verwonderding voor God bring, gepraat. Hooglied 2:5 sê: “Ek is siek van liefde” Of: “ek is verwond deur die liefde.” Hierdie teks herkou hy dan deeglik.

Ons lewe, mymer hy, is vol allerhande liefdes en begeertes na aardse dinge. Alles hierdie dinge wat ons andersins so lief het, skryf Origines, kan ons relativeer deur, in antwoord op God se liefde, ons liefde op God self te rig. Wie in die liefde leef, sal liefdevol optree. Ons kan al die dinge wat ons so maklik rondjaag en dryf, sublimeer en verhef deur dit in ons verhouding met God te integreer en te transendeer.

Hooglied vertel dus van hoe ons deur die goddelike liefde geïnspireer en deurtrek kan word. Ons begeer om in ‘n noue verhouding, so intiem soos in ‘n huwelik, met God as die hemelse bruidegom verenig te word.

Uit ons huwelik met Christus, die intieme verhouding met God, word ons as geestelike kinders gebore.

Ek lees verwonderd die volgende woorde van Origines:

“As daar enige iemand iewers is wat op enige stadium ‘n brandende liefde vir God se Woord gehad het sodat hy of sy dag en nag na God verlang en gesmag het, sodat hy of sy van niks anders as God kan praat nie, van niks anders as God wou hoor nie, en niks begeer, of verwag of hoop anders as God nie – as daar so iemand is, dan kan daardie mens werklik sê: “Ek is verwond deur die liefde.’” (Young).

Paulus, op sy manier, het ook gepraat van die liefde wat die allergrootste is.

Op die manier sien ons twee kante van God se liefde:

Aan die een kant is daar die liefde wat ons oorweldig, vul en ons lewe totaal transformeer. Dit is die liefde wat uit pure genade, oor niks, om geen rede nie, tot ons kom en aan ons weggegee word. Dit oorval ons, dit kom van buite ons, dit verras ons.

Aan die ander kant is daar die gedrewendheid na nog meer liefde, die groeiende verlange na dieper deel in God se liefde. Ons mense-hart trek ‘n punt na God. Die hart klop ontstuimig in ons van verlange na die Bruidegom. Dit behels ‘n soektog, inspanning, die greep na nog meer.

Ons geestelike lewe ossilleer tussen liefde ontvang en liefde gesoek.

Bybelse spiritualiteit is, soos Young dit stel, nooit finaal verkry nie, nooit self-tevrede en self-ingenome nie, nooit gemaklik nie. Dit is ‘n reis in voortdurende, vuriger, groeiende verlange....

Die Gees wat die genade in ons uitgestort het laat ons verlang na nog... En, vreemd genoeg, die verlange word immer net sterker.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive