Thursday, July 22, 2010

'n Lang, verslindende soen... Oor 'n goeie begin

Uit vanoggend se koerant kom hierdie wonderlike brokkie:

n Sin waarin ’n soen vergelyk word met die aaneenvoeging van ’n dors springhaasmuis en ’n reuse­bottel water, het ’n jaarlikse prys vir slegte skryfwerk gewen.

Molly Ringle van Seattle in Amerika is vanjaar die wenner van die Bulwer-Lytton-fiksiekompetisie.

In haar ­inskrywing vir die slegste begin vir ’n verbeelde roman, beskryf Ringle ’n lang, verslindende soen tussen twee minnaars soos volg: “Ricardo lapping and sucking at Felicity’s mouth as if she were a ­giant cage-mounted water bottle and he were the world’s thirstiest gerbil.”

Die kompetisie word ter ere van die 19de-eeuse skrywer ­Edward George Earl Bulwer-Lytton gehou.


Ricardo was waarskynlik 'n Taljaner gewees.

En ek geniet die "lang, verslindende soen" van die Afrikaanse berig. En ek kan my lag nie hou oor daardie dorstige sprinhaasmuis-beeld nie.

Ai, sulke soene.

En so lyk 'n verliefde springhaasmuis:





Die berig laat my weer besef: dit is nie die verhale wat belangrik is nie. Ook
hoe ons verhale vertel, is soms beslissend.

Die estetiese kant van ons spreke oor God, lees ek in die boek oor Godsbeelde met o.a. 'n bydrae deur Titus Brandsma, maak al die verskil. Dikwels is die probleem nie dat ons oor God praat nie, maar hoe ons oor God praat.

Juis daarom bedink ons versigtig die inhoude en vorme van ons taal oor God. Iemand se geestelike lewe kan deur die hoe van ons spreke oor God in 'n nuwe rigting gestuur word.

Dit verklaar waarom byvoorbeeld sulke eenvoudige, maar boeiende verhale oor die verlore seun, oor die barmhartige samaritaan, oor Paulus se Damaskus-ervaring (Lukas!) tydloos is. Dit is verhale met ryk inhoude wat beeldskoon vertel word. Ook weens hul vorm het hulle mense van alle tye geraak en verander.

Byvoorbeeld: wie vergeet ooit van die varkpeule, simbool van die volle, onvermydelike en neerdrukkende konsekwensies van 'n prodigale, uitspattige lewe? En, dit begrypende, hoe bly leef - tot in ons onderbewussyn - die uitbeelding van die pa wat sy prodigale, arrogante, verskeurde seun "van ver af" gesien en tegemoet gehardloop het en hom dan weer liefdevol en omhelsend, soos 'n egte pa, sy seun maak. Dit is woorde en beelde van God en mens wat nie deur alle ensiklopediee saam gekonnoteer kan word nie. En, dit is die beelde wat mense oor eeue heen bybly.


Ons verhaal oor God en oor God se teenwoordigheid in ons lewenskuns word nie sommer uit die mou gepluk nie. Dis nie sommer net vir preek maak of vir 'n gebedjie aframmel nie.

Dit is waarom ons steeds weer biddend bly wanneer ons gereed maak om God te hoor, en veral ook, om andere met deurdagte, versorgde taal en beelde te laat hoor hoe ons God ervaar.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive