Wednesday, September 08, 2010

Die rare dinge van God

Dikwels lees ons so maklik oor ‘n Bybelgedeelte sonder om te besef hoeveel rykdom in die fyner detail versteek is. Neem nou maar die volgende gedeelte oor Jesus se opstanding:


Johannes 20:4-8:
4 En die twee het saam gehardloop, en die ander dissipel het vooruit gehardloop, vinniger as Petrus, en eerste by die graf gekom.  5 En terwyl hy neerbuk, sien hy die doeke lê; maar hy het nie ingegaan nie. 6 Toe kom Simon Petrus agter hom aan en gaan in die graf en sien die doeke lê; 7 en die doek wat op sy hoof was, sien hy nie by die doeke lê nie, maar opgerol op een plek afsonderlik.  8 Daarop het ook die ander dissipel wat eerste by die graf gekom het, ingegaan, en hy het gesien en geglo. 9 Want hulle het nog nie die Skrif verstaan dat Hy uit die dode moes opstaan nie.


Johannes 20 is ‘n rare opstandingsverhaal: Maria vertel op die opstandingsoggend aan die dissipels wat sy by die graf ontdek het. Die dissipels hardloop na die graf om te gaan kyk. Maar die rare is nou dat die geliefde dissipel buk om in die graf te kyk, volgens hierdie hoofstuk en dan “die doeke” sien lê. Anders as in die ander evangelies sien hy en Petrus nie engele of ‘n leë graf nie, maar bloot “die doeke”. En as leser weet ons dadelik dat die lidwoord, die “die” beteken dit was die doeke waarin Jesus se lyk toegedraai was.


Petrus, anders as Johannes, gaan wel in die graf in en ook hy sien die doeke.



Watter rare verhaal tog: die een dissipel gaan nie in die graf nie, die ander een wel. Waarom is dit dan nou so uitsonderlik dat die volgorde van hul binnegaan in die graf  hier genoem moet word? Dit is al vreemd dat die Evangelis soveel klem op die motief van die “doeke” lê. En waarom gaan Petrus en Johannes nie albei in die graf in nie? Waarom wag Johannes eers buite?


Dikke boeke is hieroor geskryf en baie teorieë opgestel. Een daarvan lui dat Petrus die belangrikste apostel was en dus voorrang moes hê. Maar as dit so was, kom Petrus bedroë daarvan af. Want nie hy nie, maar Johannes, wat intussen ook in die graf gegaan het, het “gesien en geglo” – wat nie van Petrus gesê word nie.


Johannes, skryf Schneiders, se verhaal is heel versigtig ontwerp om op te bou na ‘n klimaks. En dit is juis hierdie klimaks wat ons totaal mis: Johannes gaan nie in die graf in nie en sien dus nie onmiddellik die hele toneel nie. Hy sien net “die doeke.” Petrus gaan in en sien die doeke, maar volgens vers 7 sien hy ook die gesigsdoek netjies opgerol “op een plek afsonderlik” lê.


Daarmee bou die spanning op. Die toneel word meer presies beskryf. Naas die doeke, trek iets heel spesiaals nou skielik ons aandag. Ons weet nou saam met Petrus dat die kopdoek van Jesus nie by die doeke is nie. Naas die doeke was daar die gesigsdoek, en dit is opgevou weg van die ander doeke neergesit.


Wat ‘n toneel! Jesus se gesigsdoek is netjies opgevou. En, tweedens, dit is eenkant neergesit. Dit vertel dat die doeke nie sommer net afgehaal is nie. Dit is met groot aandag afgehaal, opgelos en toe op ‘n spesiale plek gana sit.


Die leser voel al hoe meer betrek by die verhaal. Die leser wil weet: wat gaan hier met hierdie verhaal oor die doeke aan?


En dan begin die ontknoping van die verhaal: Johannes gaan in en wanneer hy die gesigsdoek sien, glo hy!


Maar Petrus begryp dit nie.


Jesus, wil hierdie uitsonderlike en rare opmerking sê, het vir sy dissipels ‘n teken gegee. Hy het geweet hulle sou in die graf gaan. En, het hy verder geweet, hulle sou die hoop doeke daar sien, maar hulle sou ook merk hoe netjies die gesigsdoek opgerol eenkant neergesit is.


Jesus gee dus ‘n teken – maar ‘n teken is iets wat dubbelsinnig kan wees, wat verstaan kan word (Johannes), maar ook nie verstaan kan word nie (Petrus).


Schneiders vra dus: wat het in Johannes se gedagtes omgegaan toe hy die doek gesien het? Wat het hom laat glo?


In Johannes 11:44 praat Johannes van dieselfde doek wanneer hy verwys na die doek wat Lasaarus se gesig in die graf bedek het. Maar Johannes sou ook gedink het aan die doek wat oor Moses se gesig was in Exodus 34:33-35. Die woord wat hy vir die gesigsdoek gebruik is juis dieselfde woord wat vir Moses se doek gebruik word.


Daardie verhaal in Exodus 34 is net so merkwaardig, want dit vertel van ‘n unieke gesigsdoek wat Moses gedra het:


Daarna het al die kinders van Israel nader gekom, en hy het hulle alles beveel wat die Here met hom gespreek het op die berg Sinai. 33 Toe Moses klaar met hulle gespreek het, het hy ’n sluier oor sy gesig getrek. 34 Maar as Moses voor die aangesig van die Here kom om met Hom te spreek, neem hy die sluier weg, totdat hy uitgaan. As hy dan uitgaan en aan die kinders van Israel meedeel wat hom beveel is, 35 sien die kinders van Israel die gesig van Moses, dat die vel van Moses se gesig blink; daarop trek Moses dan weer die sluier oor sy gesig, totdat hy ingaan om met Hom te spreek.


Die sluier is opgerol en weggeneem as Moses voor die aangesig van die Here verskyn het.


Jesus se gesigsdoek, die sluier is opgerol. Hy het in die teenwoordigheid van die Vader verskyn.


Maar meer nog: Moses se gesig het geblink van sy teenwoordigheid by God.  Hy het gedeel in die heerlikheid van God.


Jesus, daardie Sondagoggend, toe Hy die nuwe lewe ingegaan het, het die doek opgerol en eenkant neergesit, as ‘n teken aan sy dissipels dat hy die nuwe Moses is wat vir die kinders van Israel ‘n teken gee:  Dit is ‘n teken, het hy aan sy dissipels daarmee beduie, dat ek die heerlikheid van God binnegaan.


Nou is die vraag, skryf Schneiders, as dit die teken is, wat beteken dit nou vir die geloof van die dissipels? Wat glo Johannes dan nou as hy die graf ingaan en die opgrolde gesigsdoek sien?


Maar hierdie leesproses van ons waardeur ons skielik die betekenis van die doeke op ‘n nuwe en ander manier leer ken, laat my besef: ‘n Mens kan ‘n lang pad met God loop, maar tog dikwels dan, die tekens wat God op ‘n reis aan ons gee miskyk. In die proses ontsê ons onsself die geleentheid om die goddelike heerlikheid te kan ontdek.


Dikwels, dikwels loop ons op ons lewenspad deur die tye van verslaentheid en dan, op ‘n verborge manier, gebeur die rare: ons merk hoe God vir ons soveel onopmerklike tekens van die goddelike volheid gee. As ons maar net daardie opgerolde doek wat eenkant lê kan raaksien tussen al die lyksdoeke wat oor ons pad uitgestrooi is.....   Petrus, die vooraan dissipel, het so ‘n kans gemis. Johannes, daardie apostel van die liefde, het dit gesien – hy het besef hoe Jesus liefdevol die doek opgerol het en dit op die plekkie eenkant gaan neersit het, wetende dat die mens van liefde ‘n liefdevolle teken nie kan miskyk nie.

Wat glo ons? Oor God se rare, onopmerklike tekens (2)

Dit was, soos ek in gister se blog geskryf het, tog ‘n rare manier waarop die dissipels se ervaring van die leë graf beskryf is. Toe Johannes met die opstandingsoggend in die graf ingaan, het hy, soos Petrus, ook Jesus se opgerolde hoofdoek gesien. Volgens die teks het hy toe “geglo.” Die hoofdoek was dus vir hom ‘n teken wat hy verstaan het en wat hom tot geloof gebring het. Hy sou gedink het aan die sluier wat Moses weggeneem het as hy in die teenwoordigheid van God ingegaan het.


Maar wat het hy geglo?


Ons kry die antwoord deur te kyk hoe verstaan die Evangelie van Johannes die woord “geloof” wanneer dit so alleen en sonder enige verduideliking vermeld word. “Glo” beteken ‘n geestelike toestand waarin iemand ingestel is op Jesus en gereed is vir enige iets wat Jesus wil doen, skryf Schneiders. Geloof is totale afwagting op en gereedheid vir alles en enige iets wat Jesus doen.


Waar hierdie afwagting bestaan, word geloof spoedig met ryker inhoud ingevul. Kyk maar wat met Martha gebeur. In Johannes 11:25 sê Jesus aan Martha: “Ek is die opstanding en die lewe, wie in my glo sal lewe al het hy gesterwe.” Maar wat dit beteken word eers duidelik in Johannes 11:40 waar Jesus vir Martha by die graf van Lasarus gesê het: “Het ek nie vir julle gesê dat as julle glo julle die heerlikheid van God sal sien nie?” Martha het dus die inhoud van geloof eers ten volle verstaan met die opstanding van Lasarus. Sy was vol vertroue op Jesus, wetende dat Hy op sy tyd sou optree. Maar wat Hy wou doen, sou sy eers met verloop van tyd uitvind. En op die manier word sy uiteindelik gebring voor God se heerlikheid.


Dit is nou ook wat met Johannes in die graf gebeur. Johannes ontdek in die graf wat mense na Jesus se opstanding nog nie weet nie. Trouens, hier het ons nou ook die antwoord op Maria se vraag in die tuin aan Jesus toe sy gedink het Hy is die tuinier: Sê vir my waar hy is?” (Joh.20:15). Die antwoord is nou te vinde in die gesigsdoek: Jesus, die gekrusigde, is nie dood nie. Hy is nie in doeke toegedraai in ‘n graf nie. Hy is in die goddelike heerlikheid. In die graf besef Johannes by die aanskoue van die opgerolde gesigsdoek: Jesus het weggegaan en is by God in heerlikheid.


Dit word vir ons deur woorde van Jesus self uitgewys: Maria vertel in Johannes 20:17 wat Jesus vir haar gesê het: “Gaan vertel vir die broeders ek gaan na my Vader en julle Vader en my God en julle God.”


Nou verstaan ‘n mens meer waarom in Johannes Evangelie van die kruis Jesus se “verheerliking” is. (Hieroor het ek voorheen geblog). As Jesus aan die kruis “verhoog” word, beteken dit dat Hy na God opgevaar het. Hy het weggegaan om by die Vader te wees. Hy het soos Moses van ouds die gesigsdoek afgehaal wanneer Hy in die teenwoordigheid van God gegaan het. En dit behels sy bestaan in heerlikheid.


Jesus se dood is nie deformasie nie. Dit is transformasie tot ‘n goddelike bestaan. Johannes se geloof word gevul met die motief van heerlikheid. Hy herken Jesus se mag en stel hom oop vir wat Jesus nou sou doen.


Maar daar is iets diepers aan Jesus se weggaan na die Vader wat aan die dissipels eers later duidelik word. Hulle geloof word algaande nog verder verdiep en ryker. Die dieper betekenis word verder duidelik as Jesus aan sy dissipels verskyn en sy hande en voete aan hulle wys (bv Johannes 20:18). Sy opstanding en die afrol van die doeke is teselfdertyd Jesus se “terugkeer” na sy dissipels. Dit sou Johannes later ook weer erken. Hy sou besef dat Jesus wat by die Vader in heerlikheid is, kom terug na sy volgelinge. As sy dood vertel van sy heerlike intrede by God, vertel sy opstanding van sy troostende terugkeer na sy dissipels.


Ook hier is weer ‘n verdere transformasie: Jesus word nou op ‘n nuwe wyse weer deel van die lewe van sy dissipels. Geloof is nou gerig op die teruggekeerde Jesus.


Maar daar is nog iets meers: Jesus keer terug en bly by sy dissipels, maar maak hulle tot sy nuwe teenwoordigheid in die wêreld. Waar die dissipels is, daar is Jesus in hulle midde en maak Hy hulle nuut. Hulle word ook getransformeer tot ‘n nuwe bestaan. In die betekenisvolle vers (Johannes 20:22) blaas Jesus op hulle en gee hulle die Heilige Gees. Nog baie ander tekens, lees ons ook in Johannes 20:30 het Jesus in hul midde gedoen. Geloof word aldus geloof in die lewende teenwoordigheid van Jesus wat magtig in die midde van die dissipels aan die werk is. En dit werk radikaal omvormend in op die lewe van hulle wat Jesus lief het: Die gelowiges word nou die gemeenskap in wie Jesus in die wêreld op ‘n nuwe wyse teenwoordig is.


Geloof is ‘n proses: al hoe meer, in ons verlange na God, ons opsoek van die graf, in ons donker tye, word ons verras. En soos ons uit die verrassing, tastend in ons verlange om ‘n dieper verstaan van God, aangeraak word deur ‘n heerlike boodskap, kom ons maar weer tot immer nuwe ervaringe van die plek van die goddelike in ons wêreld. Op die manier verdiep ons geloof soos ons telkens nuwe dade van God raaksien en ervaar en in ons innerlike opneem. Ons word deel van ‘n mistieke proses.


En uiteindelik word hierdie soeke na God en die antwoorde van God so deel van ons bestaan, dat ons die gesig, die beeld van God aanneem. Dan word ons God se gesig in die wêreld. God se heerlikheid kom in ons woon en die lig daarvan begin deurskyn. Ander kan ons sien en hoor en beluister en ervaar en deur ons praat oor God nader kom aan die Verborge dinge. Geloof groei in ons en laat ons dieper wortelskiet in die werklikheid van die goddelike dinge. Die geestelike reis is vol trane, vrae en verlangens. Maar in al hierdie dinge is God besig om ons te verras en om ons te begelei tot volwassewording - as ons onsself maar net oopstel vir die werking van die Verborgene in ons lewe. 

Monday, September 06, 2010

Veelseggend....


Sandra Schneiders skryf in haar boek oor The Revelatory Text, Interpreting the New Testament as Sacred Text, die volgende veelseggende opmerking oor bybelwetenskaplikes wat nie maar net “objektief” na die Nuwe Testament kan kyk nie, maar die krag daarvan moet kan ervaar en meemaak:


“Many biblical scholars regard this kind of engagement with the text as non-scholarly devotionalism. In fact, experiencing the text as text is as integral to the work of biblical interpretation as hearing a Mozart symphony played in concert is integral to the work of the music critic or as seeing Hamlet in the theater is to the work of the literary scholar. It is assuredly not the whole of the scholarly work, but unless the critic’s work begins in appreciation and ends in appropriation it remains peculiarly sterile and lifeless. I would question whether someone who has never felt the religious power of the gospel text, no matter how learned her or his biblical scholarship might be and regardless of whether she or he actually comes to share the Christian faith, is competent for New Testament research.”

Sunday, September 05, 2010

Wanneer ons nie eers wil opkyk hemel toe nie.... Oor transformasie.

Lukas 18:9-14

“10 Twee mense het na die tempel toe gegaan om te bid. Die een was 'n Fariseër en die ander een 'n tollenaar.11 Die Fariseër het gaan staan en by homself so gebid: 'O God, ek dank U dat ek nie soos ander mense is nie: diewe, bedrieërs, egbrekers, en ook nie soos hierdie tollenaar nie.12 Ek vas twee keer in die week en ek gee 'n tiende van my hele inkomste.' 13 "Maar die tollenaar het daar ver bly staan en wou selfs nie na die hemel opkyk nie Hy het bedroef op sy bors geslaan en gesê: 'O God, wees my, sondaar, genadig.' Ek sê vir julle: Hierdie man, en nie die ander een nie, het huis toe gegaan as iemand wie se saak met God reg is. Elkeen wat hoogmoedig is, sal verneder word; en hy wat nederig is, sal verhoog word.”

Ons gesels vanaand oor hierdie gelykenis van die tollenaar terwyl ons in ‘n groep praat oor wat transformasie is. Spiritualiteit, het ons vir mekaar gesê, beteken dat ons “getransformeer,” “omvorm” word.

Maar transformasie is ‘n baie oop begrip wat op baie maniere verstaan kan word.

Frans praat toe byvoorbeeld oor die effek van transformasie op die mens se innerlike. Ek is geboei deur sy opmerking, want dit bring vir my ‘n ander element van transformasie na vore: wat gebeur met ‘n mens in jou innerlike as God jou aanraak en jou lewe begin draai.

Kan ons dit beskryf, vra Frans? Gaan dit so verskil van mens tot mens dat ‘n mens nie ‘n patroon van innerlike transformasie kan beskryf nie?

Ek voel daar is sekere basiese kenmerke van innerlike transformasie wat ‘n mens tog dalk in baie gevalle sal raaksien - al sal mense origens innerlik op vele maniere deur God omvorm word.

Kyk maar, vra ek vir Frans, na die gelykenis van die tollenaar. Wie hy is, kan ‘n mens aflei uit die gebed van die Fariseër: die tollenaar vas nie, gee nie sy tiende nie en leef nie die vroom lewe nie.

En kyk waar is hy as ons die gedeelte in Lukas 18 lees. Watter transformasie is daar tog in die teks: die tollenaar, berug vir sy lewe, staan voor God, bewus van sy eie skuld. Innerlik beteken transformasie dat hy tot diepe berou verander word. Hy bly ver staan en slaan bedroef op sy bors: uit hierdie liggaamstaal kan ‘n mens agterkom hierdie mens is so aangeraak dat hy as berouvolle mens teen sy bors slaan. Hy staan stukkend voor God. Hy durf nie eers sy oë na die hemel opslaan nie. ‘n Skandgevoel, skaamte en verlatenheid oorval hom. Hy is sondaar. Die argelose, kerklosse, onvroom mens staan voor God. Die een wat so vlugvoetig en astrant belastings ingevorder het en mense links en regs bedrieg het, is ‘n ander mens, daar waar hy agter in die tempel staan.

Ja, sê Huub, maar let nou op verder aspekte, kyk na die oratiewe moment in die gelykenis: as die tollenaar innerlik verslae en verslaan is, kom ‘n verdere element na vore. Hy verlang en roep na God. “O, God, wees my sondaar, genadig.” Sondebesef laat hom uitreik na God. Terwyl hy nie eers na die hemel durf opkyk nie, roep hy ten hemele. Hy word nog verder getransformeer tot ‘n soeker na God.

Maar dit is nog nie al nie. Die verhaal eindig met die hoogtepunt: Die man se saak met God is reg, eindig Jesus die gelykenis. God is by hom. Dit is die kontemplatiewe oomblik, die moment wat God in sy lewe kom en daarin woon.

Ek is verras deur Huub se vinnige en raak reaksie.

Slegte, astrant sondaars word omvorm tot soekers van God wat skuldig, biddend na God verlang, om dan op ‘n oomblik te ervaar hoe God in hulle lewens inkom. God nader tot mense wat ver van God staan. Dinge is totaal anders. Dinge sal nooit weer dieselfde wees nie.

Só keer God ons lewens om. Transformasie vind plaas daar waar ons nie wil waag om ons oë na die hemel op te slaan nie.

Saturday, September 04, 2010

Jesus is nie hier nie, tog is Jesus teenwoordig.... Oor geloof in die mistieke teenwoordigheid van God.

Johannes se Evangelie het die motief van die ewige lewe as ‘n goue draad wat in die tekstuur van die teks ingeweef is:  Die bekende Johannes 3:16 verwys byvoorbeeld na die Menseseun wat verhoog word sodat elkeen wat in Hom glo, die ewige lewe kan hê. (Sien ook 3:36; 5:24, 26, 29, 40; 6:33, 35, 48, 51, 53, 54, ens).

Die berig oor Lasarus se dood in Johannes 11 is ‘n sleutel-teks as ‘n mens oor die ewige lewe wil dink. Wanneer Jesus Lasarus uit die dood opwerk, gebeur dit in die konteks van Jesus se eie dood – sy teenstanders wil Hom doodmaak. Johannes 11:8 vertel dat die Jode Jesus wil stenig en Johannes 11:53 merk op dat hulle sedert Lasarus se dood “vasbeslote” was om Jesus dood te maak. Johannes wil dus sê: alles wat ‘n mens in jou bestaan as gelowige oor die dood ervaar, moet ‘n mens in die konteks van geloof in Jesus bekyk. Jesus, Self die Een wat in die dood moes gaan, kan daarom vir die gelowige ‘n totaal ander perspektief op die dood gee. Geloof werp lig op ons ervaring van die dood, transformeer ons ervaring daarvan. Terselfdertyd hou geloof rekening met die werklikheid van ons ervaring van die dood. Om te glo, beteken nie dat ‘n mens die dood ontken nie. Die dood is ‘n harde werklikheid (Joh.11:14) – dit is iets wat ‘n mens vierkantig in die oë moet kyk.

Ons menslike bestaan staan in die teken van die dood, wil Johannes eintlik vir ons vertel.  Dit konfronteer ons met allerhande vrae: Veral vir mense wat uit geloof lewe, is die dood ‘n groot raaisel. God het tog die mag, dink hulle. Jesus genees dan selfs die blindes. Saam met die Jode by Lasarus se graf, vra gelowiges van alle tye: “Kon hy wat die oë van die blinde man genees het, nie ook gemaak het dat hierdie man nie sterwe nie?”

In hierdie konteks van mooddadigheid kom Jesus met die sagte woorde oor die ewige lewe.  ‘n Mens, sê Hy ten minste twee keer in Johannes 11:4 en 40 moet die dood van Lasarus sien as ‘n geleentheid waartydens God se mag bekend kan raak. Lasarus se siekte loop nie op die dood uit nie, maar op God se wonderdade (vers 4). Mense soos Maria sal deur die dood van Lasarus tot geloof kom. Dus: as die dood ‘n verskriklike werklikheid in gelowiges se lewens is, het die dood nie meer die finale mag nie. Ons moet hier onthou: mense het gedink hulle kan Jesus aan die kruis dood maak. Maar die kruis was uiteindelik die plek waar God se heerlikheid en mag geopenbaar is.

Nou hiermee verbonde is die motief van afstand tussen Jesus en gelowiges: Jesus is geskei van Martha, Maria en Lasarus. Daar is afstand, distansie. Maar tog, skryf Johannes, weet Jesus alles (bv Joh.11:11!). Al is hy nie daar nie, is hy daar! Lasarus se verhaal is bedoel om gelowiges te herinner dat afstand nie afwesigheid beteken nie. Selfs wanneer ‘n mens die dood ervaar, is ‘n mens nie sonder Jesus se teenwoordigheid nie. Selfs al sterwe ‘n mens, leef jy. Wie lewe en in Jesus glo, sterf nooit nie! Vandaar Johannes 11:25 – een van die mees mistieke woorde ooit geuiter: “Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo, sal lewe, al sterwe hy of sy ook. En elkeen wat lewe en in My glo, sal in alle ewigheid nooit sterwe nie.” 

Teen hierdie agtergrond verstaan ‘n mens hoe diep Marta se opmerking in Johannes 11:21:22 is. Sy druk daarmee haar geloof uit: Aan die een kant sê sy: “Here, as U hier was, sou my broer nie gesterwe het nie.” Maar onmiddellik voeg sy by: “Maar selfs nou weet ek dat God vir U alles sal gee wat U van Hom vra.”

Maar nog mooier is Martha se reaksie op Jesus se mistieke woord dat Hy die osptanding en die lewe is. Jesus vra haar: “Glo jy dit?” Sy antwoord: “Ja, Here. Ek glo vas dat U die Christus is, die Seun van God, die Een wat na die wêreld toe moes kom.” Om dit te kan waardeer, moet 'n mens haar maar net vir 'n oomblik met Tomas vergelyk.

Kyk net hoe skuif die vertelling hier in Marta se belydenis: Dit gaan in die teks nie meer oor Lasarus se dood, oor die ewige lewe nie, maar oor Marta en Jesus. “Glo jy dit” vra Jesus vir Marta. Wat doen jy hiermee? En Marta se reaksie het net een fokus: “Ja, Here, ek glo vas dat U die Gesalfde is wat na die wêreld moes kom.” Ek en U, U en die wêreld. Ons intieme band is wat God wil vasknoop, leer ons hieruit. Ons ontdek: Al is Lasarus dood, is U op pad na hom toe. Al treur ons oor die dood van ons beminde broer, kom U na ons toe. Al is U nie by ons nie, is U na ons op reis, op pad na die wêreld toe. 

Geloof is die begin van hierdie episode. Maar dit is ook die goue draad in die verloop van die episode. En dit is uiteindelik ook die uiteinde van alles wat gebeur. Geloof in Jesus as die een in wie God magtig aan die werk is – ook in sy stryd teen die dood. 

Jesus is die toonbeeld van die gelowige vashou aan God: As Lasarus opgestaan het, is daar die oratiewe moment (Joh.11;41). Dan kyk die Seun op, bid tot sy Vader en loof Hom vir die gebedsverhoring – want, mense wat hierdie oomblikke ervaar het, sal weet: God is dit wat die magtige daad gedoen het. En, vertel Johannes 11:45: Baie van die omstanders het geglo. 

Die hoofstuk, soos Schneiders tereg skryf, eindig taamlik stomp. Hoekom, wonder ons, hoor ons niks van Lasarus nie? Jesus praat nie eers met hom nie. Hy sê net vir almal hulle moet die doodsklere van hom afhaal dat hy kan huis toe gaan! Duidelik wil Johannes dus nie eintlik die verhaal vertel van Lasarus se opstanding uit die dood nie, maar eerder wil hy skryf oor geloof wat moet bly vashou aan Jesus se teenwoordigheid onder ons, ook in tye van rou en sterwe. Geloof laat hom nie deur oenskynlike "werklikhede" oorrompel nie.

Maar dit is nie die rede waarom ek graag hierdie verhaal van my wou skryf nie. Die eintlike rede is die boeiende manier waarop Maria aan die orde kom: Marta, die stoere gelowige, wat twyfel, maar tog so “vas” glo, gaan na haar geloofbelydenis die huis in en sê “saggies” vir haar suster Maria, “Ons Leermeester is hier, en Hy roep jou” (Joh.11:28), wat Maria dan, volgens vrers 31”vinnig” doen.

Maria kniel by Jesus se voete en sê dieselfde woorde as haar suster: “Here, as U hier was, sou my broer nie gesterf het nie” (Joh.11:32). Dit is dan dat Jesus vir Lasarus uit die graf roep, sonder om met haar, soos by Marta, ‘n hele gesprek daaroor te voer. Want, lees ons, Jesus is oorweldig deur Maria se smart - soos die teks ons twee keer vertel. In vers 33 word gesê dat sy gemoed vol geskiet het en in vers 35 dat hy gehuil het.

Die rou oorweldig nie net vir Maria nie. Die Seun se trane, skryf Schneiders, is Jesus se egte meelewing in Maria se gebrokenheid. In sy mees menslike oomblik in Johannes Evangelie waarin hy so dikwels as die heerlike Seun van God is beskryf word, wys Jesus hoe Hy as mens pyn ly in die aangesig van die dood. Die dood is verskriklik, sien ons by hom. Dit bring onuitstaanbare pyn.

Geloof, skryf Schneiders, het niks met wanhoop te doen nie, maar is geen vreemdeling aan trane nie.

Maria versinnebeeld vir ons die storms wat geloof moet trotseer. Keiharde lewensstorms. Daar is nie kort paaie vir die geloof nie. Wie glo, staan met albei voete geplant in 'n barre aarde. 


Dit sou nie die laaste keer wees dat die dood vir Jesus met pyn geslaan het nie. Net enkele verse verder, in Johannes 12:27 praat Jesus oor sy eie dood en sê: “Nou is ek diep onsteld. En wat moet ek sê: ‘Vader red my uit hierdie uur?’ Maar juis daarvoor het Ek gekom, vir hierdie uur. Vader verheerlik u Naam!” En op hierdie laaste gebed, op hierdie oratiewe oomblik, volg die kontemplasie: “Toe het daar ‘n stem uit die hemel gekom: ‘Ek het my Naam verheerlik’ (!), en ek sal dit weer verheerlk.’”

Martha en Maria, gekonfronteer met die werklikheid van die dood, oorweldig deur vrae en deur rou, kyk na die Leermeester en sien in Hom die groter mag as die mag van die dood. Gelowig hou hulle vas aan Jesus as die Een wat in hul dorp en huis kom wys wie God is. Maar terselfdertyd beleef hulle die verborge ervaring dat hierdie goddelike Seun volkome deel word van hul menslike bestaan soos dit terugsteier voor die dood.  Hy, besef hulle, is by hulle – nie net as die Een wat die dood oorwin nie, maar net so belangrik as die Een wat hul pyn begryp en – ook deel.

Friday, September 03, 2010

Al lesende, al horende, word ‘n mens meegesleur in die peillose diepte van God se liefdeskrag

Die liefde, dink ons dikwels, bly maar ‘n onverstaanbare saak. Elke dag weer kom daar soveel gevalle oor ‘n mens se pad dat ‘n mens hiermee gekonfronteer word. “Net sy ma kan hom liefhê”, sê ons soms van iemand. Dieselfde gevoel word uitgedruk met die idioom, “Die liefde is blind.”

Dikwels staan ons dus verwonderd oor die “irrasionaliteit” van die liefde.

 ‘n Mens kan op ‘n soortgelyke manier ook die mistieke liefdesverhouding met God nie peil nie. Hoe kan ons dit verstaan? Neem maar die gelykenis van die verlore seun. Hoe kan ‘n pa sy getroue ouer seun, wat waarskynlik die hoofseun van sy skool en die voorsitter van die A.C.S.V. was, verkwalik omdat hy dikvies is dat sy verkwister-broer druipstert by die huis aankom? Hoe verstaan ‘n mens dit dat die pa nie die seun eers ‘n lang tyd laat werk het vir die verkwiste erfdeel nie?

Sulke liefde, wat so eenvoudig vertel word en so eenvoudig bloot net uitgeleef word, lyk vir ‘n mens na onsin. Daar is sekerlik genoeg rede, dink ons, vir die oudste broer om morrend in die donker te gaan staan met baie dik lippe oor die partytjie wat in die huis aan die gang is. Maar aan die ander kant, is daar juis daarom in die liefde van die Vader ‘n verborgenheid wat besonder aantreklik is.

Lukas vertel hierdie gelykenis saam met so baie ander verhale waarin Jesus se ongekompliseerde liefde vir die sleg mense van die lewe so eenvoudig uitgebeeld word. En hy skilder eenvoudig hierdie liefde langs die hatigheid van die godsdienstiges in Jesus se tyd wat sekerlik gedink het dit is ‘n goedkoop liefde. Lukas vertel dus die Jesus-verhaal liefdevol, duidelik onder die indruk van die manier waarop Jesus verby alle konvensies ‘n nuwe liefdesideaal uitspel. Lukas probeer nie daaroor preek, dit in ‘n teologie uitpluis nie. Jesus leef in sy oorvertelling eenvoudig hierdie mistieke liefde uit.

En kyk nou na die teendeel, die response in liefde op die goddelike liefde: Die dissipels herken Jesus se liefdesboodskap. Hulle offer in reaksie daarop eintlik alles op – huis, vrou, kinders en familie. Hulle moet in rowwe omstandighede vir Jesus volg waar Hy ook al gaan. Soms kry ons ‘n insig in hoe hulle hieroor nadink. Petrus vertel vir Jesus alles wat mense oor Hom sê. En net dan moet Petrus hoor hoe satanies hy in sy denke is. En hierin word hy die simbool van ‘n menslike reaksie – juis wanneer ons nadink oor die mistieke verhouding met God, kan ons maklik begin dink dat ons dit verstaan, begryp en onder beheer het.

Liefde word nie beheer of uitgepluis nie. Die mistieke weg van die dissipels vertel hoe hulle herhaaldelik te kort skiet in hul liefdesverhouding met God. Selfs na die opstanding, toe hulle dinge oor Jesus al mooi begin uitpluis het, moet hulle byvoorbeeld nog ontdek dat hulle liefdeloos is teenoor mense wat nie in hulle kraal pas nie.

Ons moet nie te maklik oor die mistieke weg van die liefde praat nie. Dit is ‘n krag wat ons nie in taal kan vasvat nie.

Daar is geen ander saak waarin ons so verskriklik verkeerd kan wees as oor die liefde nie, skryf Blommestijn en Maas. ‘n Mens dink soms jy het iemand werklik lief en sal alles vir daardie persoon opoffer. Alles wat jy het wil jy aan hom of haar gee. Onselfsugtigheid is dan ‘n woord wat oor en oor in jou gedagtes opkom. Dink maar aan die romantiese liedjies waarin geliefdes vertel hoe hulle vir mekaar sal sterwe as dit moet. Maar sulke taal is dikwels vol illusies, want net die volgende dag of week, as die ander een ‘n mens teleurstel, maar net ‘n skewe woord sê, is die onselfsugtige liefde onder druk. ‘n Mens het die ander een lief, sal ‘n mens eerlik moet erken, solank as wat daardie ander een ons ook lief het en aan my behoeftes voldoen. Agter ons liefde skuil daar baie subtiele voorwaardes in die vorm van jaloesie, magsgrepe en selfsugtigheid.

Ons moet dus nie te maklik probeer om liefde te ontsyfer nie. Dit is ‘n merkwaardige krag, maar met ons magsgrepe kan ons die krag daarvan dikwels verloën.

Wat nou gemaak? Terwyl ons die liefde nie kan uitpluis of beheer nie, kan ons wel in die liefde leef en daaroor praat. Ons begryp God nie net deur ons verstand nie. Deur God lief te hê, ontdek ons wie God is. Maar altyd moet ons weet hoe feilbaar en aarselend ons in ons liefde vir God is. Ons werk met die harde realiteit van wie ons is en die kwaad wat ons aan die liefde doen. Ons weet ook hoe ons met al ons gepraat ‘n houvas op die liefde wil kry, terwyl dit elke keer iets mistieks is wat alles wat ons dink en doen en weet te bowe gaan.

Ek lees hieroor ‘n baie wyse woord: gou-gou is ons om uit te wys hoe ander eintlik maar baie selfsugtig is. Uitgevang, dink ons, het ons vir al die wat hoog opgee oor hul liefderike lewe. So liefdevol, spog hulle, maar eintlik is hulle so ontrou aan die liefde..... 

Die mistieke mens sal nie maklik hieroor vinger vir ander wys nie. Die liefde val nie sommer uit die lug nie, besef ‘n mens. Juis omdat ons so swak en feilbaar in die liefde is, moet ons nie ophou liefdestaal praat nie. Hoe meer ons oor die liefde praat, hoe meer word ons ingetrek in die groot proses van groei in die liefde. Juis omdat ons so feilbaar en swak is, presies omdat ons werklikheid so subtiel die liefde kan ondergrawe, moet ons meer en meer met liefdestaal volhou. Die taal van die liefde mag nooit stil raak nie...

Om te skryf en te praat oor die liefde bring die liefde weer en weer aan die gang.

Dit is op hierdie punt dat ‘n mens ‘n beslissende insig moet onderstreep. Want die mistagoog, die prediker en die pastor skep elke week en dag weer “mistieke tekste” wat ander mense “lees” en “ervaar.” Selfs ons gewone gesprekke is “tekste” van die liefde.

Dit is nou belangrik hoe hierdie “tekse” lyk.

‘n Mistieke teks wil nie verwyt nie en wil ook nie vinger wys. Dit wil juis die liefde bly skep in die besef van hoe bedreigd die liefde is. ‘n Mistieke teks wil steeds weer onderstreep dat ons in die leerskool van die liefde is. Daarom skryf en praat en preek ons juis om die liefde weer op gang te bring.

Ons leer gedurig meer van die liefde. Juis omdat ons dit nie beheer nie.

Dit moet ons nou nie misverstaan nie. Ons skryf nie ‘n “teks” en dan sal mense dit lees en dan sal mense die liefde leer ken of ontdek nie.

Die preek wat ons maak, die mistagogiese proses, die boek wat ons skryf is ‘n boek wat in liefde geskryf word. Wanneer ‘n mens dus jou woorde kies, is dit liefdeswoorde wat ‘n mens uitsoek. Wanneer ‘n mens nadink oor hoe jy gaan skryf, dan skryf jy om steeds weer die liefde te laat hoor. Dit wat ‘n mens preek en skryf, moet die leser lei en bring tot ‘n liefdevolle gehegtheid aan Ander.

Wat ‘n mens só skryf, moet egter voltooiing vind wanneer die leser dit lees en dieper in die liefde ingelei word. Daarom, as ‘n mens ‘n teks optel, die Bybelse woord neem een oopmaak, doen ‘n mens dit gedryf deur ‘n verlange na die liefde. Die lees van die Bybel, die hoor van ‘n preek is ‘n liefdevolle praktyk van lees en hoor, skryf Blommestijn en Maas.

Ek sit bietjie terug om hieroor te dink en weer eens te besef hoe ver ons teorie van die praktyk af verwyderd is: Is dit hoe ons vandag tekste lees? Is dit hoe ons na preke luister? (Al die vingers....)

Blommestijn en Maas skryf: Al lesende, al horende, word ‘n mens deur die mistieke teks meegesleur in die peillose diepte van God se liefdeskrag wat ‘n mens in die kern van jou bestaan as mens aanraak en omvorm.

Dit ‘n reusagtige mondvol.

Is dit hoe ons Bybellees? Is die preek wat ons maak só gemaak dat dit die hoorder sal meesleur in die peillose diepte van God se liefdeskrag?

Waar dit gebeur, waar iemand meegesleur word deur goddelike liefde, sal die persoon die teks van binne-uit verstaan. En as iemand die teks vanuit sy hart verstaan, deur ‘n preek in sy hart vasgegryp word, word die persoon opnuut in die liefde ingetrek. Hierdie keer ‘n bietjie dieper. So word ‘n mens in die leerskool van die liefde opgeneem. Hier word ‘n mens daarop ingestel om verder te gaan op die liefdespad, beter lief te hê, onselfsugtiger te bemin.

As die liefde faal, praat ‘n mens liefde.

As ek dink aan al die gepraat oor God se mistieke liefde wat nie in liefde gebore word nie, wat nie deurdrenk is van die liefde nie en wat nie die liefde bewerk nie, word dit duidelik dat die leerproses wat ons moet ondergaan, nie sommer oornag verby is nie. Dit is ‘n eindelose proses. Gedurig moet die pastor nog dieper in die liefde geanker word om in liefde te kan praat. Intenser moet die mistagoog self in die liefde woon, om die woordeskat en taal van die liefde te kan inspan.


Treurig skryf Blommestijn en Maas dat die mistikus telkens weer besef dat ons in ‘n leerproses by die eerste beginsels van die liefde bly vassteek. Dit is die menslike kant. Dan kom God tot ons in ‘n liefdesaanraking. Ons word opgeneem in die liefde, om dan weer te moet ontdek hoe ons faal daarin. Totdat God ons weer kom haal...  En so groei die verhouding met God steeds weer dieper en dieper.

‘n Mens kan nooit genoeg in die liefde wees nie.

Thursday, September 02, 2010

Wanneer woorde 'n mens nie koud laat nie. Oor die gloed van mistieke taal.

Saans oor die televisie verskyn daar tydens die nuusbulletin die een stuk informasie na die ander op die skerm.  ‘n Mens sien die weerberig se inligting oor sonskyn in Durban of jy lees hoeveel die randwaarde van die dollar is of jy kyk na die beweging van die aandele-mark. Deur al hierdie inligting word daar vir jou insig gegee in werklikhede. Jy neem kennis daarvan. Jy hoor dit. Dit laat jou miskien die volgende dag ‘n oproep maak om ‘n aandeel te verkoop of ‘n uitstappie te kanselleer, maar vir die res neem jy kennis.

Hier gebeur wat ons almal so bietjie weet: taal verwys na dinge. Dan het ons taal aan die een kant en die werklikheid aan die ander kant.

Mistieke taal praat nie só oor God nie. Dit is nie taal wat vir ons mooi verstaanbaar uitlê wie God is en wat God alles doen nie. Só asof ons daardeur kennis neem van ‘n goddelike werklikheid nie. Mistieke taal wil ook nie nie net bloot vertel watter spesiale goddelike ervaring iemand gehad het nie, asof dit so netjie en mooi uitgespel kan word nie.

Die rede is duidelik: Mistieke taal praat oor ‘n ervaring wat nie regtig in woorde uitgedruk kan word nie. Dit spreek oor ‘n mistieke aanraking van God wat buite die verstand om plaasvind en dan daarna, in die proses van oorvertel, in verstand-taal gekommunikeer moet word. Mistiek taal probeer praat oor iets wat verby taal bestaan.

Paulus het dit op sy onvergeetlike, maar boeiend-mistieke manier in Romeine 8:26 gesê: “Die Gees staan ons ook in ons swakheid by: ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie, maar die Gees self pleit vir ons met die versugtinge wat nie met woorde gesê kan word nie.”

Watter teks! Die self-inskatting kan nouliks duideliker: ons is swak. Ons weet nie hoe om te bid nie. Ons praat faal ons. En dan die verborgenheid: tog kan dit. Alles wat ons nie in woorde kan vertel nie, kan God! Wanneer die Gees pleit, pleit Hy met versugtinge wat nie met woorde gesê kan word nie!

Dit kan nie. Maar tog kan dit.

Dus het ons hierdie verborgenheid. Maar daar is meer. Mistieke taal laat self iets gebeur. Dit kan niks “verduidelik” nie. Dit vertel eerder van ‘n goddelike teenwoordigheid wat steeds aan die werk is. Wanneer ‘n mistikus praat oor ‘n onpeilbare mistieke gebeurtenis het dit self ‘n mistieke uitwerking. Mistieke taal vertel van die mistieke dinge, dit wil nie die mistieke ervaring uitlê of verklaar nie. Die mistieke taal gloei van liefde, van verwondering, van die vuur van God (Jesaja 6!). En die gloed wat in die taal skuil, verteer die luisteraar en die leser. Wie die mistieke woorde hoor, word deur die menslike taal ingetrek in ‘n werklikheid verby alle taal en alle rasionaliteit en daardeur aangeraak. Mistieke taal wil vir ons vertel van ‘n mistikus wat ingetrek word in ‘n allesverterende liefdesverhouding met God. En wie goed hoor op die woorde van die mistieke mens voel die gloed van daardie verhouding deurwerk in hom- of haarself. Op die manier word die menslike woorde van die mistieke mens die goddelike liefdeswoorde van die God van liefde. Taal en werklikheid vloei in mekaar in. Taal vertel nie koudweg oor wat iemand intens beleef het nie. Taal brand so met die gloed van die gebeure dat dit gloeiende gebeurtenisse tot stand bring.

Ons ervaar dit soms: iemand kan só oor God praat, oor hoe God in haar of sy lewe werk, dat daar in ons, die luisteraar, iets breek en iets gebeur. Ons hardheid en sinisme oor hierdie wêreld met sy geslote, afgeronde karakter waar God maar net die som-totaal van mooi insigte en goeie waardes is, breek stukkend. Dan ervaar ons deur ‘n mistieke woord dat agter ons “realiteite,” al ons “feite”-kennis en wetenskap iets dieper verborge is wat ‘n paradoksale en ondermynende uitwerking het. Ons besef met ‘n angstige skok dat ons harde sinisme fout was en ons onsself in ‘n tronk van donker kennis opgesluit gehou het. Ons besef daar is Iets of Iemand meer aan ons lewe. En dan laat die mistieke woord ons deel word van ‘n mistieke weg waarin ons vra: maar Wie is dit dan wat so verskuild woon agter die mure wat ons om ons opgebou het? Waarom wil ons die muur weg kry, by daardie Iemand uitkom? Hoekom hoor en lok ‘n liefdestem, waarvoor ons voorheen so doof was, ons so onstuitbaar soos ‘n kers vir ‘n mot? Dit mistieke woord van die mistikus, stamelend uitgedruk in vreemde mensetaal, keer ons lewe om en neem ons nou op ‘n nuwe lewenstog na die einde om by hierdie God van liefde te wees.

Die taal skep ‘n nuwe werklikheid waarin al ons ou sekerhede verdwyn. Al ons slim woorde van voorheen, al ons netjies geformuleerde kennis waardeur ons grepe op ons omgewing uitgeoefen het en alle so fyn beheer het, klink skielik vir ons flou, selfs lasterlik. Ons vlug daarvan weg, ons wil in die woorde van die verborge dinge gaan rus – ons jaag daarna. En aldus gaan ons die toekoms in, maar nooit sonder die mistieke woorde nie. Daar begin alles maar daar eindig alles ook. Hierdie verknogtheid aan die mensewoorde is ‘n konstante herinnering dat ons met God op pad is. Ons kan nie weer die ou fout maak en dink ons is in beheer nie. Gedurig weer herinner die stamelende woorde oor wat God gedoen het. Dit is ‘n merkwaardige paradoks. Ons kan nie sonder mensewoorde nie omdat ons nie sonder God kan nie. Die mensewoorde, skryf Blommestijn en Maas, is ons vashouplekke. Ons lees hulle en luister hulle sodat ons gedurig herinner word aan God se liefde en sodat ons nooit ons perspektief verloor op waar die liefde vandaan kom nie. Maar as ons ons so inoefen in mensewoorde oor die liefde, skep ons ‘n ruimte waar God in liefde kan kom woon. Paradoks! Ons bly verknog aan die mistieke woorde terwyl ons die mistieke weg loop sodat ons al hoe meer deur God getransformeer kan word tot die liefde. Ons wil tog word wat God is. En ons wil wees soos God is.

Mistieke tekste is nie vir kennis-name nie.

Ons ervaar wat dit is om te bemin en bemin te word wanneer ons ‘n mistieke teks lees. En hierdie minne-taal dryf ons om meer te bemin en om sterker in die liefde te bly.

Wednesday, September 01, 2010

Hoe helderder ons die beeld van God uitstraal, hoe mooier mense word ons!

God knoop ‘n verhouding met mense aan, sê ons wanneer ons oor spiritualiteit praat. ‘n Getransformeerde, heel mens leef in ‘n intieme, wedersydse verhouding met God.

Maar só ‘n “verhouding” het baie kante.

Eerstens is hierdie verhouding vir alle mense beskore. God se beeld kom in almal voor. God gee nie aan mans ‘n goddelike beeld en aan vroue iets anders nie. En as ‘n mens beeld van God is, beteken dit summier dat ‘n mens hierdie oop, innemende liefde moet verbeeld – iets wat Christus as Seun kom onderstreep het (Gal.3:29!).

Tweedens is die mens se hele wese deur sy of haar beeldskap van God bepaal. Van die begin af, sê die Ou Testament, was mense intens bewus van ons goddelike oorsprong, identiteit en bestemming. Die hele skeppingsverhaal is byvoorbeeld opgebou na die groot oomblik as die mens geskape word. En dan volg in Genesis 1:26-27 die klimaks. Eers is daar die voorneme: “Toe het God gesê: ‘Kom ons maak die mens as ons verteenwoordiger, ons beeld.’”  Die Ou Vertaling lui: “Laat ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis.” Deur hierdie twee beelde onderstreep die boek aan sy lesers dat die mens na God lyk. Iemand is 'n mens omdat hy of sy 'n verhouding met God het. Ons menswees kom nie uit onsself op nie. Ons identiteit is nie natuurlik nie. Dit is aan ons geskenk. Ons het dit ontvang.

Derdens: God die groot kunstenaar skep beelde. Net soos ‘n mens beelde van Rodin op ‘n afstand herken en die hand van die kunstenaar onmiddellik kan eien, net so is dit met die mens. In die mens as beeld herken ‘n mens die goddelike skeppershand. Sien die beeld, sien God....

Maar hier hou dit ook nie op nie. In die volgende vers word vertel hoe God se besluit ‘n werklikheid word: “God het die mens geskape as sy verteenwoordiger, as beeld van God het Hy die mens geskep.” Deur al hierdie herhaling word die goddelike beeldskap diep in mense se bewussyn ingeprent: die lesers moet weet en ervaar dat die mens reeds van die begin af, reeds in God se gedagtes as beeld bedink is en dat dit toe in ‘n verdere stap ‘n werklikheid geword het.

Die beeld-motief is so belangrik dat dieselfde gedagte weer in Genesis 5:1-3 herhaal word – maar hierdie keer word vertel dat wat God met die skepping gedoen het, nou van geslag tot geslag oorgaan. God se beeld is so kragtig dat dit in die geslagte bly voortbestaan. Daar is iets ontstuitbaars aan God se werking. Wat God as beeldhouer begin het, werk voort deur alle geslagte heen. In die mens van alle tye bly woon God se krag.  Kyk ook maar na Genesis 9:6.

Al is God die Skepper en Onderhouer en dus heel anders as die mens, lyk die mens op God en is die mens God se ewebeeld. Wat in God is, is ook in die mens. Ten spyte van die ongelykheid tussen Skepper en skepsel, is die geestelike band ‘n verhouding verhouding van “gelykheid,” ‘n baie noue, intieme verbintenis – sommige, skryf Waaijman, praat selfs van ‘n “verwantskap.” Dit is gedagtes wat ‘n mens aan 1 Petrus 1:4 laat dink – dat die mens deelgenote aan die Goddelike natuur is.  

Dus, in God se verhouding met die mens as God se gelykenis, gee God krag, woon God by die mens, bind mense as God se beeld saam in ‘n gemeenskap van Godsbeelde. God het skeppingskrag in die mens ingeskape.

Die mens vind dus die sin en inhoud van sy of haar bestaan in God. Deur die verhouding met God ervaar die mens dus God se teenwoordigheid in die menslike bestaan. As God nie meer daar is nie, is die mens ‘n verlepte vaalheid, voer hy of sy ‘n skimbestaan.

Maar daar is, vierdens, meer: Psalm 8:5-8 vertel daarom van die spesiale status van die mens: “U het hom ‘n weinig minder gemaak as ‘n goddelike wese en hom met eer en heerlikheid gekroon.”  Dit bevestig wat ons uit Genesis weet. Die mens as beeld van God geniet ‘n koninklike status. Genesis 1:28 praat van die mens wat as beeld oor die aarde “heers.” Dit word nog helderder wanneer ‘n mens dink hoe ‘n koning in Israel by uitstek God se beeld op aarde verteenwoordig. Volgens Psalm 72:12-14 is die koning die een wat die behoeftige red wat roep om hulp. Hy is die een wat omsien na die ellendige wat geen helper het nie. Die koning wys ook God se beeld as iemand wat regverdig, opreg en rein is (Ps.18:24-27).  Daarom soek die koning ook om die verhouding met God konkreet te ervaar: In Psalm 101:2 druk die koning sy begeerte na opregtheid en reinheid uit en vra dan: “Wanneer kom U na my toe?”

‘n Mens wat omgee, straal God se beeld uit.

Maar daar is, vyfdens, nog meer: die mens as beeld van God is aan God eerbied en gehoorsaamheid verskuldig. ‘n Verhouding bring verantwoordelikheid en aanspreekbaarheid. ‘n Mens bestaan dus sodat God ‘n appel op jou kan maak. As mens staan ‘n mens bloot aan God se roeping.

Daarom kan deur die geskiedenis heen die verhouding met God ook as ‘n verbondsverhouding beskryf word. God gee seëninge, maar die mens reageer in toewyding en aanbidding.

Sesdens: Die mens het natuurlik ‘n keuse. Immers, om soos God te wees, beteken om vry te wees, om nuwe dinge te kan doen.  Op ‘n dag kan God skep. So kan die mens ook doen. Maar as beeld van God, sal die mens – soos God – wys en verstandig wil wees.  Altyd weer sal die mens soos God lyk wanneer ‘n mens kies om in vryheid verantwoordelik te wees. Want ‘n mens leef in ‘n wêreld waar ander om jou God se ewebeeld is – en verdien om bemin te word.

In die sewende plek: In die geestelike reis groei die mens al hoe sterker in hierdie beeld van God in. Wees, sê Jesus, soos julle Vader in die hemel. Wanneer Moses die berg opgaan in Exodus 19, kom hy in God se teenwoordigheid. As hy weer van die berg af terugkom, straal die heerlikheid van daardie ontmoeting soos ‘n glans op sy gesig. As Jesus op die berg van verheerliking is, word sy klere spier-, skitterwit. Dit is asof die mens wat naby aan God bly, al hoe meer heerlikheid weerkaats. Ons weet dit is so. Ons sien dit dikwels in die lewens van mense wat in intiemheid naby aan God woon. Ons herken in hul opregtheid, hul omgee, hul wysheid meer as ooit meer van God se beeld.

Hoe boeiend, hoe mistiek: hoe nouer ons met God verbind is, hoe helderder ons die beeld van God uitstraal, hoe mooier mense word ons!

“Ek het geskrik. Is my invloed op die jeug so sterk?” Oor Koos Kombuis se lewensverhaal

Ek het vanaand Koos Kombuis se boek oor sy lewe klaar gelees. “Seks & drugs & boeremusiek. Die Memoires van ‘n volksverraaier.” Ek lees dit tien jaar nadat dit vir die eerste keer verskyn het.


Ek begin die boek lees en word so opgevang daarin dat ek ‘n middag afneem om dit klaar te lees. En die boek bly by my nadat ek dit neergesit het en vra om oor geskryf te word.


Koos Kombuis is vir baie mense ‘n ikoon. Ek self het baie pret uit sy songs geput. Ek onthou hoe ek in 1993 deur Anton Vorster sy rasend snaakse lied oor ou tannies leer ken het. (Toe ek later 'n vertoning van Koos gaan luister het, wou hy nie toegee aan mense se uitroepe dat hy die lied moet sing nie. Later het hy toe tog ingestem en toe heel kuis die woorde aangepas tot 'n "genuanseerde": “Ek haat sommige ou tannies”!).


Sy droë, eerlike en harde humor is verder ‘n groot rede waarom mense hom lees. En dit is boeiend om deur hierdie gevatheid heen te sien hoe hy vanuit absolute vodde tot heelheid kon kom. Trouens, die goue draad van ommekeer maak die boek tydloos. Daar is iets merkwaardigs aan die menslike gees wat soveel donker kan oorleef en bly vashou aan wegbreek van vernieling. 


In sy geval het die heelheid gepaard gegaan met erkenning en gewildheid. Hy skryf in die boek hoe bekendheid sy lewe verander het. Aan die een kant het ‘n lewe in die kollig sy nadele, vertel hy, soos byvoorbeeld verlies aan privaatheid en misbruik deur bewonderaars. (Die bladsye wat hy daaroor skryf het my laat besef, weereens, hoe verganklik, maar veral hoe leeg, roem is. En dit, op sy beurt, spoor 'n mens tog mos aan om te vra - maar wat bly dan? Wat is die onverganklike? Maar dit net tersyde).


Aan die ander kant het bekendheid by hom ‘n besef gebring dat hy mense se lewens beïnvloed. Byvoorbeeld: Terwyl hy soms oor belangrike onderwerpe in hierdie boek net een reël skryf, spandeer hy byna sewe bladsye om ontsteld te vertel hoe hy, op een van die swart dae in sy lewe, '“Vrydag die dertiende” deur die polisie vir dagga gevang is. Kort daarna word hy uitgenooi om deel te neem aan ‘n openbare debat, waarin hy toe juis probeer het om die negatiewe gevolge van dagga-rook te beklemtoon. Hy skryf op bladsy 268 hoe hy vir hierdie debat by die saal aangekom het en etlike honderde studente in Rasta-klere op hom wag, “gereed om vir my te betoog” en skryf dan: “Ek het geskrik. Is my invloed op die jeug so sterk?” Dit het bygedrae tot sy besluit om mense in te lig oor die afbrekende van dwelmgebruik. Sy toespraak is, tot sy misnoeë, in die koerante só gerapporteer dat die teenoorgestelde indruk geskep is.


Sê tog wat, soos die Hollanders sou sê, dat iemand daarmee, soos hy skryf, sy toetrede tot die gemeenskap wou doen. En daarmee die vernieling van die kwesbares wil help stuit. 


Maar, besef ek, wat 'n sad skemerwêreld teken hierdie boek. Ek is eintlik ontnugter terwyl ek dit lees. By al die bewondering dat iemand soveel kan oorleef en behoue, heler anderkant kan uitkom, is daar die knaende gevoel, byna van verbystering oor wat 'n samelewing aan sy beste mense kan doen en wat mense van talent hulself aandoen. Maar ek wonder ook oor die ander kant: hoe sou die storie lyk van die predikante wat in hierdie boek so bedroe daarvan afkom? En hoe sou die storie lyk van die ouers van iemand wat 'n kind soos Koos Kombuis het en oor jare heen as kind moet vashou? Hoe klop sy weergawe met wat sy ouers beleef het en sy gemeenskap en die kerk?


Dit is tog die vreemde van ons menslike bestaan, eeue lank al uitgedruk in die tradisionele simbool van die stryd tussen goed en kwaad. Aan die een kant is daar die kwaad, die lewe wat in vernieling verstrengel raak. Die kwaad word, dink ek, nog intenser gemaak deur die argeloosheid van mense oor die donker en leegheid van die lewens van sulke mense onder en langs en by hulle. Wie is ons as soms so ongenaakbaar toelaat dat die kwesbares in ons midde in die gutter kan bly? Onderwyl alles so meedoenloos voortploeter, kyk ons onbelangstellend toe hoe sif en sif tyd genadeloos aan al die desperate lewensgrepe van hierdie kwesbare mense - tot hulle maar net teen die sif self vaskyk.


Maar dan is daar weer die ander kant, dat die kwesbares soms, uiteindelik, deur hierdie stroom van donker waters kan beur en behoue ander kant kan uitkom. Die oorwinning van die goeie, is die groot metafoor hiervoor - al is die groot mineurtoon dat vele die kans nooit vind nie en in die donker waters verdrink, soos maar al te goed en al te tragies uit voorbeelde wat Koos Kombuis in die boek noem, blyk. Tog, moet ons dankbaar wees: Die enkele blink uitkoms, die majeur-toon, al kom dit eers aan die einde, maak dan die skerp vrae stiller, skuif hulle bietjie op die agtergrond. Wat tel, besef 'n mens hier, is vorentoe gaan, nie vasval in die verlede nie.


Die eerste deel van die boek het my laatnag nog aan die lees gehou: sy hoofstukke oor “Tussen hemel en aarde” vertel met unieke, gevatte humor en ironie (die blommerangskikings!), maar ook met oneindige patos, van sy toenemend ontnugterende reis van kerk tot kerk om God te vind – al het hy, vertel hy dikwels, ook goeie dinge in kerke ervaar. Die hoofstuk begin met Paulus se “Al praat ek die tale van mense en engele, maar ek het geen liefde nie, het ek ‘n stuk klinkende metaal, ‘n galmende simbaal geword” as motto.


Die eerste reël van die hoofstuk lui: “O, ek het na God ook gesoek in hierdie tye.” Van kerk tot kerk het hy gereis om te soek, soos hy dit stel op bladsy 81, na die “eerste liefde, jou aanvanklike, kinderlike, ongekompliseerde ervaring van genade en ootmoediging.” Na ‘n lang tyd waarin hy weggebly het van kerke, vertel hy (bladsy 159-160) van ‘n droom waarin die simbool van Jesus as die brood van die lewe deur hom heel konkreet beleef word en waardeur hy homself as ‘n “gelowige” wil voel. In die droom sê “Liewe Jesus,” soos Koos hom konsekwent noem, ‘n mens hoef nie kerk toe te gaan nie. ‘n Mens hoef ook nie te glo nie, “jy moet My net groet in die verbygaan.” Hy vervolg: “sedertdien is ek okay met Liewe Jesus. Ek ken Hom nie vreeslik goed nie, maar ek kom beter oor die weg met Hom as met die meeste van die sogenaamde business partners.”


“Christene” (‘n woord waarvoor Koos ‘n “mental block” opgebou het) wat dit alles hoor of lees, sal seker by hul hondertalle nou vir Koos wou bekeer met ‘n eenvoudige woord: jy het ‘n lekker-geloof. Dinge werk nie só nie, hoor ek ‘n koor hom bestraf: om van Jesus iemand te maak wat jy in die verbygaan groet en met wie jy oor die weg kom lyk al te veel na ‘n “God – ons almal se ou Pel” gemoedelikheid. Of die teoloë sou vermanend met Koos kon praat oor sy “ietsisme” wat die goddelike tot ‘n vae, swewende gevoel van genoegdoening reduseer. Godsdiens as “goedvoel oor Jesus?,” sou hulle hul wenkbroue lig. Met ‘n dieper raakboor: Die “Liewe” Jesus is dan juis deur ywerige ouens gekruisig wat nie goedgevoel het nie oor hierdie heilige man se oproep – en sy eis – dat hulle maar met inspanning en selfs pyn, deur ‘n kruisweg heen, moet opoffer, prysgee, omgee vir ander, uitreik na die verworpenes en slegtes. En wat as die goeie gevoel skielik verdwyn en die swaarkry-tye, die tye sonder roem en faam breek weer los in ‘n mens se lewe? Verdwyn “God” ook dan?


Só sou ‘n mens van alle kante af met ‘n groot hamer op Koos Kombuis se siening van godsdiens kon afkom en vanuit verskillende hoeke en groepe en kerke vir Koos kon "reghelp."


En tog – as ‘n mens bietjie terugdink, na die tyd, as die boek goed gelees is, is dit asof mens by tye iets van hierdie "evangelisese" self-loosheid op meer as een vlak sien deurskemer in Koos se eie boek. Ek het lank laas ‘n boek gelees wat so brutaal eerlik is. Gits, dink ek, later, dit moes moed gekos het om alles so byna genadeloos tot die helder lig te bring. Al is die toon van die boek sardonies, ironies, by tye selfs te ligsinnig hierin, en al is daar te veel kere dat ‘n mens selfs terugskrik van die vulgêre en kru inhoude, moes dit moed gekos het om jouself so te ont-masker. Hy wat teen die einde van die boek daarop uit is om terug te keer na die gemeenskap, om die slegte dinge in sy eie lewe uit te wys, moet tog weet hoe hierdie gemeenskap venynig oor ontblote siele kan wees (soos die tollenaar in Bybelse tye al moes hoor). Hy waag baie dus, gee veel van homself prys.


Kyk verder, nou, wat skryf hy op bladsy 150:


"Ek het begin verstaan dat, as daar ‘n God was, Hy nie noodwendig spreek deur luidrugtige tale of opspraakwekkende visioene soos kultusmense geglo het nie. Hy kon ook spreek – Hy het meesal gespreek – in die stil, klein stemmetjie van die hart. My eie hart het met my gepraat, met ander woorde, God was daar buite iewers, en Hy was terselfdertyd ‘n Metafoor vir my eie beste moontlikhede. Die stuurlose skip van my lewe het weer begin koers kry, ek het onthou in watter rigting die hawe lê.”


Hierdie paragraaf, sou ons in spiritualiteit sê, vertel ‘n kernwaarheid – hoe die proses van deformasie omgekeer word, hoe die rond-doberende skip weer begin koers kry. Die omvorming vind plaas wanneer God van “daar buite iewers” kom praat met woorde wat lewe skep. Dit is, soos ons in spiritualiteitsjargon geleerd sê, “transformasie in herskepping.” Dit is ‘n transformasie wat maak dat, in Koos se woorde, daar ‘n “nuwe rustigheid” in ons kom (bladsy 150). En in die proses word ons weer herstel in ons menslikheid. Ons word weer soos God en vind ons goddelike beeld weer terug – wat ons bedoel was om te wees met die skepping (“God as Metafoor vir my eie beste moontlikhede” skryf Koos). Die boek is duidelik: die terugkeer tot heelheid kom stadig, worstelend, soekend, soos in elke geestelike reis.


Die "uitwerking" van die lewensvernuwende proses kom oor ‘n lang tyd in die afskeid aan ‘n prodigale jeug, verslawing, selfsugtigheid. Dit is ook nie net ‘n blote weggroei van die negatiewe nie. Hy word heel in sy verhouding met sy pa, byvoorbeeld. Maar eintlik het dit my ook geroer om op bladsy 149 te lees hoe hy skryf oor sy versoening (my woord) met die Bybel na 'n lang tyd van vervreemding. Hy het “mooi goed” in die Ou Testament weer raakgesien. Skryf hy met wonderlike humor: “As jy verby al die geslagsregisters kan kyk, al die arme geofferde diere en die weemoedige profete en die wederstrewige Israeliete en almal wat onrein was tot die aand toe, was daar iets daar. Ek het lief geword vir die boek Spreuke. Geleidelik het ek gewaag om weer te begin bid, kinderlike gebedjies tot (baie spesifiek) die God van die Ou Testament.” Juis deur die boek Spreuke, skryf hy dan, het “’n gevoel van heelheid” hom beetgepak. Op reis, dus, met die geestelike erfenis, met die verborge wysheid van hulle wat voor ons die pad geloop het.


Maar dit is nie eintlik waaroor ek wou skryf nie. Ek het gemengde gevoelens oor die boek, soos hierbo uitgespel. Dit is 'n boek wat elke geestelike werker moet lees, bloot net om te weet hoe lyk ons gemeenskap werklik. Want tussen die reëls van die lewensverhaal ontdek 'n mens hoe selfs in die "room" van ons gemeenskap, hoe selfs in die sentra van hoog-geleerdheid en hoge aansien, ona jongmense 'n leefstyl het wat skynbaar onaangetas bly staan naas alles wat ons so hoog as "evangelie" en as "Christelik" aanprys. En dat die boek al dertien herdrukke beleef het....  En die van ons wat in hierdie plekke bly, weet Koos Kombuis praat van wat gebeur.

Dit is ‘n boek wat wemel van boere-humor. Dis mos nie aldag dat jy lê en kliphard lag terwyl jy boek lees nie. Dit is ‘n harde boek, want dit vertel van ‘n vernietigende lewensstyl wat ander mense oor jou bring en wat jy oor jouself bring. Dit is iewers ‘n sagte boek met begrip vir en belydenis van skade wat ander aangedoen is en kan word. Dit is ‘n boek waarin Koos die rol van die alternatiewe beweging in die politieke veranderinge dalk bietjie te hoog aanprys. Ek onthou hoe ek op Grahamstad die Voëlvry aand (met Johannes Kerkorrel) gaan bekyk het omdat ek gevoel het hulle gee uiting aan ons bestaande verset teen die sisteem. Die musiek (Sit dit af! het dit oor ons stadjie uitbundig gebewe) het uiting gegee, nie aangestig nie. (Wat niks verander aan die opwinding nie, maar wat perspektief gee aan hoeveel mense buite die opstandige Voëlvry-ers om wel in daardie tyd in verset was).


Koos Kombuis se boek is verder ook miskien te eensydig, selfs onregverdig verdoemend oor die kerk, of, soos hy dit noem, God se “business partners.” Ek dink byvoorbeeld dat daar tans in sommige kerklike tradisies en in teologies ontwikkeling aan die gang is wat aan sekere basiese insigte van Koos aandag gee. Wat hy aanvoel en uitspel, reflekteer op 'n baie arm, selfs hoogs verskraalde manier ervaringe wat in die geskiedenis van die kerk ryk uitgewerk en beleef is en wat tans opnuut weer sy regmatige plek kry.


‘n Mens sou dus op hierdie maniere baie dimensies op die boek kon uitlig en ontwikkel. Jy sou oor eensydighede en onnadenkendhede en selfs gemeenheid kon praat (sy slegte, rassistiese opmerking oor Jode is regtig onvanpas). Maar dit is ‘n gesprek wat in nadenke oor spiritualiteit verder gevoer kan word.


Ek het nie beplan om oor die boek iets skryf nie omdat ek dit as ‘n ligte lees opgetel het. Dit het meer as vier maande op my bedkassie sy beurt gelê en afwag om gelees te word. Nou is ek spyt dat dit tien jaar geneem het vir my om 'n boek te lees wat ongetwyfeld 'n klassieke teks in Afrikaans sal wees - hoe onverteerbaar sommige dele vir baie vromes in ons midde ook al sal bly. 

Ten slotte: As ek dink aan my leeservaring van die afgelope twee dae, bly daar iets in my broei wat vra om uit my sisteem uitgeskryf te word. Wat my naamlik veral in die boek getref het, was hoe ‘n mens se lewe verduister kan word as jy in 'n posisie van onmag is.


Lyding, weet ons almal, is die groot toets vir karakter. Ons kan baie goedkoop hieroor praat. Lyding kan geromantiseer word. Selfs op bloot simboliese vlak domestiseer en vergoelik ons lyding wanneer ons allerhande “mooi” kruise deesdae op elke tweede muur, tot in toilette toe, uitstal. Hierdie boek het vir my weer laat besef wat lyding is en hoe maklik ons verby lyding leef. Dit vra staal om te kan oorleef as jy deur harde magstrukture fyngemaal word. Ek het by die lees van dele van die boek soms so gevoel soos ek gevoel het toe ek Bonhoeffer se briewe uit die gevangenis gelees het en besef het hoe brutale mag, uitgeoefen in die naam van ordentlikheid, mense se lewens vernietig (ek het elders hieroor geblog). Ek dink hier veral aan Koos se vertelling van die terapie wat hy ontvang het. Sy skokbehandeling, sy verblyf in Weskoppies, sy maandlange swye, van die outoritêre Rosa wat hom amper tot die permanente afdeling (“oor die brug”) laat oorplaas het en van sy mede-pasiënte is ‘n ontstellende aanklag teen die samelewing. Die humor waarmee hy dit vertel, gee 'n karakter van understatement aan hierdie gedeeltes van die boek en terselfdertyd vertel dit iets van Koos se karakter wat dit kan oorleef en met ligtheid kan relativeer. Maar juis die understatement maak die lyding soveel erger.


Eintlik is dit wat hy beskryf onvoorstelbaar. Ek het benoud geword toe ek die impak van hierdie gedeeltes bedink het.


Maar dan was daar ook weer die ander kant van die verhaal: In die onmenslikheid van wat Koos in Weskoppies as 'n "plek van genesing" ervaar het, is dit des te meer opvallend hoe die menslikheid van die twee of drie mense wat hom in die donker tyd ondersteun het as helder lig uitstraal.


Die karakters van die mense wat gekeer het dat hy in Weskoppies oor die brug van sugte geskuif is, wat hom van die ultieme kruisweg terug kon hou, bly, na die lees van hierdie opmerklike boek, my by. Hulle, voel ek, is getuies van die Lig. Hulle vertel vir ons wat egte menslikheid is. Hulle bly in my gedagtes noudat ek die boek toegemaak het en word nou deel van my eie lewensverhaal. Uit alles wat ek gelees het, het hulle die invloed op my gehad....

Monday, August 30, 2010

Hoe meer ons aanbid, hoe meer wil ons aanbid... Liturgiese gebed (2).

Die begin, Here, van alles wat ons wil dink en doen, wéét ons,
is om op te kyk,
weg van onsself, na U,
is om U raak te sien.


In U, die Alfa en Omega, die begin van alle dinge, die einde van alles,
verstil ons hartsverlange,
word ons innerlik vervul
en ervaar ons waarheen U met ons op pad is.


Ons wil U aanbid, vir U vereer,
ons wil met alles wat ons het op U fokus.


Ons kyk om ons, sien suiwer skoonheid by ons;
ons merk U op,
U verborge teenwoordigheid in die skepping.
Ons sien U kunstenaarshand in die plek waar ons bly, in die wydtes van U natuur.
Elke keer weer is dit vir ons eindeloos mooi,
geskep deur U, die Oneindige.
Altyd weer, Skepper, is U vir ons die Een wat alles gevorm het
en voel ons ons omring deur U, die Een wat volmaak mooi is.
Ons roep biddend uit van blydskap omdat ons só konkreet, so direk, so skoon
die Oneindige se oneindigheid kan ervaar,
omdat ons kan weet wat ons sien, is van U, is U.


Ook op ander maniere het ons U ontmoet,
raak U ons aan sodat ons harte ons aanspoor om U te besing, U lof te verkondig.
Ons het in U heilige boek die getuienis gelees, gehoor uit verre tye, lank terug en oor die eeue heen,
hoe getrou U gebly het aan dít wat U begin doen het in U skepping,
hoe U trou bly wys het aan hulle wat U op U wêreld laat woon.
Mense wat U van naby geken het, het met oorgawe oor U geskryf –
hoe goed U altyd vir hulle was.
Hulle het gesing oor U genade.
Hulle het verhale vertel van U volmaakte vriendelikheid,
hoe U hulle bevry het, die nuwe land vol rykdom gegee het.
U was vir die geslagte in die ou tyd die Verlosser, die Vriend.
Ook hulle boeke, hulle getuienis roer ons al en bring ons tot aanbidding.


Toe mense van alle tye ook donker paaie moes loop,
wanneer hulle alleen was,
in tye van verdrukking, in die somber tye van verlies,
was U ook vir hulle daar,
het hulle agter U ligkolom geloop
en in U voetspoor getrap.
U was vir ons voorouers ‘n goeie herder,
die Een wat hulle selfs in hul donker nag wou bly aanbid.


Ook in die blye oomblikke, in tye van vreugde, wanneer mense vir U feesgevier het,
het hulle U teenwoordigheid herken en erken.
By die geboorte van ‘n kind is U naam aangeroep, is offers van dank aan U geskenk, is die teken van die verbond oor hul jong lewens uitgekerf.
By die bind van die liefdesband, elke keer weer wanneer twee mense hul lewens vir mekaar gee, is diepe dank aan U gebring.
By die inbring van die oes, het U ook ‘n deel ontvang.
En altyd weer, selfs in die geringste gawes, is ‘n tiende aan U teruggeggee.


Só het U gedeel in die beste en mooiste van oomblikke van hulle wat die geestelike reis afgelê het,
só is U bly aanbid deur hulle wat U in hul bly tye herken het.


As ons dít alles bedink, hierdie skeppingskrag, U verlossersliefde, U hoedende ontferming, U wat saam met ons die mooiste dinge beleef,
dan wil ons U loof en prys.
Dan kyk ons op, verwonderd, in verering,
dat U wat alles begin het en alles in U hand hou,
dat U ons aanraak en ons U eie maak.
En ons kan nie ophou om U te prys nie.


Hoe skoon is U, God van goedheid, hoe oneindig skoon.
U is mooi, soos geen bruid ooit kan wees nie.


Ons kry nie woorde nie, ons taal is flou, ons gepraat so vaal as ons U naam wil besing.
Hoe vereer ons U? Hoe kan ons ooit die lof uitsing wat U verdien?
Ons besef, lank nadat ons woorde opgedroog het, ons taal verstil het, ons nog
gaan soek na maniere om U te prys, dat ons alleen maar stamelend kan prys, flou-weg kan loof.


Maar selfs al stamel ons, al soek ons na woorde, verlang ons om méér te kan sê,
is dit goed om U te aanbid, is ons pryslied gelaai met vreugde.


En wanneer ons U loof, hoe voorlopig en hoe onvoldoende ook al,
bring ons lof groter lof.
Want as ons U prys, ontdek ons in ons pryswoorde verdere skoonheid, ontdek ons verwonderd U grotere teenwoordigheid.
Want, Here, selfs die woorde wat ons vind om U te aanbid, is woorde wat U ons skenk.
Selfs die dank wat ons aan U bring, is dank wat ons van U ontvang.
Ons kyk op na U, terwyl ons goed weet dat dit U is wat ons laat opkyk.
Ons sing u lof, terwyl ons goed weet dat dit U is wat ons tong in beweging bring.
Verborge, so diep verborge is dit dat ons, die biddeloses, tog deur genade kan bid en aanbid.


Ons wéét, dit is U Gees wat die onuitspreeklike versugtinge in ons plant.
Dit is goed om by U te wees, om in aanbidding by U te kan woon.
Om te weet: hoe meer ons U aanbid, hoe meer verlang ons om U te aanbid.


Here, U is die Alfa en die Omega.
Deur U kom ons tot aanbidding


Tot U sal ons aanbidding wees, van nou af tot in alle ewigheid.


.

Sunday, August 29, 2010

Wanneer die paaie van hemel en aarde kruis. Bybelstudie oor Openbaring (11).

Ek, Johannes, was op die eiland... Ek was in die Gees op die dag van die Here” Openbaring 1:9-10.

Wanneer Johannes “in die Gees” opgeneem word, neem die Gees beheer or sy lewe oor (sien ook Open. 1:10; 4:2; 17:3; 21:10). Hy is in ‘n beswyming waarin hy in ‘n ander bewussynstoestand oorgaan.  Hierdie spesiale ervaring is nie ‘n spreek in tale (soos in Handelinge 2) nie. Dit is ook nie ‘n ekstatiese ervaring wat een of ander vreemde onnatuurlike onbeheerde gevoelsbelewenis is nie.

Johannes wil daarmee sê dat hy sy profetiese boodskap van God ontvang het. Hy ontvang van God allerhande “tekens” – soos Openbaring 1:1-2 te kenne gee. Dit is visioen van dinge wat hy sien en hoor (bv. Open. 1:10 [hoor] en 12 [sien]). Hy word met die geestelike dinge gekonfronteer.

In Openbaring word die werking van die Gees veral met profesie verbind. Die sewe geeste is fakkels wat voor die troon van God brand (Open.4:5). Hulle is ook die sewe oë van die Lam wat oor die aarde uitgestuur is (Open.5:6). Hulle is dus in die teenwoordigheid van God en hulle is deel van Christus. Die Gees behoort tot die hemelse sfeer. Maar die Gees reik ook uit na mense op aarde. Die sewe Geeste weet wat gebeur by God en hulle dra hierdie boodskap wêreldwyd uit.

Hierdie spesiale onthullings beteken nie dat Johannes sy normale menslike vermoë verloor nie. Hy onthou naamlik so goed wat alles gebeur dat hy dit alles versigtig in ‘n boek kan neerskryf. Hy vertel dat hy ‘n bevel gekry het: “Skryf die dinge op wat jy gesien het” (Open.1:19), of : “Skryf wat jy sien in ‘n boek” (Open.1:11). Gedurigdeur is hy by sy volle bewussyn en altyd weer word hy herinner dat hierdie boodskap van die hemel bedoel is om op die aarde gehoor en gesien te word. Die verborge, hemelse dinge word bekend gemaak omdat dit ‘n saak van lewe en dood op aarde sal word.

Hier het ‘n mens te doen met een van die mees sensitiewe kante van ons geestelike reis. Johannes ontvang in visioene buitengewone hemelse ervaringe. Hy reis in die hemel en ontdek die plek waar God woon (Open.3:1). Die hemelse sfeer word vir hom geopen. Met ander woorde: hy sien verby die aardse realiteite na die verborge dinge waarvan mense min weet en min ervaar. Hy kom agter dat wat saak maak, nie die menslike situasie is waarin hy en die ander gelowiges verkeer nie. Hy ontdek agter hierdie menslike omstandighede iets diepers, groters en sterkers. Hy word met die geestelike dinge gekonfronteer!

Spiritualiteit gaan altyd om die verborge dinge. Die geestelike reisiger weet hy of sy leef met die oog op die verborge, dieper dinge.

Die wêreld van God word dus vir mense oopgesluit. Johannes die profeet ontvang God se woord en verwoord dit dan in mensewoorde.

Dit klink maklik, maar wanneer die mens God se verborge dinge ontdek, stuur dit sy of haar lewe in ‘n totaal nuwe rigting. Johannes word so sterk deur sy visoen aangetas dat hy vreesbevange op die grond neerval. “Toe ek Hom sien, val ek soos ‘n dooie aan sy voete; en Hy het sy regterhand op my gelê en aan my gesê: ‘Moenie vrees nie.’”

So spesiaal is sy ontmoeting met God en die visoene wat hy ontvang dat hy sommige daarvan nie eers mag neerskryf nie (Open.10:4).

Dit alles is oorweldigends. En tog, die verborge dinge en tekens wat hy sien en hoor, moet hy nou in menslike taal aan sy hoorders meedeel.

In spiritualiteit is een van die grondmotiewe hierdie spanning tussen die goddelike en menslike. Die oneindige, die ewige, die heilige tree in in die sfeer van die eindige, die tydelike, die onreine.

Hoe kan ‘n mens tog dit wat ons verstand en ons ervaring te bowe gaan, in ons feilbare taal en woorde vasvang?

Die antwoord is te vind in die werking van die Gees. As ‘n mens opgeneem word in ‘n intieme verhouding met God en God se teenwoordigheid beleef, word ‘n mens tot taal bekragtig. Jesaja sou dit in Jesaja 6 met ‘n treffende beeld uitdruk: Toe Jesaja sy eie onvermoë bely, stuur God ‘n seraf met ‘n gloeiende kool van die altaar in ‘n tang wat Jesaja se lippe aanraak sodat hy God se woord kan uitdra. Hy word tot profeet gereinig.

Dit is die wonder van die Gees: God en mens word saamgebind in ‘n noue verhouding.

Dus skryf Johannes sy boek oor God se verborge dinge. Die leser en die luisteraar lees die boek en ervaar tot vandag toe hoe vreemd, hoe snydend, hoe transformatief daardie boek is. Die mens wat reg ingestel is, luister nie na die boek sonder om daardeur getransformeer te word nie. Dit is ‘n profesie, ‘n woord van die Here.

Blog Archive