Friday, February 15, 2013

Alleen


Dit is nie ‘n goeie dag vir ons almal nie.

Ek dink terug aan die tyd toe die eerste nuus oor Hansie Cronje se skandaal gebreek het. Die verbystering in die land en onder krieket-liefhebbers was groot. (Soms wonder ek of krieket in ons land ooit heeltemal van daardie teleurstelling herstel het.)

En nou kom die nog slegter nuus oor Oscar. Hierdie keer is die tragedie amper meer ondeurgrondelik omdat ‘n jong mens haar lewe in die proses verloor het.

Nog slegter word dit om nou mense se reaksies op die Facebook bladsy van Oscar te lees.

Daar is ‘n duidelike ontwikkeling in die kommentaar: Aan die begin, soos die nuus gebreek het, is mense simpatiek, vol meelewing en ondersteunend.

Deur die dag, soos meer detail bekend word, word die kommentaar, afkomstig van oor die hele wêreld, venyniger. Daar is wrede, veroordelende opmerkings en selfs makabere grappe.

Ek sit en dink oor die uiteenlopende reaksies. Sommige beskuldig in kru taal. Ander glo onvoorwaardelik en naïewelik in Oscar se onskuld en raak woedend vir negatiewe kommentaar. Nog ‘n klomp skryf lang godsdienstige en sentimentele boodskappe, terwyl ‘n groep net eenvoudig en kortweg vra: “Waarom?”

Nog vele praat daaroor dat hy al die roem in die wêreld gehad het en dat hy alles in een oomblik vernietig het.

Al die vlak en holruggeryde menings en die maklike gepraat van mense kan ‘n mens hier raaklees.

As dit jou kind was, is dit wat jy sou wou gehad het mense oor hom / haar moes kwytraak, wonder ek oor al die vlak vroomheid en die wrede vingerwysings.

Hoe dink ‘n mens oor hierdie onvoorstelbare donker dag?

Mense is getraumatiseer. Die skok oor die val van iemand wat ikoniese status in die wëreld het, is eintlik onverwerkbaar. Dit kom te skielik.

Hoe groter die held, hoe groter die teleurstelling en hoe heftiger die gevoelens.

Die taal, die uitsprake en die beskuldigings word mense se meestal onbeholpe manier om die trauma te verwerk.

Hoe praat ‘n mens oor iets wat die mooiste en beste versinnebeeld in een dag tot niet maak?

Dit is te moeilik om ‘n mens se gevoelens oor so ‘n saak onder woorde te bring.

Iewers in hierdie nag is daar ‘n jong man, beroemd in alle lande, met ‘n wêreld aan sy voete, wat alleen in ‘n sel is met net sy gedagtes oor ‘n nag van verskrikking wat sy lewe aan stukke gebreek het. En in die gedagtes het hy niemand in die wêreld by hom wat hom kan bystaan nie.  

Ek kan my indink, dink ek, hoe donker sy nag is.


Blog Archive