Tuesday, February 05, 2013

Hoe om te oordeel. Oor die lewe in die lig en die duisternis.

In die vorige blog het ek bietjie geskryf oor die interessante opmerking van geestelike skrywers soos Thomas a Kempis wat die oordeel oor ander sien as iets wat ‘n mens in blindheid gevange hou.

Jy maak aanspraak daarop dat jy die lig ontvang het en dat ander blind is.

Maar eintlik is jy blind – juis deur hierdie aanspraak te maak.

Jy kan dus ‘n gevangene van jou eie vernaamheid word – blind vir wat werklik Lig in jou lewe kan bring.

Wanneer ‘n mens oor ander oordeel, is jy besig om jouself beter as hulle te beskou. Dan is jy blind vir die groter Waarheid wat buite jouself te vind is en wat in vele gedaantes tot jou kan kom.

Deur oor ander te oordeel is ‘n mens eintlik besig om groot skade aan jouself aan te rig.

Niemand kan daarop aanspraak maak dat hy dinge ken soos hulle is nie. Net die Woord van God, die goddelike stem, onthul aan ons waarom alles werklik gaan.

Wanneer ‘n mens na die Lig op reis is en jou lewe ingestel is op wat die diepste sin van alles is, is ‘n mens nederig op soek na kennis oor jouself voor God. Die nederige soeke is belangriker as om aanspraak daarop te maak dat jy alles ken, baie weet en dat jou insigte betroubaar is.

Wat saak maak en wat veel belangriker as jou vername oordeel is, is om te weet dat ‘n mens deur God se genade gedra word.

Hier moet ‘n mens nou ‘n verdere stap in gedagte hou:

Dit is nie sommer vanselfsprekend dat ‘n mens weet dat jy op reis is na die Lig nie. Dikwels kan jy dink jy word deur God se genade gedra. Die werklikheid kan heel anders lyk. Dan is dit jou eie siening waaarop jy bou en vertrou.

‘n Mens weet nooit presies nie en jou insig is nooit suiwer nie. Ons insig en ons wete is feilbaar en menslik.

Mense kan byvoorbeeld dink dat hulle in die Lig lewe en regverdig teenoor ander optree. Maar eintlik buit hulle ander mense uit. Of ‘n mens kan dink dat jy iemand lief het terwyl jy in werklikheid gedryf word deur begeerte en pure losbandigheid. ‘n Mens kan dink dat ‘n mens by die Woord van God hou, maar eintlik is ‘n mens se lewe steeds nog in donkerte.

Die menslike lewe is nooit puur nie. Mense leef in menslikheid waar goed en kwaad vermengd bly.

Hoe ‘n mens ook al in die Lig wandel, ‘n mens behou donker kolle, skryf Bocken. Ons bly gebind aan ons menslikheid, aan ons feilbare woorde. ‘n Mens dink na oor die groot geheel, besef dat jy deel is van ‘n meerdere eenheid, en tog is jy gebonde aan jou eie vooroordele en begeertes.

Juis daarom, beklemtoon  Bocken deur ‘n aanhaling van Thomas uit te skryf, moet ‘n mens nie oor ander oordeel nie.

Jy is gans te feilbaar.

Jy kan nooit daarop aanspraak maak dat jy die hele prentjie voor jou het nie.

Jy kan jou verstand nie vertrou nie.

‘n Mens leef dus in die donker en is blind wanneer jy jou insigte as die groot, finale woord beskou.

Wat nou?

Wat ‘n mens wel kan doen is om te besef alles wat jy sê en dink, net ‘n eerste stap is.

Jy kan besef dat wat jy dink en sê maar net jou eie opinie is.

Jy kan ook vir jouself herinner daaraan dat dit jou groot menings is wat jou blind maak.

Maar moet ‘n mens nou ophou oordeel? vra Bocken. Sekerlik nie. Alle mense is gedurigdeur besig om op een of ander manier ‘n mening en oordeel uit te spreek. Wat saak maak is hoe jy dit doen. Jy kan byvoorbeeld vroom vertel dat jy nie oordeel nie. Wanneer iemand dit doen, is dit maar weer eens sy of haar opinie. Mense dink net hulle oordeel nie. En dit is sekerlik ‘n illusie.

Mense bly oordeel. Wat saak maak is hoe jy dit doen: Elke oomblik moet ‘n mens bewus bly van die voorlopigheid van jou denke.

En daaruit volg die verdere, groot en belangrike insig: Terwyl dit waar is dat alle mense oordeel en ‘n mens die oordeel nie kan ontvlug nie, moet ‘n mens leer om versigtig te wees. Wees terughoudend in jou oordeel. Dit beteken dat jy steeds weer weet dat jou oordeel oor ander mense en dinge uit jou binneste opkom en dat elke oordeel wat jy maak beoordeel kan word.

‘n Mens moet terughoudend wees deur altyd ruimte te maak vir die oordeel en mening van ander mense. Eerder as om jou oordeel belangriker as ander mense s’n te ag, moet jy jou oordeel naas ander mense s’n plaas.

Ons loop ons vas teen die klipharde harnas van menslike oordele en afhanklikhede. Die lewe is een enorme kompleks van menslike menings en oordele. Dit staan soos ‘n groot rots voor ons. Maar wanneer ‘n mens weet, heel bedeesd insien, dat alles maar ons eie pogings is om te verstaan en dat dit deel is van die groot reis van alle mense om dieper te kan begryp, skep ons ‘n ruimte waarin die Lig kan begin skyn.

Dit is dan, besef ek as ek Bocken klaar gelees het, dat ‘n mens nog verder vorder: dit is nie maar net ‘n kwessie dat ‘n mens nie te gou ander se opinies as minderwaardig moet afskryf nie. Of, bietjie beter, dat ‘n mens ander se menings maar verdra nie omdat jy weet jou oordeel is ook iewers feilbaar. Dan groei ‘n mens tot die punt dat jy weet jy het ander mense se menings nodig.

God se stem, die goddelike fluistering, kom op baie – ook verskuilde – maniere tot ‘n mens. Wie is die mens om te oordeel hoe dit sal gebeur? Te dikwels in die geskiedenis het mense ‘n Emmaus-ervaring: jy sien jou “oningeligte” reisgenoot. Jy hoor hom of haar praat. En dan, onverwags, kom jy agter: hier word die Grotere onthul…  Jy was die blinde – in die donkerte, soekende, op reis.


Blog Archive