Tuesday, February 19, 2013

Vriendskap.

-->
Vriendskap is, naas liefde, ‘n sterk draad in die sosiale tekstuur van ‘n samelewing. Dit bring mense bymekaar en bind hulle aan mekaar. 

Vriende ondersteun mekaar in moeilike tye. Dit gee kwaliteit aan ‘n mens se lewe. Om by iemand te kuier met wie jy ‘n lang pad geloop het, kan ‘n mens optel uit depressie. Vriende gee raad wanneer ‘n mens nie weet hoe om verder te kom nie. Soms, wanneer ‘n mens nêrens heen kan nie, wanneer enige uitsig op uitkoms verdof het, is die laaste ding wat aan ‘n mens tog nog innerlike vervulling kan gee, ‘n vriend wat sommer net by jou is.

Vriendskap is dus nie eintlik iets naas liefde nie. Dit is ‘n vorm van liefde. Dit het vele eienskappe van die liefde. Dit gee om. Dit offer op. Dit volhard. Dit maak bly. Vriendskap, het die Grieke geleer, is in sommige opsigte groter as ‘n huwelik, as liefde tussen man en vrou.

Die Filippense-brief, blyk uit die nuutste navorsing op die Nuwe Testament vertel iets hiervan. Dit is ‘n boek van vriendskap. Pragtig skryf Paulus daarin oor hoe baie die Filippense vir hom beteken het en hoe besonders hulle verhouding is. 

John Fitzgerald, een van die voorste kenners van die Grieks-Romeinse konteks van die Nuwe Testament het hieroor insiggewend geskryf. Kyk bietjie na wat alles in Filippense staan:

Vriende is een van siel (Fil.1:27; 2:2). Dit is byna asof die een vriend die alter ego van die ander een is.

Vriende deel dieselfde gedagtes. Hulle is, in die  ou vertaling, een van siel (Fil.2:2; 4:2). Hulle leef in harmonie met mekaar. Vriende val nie was in baklei en twis nie.

Vriende deel alles met mekaar (Fil. 1:5, 7; 2:1). Hulle ondersteun mekaar in tye van teenspoed. (Fil.4:14).

Vriende is saam bly (Fil. 1:4, 18, 25 en vele ander)

Vriende vertrou mekaar want hulle bly lojaal (Fil. 1:6; 2:24).

Hulle gee om vir mekaar (Fil 2:8. 17, 27). Hulle sien mekaar se foute nie oor nie, maar praat reguit en openlik met mekaar (Fil.1:14). Daarom kan Paulus hard praat met Euodia en Suntuche in Fil. 4:2.

Trouens, dikwels kan die kritiek van vriende vir ‘n mens op die regte pad hou. Deur die eeue heen was dit nog altyd ‘n groot wysheid dat ‘n mens se geestelike reis deur jou vriende belemmer of aangevuur kan word.

Vriendskap is 'n besonder simbool om in Spiritualiteit oor die geestelike reis te praat. 

Blog Archive