Thursday, February 21, 2013

So stil dat nie een sal spoeg nie.... Oor gebed.

In ‘n nuwe publikasie (van Tzamalikos, gepubliseer by Brill in Leiden) oor ‘n sesde eeuse Griekse geestelike, Cassianus die Sabaïet, is daar ‘n brief wat hy geskryf het aan Biskop Kastor oor die gebedsgewoontes van geestelikes in Egipte.

Dit is ‘n brief wat illustreer hoe gebed nie sommer gaan om wegval en woorde tot God uiter nie.

Hier is my weergawe van die Engelse vertaling van Tzamalikos:

Wanneer die gemeente bymekaar kom en ‘n Psalm gelees het, skryf hy, is hulle nie haastig om te kniel vir die gebed nie.

Hulle staan eers vir ‘n paar oomblikke en terwyl hulle so staan, bid hulle met uitgespreide hande.

Daarna kniel hulle uitgestrek op die grond. Hulle bid dan vir ‘n tyd waarna hulle almal gelyk opstaan. Dan, terwyl hulle weer hulle hande sprei, sluit hulle hul versoeke af – maar hierdie keer doen hulle dit langer en meer intens. Die persoon wat voorgaan in gebed word gevolg: as hy opstaan, staan hulle ook op; as hy kniel om te bid, kniel hulle ook.

Wanneer hulle bymekaar kom, is hulle so ingestel op stilte dat ‘n mens sou sweer daar is geen mens in die omgewing nie, al is daar ‘n menigte mense in die vertrek.

Wanneer almal daar bymekaar is en saambid, is daar nie een wat sal spoeg, of hoesgeluide maak nie, of gaap nie. Niemand is verveeld met gebed nie. Jy sal nie ‘n oop mond of ‘n slaperige mens sien nie. Nie ‘n enkele gekreun word gehoor nie. Want hulle sê iemand wat met ‘n lui gemoed bid, sondig op twee maniere: eerstens bid hy agtelosig. Tweedens, hamer hy met sy onbeleefde geraas op die ore en die gedagtes van ander en dra aldus by tot aanvalle van die bose duiwels. Want as die duiwels sien ons staan en bid, val hulle die siel aan met ongepaste gedagtes en afgestomptheid vir gebed.

Om hierdie rede is niemand haastig om raserig en vinnig die Psalm af te rammel nie. Dit is nie dat hulle genot put uit die getal woorde nie. Dit is eerder om die woorde in hul gedagtes te laat insink. Daarmee gee hulle gehoor aan die opmerking: “Ek sal met die gees sing, ek sal ook met insig sing.” Hulle ag dit beter om tien versies nadenkend te sing eerder as om ‘n hele Psalm met ‘n deurmekaar gemoed af te rammel.

Ons sal nou nie hierdie gedeelte hoef te gebruik wat die spoegery betref nie.

Maar daar is eeu-oue wysheid in die brief te leer:

Dit gaan om die instelling, om gerigtheid op wat ‘n mens doen, om worsteling, om beleefde gebed. Insink, insink, dit is waarom dit gaan. Die woorde, Woorde wat tot ‘n mens kom, moet deel word van ‘n mens se innerlike. Die insink kom wel miskien “met insig”, met verstaan, met die brein. Maar dit kom ook “met die gees” deur die uitsprei van die hande, deur die kniel op die grond, deur die stilte: steeds weer afwagtend, afhanklik, ontvanklik, smekend, gereed vir die Ontmoeting.

Blog Archive