Saturday, February 16, 2013

Net voor hy tereggestel sou word... Oor verraad


Ek lees nou, vir die eerste keer, die beroemde boek van Johanna Brandt met die titel Die Kappiekommando of Boerevroue in geheime diens.

Die boek het al in 1913 verskyn, eers in Engels as The Petticoat Commando.

Dit is ‘n boek wat ‘n mens soos ‘n treffer speurverhaal besig hou. Des te meer omdat dit gaan om die vroue wat werklik tydens die oorlog in die besette Pretoria die burgers op die slagveld van belangrike strategiese inligting voorsien het.

Daar is dikwels kosbare anekdotes wat ‘n mens ‘n kykie gee in die lewe van die gewone mense in tye van ontnugterende oorlog teen die oormag van die Britse Ryk. Maar dit gee ‘n mens ook ‘n kykie in die hart van die skryfster.

Sy het duidelik nie tyd vir verraaiers, bangbroeke, hensoppers en lafaards nie.

Sy sien eerder haar man sterf op die slagveld as dat hy die stryd opgee.

Ystervrou. Slim, vol planne en ondernemend. En boonop ‘n skryfster.

Een so ‘n andekdote gaan oor ‘n jong spioen wat deur die Engelse gevang word. Hulle weet van hom omdat hy al ‘n reputasie vir sy “kordaatstukke” onder hulle verwerf het.

Mense besoek hom in sy sel en hoor van hom dat geen dreigement of onderhandelinge hom sover kry om sy mede-spioene te verraai nie. Hy byt dapper vas terwyl groot druk op hom geplaas word.

Op ‘n Saterdagnag word die doodsvonnis in sy sel aan hom voorgelees. Soos alle spioene summier ter dood veroordeel kon word, so gebeur dit ook met hom.

Hulle vertel hom dat hy die Sondagoggend tereggestel sou word.

Tensy, gee hulle hom ‘n kans, as hy die spioene in die stad se name aan hulle gee. “Toe laat hulle hom alleen met sy gedagtes.”

Hierdie outjie, skryf Johanna Brandt, was nog nie twintig nie. Bloedjonk.

Hy moet die nag in die sel deurbring terwyl die swaard van die doodsvonnis oor hom hang.

Dit is nie die einde van die storie nie. Teen dagbreek laat hulle sy pa, suster en sy verloofde in sy sel in sodat hulle van hom kan afskeid neem. Hulle “klou aan hom vas en kerm en smeek dat hy tog maar die name van sy medepligtiges” moes verklap.

In ‘n “verskriklike” daad, skryf Johanna Brandt, “swig” hy en in “die godverlate sel, op daardie vreeslike Sondagmôre, skryf hy “met bewende hand” die name van vyf spioene neer.

“Maar nou was hy niks anders as ‘n verraaier nie,” voeg sy by.

Daarmee het hy, in die oë van sy mede-burgers, in elk geval ‘n doodsvonnis oor homself voltrek, al is sy eintlike straf tot ‘n paar jaar dwangarbeid versag.

Johanna Brandt skryf ‘n verdoemende sin: “Twee jaar na die sluiting van die vrede kon hy nog in die strate van Pretoria en Johannesburg aan die werk gesien word, besig om sy vonnis uit te dien.”

Daar is nie ‘n enkele wrede woord in hierdie stil sin nie. Nie ‘n vinger wat wys nie.

Trouens, sy skryf ‘n pragrafie oor die jong man aan die begin van haar verhaal: “Laat ons hom nie te hard veroordeel nie. Hy was nog jonk, nog nie twintig nie, en nooit sal ons te wete kom watter gemoedsfoltering hy die nag moes deurstaan nie.”

‘n Mens sien die hart van die vrou wat hierdie boek skryf, so bietjie raak. Sy herken jeugdigheid, feilbaarheid, vrees, doodsangs, hegte familiebande en bitter wroeging.

Ook net terloops vertel sy die uitklophou: Die vyand sou die jongman in elk geval nooit doodgeskiet het nie. Hy was minderjarig en minderjariges is nie tereggestel nie. 

As hy dit maar geweet het. 

“Die feit het miskien net bygedra tot die bitterheid van sy wroeginge toe dit later aan hom vertel is.”

In haar sober taal, die taal van “nie te hard veroordeel nie”, van “die verskriklikheid van sy val”, en “maar nou was hy niks anders as ‘n verraaier nie”, lê die waardes wat haar simpatie en insig relativeer. 

En dat hy minderwaardig was, nie sou sterf nie, is net bitter kole op sy hoof. 

'n Mens is verskeur deur hierdie vertelling. 

Hoe kan jy dit anders beoordeel as in die konteks van daardie stad met die ellende van die konsentrasiekampe, die misdadigheid van die oorlog, die uitroei van menselewens, die ontbering en die lyding wat verstikkend en lewensvernietigend oor mense gehang het? 

Daardie jongman, het Johanna Brandt gedink, was ontrou: hy was nie bereid om sy lewe op te offer nie.

Meer nog: hy het vyf van sy mede-stryders opgeoffer om sy eie lewe te red.

Hy was ‘n verraaier, iemand wat geval het, iemand wat die res van sy lewe in bitter wroeging sou deurbring.

Hoekom dink ek nou aan Getshemane?

Blog Archive