Sunday, February 03, 2013

Hy is met die nagmaalsbeker in sy hande vermoor. Oor heiligheid.




Ek kyk vanaand, uiteindelik na ‘n paar weke van rondhardloop, na ‘n video oor die lewe van Oscar Romero. Dit lê al weke lank op my rak.

Die film maak hierdie dag vir my baie spesiaal.

Toe Romero as aartsbiskop van Salvador aangewys is, was die priesters ontsteld omdat hy toe nog ‘n konserwatiewe reputasie gehad het. Dit was ‘n troostelose uitsig dat hy hul leier sou word, want die tye was moeilik, met grootskaalse verdrukking van die bevolking. Vele van die priesters was aan die kant van hierdie arm, ongeletterde en uitgebuite armes. Hulle het verslae gehoor dat hulle nuwe geestelike leier maar ‘n trae, behoudende man was.

Toe word hy, onverwags en onvoorsiens, ‘n voorste stryder teen die gewetenlose militêre bewind waartydens soveel mense vermoor is. 

Die keerpunt in sy transformasie het gou gekom met die sluipmoord op ‘n mede-priester en vriend van hom. In die ellende van sy tyd en omstandighede het God sy lewe aangeraak.

Ek lees na die fliek dat hy as een van sy ideale steeds bly soek het na groter toewyding en heiligheid.

Nou weet ons van Spiritualiteit se kant af: Heiligheid soek ‘n mens nie maar net nie. Dit word ook nie altyd wat jy dink in jou lewe moet gebeur nie. Dit word na jou gestuur. Dit oorkom jou. 

Dit gebeur so: met spiritualiteit as praktiese wysheid kan dit nie anders nie.

Jy beland in die praktyk, in die harde werklikheid van die lewe en jy ontdek dat God op vreemde en onverwagte plekke vir jou ontmoet. Daar, in die hardheid van die werklikheid moet jy wys word, moet jy onderskei wat God vra en moet jy maar toegee dat al jou vaste vooringenome posisies  buite God se wil val en tot niet raak.

En die praktiese wysheid behels nuwe dinge, nuwe groei en nuwe dimensies van heiligheid.

Dit sou ook met Romero gebeur: sy geleefde vroomheid in die barheid van uiterste kwaad om hom het hom ‘n voorvegter vir sosiale geregtigheid gemaak.

By die armes, by lyke van mense wat deur die magshebbers en hul meelopers vermoor is omdat hulle teenstanders was, het Romero die pad van groter heiligmaking begin loop wat ingestel was op verset teen sosiale onreg.

Die gesig van die maghebbers was boos. Die film wys byvoorbeeld ‘n toneel van ‘n jong lidmaat van hom wat deur ‘n groep soldate na ‘n vullishoop geneem word. Die aanvoerder stuur haar vooruit en bevel haar om te kniel. Maar sy draai om en kyk hom vol in die oë, stukkend geslaan en vol bloed. Hy fel haar neer met ‘n enkele koeël.

Later vertel iemand dat sy deur die groep verkrag is voordat hulle haar tong uitgesny het.

Die ander kant is ewe bleek: een van die ryk vroue kom vra Romero om haar kind te doop. Sy wil nie in die gewone tou inval waarin al die mense staan wat twee keer ‘n week hul kinders ten doop bring nie. Sal hy dan nie vir haar ‘n spesiale, private doopplegtigheid toelaat nie?

Hy, versigtig, vertel vir haar hy is jammer. Dit kan nie.

Sy bars uit: “Jy verwag tot nie dat ek saam met al die Indiane moet toestaan om my kind te laat doop nie?”

Uiteindelik is Romero op 24 Maart 1980 in ‘n kerk in ‘n dorpie doodgeskiet waar hy besig was om die nagmaal te bedien. Terwyl hy die nagmaalsbeker opgetel het, het die moordenaar hom met een koeël neergevel.

‘n Kwartmiljoen mense woon sy begrafnis by in wat as een van die grootste protesbewegings ooit in Suid-Amerika beskou word. Tydens die begrafnis skiet soldate wild tussen die skares in en dood 50 mense. Na sy dood begin die guerilla-oorlog.

Ek kyk die film met ekstra weersin in my gemoed. Die tirannie van ‘n militêre regering van ryk mense wat hulleself bevoordeel en oor die lewens van ander trap, roep vele herinnering op. Verskriklik is die beelde van mense wat afgemaai word omdat hulle in die pad van die magshebbers staan. Slu en listig is die manipuleringspogings van en dreigemente teen die kerk.

Pouse en presidente besoek vandag sy graf in die katedraal van Salvador. Obama was in 2011 daar. Oor die wêreld heen word sy nagedagtenis geëer. Dit word ‘n heiligdom waarheen ‘n mens ‘n pelgrimsreis onderneem.

Die wêreld, tans so agterdogtig oor al die aansprake van die kerk, herken nietemin goedheid, weet om die heilige te eer.

Maar vanaand bly iets anders die meeste by my. Sy biograaf, Brockman, noem die volgende eienskappe van sy geestelike pelgrimsreis op. Dit is die dinge wat Romero vir sy lewe gesoek het:

Liefde vir die kerk,
Diepgaande ondersoek van die gewete,
Beklemtoning van opregte vroomheid,
Sterwe aan jouself en berou,
Ingesteldheid op jou reinheid,
Geestelike vriendskap (mistagogie),
Eenheid met Christus deur mense wat na vryheid smag,
Soeke na kontemplatiewe gebed en om God in ander te vind,
Getrouheid aan wat God vra.

‘n Paar oomblikke voor sy dood het Romero die volgende gesê:

“Mag hierdie gebreekte Liggaam en hierdie bloed, geoffer vir mense, ons ook voed sodat ons ons liggaam en bloed vir lyding en pyn oorgee – soos Christus, nie vir onsself nie en om geregtigheid en vrede vir ons mense te leer. Laat ons verenig word in die intiemheid van geloof en hoop waneer ons bid vir Dona Sarita en vir onsself.”

Oomblikke later, terwyl hy die beker omhoog gehou het, het hy gesterf.

Blog Archive