Wednesday, February 27, 2013

Meer liefde om te kan liefhê.

Ek kry geen kommentaar opgespoor oor Elisabeth Eybers se gedig met die titel “Nadenking” nie:

Hier is die gedig:

Nadenking

Liefde ten spyt en ondanks goeie wil 
staan ek ontsteld by hierdie waarheid stil: 
dat, soos geeneen wat hom nie liefhet, ék 
‘n skaduwee oor sy oop gesig kan trek.
Wat anders as méér liefde kan my leer
om daardie swart vermoë af te sweer?

Die digter het die swart vermoë om ‘n skaduwee te laat val oor die “oop gesig” van die geliefde.

Dit is die seermaak van die ander een, die maat: ondanks die liefde, ondanks die sterk wil om nie seer te maak nie, gebeur dit tog.

Dit gebeur dus. En die een wat liefhet die digter, besef ontsteld wat hier gebeur.

Die liefde waarborg dus niks nie. Dit keer nie seermaak, pyn en skending nie.

Die liefde moet dus steeds meer word. Dit is nie liefde wat tel nie. Wat tel is om te bly gee, om meer lief te hê.

Dit is dus ‘n gedig oor die behoefte wat ‘n mens het om steeds meer te kan liefde kry – juis om meer liefdevol te wees.

Wonderlik is daardie aksenttekens: ék, ék wat die ander een lief het, ék is die een wat donkerte oor sy lewe bring.

En dan die dubbele aksenttekens. Ek wil nie so wees nie. Gee méér liefde, sodat ek meer kan liefhê, reg kan liefhê, sonder seermaak kan liefhê.

Hoe mistiek is die liefde tog nie.

Dit is wat ‘n mens in die nadenking begryp en waaroor ‘n mens wil bly nadink.

Blog Archive