Saturday, February 09, 2013

Christus bly hang aan die kruis. Oor immer-teenwoordige lyding





Mark Chagall, beroemd vir sy godsdienstige kuns, was as Jood geboeid deur die figuur van Christus.

Hy het iewers geskryf dat die simboliese figuur van Christus altyd na aan hom was en dat hy dikwels die “bleek” gesig van Christus in sy gedagtes gehou het.

Dit was veral die band tussen Christus en lyding wat Chagall onthou het.

Hy het verskeie doeke van die kruisiging geskilder. Een daarvan het ek voorheen bespreek (White crucifiction). (Groot my opgewondenheid toe ek in November die doek self in Chicago kon sien en afneem). Dit is seker een van die merkwaardigste skildery van die twintigste eeu.

Lank voordat hy White Crucifiction in 1938 geskilder het, het Chagall reeds in 1912 ‘n doek met die titel Golgotha / Opgedra aan Christus geskilder. Toe het hy al ‘n paar jaar lank sketse van die kruisiging gemaak.

Sy Golgotha was dus die produk van ‘n jong 25-jarige Chagall se jare-lange nadenke oor die kruis.

Die jong Rus, toe pas twee jaar in Parys, se lewe was al op daardie stadium deurtrek met gedagtes oor lyding. Hy het as kind al ervaar hoe Joodse gemeenskappe vermoor word. Hy sou sy lewe lank saamleef met die haat en venyn teen Jode wat tot die Jodeslagting in Duitsland gelei het.

Op 25 jaar staan – ondenkbaar – lyding in ‘n dik, rooi bloedstreep oor sy lewe uitgestryk. In 1933 en 1937 sou die Duitse Fasciste sy werke in museums wegneem om te verbrand – bloot omdat hy Joods was.

Chagall se Golgotha is ‘n boeiende uitbeelding van die kruis. Die
kruis is (anders as in Wit Kruisiging) nie heeltemal in die sentrum van die skildery nie. Dit hang effens links teen ‘n donkergroen agtergrond met kubistiese vorme. Daar is driehoeke en sirkels in die groen agtergrond.

Die kruis self smelt in die agtergrond weg, sodat die oog van die kyker eerder op die blou figuur aan die kruis val. ‘n Mens sien skaars die kruis. Dit word vaagweg uitgebeeld. Dit is presies wat Chagall wou bereik: vir hom was die kruis nie so belangrik soos die figuur van die kind wat byna in die lug sweef. Christus het ook nie wonde, spykers, ‘n doringkroon, ‘n wond in die sy of bloed aan sy liggaam nie.

Op die manier kry die figuur sterk simboliese waarde. Dit versinnebeeld by uitstek lyding.

Die merkwaardige is dat hierdie figuur ‘n kind is. Maar die liggaam van die kind is verwronge asof hy in pyn is en ‘n marteldood sterwe.

Uteindelik is die marteldood van Christus vir Chagall die eintlike tema van die skildery. In hierdie Christus-uitbeelding merk ‘n mens Chagall se sensitiwiteit vir die vervolging van mense en die oneindige lyding wat daaruit voorspruit.

Jesus is verder in die skildery ‘n Joodse figuur. Die Jode wat hom gekruisig het, het een van hul eie doodgemaak. Net so is, heel ironies, Christene wat Jode vervolg en doodmaak, besig om aan ander te doen wat Christus self onder sy eie mense gely het.

Die skildery het ‘n baie donker, vernietigende agtergrond. In die eerste dekade van die twintigste eeu is Jode beskuldig dat hulle kinders vermoor het om bloed in die hande te kry vir hul godsdienstige gebruike en rituele. Dit het tot grootskaalse vervolging van die Jode gelei en vele van hulle is gedood.  Daar was bv. so ‘n voorval in 1901 toe ‘n Joodse man aangekla is dat hy ‘n kind vermoor het om sy bloed te kan gebruik.

Maar dit is die man met die kruis aan die regterkant van die skildery wat my opval.

Hy oorheers eintlik die skildery. Die kruis staan eenkant. Die regter paneel van die skildery is oop en breed, met die man wat ‘n mens se oog vang.

Hy dra ‘n leer. In Chagall se kuns is die leer ‘n belangrike motief.

Wat beteken dit?

Die leer was deur die eeue heen ‘n simbool dat Jesus van die kruis afgehaal is. In vele tradisionele skilderye van die kruisiging sal ‘n mens die uitbeelding sien van Jesus se dissipels wat hom van die kruis afhaal terwyl hulle op ‘n leer staan.

Die man dra die leer weg van die kruis. Hier word Christus se liggaam nie van die kruis afgeneem nie.

Hy stap weg uit die skildery.

Lyding bly met ons.

Die onskuldige Jesus-kind bly vir altyd gekruisig, wil Chagall deur die skildery uitroep: eeu na eeu, word Hy opnuut gedood deur die wreedheid en lyding wat mense veroorsaak. Reeds as kind stap hy in lyding in. Tot aan sy dood is hy aan lyding uitgelewer.

Die voorgrond van die skildery is rooi – die bloed van Christus lê die wêreld vol.

Wanneer, roep die kruis-kind uit, sal mense tot hul sinne kom?




Blog Archive