Friday, February 15, 2013

Nederigheid.


Nederigheid is ‘n deug wat alle mens bewonder.

Daar is vele volkswyshede in omloop wat wys hoe hoog slaan mense nederigheid aan. “Moenie jou eie trompet blaas nie,” “hoogmoed kom tot ‘n val” en “eie roem stink” is voorbeelde van hoe ‘n gebrek aan nederigheid mense dwars in die krop steek.

Net soos hoogmoed ‘n gebrek aan nederigheid uitwys, net so kan ‘n mens nederigheid kontrasteer met ‘n verwerping van jouself.

Sommige persone dink regtig min van hulleself. Of hulle maak ‘n punt om hulle self af te takel.

Hulle kyk teen hulle foute vas. Dit kan so erg raak dat hulle hulself verag. In sekere situasies lei dit tot geestesafwykings waar mense hulself skend of akute minderwaardigheidskomplekse ontwikkel. In die ergste gevalle lei dit daartoe dat mense nie meer kans sien om te leef nie.

Ek is regtig ‘n slegte mens. Ek kan ander eintlik nie in die oë kyk nie. As mense maar net weet….  So voel mense soms oor hulleself.

Dit is nie nederigheid nie. Dit is ‘n self-vernietigende aftakeling.

Nederigheid het niks te doen met ‘n mens se innerlike aanvoeling oor jou eie meriete en goeie lewe nie. Dit het te doen met ‘n basiese lewenshouding wat in dankbaarheid teenoor God alles in jou lewe as ‘n seëning en ‘n genadegawe beskou.

In nederigheid besef jy dat wat ook al aan die goeie in jou lewe gebeur, aan jou geskenk word.

Maar nederigheid het met nog dieper dinge te doen.

‘n Nederige mens is iemand wat besef dat hy of sy kosbaar is: elke mens het die gawe van die lewe ontvang: elkeen is getransformeer in skepping. Dat ‘n mens die lewe as geskenk ontvang het, om te kan leef, is al ‘n onvoorstelbare seëning. ‘n Mens dink dus aan jouself as iemand wat kosbaar in God se oë is.

En as skepsel, iemand wat die gawe van die lewe ontvang het, bly ‘n mens verder voortdurend in God se gedagtes: transformasie in herskepping beteken dat die mens wat geval het, wat misluk het, wie se lewe vasloop, weer ‘n kans kry om op te staan en opnuut te begin. God se genade droog nie op nie. Moordenaars kry hierdie genade immers sonder ‘n enkele verdienste op hul sterfbeddens en aan kruise geskenk. Die mens is kosbaar in God se oë.

Dan weer, is daar die kans wat ‘n mens kry om ‘n lewe na aan God te hê deur naby aan Christus te leef. Die geskenk van intimiteit en nabyheid met God word uitgebeeld met die motief van konformiteit aan Christus. So hoog ag God mense dat God die ruimte skep vir mense om soos Christus te kan word. Die mens is kosbaar in God se oë.

Uiteindelik is daar die transformasie in die liefde en in heerlikheid. ‘n Mens word gemaak tot geliefde van God. “Geliefdes”, die ou aanspreekvorm van predikante uit vroeëre geslagte, vertel hiervan. Soos die Seun die Geliefde was, so is God se kinders geliefdes. En vir almal het God die heerlikheid bestem. Iewers, uiteindelik, omdat almal kosbaar in God se oë is, sal mense God aanskou. Trane sal weg wees. Honger en dors sal ophou. Ewig in God se arms sal mense wees.

Dit is wat God vir mense sê: hierdie vyfvoudige transformasie. Ek het jou geroep, ek het jou geskep. Jy is myne, kosbaar in my oë.

Dit is wat “God se woord”, die “evangelie”, die boodskap van Christus oor mense dink. Die onvoorstelbare goedheid van God, die oneindige ruimheid van die Liefde is die hart van die goeie boodskap.

En wie daaruit leef, kan met nederigheid die geestelike reis voorsit – met die volle wete dat hy of sy kosbaar in God se oë is. As God soveel omgee, as God ons huis toe bring uit die varkhokke, wie is ons om onsself as onwaardig te beskou? Wie afhanklik is van God, luister na die stem van die Liefde, ontvang genadiglik die feeskleed. Dit is genoeg. Dit stem tot dankbaarheid en bring ‘n mens steeds nader aan God. Sonder die Nabyheid, die Liefde is mens niks. In die liefde is ‘n mens God se gunsteling-kind.

Blog Archive