Thursday, February 07, 2013

Oor Bybelse mistieke tekste.


Dikwels hoor ‘n mens hoe dieselfde beswaar teen die mistiek herhaal word. Mense, veral teoloë is vol argwaan teenoor die mistiek, want die mistiek het al te dikwels ‘n negatiewe betekenis: Hulle voel dit is ‘n beweging waarin die grense tussen God en mens uitgewis word. Die mens word, so word gesê, opgeneem en eintlik verswelg in ‘n mistieke eenheid met God.

Dit is vir hulle ondenkbaar, omdat dit sou beteken dat die mens vergoddelik word.

In hierdie dae lees ek Peter Schäfer se boek: The Origins of Jewish Mysticism. Schäfer is een van die mees gerekende kenners van die vroeë Jodedom en veral die mistieke tekste. Hy beklee ook een van die mees gerespekteerde leerstoele aan Princeton Universiteit wat seker een van die belangrikste universiteit in Amerika is (nie die veel kleiner en onbekender Princeton Theological Seminary nie). ‘n Mens luister na hom. Hy weet waarvan hy praat.

Ek lees dus met spesiale aandag wat hy skryf oor die aard van die mistiek in Bybese tye en by latere Joodse groepe. Hy doen dit in ‘n afdeling met die titel (unio mystica – die mistieke eenheid).

Dit is gou duidelik dat die mistiek op meer as een manier benader en verstaan kan word. Dit is een van daardie tema’s wat erg dubbelsinnig is.

‘n Mens kan oor die mistiek praat soos ons dit vandag leer ken het met beroemde figure soos Ruusbroec, Eckhart en vele ander. Dit is moderne vorme van mistiek wat baie bekend is by kenners van Spiritualiteit en Mistiek.

Veel aandag word deesdae egter bestee aan die mistiek in die latere Joodse tradisies (soos die Hekhalot en veral die latere Joodse Kabbala).  Maar daar is al hoe meer belangstelling in mistiek in Bybelse tye. Bybelskrywers en figure soos Jesus en Paulus het apokaliptiese boeke geken (soos 1 Henog, aangehaal in Judas se brief). Die apokaliptiese boeke was mistieke tekste. Belangrike groepe soos die Qumran-gemeenskap by die Dooie See het ook van die mistieke geskrifte gelees (bv. Die Liedere van die Sabbat-Offers en die Lied van Self-Verheerliking).

Hedendaagse Christene is dikwels onbewus van hierdie mistieke boeke. Sekere Joodse groepe in die Bybel (voor en in die Nuwe-Tetamentiese tyd) het dus graag mistieke tekste geskryf en gelees.

Die groot spesialis en baanbreker in hierdie studie van Joodse mistieke tekste was Gershem Scholem. Hy het in die eerste helfte van die twintigste eeu die oë van die teologie oopgemaak vir die mistiek – iets wat voorheen nie soveel aandag geniet het nie of wat geringgeskat is.

Tot op daardie stadium is mistiek meestal in die algemeen verstaan as “eenheid met God.”

Scholem was beslis afwysend teenoor die mistiek as eenheid met God. Joodse tekste sal nooit praat van ‘n “totale” eenheid van die mens met God nie want hulle hou vas aan die kloof tussen God as Skepper en skepsels.

Deur Scholem se invloed het vele kenners na hom geargumenteer dat daar nie regtig so iets soos Joodse mistiek is nie want die kern van die mistiek as eenheid met God kry ‘n mens nie in sulke tekste nie.

Een so ‘n voorbeeld is die werk van Zaehner. Zaehner skryf in navolging van Scholem dat daar nie sprake is van Joodse groepe wat sal beweer dat ‘n mens verenig word met God as die oneindig Grotere Een. Hy gee egter toe: ‘n Mens sou wel kon praat van “gemeenskap” met God, maar nooit nie van eenheid met God nie.

Schäfer wys daar op dat die bekende en invloedryke Britse teoloog, Philip Alexander, ook hierdie onderskeid oorgeneem het. Hy verwys na teïstiese tradisies wat ‘n onoorbrugbare ontologiese kloof tussen die Skepper en skepsels onderstreep. By hulle sal ‘n mens hoogstens die mistiek as gemeenskap met God raakloop. By panteïstiese tradisies sal ‘n mens vind dat skrywers eenheid met God soek.

Sommige kritici van Scholem se werk het egter van hom verskil en gedink dat die mistiek as eenheid met God die belangrikste mistieke tradisie onder Jode was. ‘n Bekende figuur in hierdie verband was Idel, wat twee rigtings in die Joodse mistiek onderskei het. Aan die een kant, skryf hy, was daar die mitosentriese, teosentriese oop mistiek wat nie in eenheid met God belanggestel het nie.

Idel praat egter van ‘n ander tradisielyn in die Joodse mistiek wat volgens hom nie deur Scholem ernstig opgeneem word nie. Die patroon is veel meer antroposentries, esoteries, subtiel, individualisties en oop vir paranormale ervarings. Hierdie tekste praat wel van ekstatiese belewinge en stel wel belang in eenheid met God.  Volgens Idel is hierdie mistieke lyn die belangrikste van die twee.

Uit hierdie bespreking, waaroor ek nog meer wil werk, blyk nou al dat daar wel Joodse tekste is (wat ook op die Nuwe Testament invloed uitgeoefen het) wat ‘n mens “mistiek” sou kon noem. Op sy minste gesê wil hierdie mistiek praat van ‘n verlange en soeke na ‘n intieme gemeenskap met God. In sy mees ekstreme vorme kry ‘n mens, as jy mense soos Idel volg, tekste waarin mense soek en verlang na eenwording met God. Dit lyk goed om verder hieroor na te dink.





Blog Archive