Saturday, February 23, 2013

'n Mens kan die wet gehoorsaam en God verloor.







Markus 2:23-28 vertel hoedat Jesus saam met sy dissipels op die sabbat deur ‘n koringveld gestap het en hoe sy disspels are van die gesaaides gepluk het. Die Fariseëers vra verontwaardig vir Jesus waarom sy dissipels ongehoorsaam is aan die Sabbatswette.

In sy antwoord gee Jesus aandag aan twee sake:

Aan die een kant is daar die wet wat God gee om mense ‘n insig in God se wil te bied en daarby te lewe.

Aan die ander kant is daar die mens en sy besondere omstandighede.

Die twee staan nie teenoor mekaar nie. Hulle is ten nouste vervled: ‘n Mens se lewe draai om die wil van God. Vandaar dat ‘n mens die wet lief het en volg. Maar die wet bestaan ook nie sommer net ter wille van die wet nie. Die wet is vir die mens gemaak om vir die mens te verduidelik wie God is.

Die mens kan die wet oortree. Soms is doen mense dit uit pure ongehoorsaamheid. Ander kere weer is dit omdat die mens in ‘n dilemma beland.

Jesus verwys as voorbeeld na Dawid wat in die tempel ingegaan het en van die toonbrode geëet het. Hy en sy manskappe was heeltemal aan die verkeerde kant van die wet, want net die priesters is toeglaat om daarvan te eet. Dit is soos die wet dit bepaal het.

Maar Dawid was honger en wou sy manskappe voed.

In Matteus se weergawe van hierdie verhaal, word spesifiek vertel dat Jesus se dissipels honger was toe hulle die koring gepluk het (Mt. 12:1).

Jesus verduidelik verder: ‘n mens moet verstaan wat “die wet” is: God het nie ‘n wet geskape en toe ‘n mens wat aan daardie wet gehoorsaam moes wees nie. Daar is nie “dogmatiese en morele waarhede” waarby die mens hom of haar moet neerlê nie. Daar is net ‘n verhouding tussen God en mens waar die mens God se wil leer ken en inoefen. In hierdie verhouding word die mens steeds weer gevorm en gevoed om nader aan God te leef.

God het nie, in die woorde van Buber, ‘n ek-dit verhouding nie. God skep mense. Die verhouding van God tot mense is ‘n liefdesverhouding. In die verhouding sien God met ontferming om na mense. Wat tel is dat mense steeds weer in die geborgenheid van hierdie ontfermende verhouding tuis sal wees. Vandaar dat Matteus juis in sy weergawe van die verhaal beklemtoon dat God barmhartigheid verwag (Mt. 12:7)

Die wet is nuttig. Dit help mense om koers te hou. Die wet lê bakens neer. Die honderde voorskrifte van die wet wil ‘n mens ‘n liefdevolle, ontfermende volgeling van God help maak.

Neem byvoorbeeld die sabbatswet: God rus eers op die sabbat nadat God die mens geskape het. Eers die mens, dan die sabbat.

God se grootste begeerte is om met die mens in 'n verhouding te wees. 

Maar tog en meer nog: Die sabbat word ‘n tyd waarin ‘n mens nie werk nie om in God totaal tot rus te kan kom. Dit is die dag van intieme nabyheid aan God. Alles in en om ‘n mens moet hierop gerig wees.

Alles is dus daarop gerig om die mens rus in God te laat vind.

Kyk nou na die ironie: hier is dissipels van Jesus wat saam met hom op die Sabbat is. Hulle het honger. In die loop saam met Jesus, skryf Markus 2:23, het hulle are gepluk. Die Afrikaanse vertelling lui: “in die loop.”

Hulle is naby aan die Here, lerende, wandelende, besig met hulle geestelike reis. Dit was wat vir hulle saak gemaak het. Hulle onderbreek nie die reis om hulle hongerpyne te stil deur huis toe te gaan om by ‘n tafel te loop aansit nie. Hulle eet sommer rou koringare. Hulle wil by Jesus wees, naby, intiem in die goddelike teenwoordigheid.

En, toe hulle “betrap” word dat hulle die Sabbatswet verbreek, gebruik Jesus juis daardie “oortreding” om Hom oor hulle te ontferm deur hulle dieper in God se wil in te lei met sy antwoord aan die Fariseërs. Hy leer hulle nou oor die noue band tussen die wet en ontferming. Hulle leer nou meer van Jesus, die Een wat Hom steeds ontfern het, oor die wet.

Want eintlik sê Jesus vir hulle: wanneer ‘n mens ook al iets doen, doen ‘n mens dit veral uit liefde en omgee. En in die soektog na omgee laat ‘n mens jou deur niks stuit nie – nie eers deur die voorskrifte van die wet nie.

Die hart van geloof is om by God te wees en in God te rus. Alles, ook alle bepalinge van die wet, is hierop ingestel.


Blog Archive