Friday, February 22, 2013

'n Vreemde spesie: oor die geboë hoof en die gevoude hande.

Die magistraat in die borgtog-aansoek het met 'n droeë, saaklike inleiding vertel waarom hy terughoudend was oor die teenwoordigheid van die massa's van mense wat namens die media in sy hofsaal oor die saak wou verslag doen.

Hulle kan, het hy gesê, die weergawe van die hofverrigtinge manipuleer sodat dit eensydig en uit verband oorkom. Hulle kan dus uiteindelik 'n invloed op die saak se verloop hê en daarmee die gang van die reg beïnvloed. Vandaar dat hy hulle net sekere tye van die saak toegelaat het om beelde op te neem.

Hulle versinnebeeld vir my die onlesbare dors van mense om meer te weet.

En, reken die hoof-landdros, 'n mens kan ook begryp. Mense wil meer weet, hulle wil ingelig wees. Hier is vir vele mense iets belangriks aan die gebeur. Hoe kan 'n mens dit dan ook wil uitsluit of verbied?

Dan voeg die magistraat by: Hy het gekyk wat in die hofsaal aangaan. En gesien hoe hulle vir die Oscar Pistorius omring en behandel soos 'n vreemde spesie op die aardbol.

Die dors, voel dit vir my, vir meer weet ken nie grense nie en reken nie menslikheid nie. Dit teer op sy eie gedrewenheid en loop met groot voete oor ander.

So begin die magistraat sy byna twee uur lange uitspraak oor die aandag vir die saak van buite die hof. Dit is amper asof dit iets is wat hy van sy hart moes afkry.

Ek luister aandagtig hieroor na hom.

Ek hoor in sy bedaarde stem die verbasing, miskien selfs die verbystering oor wat voor hom afspeel. Dit is ongekende wêreldnuus. Op internasionale nuuskanale word direkte uitsendings van die hofgebeure as vars nuus aangebied.

Ons het die tonele in die hof met die media-mense elke dag gesien: dit het 'n mens soms byna laat dink aan bloedhonde. Elke keer weer wou hulle oor en oor dieselfde toneel afneem. Dit was 'n objek voor hulle, 'n vertoonstuk  wat afgeneem sodat dit in miljoene huise bekyk kan word. Hulle het hom omring en oor en oor hul kamera's laat kliek en kliek.

Hoe vergeet 'n mens ooit die gesig? Die jongman, reeds gebukkend onder die las van die ellende, trauma en skok van die gebeure, verder getraumatiseer deur die hofsaak en die felheid daarvan, aangehou vir dae lank in 'n tronksel, wat alleen die brutaliteit van daardie uitgerekte foto-sessies moet uitstaan. 

Hy kon naderhand net met geboë hoof en gevoude hande staan.

CNN het na die uitspraak op hul uitsending herhaaldelik twee nabyskote van hom gewys: Op die een staan hy met toe oë. Op die tweede foto wys hulle net sy gevoude hande. 

Oor en oor het hulle die twee beelde gewys.

Hoe lees 'n mens die twee foto's? Waarom kies hulle juis die twee? 

Wonder ek. En sal hulle of iemand anders dit lees soos ek na hulle kyk?:

Dit is die oomblikke: dat 'n mens maar net oë kan toemaak en in jouself inklim, jou innerlike opsoek en jou hande voor jou vou asof jy 'n kring om jou trek.

Dit is die tyd waarin jy desperaat wil wegkom. 


No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive