Die mistieke ervaring om bemin te word. Oor die Ou Testament en die mistiek (3)
Spiritualiteit gaan om die steeds dieper wordende verhouding wat God met die mens aanknoop en wat die mens omvorm. In sommige tekste in die Ou Testament word hierdie verhouding in hartstogtelike liefdestaal uitgedruk. En in Spiritualiteit word dit gedurig deur weer en weer onderstreep.
In Hosea 11:1 vertel God dat “toe Israel nog ‘n kind was, het Ek hom al liefgehad.” En in Hosea 11:4 word die durende liefde uitgewerk: “Ek het hulle met sorg en liefde gelei” – of soos die Ou Vertaling dit poëties uitskryf: “Met mensebande, met koorde van liefde het Ek hulle getrek.” (Wat is die 1983 Vertaling dikwels so vaal en verlep, tog). Hosea wil hiermee God se harstogtelike liefde vir Israel uitwerk – God se begeerte om voluit vir Israel as die geliefde te stry. “Goddelike liefde word deur die Ou-Testamentiese profete en die deuteronomistiese literatuur onuitwisbaar na vore gebring om trou en ontrou, kontinuïteit en breuk, verlede en toekoms te verklaar” skryf Noort om te wys watter sleutelposisie die liefde het (kyk maar bv na die programmatiese Deut.7:7-11). Daarmee word die Ou Testament as boek van liefde, van goddelike liefde uitgewys.
Maar die latere Joodse mistici, skryf Noort, het hulle mistieke verhouding met God eerder aan die hand van Hooglied beskryf as deur die Ou-Testamentiese tekste oor God se hartstogtelike liefde. Hooglied was, soos vele eksegete vandag skryf, oorspronklik alledaagse liefdesliedere – waarskynlik uit die tyd voor die ballingskap (587 v.C). Maar teen die eerste eeu n.C. is hulle lank nie meer as sulke sekulêre liedere deur Joodse en Christelike lesers gelees nie. Trouens, slegs ‘n klein groepie het hulle as nie-godsdienstige liedere gelees. Sommige dink dat Hooglied in die Bybel beland het, juis omdat menige gelowiges dit in ‘n geestelike sin as goddelike liefdesboek gelees het.
Verreweg die meerderheid Bybellesers het Hooglied allegories en tipologies gelees in Bybelse tye. “Die man wat ek liefhet, is vir my ‘n sakkie mirre wat tussen my borste lê” (Hoogl 1:13) is byvoorbeeld verstaan as die teenwoordigheid van die Here tussen die gerubs in die allerheiligste van die tempel. Christene het dit tipologies met Christus en sy verhouding met die kerk of die gelowige verbind.
Dit het in latere Joodse groepe ‘n diepe en belangrike simboliese betekenis gehad. Sekere Joodse groepe lees Hooglied op die vooraand van die sabbatsviering as herinnering aan God se liefde vir Israel. Ander weer lees dit tydens die pasga-vieringe. In die latere Joodse mistiek vanaf die 14e en 15e eeu (die kabbala) is die boek gelees as simbolies vir die skepping van die wêreld, die Sabbat, die verbond met Israel of die koms van die Messiaanse tyd. Die gawes van God aan Israel en die wêreld is daarmee gevier as deel van ‘n besonder intieme, self eroties gekleurde verhouding tussen God en die volk.
Hierdie liefdestaal van die Ou Testament en die erotiese taal van Hooglied veral, het vir latere gelowiges die boustene verskaf waarmee hulle iets wou beskryf van die noue, intieme verhouding wat God met mense aanknoop.
Die mistiek vertel hoe ‘n mens oorweldig word deur die Goddelike aanraking, soveel so dat ‘n mens jou gerigtheid op jouself verloor in die oorstelpende liefde wat van buite na jou toe kom. Die verhouding wat God met mense aanknoop is so besonder en uniek dat ‘n mens nie genoeg aan hierdie liefde kan kry nie. En van alle boeke in die Ou Testament is dit veral Hooglied wat die intense intimiteit van hierdie verhouding met God die beste kon uitbeeld vir die mistici. Die vuur, die gloed, die teerheid en die volheid van hierdie liefde was vir hulle versinnebeeld in die totale skoonheid van egte liefde tussen geliefdes wat hulle self in mekaar verloor.
Hoe moeilik is dit om te vertel wat beteken dit wanneer die suiwerheid van die Goddelike liefde in jou lewe binnekom. Hoe tastend, soekend en byna radeloos is ons om die taal te vind wat reg sal laat geskied aan dit was ons begrip te bowe gaan. En mense wat weet hoe vervullend en helend ‘n intieme liefdesverhouding kan wees, sal verstaan dat die mistici iets oor God se liefde aan die hand daarvan wou uitbeeld. So mooi soos die liefde tussen twee geliefdes, net duisend keer mooier, só mooi is God se liefde vir mense.
Ek het hierdie waarheid op ‘n spesiale manier begryp deur ‘n unieke ervaring wat ek in ‘n gemeente meegemaak het. Op ‘n dag het ‘n kru, siniese en growwe mens wat al lank tyd elke oomblik gebruik het om platvloers oor mense om hom se godsdiens te praat, weer iets kwetsend kwyt geraak voor ‘n vrou wat ‘n diep gelowige mens was en wat baie naby aan die Here geleef het. Sy was in sy winkel om iets by hom te koop. Sy woorde het haar so gekwets dat sy in trane voor hom gaan staan het en hom aangevat het. Op een of ander manier, het hy later uit eie beweging berouvol in die kerk voor die gemeente kom vertel om vir almal vergifnis te vra vir wat hy altyd so maklik kwyt geraak het, het sy soveel pyn getoon, was sy so seergemaak deur wat hy gesê het dat dit hom diep geraak het. Hy kon sien hoe sy God se liefde vir haar diep persoonlik ervaar het, sodat dit wat hy oor God voor haar gesê het vir haar soos geselhoue was.
Haar woorde van pyn was, het hy op sy manier oorvertel, vir hom ‘n mistieke ervaring wat sy lewe omgekeer het. Die vrou het só oor God se liefde vir haar gepraat dat hy deur haar woorde sy eie liefdeloosheid intens ervaar het. Dit was, het hy gesê, asof sy in die diepste van haar hart stukkend geslaan was. En haar wonde oor God se liefde wat so bespotlike gemaak word, het hom ook laat bloei onder die liefdeloosheid van wat hy so dikwels dag vir dag kwytgeraak het. In haar wonde het hy te staan gekom voor die merkwaardige feit dat God se liefde konkreet, maar sag in die harte van mense inwoon en deel word van waar hulle ook al gaan. En die liefde was so deel van haar bestaan, dat die een wat hierdie liefde gekwets het, haar self in die proses verwond het.
God is liefde, vertel ons, sing ons, skryf ons, getuig ons. Daar is pragtige ou, rooi kanselklede met die frase in sierskrif uitgeborduur deur eerbiedige hande, nou dalk gedump op die stofrakke van menige kerkkantoor, waarop hierdie kriptiese, maar kragtige frase Sondag vir Sondag die gemeente herinner het aan die mees kenmerkende aspek van spiritualiteit – God se liefdesverhouding met die mens.
Iewers bo ‘n mens se verstand heen, ervaar vele gelowiges hierdie woorde as baie meer as blote woorde of as ‘n goeie pligpleginkie. Daardie liefde word deur gelowiges merkwaardigerwyse op die geestelike lewensweg soms besonder intens beleef. Dit word vir hulle ‘n mistieke ervaring om bewus te word dat hulle deel in ‘n sfeer van oewerlose omgee en dat hulle bemin word op 'n onbegryplik diepe manier. En, soos die geestelike weg eenmaal is, wie leef uit hierdie mistieke ervaring, skep die ruimte vir ander om ook in hul lewens die verborge aanraking van die Liefde te voel – selfs wanneer hulle die Liefde verliederlik.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.