Ons simposium van die afgelope week is gehou in 'n pragtige Regency-styl huis wat aan die Anglikaanse kerk behoort. Dit is 'n rustige plek van afsondering waar mense dikwels vir afsonderingsgeleenthede gaan. Hulle bring dan die tyd in stilte deur, maar daar is ook 'n geestelike mede-reisiger tot hul beskikking indien hulle met so iemand wil praat. Terwyl ons daar is vir ons simposium, hoor ons dat Suid-Afrikaanse groepe ook gereeld daar bymekaar kom.
Die plek se naam is Glenfall House en dit is naby Cheltenham.
Die omgewing is beeldskoon, soos my foto's hieronder bietjie laat wys.
Tydens die simposium het elkeen van ons 'n kans gekry om 'n aanbieding te lewer. Dit is voor die tyd gesirkuleer en dan intensief bespreek. Daar was nie veel tyd om die wondermooie omgewing te bedink terwyl ons soveel gesels het nie. Maar iewers was daar in ons gesprekke vir my 'n belangrike groeiproses aan die ontwikkel. Ek het gevoel dat dit 'n tyd van toetsing was wat aan ons besondere uitdagings gestel het.
Saans het ons ons gesprekke voortgesit, maar hierdie keer in kleiner kring om oor allerhande dinge te gesels, maar ook oor die meer praktiese kante van die toekoms van Bybelse Spiritualiteit. Seker die belangrikste ontwikkeling was om 'n internasionale werkgroep van spesialiste op die been te bring wat ongeveer een keer per semester sal bymekaar kom en met verdrag publikasies sal lewer.
Die meeste van ons kom al 'n entjie saam, daarom dat ons ook in seker opsigte 'n paar sterk treë vorentoe kon gee. Ons kollega's van Nijmegen (Waaijman, Huls) het hul bydrae gelewer en soos gewoonlik het Waaijman met sy rustige en volwasse insig belangrike insette gelewer. Huub Welzen het ook deelgeneem. Hy is 'n Nuwe-Testamentikus wat gesout is in die vakgebied. Hy besoek Suid-Afrika in September wanneer hy in Bloemfontein by die nagraadse M.-kursus optree.
Dit is egter meer as net wetenskaplike bande wat ons aanmekaar bind. Ons groei ook in ons wedersydse verstaan van mekaar, maar ook in ons begrip vir die uitdagings wat op ons wag. Ons is besig om 'n nuwe bedeling binne te gaan waarin ons veral op soek is om die geestelike lees van die Bybel te bedink. Vir baie dekades en eeue het navorsers die Bybel gefynkam vir 'n dieper verstaan. Hulle was gelowige mense wat nie sommer net losweg met die teks wou werk nie. Met toewyding het hulle die Bybel histories, kultureel, sosiologies, narratologies en met vele ander perspektiewe ondersoek. In hulle tyd is die wetenskap deur allerhande vrae uitgedaag om na te dink oor die Bybel as historiese boek: wat is die gebeur wat agter die teks skuil? En hoe het die mense uit latere geslagte die teks verstaan? Wie was Lukas? En in watter konteks moet hy geplaas word? Nog ander vrae het gevolg: hoe lyk die Bybel as boek? Hoe is die teks gevorm? Watter literêre insigte help ons om die boodskap van die boeke te begryp? Hoe is die boeke se argumentering ingeklee? Met watter literêre tegnieke het skrywers hul hoorders oorreed om na die Evangelie te luister? Dit was belangrike vrae wat gevra is oor die Bybel wat as boek soos enige ander boek gelees moet word. Hierdie vrae en ondersoeke was nie altyd so opwindend nie. Maar hulle moes ondersoek word en het in baie opsigte vir ons bevrydend in ons geloof gewerk. Daardie werk moet 'n mens dus nie onderskat of geringskat nie.
Mettertyd het ons nog verder gegroei deurdat ons besef het ons kan nie maar net die Bybel self ondersoek nie. Ons moet ook na die lesers daarvan kyk. In ons wetenskap groei toe die besef dat die Bybel nie maar net 'n boek is wat objektief ondersoek kan word nie. Daar was baie lesersgemeenskappe wat die Bybel in hul tyd ingetrek het en wie se omstandighede in latere tye hul verstaan van die Bybel wesenlik bepaal het. Daarom het ons Protestantse, Anglikaanse, Charismatiese en ander leesgrepe op die Bybel. En ons sien ook deesdae wetenskaplike ondersoeke wat wys hoe mans die Bybel ten koste van vroue gelees het, of rykes ten koste van armes, of magtiges ten koste van die mense aan die rand van die samelewing. Dit is allerhande "kontekstuele" grepe op die teks. Dikwels het hierdie groepe al die "inligting" van vorige eeue se ondersoek voor hulle, maar elkeen van hulle verstaan dit weer verskillend en interpreteer dit anders.
Die rol van die leser in die verstaan van die teks was daarom 'n belangrike ondersoeksveld. Hoe dra die leser van 'n teks by tot die vorming van betekenis?
In elkeen van hierdie fases wou wetenskaplikes die boodskap van die Bybel beter verstaan. Daarom sal ons ook in al hierdie fases iets "spiritueels" raaksien. Daar is soms wonderlike en boeiende geestelike dimensies in die harde wetenskaplike arbeid van baie eeue. Welzen se boeiende bydrae tot ons simposium het dit ook uitgewys. En 'n mens kan heelwat "teologiese" of geleerde tekste uitwys wat geestelik vormend was en groot invloed uitgeoefen het.
Daarom is Bybelse Spiritualiteit nie 'n nuwe ontwikkeling in die sin dat dit iets doen wat nog nooit tevore gedoen is nie. Dit sou arrogant wees om daardie aanspraak te maak of om voor te gee dat eeue van Bybelse navorsing nutteloos en ongeestelik was.
En tog sou 'n mens ook sekere vrae aan die wetenskap van die verlede kon stel - wat tans vanuit Bybelse Spiritualiteit gedoen word. In die pogings van die verlede om baie vrae te beantwoord, is daar dikwels meer geluister na die stemme van latere tyde en navorsers as na die stemme van geloofsgenote in die Bybel. Net so dikwels is die geestelike stem van die Bybel oordonder deur die groot aansprake van latere navorsers. Daarom is byvoorbeeld baie aandag aan historiese vrae gegee sonder dat die geestelike boodskap van die Bybel sy regmatige plek ingeneem het.
Maar Bybelse Spiritualiteit wil nie net wys op sekere problematiese uitgangspunte, metodes en uitkomste van die verlede nie. Dit wil tog ook iets nuuts doen deur op 'n wetenskaplike manier na te dink oor die geestelike karakter en resepsie van die Bybel. Vanuit 'n model vir geestelike lees kan 'n mens die geestelike dimensies in die wetenskaplike werk wat oor die eeue heen gedoen is herken en beskryf. Maar ons word deur hierdie werk in Bybelse Spiritualiteit gehelp om pertinent die geestelike boodskap van die Bybel te bedink. Anders as voorheen is ons werk nie om onder andere die Bybel geestelik te lees nie, maar spesifiek om veral na te dink oor die geestelike lees daarvan. Daarom kyk 'n mens byvoorbeeld na die verhoudinge, die transformasies, die prosesse wat in die historiese gebeure of in die literêre vorme of in die resepsie van tekste plaasvind.
Hoe het, byvoorbeeld, Paulus nagedink oor die verhouding tussen God en mens? Hoe het hy oor God gedink? Wat was sy beeld van die mens? Hoe dink hy na oor die transformasie van mense? Verander God ook in God se verhouding met die mensdom? Op die manier ondersoek 'n mens veral die geestelik reis van die Bybelse gelowiges en van die voorgeslagte wat daardie reis ook geloop het. En ons vra dan wat dit beduie vir 'n mens wanneer 'n mens vandag geestelik op reis gaan?
Meer nog: Bybelse Spiritualiteit wil hierdie keer tog beklemtoon dat 'n mens moet verder gaan: 'n mens lees die Bybel geestelik omdat 'n mens verwag dat jy self deur die geestlike impak van die teks geraak en sal verander word. Alles wat 'n mens raaksien aan verandering in die Bybel en in lesers van latere tye wat die Bybel gelees het, skep 'n raamwerk waarin 'n mens jouself blootstel aan dieselfde omvorming. Dit gebeur nie net sommer nie. 'n Mens moet daarvoor oplet en 'n mens moet bewus gemaak word van hoe hierdie self-implikasie kan werk.
Ek luister juis tydens ons simposium na een van die deelnemers. Hy het gekies om sy bydrae te lewer oor 'n gesprek tussen gelowiges. Vandag, argumenteer hy, is spiritualiteit by uitstek 'n beweging waarin mense met mekaar op weg gaan, bewus van hul eie vooroordele en magsgrepe, maar ingestel daarop om na mekaar te luister en bymekaar te leer. En tog, is hy uiteindelik die een wat heel eerste en heel vinnigste aan die ander groeplede vertel hoe verkeerd hulle die Bybel lees. Dit was 'n stukkie ironie wat goed geillustreer het hoe 'n mens groot aansprake kan maak en tog totaal daarby verby leef.
In 'n sekere sin doen Bybelse Spiritualiteit dus tog iets nuuts: dit beklemtoon, anders as baie van vorige geslagte, dat 'n mens nie die Bybel as enige ander boek lees nie. Dit is die boek van die Gees wat deur die eeue werk, maar wat alle lesers, ook huidige lesers wil aanraak en vernuwe. Daarom "verstaan" 'n mens die Bybel net as jy 'n gelowige mens is. Jy self, in jou eie hart, siel en verstand, moet deurdrenk word van hierdie geestelike waters voordat jy op enige manier kan dink daaraan om dit te laat deurstroom na anders.
Dit is 'n groot storie: hierdie self-implikasie. Jesus het al daaroor met sy Farisese godsdiensgenote geworstel.
Bybelse Spiritualiteit is dus uiteindelik 'n worsteling om jou eie siel.
Juis daarom val dit my deesdae op hoe versekulariseerd so baie mense om ons is dat hulle hul geloof wegsteek wanneer hulle die Bybel optel of toelaat dat hulle deur die tydsgees in hul lees van die Bybel gestuur word. Sekularisering is nie noodwendig sleg nie. Dit kan soms goed wees as slegte magsaansprake oor die Bybel en van die kerk gestroop word. Maar terwyl ons graag afskeid neem van slegte magsgrepe op die Bybel en luister na wat mense van ons tyd vir ons oor die Bybel vertel, lees ons tog nog die Bybel omdat ons dit herken as 'n teks wat mense radikaal kan omvorm. Dit is 'n teks wat nog baie vir ons tyd te vertel het. Al is die Bybel 'n teks van millennia terug, is dit 'n teks wat op 'n spesiale manier vir ons lewenssin ontknoop. As ons nie die teks herken vir sy dinamiese en transformerende werking nie, kan ons nie in die verlengde daarvan geestelik groei nie. Die uitdaging is soveel enormer omdat 'n mens self as toetsteen die ruimte moet word vir hierdie transformasie om te gebeur. Die egte geestelike mens is die mens wie se oog gedurig op sy eie, koue hart ingestel is, biddend om daarvan verlos te word. Esegiel het dit tog duidelik gemaak hoedat die groot toekoms sal kom wanneer God in ons brandende harte van die gees sal gee.
Ons simposium het vir my gewys dat dit geen maklike taak is om na te dink oor Bybelse Spiritualiteit nie. Daar is baie vrae en velerlei uitdagings. En tog het ek die gevoel gekry dat ons deel was van 'n tydlose gesprek oor die verborge werking van God onder ons.
As ek nou aan die simposium terugdink, is dit vir my asof die beelde van die volgende foto's by my die langste sal bly nawerk.
God se liefdevolle hand in die natuur is ook die God wat die liefde in ons harte skryf.... as ons maar daarna verlang en daarvoor sal vra.
Sunday, May 09, 2010
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
Blog Archive
-
▼
2010
(356)
-
▼
May
(27)
- Wanneer mense doodgeskiet word omdat hulle kos wil...
- Ekstase en mistiek.
- Die mistieke ervaring om bemin te word. Oor die Ou...
- Om God te "sien." Nog 'n mistieke dinamika in die ...
- Die Ou Testament en die mistiek
- Verinnerliking: om te leef van die goddelike waarheid
- Verlange na God. Oor oratio.
- Om die wil van die Here te onderskei.
- 'n Week van verryking
- Volmaaktheid
- Tye van verkwikking
- Die broosheid van ons kommunikasie
- Om te leef uit God se ontferming
- Van die wingerde tot afval.
- Wat is kontemplasie?
- Wat is kontemplasie?
- Volmaaktheid as praksis. Oor die teenwoordigheid v...
- Volmaaktheid
- Kyk, en kyk, en kyk en kyk.
- Ontferming as 'n kernwoord in spiritualiteit
- Ontferming: om duwweltjie en glas drie handbreedte...
- Lente in die verborge teenwoordigheid van God
- Wanneer 'n mens skaam is om 'n Bybel te koop...
- Ouderdom sit in die kop. Oor 'n mede-treinreisiger.
- Jonatan en die heuning.
- Lank voor ons weet en verstaan, is God daar....
- 'n Week van praat in Engeland...
-
▼
May
(27)
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.