Wednesday, May 12, 2010

Volmaaktheid

Terwyl ek my vir pinkster voorberei, herdink ek begrippe wat tot ‘n groot mate uit ons geestelike lewe verdwyn het, maar wat kernwoorde van Christelike spiritualiteit is.

Een so ‘n woord is volmaaktheid. Ek onthou nog, uit my kinderdae, dat ons bang gemaak is vir die woord “volmaaktheid.” Dit kan nogal ‘n lastigheid word, is ons vertel, en selfs ‘n lasterlikheid, as mense begin dink hulle is “volmaak.” In die proses broei daar ‘n geestelike hoogmoed in en oor hulleself en gaan dit dikwels gepaard met ‘n lelike vingerwysing na ander wat kwansuis minder volmaak is. Paulus het ook hierdie probleem gehad met mense wat allerhande “groot” geestelike gawes ervaar het, maar eintlik kinderagtig in hul geloof was. Terwyl hulle gespog het oor hul eie geestelikheid, het hulle uitgeblink in onvolwassenheid. Daarom skryf hy byvoorbeeld in 1 Kor.14:20 aan die Korintiërs: “Moenie in julle denke kinders wees nie. Wees onvolwasse in die slegte dinge, maar in julle denke volwasse.”

Só ‘n negatiewe houding teenoor volmaaktheid word eintlik aangewakker deur ‘n skuldbewussyn wat soms uitslaan in ‘n vreemde “trotsheid” oor ‘n mens se onvolmaakthede. Een van die gewildste dinge wat ‘n mens deesdae kan sê, veral as ‘n mens nederig wil klink, is dat jy ook maar jou foute en gebreke het. “Niemand,” sê ons so realisties, “kan tog volmaak wees nie.” Ons voel naby aan die sondaar wat in berou sy hand op sy bors geslaan het en uitgeroep het, “Wees my, arme sondaar, genadig.” Die laaste ding wat ons in ons tyd aanspraak op wil maak, sê ons, is dat ons volmaak is.

En tog is volmaaktheid ‘n sleutelbegrip in spiritualiteit. Die geestelike lewe is by uitstek ‘n lewe van volmaaktheid. Die lewe in die Gees is ‘n verlange na die volmaakte, volkome lewe.

Ek onthou hoe ek op ‘n dag, terwyl ek aan die vertaling van Nouwen se Gelykenis van die Verlore Seun gewerk het, geboeid was deur die manier waarop hy elke keer die drie karakters in die gelykenis (pa en 2 seuns) as voorbeelde vir ons geestelike reis opgenoem het. Hy het op allerhande maniere vertel hoe ons geestelik soos die verlore seun en die oudste seun is. Dit was vir my duidelik dat hy, in tipiese lectio divina-styl, die kloof tussen die teks en die leser oorbrug het deur die leser elke keer weer in te trek in die karakters van die gelykenis. ‘n Mens maak die teks jou eie deur jouself in die karakters daarvan in te lees. Ons is “soos” die twee seuns. Ons kan ons vandag nog inleef in hulle situasie van destyds omdat dit so tydloos en ter sake is. Soos die verlore seun moet ons ons vervreemding van die Vader oorkom en anders as die oudste seun moet ons nie te hoog opgee oor ons vroomheid nie. Ons kan maklik vreemdelinge in ons pa se huis wees.

Toe Nouwen by die vader kom en die vader met God in sy onvoorwaardelike liefde vergelyk, was ek verwonderd toe ek sien Nouwen vergelyk eers die pa met God en vra toe van sy lesers dat hulle “soos God” moet word. Soos God?, het ek gewonder. Is dit nie ‘n bietjie arrogant nie?

Immers, uit ontsag vir God, wéét ons van hoe ánders God as die mens is.

En tog - eintlik is Nouwen se vergelyking nie so vreemd nie. In die Bybel lees ons herhaaldelik dat ons na die “beeld van God” gemaak is. Ons lyk na God, selfs al is ons duidelik nie God nie. Die probleem met ons geestelike lewe is net dat ons as gelowiges nie leef soos God nie en dat ons dus die beeld van God in ons lewens verloor het.

Ek het bly kou aan Nouwen se gedagtes en was nog steeds verwonderd oor die manier waarop hy aangedring het daarop dat ons soos God moet wees. Dit is ‘n baie hoë ideaal, het ek gedink – iets wat vir ons amper na heiligskennis lyk. Hoe kan ek, sondige mens, ooit soos God wees, na God lyk?

En tóé, op ‘n stadium, haal Nouwen Matteus 5:48, uit Jesus se bergrede aan: “Wees julle dan volmaak soos julle hemelse Vader volmaak is.” Eenvoudig. Reguit. Helder. Onmiskenbaar. En wat Jesus so klinkklaar aan sy dissipels voorhou, volg onmiddellik nadat Hy van die vyandsliefde praat. Ons moet soos God wees in ons onbegrensde, onvoorwaardelike liefde.

Dit is tog merkwaardig hoe ‘n enkele Skrifwoord skielik vir jou in die gesig soos kou water tref.

Die Griekse woord wat Matteus gebruik, is “tevleioi”. Dit beteken om volwasse, onbesproke, volkome te wees. Iemand beskryf dit as ‘n woord wat “totale goedheid” beteken.

Hieroor wil ek nog verder dink, want volmaaktheid is ‘n kernbegrip in die geestelike lewe. Pinkster is die tyd waarin ons veral met die groot boodskap van volmaaktheid gekonfronteer word. Deur die eeue was die geestelike mens ‘n mens wat verlange na volmaaktheid gehad het. Om soos God, ons Vader in die hemel, te wees – wat Christus in die Bergrede, aan die begin van sy bediening van ons gevra het.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive