Friday, May 28, 2010

Om God te "sien." Nog 'n mistieke dinamika in die Ou Testament

In die vorige blog het ek so bietjie nagedink oor tradisies in die Ou Testament wat vormend ingewerk het op latere mistieke tekste en ervaringe. Daar is die voorbeelde van Henog en Elia wat in die hemel opgeneem is, of van die Psalmskrywers wat die mense se ervaring van God se teenwoordigheid besing het.

Maar dit is nie al tradisies wat die mistieke dinamiek in die Ou Testament onthul nie. In die Ou Testament was daar ook belangrike uitsprake oor mense wat God “gesien” het. Daar is mistieke dimensies aan hierdie “sien” van God.

Die blote frase: "sien" van God stel 'n mens reeds in op die buitengewone karakter van God se verhouding met die mens.

Daar is tekste in die Ou Testament wat iets meedeel wat ons normaalweg nie juis bedink nie: Wanneer God, die ontsaglike, met die mens in 'n verhouding tree, laat God toe dat die mens van aangesig tot aangesig tot God te staan kom.

In Eksodus 24: 1, 9-11 is daar byvoorbeeld die merkwaardige verhaal waarin die Here vir Moses sê om aan Sinaï-berg op te klim saam met Aäron, Nadab, Abihu en 70 leiers van Israel. Dit is duidelik iets heel besonders, want hulle moet dit in ‘n gees van ontsag en verering doen. “As julle ver is, moet julle al voor My buig.” Hierdie opdrag word deur die leiers uitgevoer en hul “sien” van God word in verse 9-11 só beskryf: “Hulle het die God van Israel gesien: onder sy voete was ‘n plaveisel soos saffiersteen, so blou soos die hemel self. God het geen hand teen die leiers van Israel gerig nie; hulle het God gesien en daarna het hulle geëet en gedrink.”

Nog later word vertel dat vir die Israeliete, wat nie op die berg was nie, die magtige teenwoordigheid van die Here soos ‘n gloeiende vuur gelyk het.

Twee keer word dus in hierdie gedeelte vertel dat die leiers God “gesien” het. Hulle “sien” God, maar tog kry ons in hierdie gedeelte geen beskrywing van God self nie. Hulle sien eintlik net die voete van God. Noort skryf hieroor: As die plek waar God se voete rus, so heerlik is – vol glans en skittering – moet God self letterlik alle woorde te bowe gaan.

Dus vind ons in hierdie verhaal ‘n duidelike distansie, maar ook ‘n nabyheid. Hulle is by God, sien God, maar hulle sien tog ook net die plek waar God se voete rus. Om God te sien, is dus buitengewoon verborge en oorweldigend. Dit is ontsag, maar ook verwondering. Dit skep eerbied, maar ook nabyheid en intimiteit.

Dieselfde besondere beeld van die “sien” van God kry ‘n mens in Jesaja 6. In Jesaja 6:1 sien die profeet vir God sit op ‘n “baie hoë” troon, maar in die gedeelte vertel Jesaja ook dat die soom van die Goddelike kleed die tempel gevul het. Nog aangrypender is die stamelende beskrywing van ‘n visioen van God in Esegiël 1. Hierdie is seker een van die beroemdste tekste in die Ou Testament. Dit sou later in die Joodse mistiek ‘n uiters belangrike rol speel. Die Joodse Merkabah-mistiek (troonwa-mistiek) steun swaar op hierdie gedeelte.

Terwyl Esegiël in Eseg.10:1 net ‘n troon sien, sien hy in die eerste hoofstuk “iets soos saffier met die vorm van ‘n troon” en bo die troon “iets soos ‘n gestalte met die voorkoms van ‘n mens.” En dan volg die beskrywing: “Van wat gelyk het na sy heupe, daarvandaan boontoe, het dit vir my gelyk na die glans van gloeiende wit metaal, na iets soos vuur met ‘n rand rondom, en van wat gelyk het na sy heupe, daarvandaan ondertoe, het dit vir my gelyk na vuur met ‘n helder glans daarom. Die glans rondom was soos dié van die reënboog in ‘n wolk van reën. Dit was die magtige verskyning van die Here." So dikwels sien 'n mens in latere mistieke literatuur hoedat die godservaring met gloeiende vuur beskryf word - wat ook hier gebeur. "Gloeiende metaal", "vuur" omring met "helder glans." So lyk die kabod - die magtige verskyning van God.


Esegiël sukkel duidelik om sy ervaring van sy goddelike skoue onder woorde te bring: wat hy sien “is” nie, maar het “gelyk” na. Dinge is “soos.” Noort sê tereg dat dit ‘n “tastende” spreke is. Die profeet soek om die onuitspreeklike teenwoordigheid in menslike woorde te probeer uitdruk. Wat Esegiël ervaar het, kan maar net by benadering verwoord word. Dit is taal wat terugstaan, wat versigtig is, wat terughoudend probeer vertel wat nie in woorde uitgedruk kan word nie. Dit is distansie, afstand, andersheid.

Maar aan die ander kant word dit tog gekommunikeer. Die onuitspreeklikheid van God neem niks weg van God se teenwoordigheid by mense nie. Dit raak Esegiël diep, dit bring hom om in gehoorsaamheid aan God sy profetiese getuienis te lewer. Hy word deur die goddelike sien totaal omvorm. Wat hy sien, raak hom tot in die mees innerlike kante van sy bestaan. God het baie naby aan hom gekom. Die teenwoordigheid van God, die sien van God, het die kern van sy lewe gloeiend aangeraak en getransformeer.

Maar daar is ook ander gedeeltes waarin gepraat word oor ontmoetinge met God waarin mense direk vir God sien: Terwyl die volk in aanbidding is, het die Here van aangesig tot aangesig met Moses gepraat – soos ‘n vriend! (sê die nuwe vertaling; Ex.33:11). In Ex.34:29-35 kom Moses met die wet van die berg af, onbewus dat sy gesig geblink het terwyl die Here met hom gepraat het. Die heerlike glans van God oortrek hulle wat in God se teenwoordigheid is... Noort skryf: Moses word ‘n liggestalte deur sy ontmoeting met die Here. God in sy heerlikheid (kabod) raak Moses liggaamlik aan om God se heerlikheid af te gee.

En wie God “sien” word daardeur aangespoor tot immer meer verlange na God. As Moses in Exodus 33:18 smeek dat hy nog een keer die heerlikheid van die Here (die kabod) kan sien, word dit geweier. Hier tree die distansie weer in: Geen mens kan God sien en lewe nie – sê Ex.33:20. Maar tog skenk God aan Moses wel ‘n smakie van die Here se teenwoordigheid. God maak hom in ‘n rotskeur toe en hy mag God se rugkant sien! Hy is tog dan wel baie naby aan God - hy kan God ten minste sien.

Weer eens is daar afstand, skeiding, andersheid. Maar tog ook intimiteit.

Al hierdie gedeeltes deel 'n fundamentele veronderstelling: Ons word een met God, ervaar God se teenwoordigheid, maar word nooit goddelik nie. Mense word soos God, maar daar is altyd, altyd in die Ou Testament ‘n kwalitatiewe onderskeid tussen God en mens. Die mens kan God se teenwoordigheid indirek ervaar en meemaak. Maar God word - dit kan nie in 'n Ou-Testamentiese konteks nie.


Daar is ook ander voorbeelde: Jakob worstel met God. Hy ervaar die teenwoordigheid van die Here. Hy word daardeur getransformeer en kry ‘n nuwe naam as teken van die transformasie. God het baie naby aan hom gekom. Maar dan besef hy ook hoe ondenkbaar dit is dat God self in sy lewe gekom het: “Ek het God gesien en ek lewe!” roep hy met ontsag uit (Gen.32:31). Hy is intens bewus van watter spanning sy ervaring skep deurdat dit werk oor die groot afstand wat bestaan tussen God en mens.

Eenwording met God – die mistieke ervaring van God se aanraking word in die Ou Testament reeds oorvertel. Latere gelowiges het diep hieroor nagedink. En in hul ontmoeting met hierdie tekste het daar in hul eie lewens soortgelyke ervarings ontstaan.

Die Ou Testament was nie om dowe neute ‘n voedingsbron vir die latere mistiek nie.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive