Thursday, March 15, 2012

Om God te kan hoor sing


Gregorius van Nazianze het die volgende gebed neergeskryf wat ‘n belangrike aspek van spiritualiteit illustreer.

In lectio divina gaan dit om die geestelike lees van die Bybel, om 'n lees van die Bybel wat 'n mens sal laat besef dat dit die Heilige Gees se boek is wat 'n mens tot nuwe lewe inspireer. 

Die groot vraag is:  hoe lees ‘n mens die Bybel sodat dit ‘n verskil in ‘n mens se lewe kan maak?

Die mees basiese beginsel vir so ‘n transformatiewe lees is jou ingesteldheid. Dit werk nie dat ‘n mens sommer net die Bybel optel en lees nie. Dit is belangrik hoe ‘n mens die Bybel optel en lees. Met watter houding, met watter innerlike gesindheid slaan jy die Bybel oop?

Die kerk van alle eeue het dit besef deur byvoorbeeld altyd ‘n gebed om die opening van die Woord in die liturgie in te bou.

Voor die “preek” bid ‘n mens eers vir ontvanklikheid, vir ‘n hart met sagte grond waarop die Saad kan val om vrugbaar te kan ontkiem.

Dit doen ‘n mens ook wanneer ‘n mens die Bybel in jou stiltetyd of saam met ander mense oopmaak.

Nie om meer te kan "weet" nie. Nie om "ingelig" te word nie. Maar veral in die eerste plek sodat die Here van die Woord deur die geskrewe woord by jou sal binnekom. 

Dit gaan dus om die praesentia realis Dei. Om die reële, voelbare, beleefbare teenwoordigheid van God. 

Hier is byvoorbeeld ‘n baie vry, verwerkte Afrikaanse vertaling van ‘n gebed van Gregorius van Nazianze – nie verniet een van die groot spiritualiteitskrywers van alle tye nie. Dit is 'n gebed om die opening van die Woord. 

Gregorius  verstaan met watter verlangens ‘n mens die Bybel moet oopmaak, met watter gesindheid jy die boek moet opneem. 

Dit is 'n kort gebed. Bedrieglik eenvoudig. Maar in hierdie enkele kort sinne vertel sy gebed van hoeveel dinge betrokke is in die mens se omgang met die Woord. (Watter verrassende einde aan die gebed!):

Here, soos ek na die psalms luister, die liedere van Dawid,
Laat my U hoor sing.
Soos ek U woorde lees, 
Laat my U hoor praat. 
Soos ek my inleef in elke woord, elke sin, elke bladsy,
Laat my U beeld sien. 
En wanneer ek soek om U begeerte en verlange vir my lewe uit te leef,
Laat my hart oorloop van blydskap.

Hier is die Engelse vertaling:

Lord, as I read the psalms let me hear you singing.
As I read your words, let me hear you speaking.
As I reflect on each page, let me see your image.
And as I seek to put your precepts into practice, let my heart be filled with joy.

-- Gregory of Nazianzus, 329-389. Harper-Collins Book of Prayers, p. 176.

Wednesday, March 14, 2012

Wanneer die mooi dinge nog mooier raak.



Nooit sou ons dink om hier te stop nie. Vele jare ry ons al die pad. 

Ons geniet in al die tye weliswaar wat ons sien. En dit was dit. Eintlik was dit maar net ‘n verby-ry plek.

En nou, met verleggings, het ons nie ‘n keuse nie. Ons moet stilhou. Vir tien minute lank.

Te lank vir die wat met ongeduldige bloed bedeeld is en daarom nie stil in die motor kan bly sit. Hulle is die wat uitklim.

Sommige om bene te rek. Ander om gou ‘n bottel of boks weg te smyt. Daar is mos vuilgoedlorries wat dit kan kom haal en gaan weggooi…. Nog ander net om iets anders te doen as om te moet sit.

Ek is ook buite. Die dag is te mooi. Son word in strome oor die plek uitgegiet. Die lomerlui tye buite in die oopte is oorweldigend. Dit is stilte wat in jou inkruip en woelighede wegvat.

Ek bekyk die wêreld van nader.

Vir die eerste keer “sien” ek die omgewing. Daar is die pieke agter die warmbron wat enige tyd net so mooi is as ons eie pieke op Stellenbosch. Die groen wingerde, groen soos in die kleur vir die goddelike, sprei ’n tapyt voor hulle oop. Hulle lê vol in die sekelmaan wat die twee hande van die heuwels aan beide kante onder hulle oopsprei.

En ‘n bietjie verder is daar ‘n heel ander toneel. Die berge is verder weg, op ‘n afstand, blou-ver weg. Maar hulle profiel lê laag, en sag, op die horison. Ek volg die lyne soos dit in die verte oor die gesigseinder loop. Dit is skakerings van blou berge op blou hemel, ‘n spel van kleure.

Ek is bly toe daar vorentoe, sommer net ‘n paar kilometer nog ‘n verlegging is.

En, besef ek, soms gaan dit in die lewe ook so. ‘n Mens kry teenspoed. Dinge loop nie so reg en vinnig soos jy graag wil hê dit moet loop nie.

Dit is dan dat dit uitklim-tyd word. Om regtig te kan sien. Om weer perspektief te kry, soos jy daar in die stilte staan in die sonlig van afsondering. 

Dit is dan, in die tye wat jou pad versper word, dat jy die mooi dinge leer herontdek en hulle vir jou mooier as ooit tevore raak.





Sunday, March 11, 2012

Hoe sal ek oor my liefde praat?


Elizabeth Barrett-Browning (1850) het een van die beroemdste liefdesgedigte ooit geskryf. 

Sy het in 1846 haar man, die digter Robert Browning ontmoet. Op daardie stadium was haar lewe behoorlik deurmekaar. Sy was verslaaf aan morfien nadat sy 'n ernstige besering opgedoen het en is uitgelewer aan die terreur van 'n gek pa wat nie sy kinders wou laat trou nie.

En toe "gebeur" die liefde met haar. Sy het verlief geraak op Browning, met hom weggeloop om te trou en toe, in 1850, 'n klomp gedigte wat vir hom geskryf is, gepubliseer. Die onderstaande een is die beroemdste van almal. 

Dit is 'n sonnet waarin sy vertel hoe sy hom op ses maniere liefhet. 'n Sonnet, met sy inperkende vorm, is 'n besondere uitdaging vir digters. Dit is juis die dissipline van die vorm wat hierdie klankryke, liriese, maar ook inhoudryke stuk werk help bekend maak het. 

In literatuur probeer mense altyd die liefde in woorde uitdruk. Paulus het dit in 1 Kor. 13 gedoen op 'n manier wat mense vandag nog raak. 

Elizabeth het op haar manier ook van die breedte, wydte, hoogte en diepte van haar liefde vertel in taal wat meer as een keer mistieke, godsdienstige inhoude het

Sy dig eers oor die liefde wat sy vir haar Beminde het op die hoogste geestelike vlak, maar ook, tweedens, in die gewone alledaagse lewe. Sy het graag lief, so graag soos mense stry vir reg en geregtigheid. Sy het suiwer lief, so suiwer soos mense wanneer hulle aanbid. Sy het met passie lief, so intens soos wat sy ooit in haar lewe seerkry-tye moes verduur het. Sy het lief soos wat sy as kind diep omgegee het vir vroom helde. Sy bemin met haar asemhaling, haar glimlag, haar trane, met haar hele lewe. Sy sal vir altyd bemin. 



How do I love thee? Let me count the ways.

I love thee to the depth and breadth and height
My soul can reach, when feeling out of sight
For the ends of being and ideal grace.
I love thee to the level of every day's
Most quiet need, by sun and candle-light.
I love thee freely, as men strive for right.
I love thee purely, as they turn from praise.
I love thee with the passion put to use
In my old griefs, and with my childhood's faith.
I love thee with a love I seemed to lose
With my lost saints — I love with the breath,
Smiles, tears, of all my life! — and, if God choose,
I shall but love thee better after death. 
Hier is 'n link na 'n Peanuts weergawe van die gedig: 




Saturday, March 10, 2012

Net die liefde keer ons om te vergeet


My oog vang ‘n opmerking van Bonhoeffer: “Net die liefde keer ons om te vergeet.” 

Dit bly knaag aan my.

Ek spoor die sinnetjie na en kom af op die gedeelte waarin hy dit geskryf het.

In die gedeelte dink hy na oor Psalm 119:16: “Ek verlustig my in u voorskrifte, u woord vergeet ek nie.”

Bonhoeffer skryf dat ‘n mens telkens weer nuwe dinge in die Bybel ontdek. Dit is ‘n ryk boek wat vir ‘n mens elke keer weer nuwe moontlikhede ontsluit om sinvol te lewe.

Maar dit vra van ons om met die Bybel self besig te wees, om die nuwe dinge uit die mond van God self te hoor. Dit help nie ons lees oor die Bybel of dink ons “ken” die Bybel nie. Die geheim is in die lewende kontak met die Woord self. 

'n Mens kan Psalm 119 lees en dink dit is 'n dodelike, herhalende gerammel. Al swoegtende kan jy uit pligsbesef daardeur worstel.

Maar as jy tydsaam lees, stil nadink, bly mediteer met toewyding, word die Psalm jou skatkis, herken jy dit as die paradys-plek waar iemand God se werke in die wet uitbunding loof. 

Daar is belangrike redes waarom ons aan die Bybel verknog moet bly. Wie ons is, weet ons net omdat God deur die eeue heen steeds weer aan die werk was. God het besig met die mens gebly, lank voor ons bestaan het, gedurigdeur of ons nou bewus is daarvan of nie. Dit moet ons bly onthou. Ons kan dit nie vergeet nie. Wie ons is, word bepaal deur wat God gedoen het.

Daar is groot beloftes in die ontmoeting met die Bybel. Wanneer ons bly dink aan al God se werkinge, ontdek ons vir onsself ‘n nuwe toekoms. Die lewe hou die belofte van nuwe dinge in. God is besig om ook in ons lewe wonderbare dinge te doen.

Maar hoe bly ons dink oor God se werkinge? Hoe werk die ontmoeting?

Deur die Woord te bedink, deur dit te “lees”. “Al u bepalinge wil ek een vir een opnoem” (Ps. 119:13).

Wie ek is, dat ek ‘n vry mens is, dat ek in liefde kan leef, het ek te danke aan Christus. Christus maak my tot wie ek is. Elke keer weer as ek nadink oor wie Christus is en hoe Christus my vrygemaak het, elke oomblik wanneer ek in die Woord lees, daaroor nadink, dit hardop my eie maak, word ek ‘n geseënde mens. Dan gaan die lewe vir my oop, ontdek ek nuwe dinge.

As ek Christus vergeet, gaan my geloof tot niet. As ek nie meer liefhet nie, sal ek nie meer onthou nie.

So gou, wonder Bonhoeffer, dwaal ‘n mens se gedagtes van God se woord weg. ‘n Mens vergeet nooit om te eet of te drink of te slaap nie. Maar waarom vergeet ‘n mens dan die Woord van God? Omdat ‘n mens nie saam met die Psalmis kan sê: “Ek verlustig my in u voorskrifte” nie. ‘n Mens vergeet nie die dinge wat jou bly maak nie. Jou hart is nie daarin nie. Dit is nie jou liefde nie.

Hoe nou gemaak? Bonhoeffer sluit af: “Hoe meer ek begin om my in God se voorskrifte te verbly, hoe meer ek dit raaksien in die skepping en in die Bybel, hoe meer sal dit by my bly elke oomblik van my lewe. Net liefde kan keer dat ‘n mens vergeet.

Vandaar dat ‘n mens met jou hele self en met jou hele hart, nie net met jou verstand nie, moet liefhê. Slegs wanneer ‘n mens in ‘n lewende gemeenskap met Christus verenig word, sal ‘n mens liefhê, sal ‘n mens onthou, sal die Woord ons pad verlig.

Friday, March 09, 2012

Uiteindelik verby alle angs: om toe te laat dat God jou meer en meer iiefhet.


Wanneer die liefde van God jou een keer aangeraak het, hoe stil, hoe eenvoudig, hoe intens ook al, skryf Jan van die Kruis, staan ‘n mens voor ‘n wonder wat jy nie genoeg in woorde kan uitdruk nie. Jou lewe word gevul met ‘n nuwe, ander realiteit wat jou lewe vir altyd aanraak en wat van buite in jou ou, bekende wêreld inkom. Dit is so uniek dat ‘n mens soek na woorde om hierdie liefdesaanraking te beskryf.  

Jan van die Kruis het die liefde van God op die manier ervaar. Hy is oorweldig deur die manier waarop God hom eerste liefgehad het, voordat die mens nog ‘n vinger verroer het.

Die mens wat so onverdiend en totaal God se gawe van liefde ervaar, begin met nuwe oë na sy geestelike reis met God kyk. Die lewensreis word van sy laste en sy onsekerhede bevry. Die dae dat ‘n mens onder druk gevoel het om volgens God se “voorskrifte” te leef, is verby. Die tyd dat ‘n mens jou met vele pogings ingespan het om aan God se eise vir jou lewe te voldoen, is oor.

Iets anders gebeur na die ontmoeting met die goddelike liefdeswonder wat jou van jou klein, swoegende, worstelende, vroom lewe losmaak:

Jy is nou, skryf Jan van die Kruis, op jou reis met God die een wat eenvoudig net toelaat dat God jou meer en meer liefhet.

Die mens sug en verlang om steeds weer met die liefdesgawe beskenk te word.

Wanneer ‘n mens oop is dat God se liefde al hoe dieper in jou lewe inkom en jou hele bestaan vul, is dit omdat jy weet dat God se liefde onvoorwaardelik is. Niemand hoef angstig te wonder of jy vir God aanvaarbaar is nie. Nou laat ‘n mens toe dat die lig van die liefde in jou lewe skyn. En, vanuit die donker van jou eie klein, geslote bestaan, reis ‘n mens nou agter die lig aan. In hierdie goddelike lig sien ‘n mens die Lig.

Daar is iets diep verborge aan God se liefde, die Lig wat ‘n mens kom omstraal, omdat dit so totaal anders is as alles waaraan ‘n mens gewoond is, skryf Jan van die Kruis. Ons taal en ons woorde wat gebore word uit ons menslike ervaringe, skiet tekort om oor die Liefde te praat. Ons taal is te menslik, te vasgebind aan ons self dat dit reg kan laat geskied aan die Liefde wat van buite ons kom.

Op ‘n dag gebeur dit dat ons besef ons word opgeneem in iets wat groter as alles is. Dit is soos ‘n bootjie wat, mensgemaak, meedryf in die totaal ander, dieper, groter, magtige, dinamiese rivierstroom. Lig, dobberende, rustig, vervuld dryf ons mee met die gang van die liefde wat van buite ons kom. Dit gaan alle verstand te bowe, roep die mistici uit. Wat kan ons tog daarmee vergelyk? God se liefde, wat ons nou dofweg deur ‘n spieël bekyk, is mooier as enige iets wat ‘n mens kan bedink, ervaar of uitspel.

Ons hoef nie daaroor te praat nie. Ons kan maar net daarin bly. In die teenwoordigheid, in die aangesig van die die Liefde.

Thursday, March 08, 2012

Hoe om besield oor God te wees....

 
Hoe word ‘n mens “besiel” vir en oor God?

In ons siellose wêreld is dit by vele mense ‘n diepe verlange.

Paulus het vir ons in Galasiërs boeiende uitsprake oor die inwoning van God in die mens nagelaat, oor hoe ‘n mens besiel oor God raak.

Hy skryf in Galasiërs 2:17-21 verskeie opvallende dinge hieroor. ‘n Mens, sou jy hom kon opsom, raak besiel oor God wanneer jy vry word van jou eie gejaag na wind en wanneer jy jou oopstel vir die liefde.

Kyk wat het alles Paulus se lewe volgemaak: Hy praat oor sy verlede, oor die groot plek wat die wet in sy lewe ingeneem het en nog vir baie mense in sy tyd inneem. Hy merk in vers 19 op hoe die ou bedeling van die wet verby gegaan het met die koms van Christus. Hy wat Paulus is het hierdie bedeling van die wet afgesterwe. Dit is verby. Hy is nie meer gebind deur die ou dinge nie.

Dit klink mooi. Maar dit word nogal radikaal as ‘n mens dink oor Paulus se eie geskiedenis en hoe sy hele lewe bestaan het daaruit om heel vroom die wet te verdedig en mense wat nie met hom saamgestem het nie, dood te maak. Hy vertel dit immers self in Galasiërs 1:13-14. Hy was ‘n vroom, maar ‘n bitter, besete en gevaarlike mens.

Toe het hy genade ontvang skryf hy in 1:15 toe hy geluister het hoe God hom wegroep van daardie gewelddadige, rustelose en leë lewe.

Wat dan nou?  Alles is omgekeer in Paulus se lewe. Hy skryf in Galasiërs 2:20: Ek leef nou “vir God”. Noudat alles nuut geword het, is sy hele lewe op God ingestel.

Daar is iets merkwaardigs direk aan hierdie opmerking. Sommer so: Ek leef vir God. So asof hy vantevore nie vir God geleef het nie.

Paulus is nog Paulus. Hy praat nog van homself. Dit is hy, Paulus, wat skryf “ek leef”.

Maar God het hom omvorm op so ‘n manier dat hy vir God lewe op ‘n direkte, onmiddellike manier. Hy leef nie meer vir homself nie. Sy aandag is elders. Dit is ingestel op God. Hy leef nie meer vir die wet nie, vir die dinge wat so maklik uiterlik kan word, vir vroomheid wat eintlik boosheid geword het.

Waaijman skryf hieroor aan die hand van Bernard van Clairvaux se beeld: Wanneer ‘n mens ‘n druppel water in ‘n glas wyn gooi, verloor daardie waterdruppel sy eie smaak en kleur. Wanneer ‘n mens die glas wyn drink, sal ‘n mens daardie druppel as wyn proe en sien.

Dit is wat met Paulus gebeur: Sy leef vir God word ‘n intieme verhouding waarin Paulus homself in Christus verloor. Alles in sy bestaan is nou gerig op God.

Meer nog: Hy leef nie meer nie. So skryf hy ook uitdruklik in Galasiërs 2:20. Jy sal Paulus nie meer op sy eie iewers vind of raakloop nie. Hy is die druppel wat in die wyn gemeng is en die geur en kleur van wyn aangeneem het. Hy is so deel van Christus dat hulle wêrelde ineengesmelt het.

Paulus is nog Paulus. Maar tog is dinge nie meer dieselfde nie: Christus leef, skryf hy, in “my”. Ons het onafskeidbaar geword. Daar is niks wat ons van mekaar skei nie.

Dit is nie dat hy hom nou verbeel dat hy Christus geword het nie – om dit eenvoudig te probeer verduidelik. Hy weet nog van sy “my”- dat hy Paulus is, dat hy sy lewe in die liggaam ly (vers 20).

En tog het Paulus radikaal verander. Hy is nie meer Paulus nie. Hy is nou die Paulus waarin Christus inwoon.

Dit is ‘n wonderbare eenheid tussen Paulus en God wat hier uitgebeeld word. Kyk net hoe praat hy oor Christus: dit is nie meer Christus wat destyds gesterf het nie. Hy stel nie belang om die historiese verhaal van die kruisdood van Christus te vertel nie. Hy leef hom totaal in in daardie kruisdood, maak dit sy eie en eien dit volledig vir homself toe. “Ek is gekruisig”, skryf hy. Hy is saam met Christus gekruisig. In Christus se dood het hy ook gesterwe. So onafskeidbaar het hy en Christus geword dat Paulus selfs sy dood deel.

In verborge taal verbind Paulus sy lewe so intiem en so intens met Christus dat wat met Christus gebeur het, met hom gebeur het.

Maar intussen gebeur iets nog groters:  Christus, die Seun van God (Gal. 2:20) “is” in Paulus. Daar is, sê hierdie gedeelte, iets goddeliks aan Paulus se bestaan. Daar het iets kragtigs met hom gebeur. Hy lyk nie meer na die ou Paulus nie. Hy lyk al hoe meer na Christus. Hy is nie meer sy eie baas nie. Hy behoort aan die seun van God. Hy lyk al hoe meer na die seun van God, die beeld van God.

Hy, Paulus leef vir God. Maar Hy, Christus, leef nou in Paulus. Noue, intieme eenwording, wedersydse inwoning.

Hoe kan ‘n mens nou meer besield raak oor God as dit? 

Dit is iets verborge. Dit is nie 'n reseppie wat jy kan namaak en opdis nie. Paulus het dit nie verstaan dat Jode in Christus geglo het nie. Hy het dit belaglik gemaak, dit verpes en dit wortel en tak probeer uitroei. Hy het dit nie verstaan nie.

'n Mens kan maar net ten beste hierop wag. Verlangend. Jy kan maar net begin skoonmaak vir daardie oomblik wanneer die Goddelike die ruimte in jou sou kon vul, tot barstens toe, tot sielsverblyding toe. 

En soms wag jy nie eers daarop nie. Jy ry nog so op 'n dag dapper op jou vinnige perdjie agter die kwaad aan, dan gebeur dit. Jy kan dit nie verstaan totdat op ‘n dag God nader kom en die liefde jou aanraak nie. 

Maar wanneer dit gebeur, wanneer jy jou Damaskus oomblik beleef en die armoede van jou lewe insien en die ryke helder lig van die Christus-liefde verblindend raaksien, gebeur dit ook met jou. Geen wonder dus dat Paulus skryf : “My lewe in die liggaam leef ek in die geloof in die seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my gegee het.”

Hoe raak 'n mens besield vir God? Wanneer die liefde stilweg, maar tog so dodelik suiwerend in jou kom inwoon. 

Wednesday, March 07, 2012

Woede.




Dit is nie maklik om te verloor nie. Wanneer ‘n mens deelneem aan enige iets wat na kompetisie lyk, is dit ‘n heerlike gevoel om uiteindelik te wen.

Ek onthou hoeveel keer Henri Nouwen in sy werke skryf oor die prestasie-dwang waaraan ons in die Westerse kulturele sfeer onderwerp is en hoe negatief dit ons lewens beïnvloed. Dit sien ons in ons houding oor verloor. 

Sommige mense vind dit hieroor en om baie ander redes moeilik om te verloor. Kinders, net soos ouer mense, hou ook glad nie daarvan nie. In ‘n sekere sin is kinders net baie meer spontaan en ongeïnhibeerd in hul reaksie op ‘n nederlaag. Hulle wys hulle innerlike gevoelens van frustrasie baie duideliker en meer emosioneel as volwassenes. Die kind wat die spel verloor, raak woedend aan die huil. Hy of sy slaan die vuis op die tafel, stamp sy voete, val op die grond neer, storm na die kamer en slaan die deur met ‘n harde knal agter hom of haar toe. Hulle verloor totaal beheer.

Volwassenes en selfs mense met bietjie ervaring en self-beheersing probeer dit nie doen nie. Maar ook hulle kry dit nie altyd reg nie.

Hoe nou gemaak met ons innerlike woede oor tye van frustrasies? Hoe loop ‘n mens die pad saam met ander mense wat al hulle speelgoed uit die pram gooi wanneer hulle teenspoed kry? Dit is immers ‘n algemeen menslike ervaring dat ‘n mens nie altyd eerste kan kom nie en dan baie opgewerk daaroor raak.

Die ouer of meer volwasse mens het verskillende opsies teenoor die kind wat die frustrasies laat oorborrel en destruktief optree: jy kan die kind lekker verskel om nie so kinderagtig te wees nie en weier om weer met hom of haar ‘n speletjie te speel. Net so kan ‘n mens vriende kwaai aanspreek of vermy as jy voel hulle onbeheersdhede is nie volwasse nie.

Ek sien die opvoeders skryf hieroor met algemeen menslike wysheid: Heel eerstens, beklemtoon hulle, moet ‘n mens besef so ‘n uitbarsting is ‘n unieke kans om jou oor die vriend of oor die kind te ontferm deur hulle tot beter opsies te probeer motiveer. Iewers moet ‘n mens teenoor hulle laat deurskemer: Woede oor verloor moet nie met woede van gedrag vererger word  nie. Trouens, terwyl ek oor die insig nadink, besef ek ‘n mens sou die klem op beheerstheid en dissipline Bybels kan inklee. Die kwaad van verloor moet nie met die verdere kwaad van uitbarstings beantwoord word nie.

Daar is ook ‘n verdere wysheid van sommige opvoeders: Die woedende vriend of die kind moet nie verwerp word nie. Hulle woede is ‘n ideale geleentheid om hulle tot volwassenheid te begelei. Maar hiervoor het ‘n mens buitengewone wysheid nodig. Dit vra innerlike rustigheid om ander tot rustigheid te inspireer. Dus: die belangrike ding is om ‘n mens se eie reaksie op die kind se woede goed te bestuur en op jou eie optrede te let.

Die tweede oplossing is volgens die opvoeders om die kind te help om ‘n uitlaatklep te kry. Ek dink onwillekeurig aan Henri Nouwen wat iewers skryf dat wannner ‘n mens ontsteld is, jy jou gevoelens in ‘n brief moet gaan beskryf om daardeur uiting aan opgekropte, intense emosies te gee. Maar, voeg hy dadelik by, moenie die brief dieselfde dag pos waarop jy dit geskryf het nie. Jou skryf gee jou al ‘n ander perspektief, maar die volgende lyk dinge miskien nie meer so erg nie, of kry jy insigte wat jou anders laat optree.

Vir vele opvoeders beteken dit dat ‘n mens veral vir kinders heel prakties met hul woedebuie moet bystaan. Help hulle met ‘n uitlaatklep. Help die ander een om in die gewoonte te kom om eers tot 10 te tel, of om eers ‘n draai te gaan loop, of net doodeenvoudig te sê: Ek is sommer net so vies hieroor. In hierdie geval moet die verbale uiting van innerlike frustrasie as ‘n ontlading en ‘n verligting van emosies beleef word.

Help die kind dus met twee dinge – dit is, om nie te skreeu en beheer te verloor nie, maar op ‘n ander manier sy of haar frustrasie te lug. En hierdie insigte geld seker ook mense wat maklik hul frustrasies die oorhand kan laat kry.

Tog, vertel die opvoeders, kan ‘n mens nog meer doen deur self in te gryp in 'n moeilike situasie. ‘n Mens kan hulle help om op te tree deur sy verbalisering en ontlading van sy frustrasie te laat uitkom. Die ouer mens kan vir die kind help met verwoording van innerlike ervarings deur hom of haar aan te spoor met ‘n vraag: ‘n mens voel woedend of goor as dit gebeur, ne?

Maar ‘n mens, skryf die opvoeders, moet nie sulke situasies toelaat om maklik te ontstaan nie. Mens kan keer dat te veel vir mense op die spel is wanneer hulle deelneem aan kompetisie. ‘n Mens kan voor die speletjie eers ‘n bietjie praat oor hoe die verloorder gaan reageer – of nie reageer nie. ‘n Mens kan ook praat hoe lekker dit is om bloot te speel, om gesellig bymekaar te wees. Of ‘n mens kan ooreenkom dat almal saam na die spel iets gaan wen – die verloorders omdat hulle goeie verloorders was.

Uiteindelik is daar ‘n laaste gedagte: gee vir ander en die kinders in jou huis ‘n goeie voorbeeld. Om te vloek as jy iets breek of kos verbrand, om deure agter jou toe te slaan, om beheer te verloor as die dag by die werk nie reg loop nie, is nie ‘n goeie voorbeeld nie. Wat nie goed lyk by ander nie, is ook nie goed in jou eie lewe nie.

Aldus die opvoeders: praktiese raad en goeie self-ondersoek is dus die oplossings.

Ek sou dink ‘n mens moet ‘n bietjie dieper kyk. Iewers moet ons geestelike lewe en ons rus in God op alle vlakke van ons mens-wees na vore kom. Van die monnike in die woestyn wat alleen maar die broodnodigste geneem het op hul lewensreis met God tot Simone Weil wat haar daaglikse dieet gewysig het sodat sy net soveel sou eet as die arm arbeiders in haar omgewing, ontdek ons dat die lewe nie ‘n kwessie van wen of verloor is nie. Ons leer daaruit dat uitstyg bo ander net tydelik geluk bring. Wat saak maak is dat ons diep verbonde is met ander en dat ons innerlike vrede en rustigheid gebore word deur ons band met mekaar, gevoed deur ons band met God wat alle mense, ongeag hul prestasies, lief het. Hierdie band is belangriker en kosbaarder as enige wen of verloor.

Tuesday, March 06, 2012

Van lyding tot die paradys. Hoe 'n storie mens-wees vorm.


Die jong Zwingli


‘n Storie kan ‘n mens se lewe verander.

Ek dink aan my navorsing oor die Boere-oorlog. Eens was dit vir my ‘n episode uit die verre verlede. En die episode was in my geheue aanwesig saam met mooi momente soos die Vroue-monument in Bloemfontein.

En toe lees ek op ‘n dag Ds. Abraham H. Luckhoff se dun, kort dagboek oor sy werk as kapelaan in die Bethulie konsentrasie-kamp. Ek sien hoe hy tot 20 begrafnisse op ‘n dag hou en hoe dit hom, getroue werker in die Wingerd, tot in sy siel in raak. Ek lees selfs hoe hy dapper en toegewyd sukkel om hout te kry sodat sy gemeentelede hul dooies op ‘n waardige manier kan begrawe. Ek beleef deur sy verhaal hoe ‘n ma haar verstandelik gestremde kind verpleeg as hy siek word en gebroke moet ervaar hoe die kind sterwe. Ek lees verslae, maar ook verwonderd hoe hy in hierdie barre, onmenslike omstandighede, ‘n aangrypende loflied op die liefde sing. Ek staan verstelpt voor sy vertelling van die jong man wat desperaat en in rou uit die tent storm waarin sy vrou besig is om te sterf met die verskriklike donker woorde: “Is daar dan geen ontferming in die hemel nie?”  En ek maak met hom mee hoe Luckhoff in daardie verslae uitroep tot in die murg van sy geloof bedreigd voel.

Die verhaal van ‘n predikant oor die eindelose leed in ‘n konsentrasie-kamp het my oë oopgemaak vir die die geskiedenis van ons land soos geen ander historiese inligting nie. Dit het my sterker geanker in die verlede, my identiteit ingevul. Dit het my afsku in geweld en in die verskriklike leed wat mense mekaar kan aandoen, verskerp. Ek het besef: hier lê my wortels. Dit is gedoen aan mense wie se bloed in my are vloei. Ek het ook die prys betaal vir die oorlog. Ek dra ook die las van wat gewetenloos aan mense in die oorlog gedoen is. Die verhaal van die oorlog het my verhaal geword.My mens-wees is tot in die murg gevorm deur 'n verhaal wat meer as 100 jaar oud is. My identiteit is omvorm.

Stories het ingrypende transformatiewe potensiaal.

Die Switserse Hervormer, Zwingli, skryf McGrath, het die nagmaal op hierdie manier verduidelik. Die nagmaal was vir hom ‘n transformatiewe verhaal. Alles wat ons van Christus weet, word vir ons ‘n harde werklikheid wanneer ons die brood en die wyn nuttig en daarmee 'n verhaal van Christus se lyding herbeleef. Die nagmaal is die lewensveranderende verhaal wat Jesus se offer deel maak van ons lewe. Die nagmaal trek ‘n mens in in die verhaal van Christus sodat dit jou verhaal word, in jou lewe ‘n werklikheid raak.

‘n Mens hoor deur die nagmaal die eeu-oue verhaal van die mensdom se verset teen die goeie en jy word deel van mense wat weier om God op die manier te verwerp. Elke keer dat ‘n mens die nagmaal gebruik, word die verhaal van Jesus jou verhaal wat jou bring tot ‘n nuwe begin, tot ‘n nuwe fase in jou lewensreis, tot nuwe toewyding. Skielik maak dit saak om Christen te wees. Jy ontdek weer waarom jy Christus volg: jou wortels lê diep in die liefde wat vir ander uitgestort word, wat geweld verwerp, wat mense laat omgee vir mekaar, wat kwaad veroordeel en wat oproep tot diens.

Dit pas om hieroor na te dink in die lydenstyd. Dit is egte Spiritualiteit: wat doen die lydensverhaal aan mense wat dit hoor. Hoe transformeer dit hulle sodat die verhaal van Jesus die verhaal van hulle lewe word. In die lydenstyd word immer weer die uitdaging gestel: watter verskil maak hierdie vertelling van die lyding by jou sodat lyding se houvas op die wêreld verbreek kan word?

Die lydenstyd is die tyd van die Groot Onthou: die kruisverhaal word ons voor die oë gehou en word in ons geheue dieper ingeprent. Hoe meer ons onthou, hoe meer word ons mense van lyding. Dit is ons identiteit: want wie ‘n mens van lyding is, wil dinge nuut maak, wil dinge verander, wil lyding tot ‘n einde bring, soek ‘n wêreld vol vreugde en verlang om die paradys weer op aarde te beleef.

Monday, March 05, 2012

Hoe dikwels praat ons nog oor roeping?


Wanneer iemand aanklop met ‘n innerlike nood by ‘n geestelike “leier” is die atmosfeer dikwels professioneel en berekend. Deesdae word al hoe meer besef hoe belangrik dit is dat iemand in “goeie hande” moet wees. Daarom word al hoe meer beroepe en professies gereguleer. Mense moet nie aan uitbuiters en kwakke uitgelewer word nie, veral nie wanneer hulle in nood is en maklike prooi vir gewetenlose mense kan word nie.

Die persoon wat by die “geestelike begeleier” in sy “spreekkamer” gaan sit, word vanuit ‘n professionele hoek benader en begelei. Kundigheid, dikwels oor jare opgebou, speel hier ‘n groot rol. Die ingewikkelde en verweefde aard van vele mense se nood maak dit nie maklik om by hulle te bly in hulle tyd van swaarkry nie. Die “spreekkamer”is nie ‘n plek vir amateurs nie. ‘n Mens moet weet wat jy doen as jy bereid is om ander in hul nood te ondersteun.

Al  hoe meer wil ‘n mens weet hoe “bekwaam” die geestelike leier is. ‘n Mens vra uit na sy/haar kwalifikasies, ondervinding en voortgaande opleiding.

Dit geld ook vir die ander aspekte van geestelike werkers se verantwoordelikhede. Dit is nie verniet dat kerke wat sensitief is vir mense, beklemtoon dat predikante goed opgelei moet word. Die praktyk wys ook hoe mense aan sekere predikante ‘n bepaalde status toeskryf: Die kultus rondom sekere “suksesvolle” predikante wys hoe mense ingestel is op die persoonlike kwaliteite en begaafdhede van predikante.

Daar is geen twyfel dat die talente van ‘n geestelike werker dit vir hom of haar makliker gaan maak in hul geestelike werk en begeleiding nie.

Maar nou weet ‘n mens ook dat daar heel gewilde geestelikes is wat nie eintlik die pyp rook nie. Hulle menslikheid kom telkens maar weer helder na vore. En terwyl hulle uiterlik sukses uitbeeld, is daar vele van hulle wat innerlik uitgebrand is.

Hier kan ‘n mens gaan lig opsteek by die Reformatore wat beklemtoon het dat geestelike werk deurspek moet wees van ‘n spirituele karakter.

Wat het hulle hiermee bedoel?

Eerstens het hulle die Spiritualiteit van die pastor, prediker en gelowige lidmaat nie afhanklik van persoonlike kwalifikasies gemaak nie.

Dit is tog so duidelik Bybels: ‘n mens kry nie meer seën uit byvoorbeeld die doop en die nagmaal, as die predikant ‘n gerekende mens is nie.  En die preek van ‘n doodgewone, onbekende, “normale” predikant kan ‘n gemeente laat groei.

Wat meer tel as enige iets anders, is dat ‘n geestelike ‘n roepingsbewussyn moet hê. Hy of sy moet weet dat God hom/haar tot die geestelike werk roep. God wil dat die geestelike leier en die gelowige deel moet word van God se werk. Die geestelike word uitgenooi om in God se “akker” te gaan werk. Die oes is wit op die land. Maar dit is God se oes en dit is God se akker. God doen God se deel. 

Wat tel, skryf McGrath, is dat die geestelike gedurig “oop” moet wees vir God se werk – wanneer die prediker die Woord “bedien” (en nie spreek nie), wanneer die pastor saam met die gelowige op sy/haar swaarkry-pad loop. Om oop te wees vir God, is om te besef waar kom die genesing vandaan: die predikant of die geestelike leier maak die wonde skoon, bind verbande om, maar uiteindelik weet hulle dat alleen God die genesing kan skenk. Die geestelike leier skep die atmosfeer en die omgewing waarin God die werk sal doen (soos McGrath vir Tilden Edwards aanhaal).

Die Reformasie het te goed geweet hoe Paulus in 1 Korintiërs 3 te vertelle gehad het: “4 As een van julle sê: “Ek is vir Paulus,” en 'n ander: “Ek is vir Apollos,” is julle dan nie nog wêrelds nie?  5 Wat is Apollos dan? Wat is Paulus? Hulle is maar net dienaars deur wie julle tot geloof gekom het, en elkeen doen die werk soos die Here dit vir hom gegee het.  6 Ek het geplant, Apollos het natgegooi, maar dit is God wat laat groei het. 7 Dit gaan dus nie om die een wat plant of die een wat natgooi nie, maar om God wat laat groei.”

Wanneer iemand in ‘n kerk, Bybelstudie, by die werk, in ‘n spreekkamer dus met ‘n ander gelowige die lewensreis deel, is dit nie haar of sy professionele taak wat hy “doen” nie. Dit is ‘n roeping. So het die Reformasie dit verduidelik.

Gedurig, in alles wat mense doen en sê, is hulle saam op pad, maar altyd in die teenwoordigheid van God. Altyd weer, besef die gelowige mens, is hy of sy maar die erdekruik. Veel belangriker en gloeiender van die helder lig, is die skat, die Evangelie van bevryding wat in die kruik gegee word. Elke woord, elke daad, elke oomblik van die mens tot mens ontmoeting word op hierdie manier ‘n tyd, ‘n plek en ‘n omgewing waarin God moet kan werk.

‘n Mens is geroepe tot die Here se werk.

Dit was ‘n fundamentele insig van die Spiritualiteit van die Reformasie: die mens as instrument in die hande van die Groot Geneesheer. Vandaar die besef: soli deo gloria. Aan God alleen die eer.

Die boeiende is om te sien hoe hierdie Spiritualiteit deurwerk in die mees moderne van nadenke oor byvoorbeeld die mistagogie. Ons praat nie meer, skryf die kenners, van geestelike begeleiding nie. Ons praat van geestelike vriendskap. Wanneer ‘n mens met iemand in nood in ‘n gespek tree, is ‘n mens sy reisgenoot. En die gids deur die donker na die lig, is God. God alleen is die geestelike begeleier. 

Hoe dikwels praat ons nog oor roeping?

Sunday, March 04, 2012

Wanneer die kerk sterk is, maar mens in die steek laat.... Oor die Woestynvaders en Reformasie Spiritualiteit


Spiritualiteit het te doen met ‘n wonderbaarlike bonte mengelmoes van godsdienstige ervaringe. In Christelike Spiritualiteit begin dit by Bybelse tye en loop deur vele trajekte oor die wêreld heen in baie lande, tradisies en kerke.

Maar daar is ook sekere patrone en ooreenkomste in hierdie bonte verskeidenheid. Soms kry ‘n mens verrassende insigte uit die geskiedenis oor sulke patrone.

Neem byvoorbeeld die Reformasie wat so fundamenteel met die Rooms-Katolieke kerk gebreek het en die groot beweging van die Protestantisme aan die gang gesit het.

Maar die Reformasie het sy wortels diep in die geskiedenis gehad – en van alle dinge juis in een van die vroegste vorme van Christelike Spiritualiteit, naamlik die Woestynvaders en -moeders.

‘n Mens kan na die Woestynvaders en –moeders van die vierde en vyfde eeu kyk en bloot net raaksien dat hulle uitgewyk het van die besige sentra na die stilte en afgesonderdheid van die kloosters.

Maar eintlik was hierdie monastieke beweging ‘n protes-aksie wat gebore is uit ‘n innerlike verlange na vervulling en geestelike groei.

Dit was vreemd dat hulle woestyn toe is. Want die kerk was toe al sterk en goed gevestig. Daar was baie mense wat geestelik in beheer was.

Maar toe kom die Woestynvaders en –moeders en vertrek weg van hierdie sterk, groeiende vroeë kerk, uit frustrasie dat die kerk, ten spyte van sy uiterlike mag en groei, nie meer vir hulle in hul geloof voed nie.

In die vierde eeu was daar byvoorbeeld in die beroemde Nitria gemeenskap naby Alexandrië in Egipte 5 000 monnike. Onder hierdie geweldige getal mense was daar net 8 priesters. Die res was leke. 4992!

Die verhouding lyk bietjie skeef.

Hoe kom dit dan?

In daardie tyd was priesters deel van ‘n kerk-struktuur waarin die hiërargie al hoe sterker geword het, skryf McGrath.  Onderaan was daar die leke, die “gewone” mense wat al hoe meer “ondergeskik” was aan die “hoër” ampte van die deken, die priester en die biskop.

Die monnike het woestyn toe getrek omdat hulle ‘n diepe behoefte aan geestelike groei gehad het. Hulle het gevoel hulle kry die geestelike voeding nie in die kerk nie al was die kerk toe sterk aan die groei en al hoe magtiger.

Oral waar die kerk magstrukture ontwikkel, knou dit die geestelike lewe op een of ander manier. Want later, in die Middeleeue, sou dit weer gebeur dat mense in die tyd van die Reformasie vrae gevra het wat die amptelike, magtige kerk nie kon of wou beantwoord nie.

Die Reformasie het in hierdie tyd as nuwe beweging aan die gang gekom. En weer eens was dit gedeeltelik ‘n reaksie teen die mag van die kerkstrukture en die geestelike vervlakking van die kerklike lewe.

Die Reformasie het die “amp” van gelowige beklemtoon. Dit was ‘n wesenlike aspek van die Reformasie. Voor God is alle mense gelyk. ‘n Priester is nie nader aan God nie en het ook nie voorrang in geestelike sake nie. Hoogstens sou ‘n mens kon sê, is die priester die een wat die gelowige “bedien” met die evangelie. Die priester staan nie bo die leek nie, maar stut en steun die leek tot geestelike groei.

Dit is ‘n tragedie: met ‘n sterk priester-groep en ‘n deeglik organisasie aan die orde, was mense geestelik honger.

Die Spiritualiteit van die Reformasie was dus gefokus op die geestelike groei van elke mens, ondanks en ten spyte van die priesters. Die geestelike lewenskuns was vir hulle die eintlike en belangrikste taak van die kerk. Die kerk ontwikkel nie ‘n struktuur waarin ‘n klomp uitgesoektes oor ander “regeer” en waarin die aandag meer op die struktuur val nie. As die kerk dan ampte het, moet dit dienence ampte wees -  geestelikes wat voete was, wat twee-twee uitgaan om die evangelie te dien, wat die armes en ontheemdes versorg en wat mense begelei om in God se weg te wandel. 

Die Reformasie het met hierdie insigte dieselfde gedoen as wat gebeur het met die monastieke beweging se visie van die algemene priesterskap van alle gelowiges. Die patroon wat hom afgeëts het met die monastieke beweging het hom nou in die Reformasie herhaal.  

In albei word beklemtoon dat alle mense priesters is. Die verhouding met God word nie “bemiddel” nie. Niemand is “beter” as ander ingelig oor God nie. Daar is niemand tussen God en mens nie. God reik uit na mense en raak hulle met ‘n lewensveranderende hand aan. Dit gebeur direk en onmiddellik.

Maar, sou ‘n mens vra, waar het dinge dan eintlik begin deformeer? McGrath voeg ‘n sinnetjie by: in die Middeleeue, skryf hy, het die Reformasie so sterk na vore gekom as ‘n beweging vir die leke, vir die vryheid van priesterlike dwingelandy, omdat die kerk maklik mense vir die amp van priester georden het. Dit was net ‘n kwessie van aanmeld en aanstel. En daar het jy jou priester gehad.

In die hele proses het die gedagte dat God ‘n mens roep en dat ‘n mens hierdie roeping het, verdring of minder ernstig opgeneem.

Stof tot nadenke. Hoe dink die kerk hieroor, veral in ‘n moderne omgewing waar, verstaanbaar, mense deeglik vir die bediening opgelei word. Die amp is immers ‘n professie. Jy meld jou aan vir opleiding en dan loop jy maar deur al die prosesse. Jy kom anderkant uit met die nodige grade en dan is jy reg. En op die manier word ‘n mens deel van die kerklike magstruktuur.

Maar waar is die roeping? En waar is die Reformasie se belangrike punt dat ‘n gemeente bymekaar kom en bid vir iemand wat God roep tot diens in hulle midde. Meer nog: die Reformasie het onderstreep dat almal, elke mens geroep is tot diens. Gelowiges, het Jesus al geleer, heers nie oor mekaar nie. Heers oor mekaar, en nog minder baasspelery het binne Reformatoriese Spiritualiteit nie plek nie.

Saturday, March 03, 2012

Spiritualiteit as 'n verhouding

Daar is heelwat redes waarom Spiritualiteit verstaan word as ‘n dissipline waarin dit gaan om ‘n verhouding tussen God en mens. 

Een rede is dat spiritualiteit meer is as blote geloofskennis. Geloofskennis is maar ‘n klein deel van die groter prentjie. Veel belangriker is dat God ‘n liefdesverhouding met die mens aanknoop, die mens radikaal omvorm en deur daardie verhouding die mens gedurig laat groei en bring tot meer volwassenheid. Die brein is nie die kroon van God se skepping nie. Die mens is.

Daar is egter ‘n ander rede waarom Spiritualiteit as verhouding belangrik is. In Spiritualiteit gaan dit om God wat sonder rede en oorsaak ‘n verhouding met die mens aanknoop. God begin hierdie verhouding en is die een wat die inisiatief neem. Dit is ‘n verhouding met alle mense. Dit lei daartoe dat ‘n mens deel word van ‘n geloofsgemeenskap en opgeneem word in die familie van die Here.

Deur al die eeue het egte spiritualiteitsdenkers besef dat hulle in die teenwoordigheid van die Verborgene, die Oneindige, die Een wat groter is, leef.

Om met God te leef en deel te kry aan die liefdesgemeenskap van God, beteken verder dat ‘n mens van twee dinge bewus raak:

Aan een kant bring dit ‘n mens tot die besef dat jy nie te groot van kop moet wees nie. Of dat jy nie moet dink dat die wêreld om jou draai nie. Self-gesentreerdheid en self-sug gaan nie saam met Spiritualiteit nie. Daarom is Spiritualiteit ook nie die ontdekking van jou ware self of die vergoddeliking van die mens nie. 

Steeds weet ‘n mens: jy is deel van ‘n groter geheel. Jou lewe word deur die Volmaakte gedra en jou lewe draai om God as die Spilpunt van alles. ‘n Mens weet: jy is geborge n jou verhouding met God en met ander. As deel van hierdie groter geheel, vind jy jou ware bestemming en plek.

Aan die ander kant bring die wete dat God ‘n verhouding met mense aanknoop verwondering, dankbaarheid en toewyding. Dit laaat die mens besef hoe bevoorreg hy/sy is en hoe waardevol God die mens reken. Want wie ook al deel kry aan God se verhouding met die mens, word beklee met heerlikheid en glans – om dit in Bybelse taal te stel. Die mens deel aan die wonder van God se heerlikheid.  Daarom skryf Psalm 8:5 dat God die mens ‘n weinig minder as die engele gemaak en met heerlikheid / eer gekroon het. Hoe belangrik die gedagte is word duidelik wanneer die vers in Hebreërs 2:7 aangehaal word.

Dit is ironies: hoe groot is die mens wat 'n verhouding met God kan deel.

Wanneer ‘n mens Spiritualiteit op die manier verstaan, kom daar vele ervarings in jou los. 

Een daarvan is dat ‘n mens nie die laste van die wêreld op jou skouers hoef te dra nie. Daar is, dankie tog, die Liefdevolle een en ‘n hele liefdesgemeenskap wat die uitdagings van die wêreld saam met jou aanpak. Daar kom tye dat ‘n mens hierop sal kan reken en daarop moet kan terugval. 

Of ‘n mens soek om op die plek waar God jou geroep het, die goeie te doen in antwoord op God se liefde en vir ander. ‘n Mens wat in God se liefde geborge is, het niks meer nodig nie. So iemand hoef nie te presteer nie. Hy of sy hoef nie geprys te word vir sy of haar goeie dade nie. In die spesiale groot geheel van God se liefdesgemeenskap is dit genoeg om jouself te wees. Dan is jy vry van die sug na beloning, na erkenning, maar ook vry van afguns, van verterende ambisie en van die waan dat die wêreld aan jou behoort of vir jou skuld.

Friday, March 02, 2012

Die belangrikste van alles.

Daar word baie gepraat oor hoe 'n mens jou lewe aan God moet wy, aan God gehoorsaam moet wees en God se wil vir jou lewe herken.

Dit is belangrike dinge. En dit word ook pertinent in belangrike plekke in die Bybel aangeraak.

In Jeremia 1:4-10 skryf Jeremia byvoorbeeld oor hoe God hom as profeet geroep het. Dit het gebeur op ‘n kritieke oomblik in die geskiedenis van sy tyd. Koning Josia wat vir meer as dertig jaar geregeer het, het op die oorlogsfront gesterf. In die volgende drie maande sou die koninkryk in chaos gedompel wees toe Josia se seun, wat hom opgevolg het, deur sy ander seun vervang is. 

In sulke krisistye is 'n mens meer as gewoonlik afhanklik van wat God wil doen. 

Jeremia was bitter jonk toe hy op 'n dag hoor dat God hom in daardie tyd wou gebruik. Sommige uitleggers dink hy was nog nie eers 20 jaar oud toe hy die roeping ervaar het nie.

Toe God dus, in Jeremia se woorde, vir hom vertel dat hy reeds voor sy geboorte tot profeet gevorm is (transformasie in skepping!), kan ‘n mens verstaan dat Jeremia reageer: “Ag Here, Here, voorwaar, ek kan nie praat nie, want ek is jonk.”

Niemand sou hom kwalik neem nie. Dit is immers moeilike, troebel tye. 
  
God begryp dit ook. Daarom lê God die hand op Jeremia se mond om die woorde in sy mond te lê.

Wat hier gebeur, word in Jeremia 1:12 op ‘n ander manier oorvertel as God sê dat God wakker is om God se woord te volbring. 

As God roep, rus God terselfdertyd toe. Wat God begin het, gaan God ook volbring. 

Maar dit is net die een kant van die prentjie. Iets groters gebeur hier:

Jeremia kry die belofte van God dat waar Jeremia ook al gestuur sal word, God met hom is. In alles wat God begin en voleindig, is God self teenwoordig. 

“Ek is met jou” – die Immanuelsgedagte. 


Op die manier skuif Jeremia weg van iemand wat oor sy eie jeugdigheid terugskrik, na iemand wat deur gehoorsaamheid hom oopstel vir wat God wil doen. Die fokus beweeg weg van himself en val op wat God doen. Nog meer: die fokus val op iets diepers - op God wat by hom bly.

'n Mens kan baie praat oor God se wil vir jou lewe en oor jou gehoorsaamheid aan God. Dit is belangrike dinge en werd om bedink te word.

Maar steeds weer is die teenwoordigheid van God die belangrikste. 


Thursday, March 01, 2012

Wanneer goeie Calviniste van hul geestelike vader van geloofstwyfel leer....


Dit is waar dat daar sommige stoere Gereformeerde gelowiges is wat in die allerslegste omstandighede met berusting praat van “God se wil” met hulle lewe. Daaraan is nie te twyfel nie en daarom het twyfel nie plek in hulle geloofslewe nie. Hulle byt op hulle tande en gee nie ‘n blykie van enige twyfel nie.

Ek dink byvoorbeeld aan die dagboek van Rentia van der Walt (Die ervaring van ‘n kampdogter in die konsentrasiekamp van Bethulie) waarin sy die ellendige kampomstandighede op hierdie manier oorleef en beleef.

Dit is indrukwekkend en is seker moontlik. Ander gelowiges, weer, ook uit Gereformeerde kringe, is veel minder berustend. Trouens, hulle is blootgestel aan ‘n diepe bewussyn van hoe gebroke en feilbaar hulle geloof is. Hierdie mense is gekweld en eintlik diep angstig oor hul omstandighede, oor wat in die wêreld aangaan en watter toekoms nog te verwagte is.

Hoe dink ‘n goeie Calvinis nou hieroor?

Wanneer ‘n mens teruggaan op die werke van Calvyn, sien ‘n mens dat hy inderdaad sterk oor geloof praat. Volgens hom kan ‘n mens geloof beskryf as ‘n vaste en seker kennis van die goddelike ontferming en goedgesindheid teenoor die mens waaragter ‘n mens die ware, genadige beloftes van God in Christus herken. Dit word deur die Heilige Gees aan ons bekend gemaak en in ons harte verseël.

Pragtige teologie, skryf McGrath hieroor. Die kenner, die ingeligte, die grote Calvyn, geestelike vader van gereformeerdheid en calvinisme praat hier vanuit die teorie en hou vas aan 'n sterk siening oor geloof.

Calvyn se pragtige siening van geloof is egter nie die laaste woord wat hy hieroor skryf nie. Hy voeg dadelik by:

“Wanneer ons beklemtoon dat geloof vas en seker moet wees, beteken dit nie dat hierdie sekerheid nie twyfel of angstigheid ken nie. Inteendeel. Ons aanvaar dat gelowiges ‘n gedurige worstelstryd het met hulle eie gebrekkige geloof en nog nie regtig ‘n skoon gewete het nie, nog minder vry is van enige onsteltenis.”

So skryf Calvyn, die vader van die Calvinisme oor die gebrek aan geloof wat mense so angstig maak as hulle op hul lewensreis is.

Calvyn, ook die mistagoog, ken die hart van die mens. Hy weet as pastorale leier hoe die mens tye van onrus beleef. Die lewensreis is nooit sonder sy donker nagte nie. Daar is, skryf Calvyn, nêrens ‘n volmaakte geloof nie.

Hy lees sy Bybel goed. Markus 9:24 is vir hom duidelik: “Ek glo, Here, kom my ongeloof te hulp!” God verstaan dit dat ons geloof maar min kan word, vandaar dat God se goedheid oor ons uitgestort word selfs met die kelinste bietjie geloof waartoe ons in staat is.

Maar dit beteken nou nie dat ‘n mens ongeloof of min geloof as ‘n normale deel van ‘n mens se lewe inneem nie.

Daarom, vervolg hy, probeer ons van ons ongeloof ontslae te raak; ons stry daarteen en smeek die Here om dit reg te stel.

Op die manier kom Calvyn se spiritualiteit na vore: die geloofsreis is lank, uitgerek – ‘n hele proses.

Maar dan rond Calvyn sy opmerkings hieroor as volg af en kom by die hart van spiritualiteit uit:

“Soos ons gedurig in ‘n worstelstryd is, so vlug ons ook telkemale na die Here vir vertroosting.”

Te midde van die worstelstryd, wanneer geloof min raak, weet ‘n mens waar uitkoms te vind is – in die mistieke teenwoordigheid van die Here.

Dus, nie te trots op min geloof nie, ook nie oorweldig deur angstigheid nie, maar altyddeur vlug die mens na die Here, daar waar troos – ook oor min geloof mildelik uitgedeel word.

McGrath skryf vraend oor hierdie opmerkings van Calvyn oor geloof: Wil Calvyn iets weggee van sy eie min geloof?

Blog Archive