Tuesday, February 02, 2010

Bloeisels en God se toekoms as die ewige lente



In Jesaja ontdek ek dikwels poëtiese taal, woorde, simbole en beskrywings om die mens se verhouding tot God uit te beeld. Dit is, vanuit 'n spiritualiteitshoek een van my gunsteling-boeke.


Een so ‘n gedeelte wat ek onlangs lees en vir my vars op die oog val, is Jesaja 35:1-3.

Die nuwe vertaling lees:

Die woestyn, die dor land, sal jubel, die droë wêreld sal juig, oortrek met affodille; hy sal in volle bloei staan, hy sal juig en sing, hy sal die prag van die Libanon hê, die skoonheid van Karmel en Saron. Israel sal die mag van die Here sien, die koninklike mag van ons God.

Die ou vertaling is:

Die woestyn en die dor land sal bly wees, en die wildernis sal juig en bloei soos ‘n narsing; dit sal lustig bloei en juig, ja, met gejuig en gejubel; die heerlikheid van die Libanon is aan hom gegee, die sieraad van karmel en Saron; hulle dáár sal sien die heerlikheid van die Here, die sieraad van onse God.

Dit is taal wat ryk is met beelde van lente, vrugbaarheid, skoonheid, paradys, tuiste, vrede, rustigheid. Die natuur is op sy mooiste en rykste. Wanneer die profeet dus oor die toekoms van God praat, die tyd wanneer mense uiteindelik in God se volle vrede sal wees, gebruik hy simbole wat die allermooiste gedagtes by mense oproep.

Só is dit om by God te wees – soos ‘n lentedag.

As ek kyk na hierdie foto wat ek ‘n ruk gelede geneem het en wat een van my gunsteling lente-foto’s is, verstaan ek meer van wat die profeet wil sê.

In spiritualiteit word gefokus op hoe ons ons geloof beleef. Jesaja het sy geloof uitgebeeld deur beelde uit die natuur oor te neem om by sy lesers ‘n ervaring op te wek oor daardie tyd wanneer hul uiteindelik by God sal wees. Die tyd van hul verdrukking en swaarkry sal verby wees. Net die goeie sal oorbly. Dit sal die tyd van die ewige lente wees.

Ons is gelukkig. Met ons kamera’s kan ons op ‘n ander manier iets van sy taal illustreer en visueel tuisbring.

Om by God te wees is om volmaak gelukkig te wees.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive