Sunday, February 14, 2010

Om beter as God te wil weet. Oor die geestelike lees van Jona (slot).

In die afgelope tyd het ek heelwat nagedink oor die boek Jona. Ek wou meer verstaan van hoe die boek deur die eeue heen deur gelowiges verstaan is.

Die vraag is veral belangrik vir Christene. Hoe help Jona, ‘n boek wat deel is van die Ou Testament, mense om hul verhouding tot God, gevorm deur die boodskap van Jesus, te beleef? As ‘n mens hierdie boek nalees, begin jy ook breër verstaan hoe gelowiges oor die Ou Testament voel. Watter rol speel hierdie boek van Israel in die Christelike geloof? Vandag is die Jodedom en die Christendom een van die groot wêreldgodsdienste. Saam met Islam leef aanvaar hulle almal die Ou Testament as gesaghebbende, heilige boek. Die Ou Testament is dus ‘n belangrike gemeenskaplike tradisie wat hierdie wêreldgodsdienste met mekaar deel. Al drie van hulle aanvaar die getuienis van 39 boeke as getuienis oor God en sluit dit in in hulle heilige geskrifte. Maar watter rol speel die versameling van boeke in hierdie godsdienste? Hoe vorm dit die geestelike lewe van hulle gelowiges?

Die boek Jona help ons ook om die Christendom te verstaan. Van die begin af het die kerk gedoen wat Jesus gedoen het. Die “Ou Testament” was ook Jesus se heilige boeke. Daar is nie ‘n bladsy in Handelinge, die boek van die kerk, wat nie gedurig na die Ou Testament verwys nie. En dit is nie om dowe neute dat Handelinge van die eerste gelowiges reeds as “Christene” praat nie (Hand.11:19-26). “Christendom” beteken ‘n fokus op “Christus” – en daarmee bedoel ‘n mens Jesus van Nasaret wat in die tradisie bekend geraak het as Jesus Christus. Maar Christus is nie net ‘n eienaam vir Jesus nie. Dit beteken ook “Messias”. Daarmee is ‘n onlosmaaklike verband tussen geloof en Ou Testament gelê. Jesus verteenwoordig met sy lewe al die goddelike dinge van die Ou Testament. En, soos ons gesien het, het Jesus ook die boek Jona gelees en gebruik (sien vorige blogs). Jesus het sy eie bediening en persoon in die lig van die Ou Testament verstaan.

Lees ons die Ou Testament genoeg? Lees ons die Ou Testament reg? Is die Ou Testament vir ons ‘n inspirasie in ons geloofsreis? Of is dit ‘n struikelblok?

Dat die Ou Testament ‘n groot struikelblok kan wees, word goed deur die boek Jona geïllustreer. Die duiwel is gewoonlik los wanneer gelowige, goeie Christene gewoonlik begin baklei oor die vraag of Jona nou wel in die vis se maag was of nie. Sommige vind dit onverstaanbaar dat gelowiges kan twyfel hieroor. As iets in die Bybel staan, moet dit mos gebeur het – redeneer hulle. Ander weer kom in opstand as van hulle verwag word om te aanvaar dat Jona letterlik in die vis se maag was. Nog ‘n klomp kyk taamlik sinies na hierdie bakleiery: hulle sê gewoonlik dat die mense wat so onder mekaar baklei oor Jona in die vis, skynbaar net so genadeloos teenoor mekaar was as wat Jona teenoor die Nineviete was. Hulle verketter en belas mekaar. Nog ander sê: watter verskil maak dit aan mense se geloof as hulle nie wil en kan glo dat Jona wel in die maag van die vis was nie? Om dit nou bietjie sterk te stel: word sulke “ongelowige” mense dan nou slegte mense wat hatig, onverdraagsaam, selfsugtig, humeurig, gewelddadig, korrup, sedeloos, bandeloos is? Oor en weer, heen en weer, vir of teen is die beskuldigings, beledigings en verwyte wat in die naam van hierdie boek geslinger word.

En dit alles terwyl dit ongetwyfeld ‘n belangrike boek is. Jesus het die boek Jona met sy opstanding verbind (Matteus 12:38-42). Dit was dus vir hom van kardinale belang. Jona in die maag van die vis is die teken van die Seun van die Mens se dood en opstanding.

Nie vir ‘n oomblik is daar enige aanduiding dat Jesus hierdie boek gebruik het om mense te verketter oor enige letterlike interpretasies van die Ou Testament nie. Trouens, Jesus het juis die boek gebruik om mense te waarsku teen ‘n geloof wat gebou is op “wonders”. Dit is eintlik ironies dat Jesus ‘n boek oor ‘n viswonder gebruik om mense te vra om nie wonders te soek nie.

Maar was die boek Jona vir Jesus ‘n boek oor ‘n “viswonder?” Jona leer ons, sê Jesus, dat die hart van die goddelike boodskap te vind is in die kruis en opstanding. Wat belangrik is in ons geestelike reis, is dat Jesus gesterf het – drie dae en drie nagte dood was. Jesus, groter as Jona, is die een wat soos Jona, uit die dood opgestaan het. Hierdie opstanding “doen” iets, want dit “verander” mense “kragtig”. Die opstanding, sou ons in spiritualiteitstaal kon sê, transformeer mense:

Kyk, sê Jesus (in Matteus 12:38-42), na Jona. Hy was drie dae en nagte in die vis. Maar dan beweeg Jesus aan na die res van die Jona-boek en fokus op die “prediking” van Jona wat lei tot die Nineviete se kragtige bekering (Matteus 12:41). Jesus knoop die krisis-oomblik in die vis aan die uitkoms van die krisis: Jona, die een wat gesterf en opgestaan het, het die Nineviete tot besinning opgeroep. En hierdie gehate vyande van God, die Assiriërs wat die 10 stamme van Israel vernietig het, het tot bekering gekom. Die ondenkbare het gebeur. Die mense wat vir gelowiges in die ou bedeling die simbool van uiterste vernietiging was, is totaal verander. Die God van die Joodse volk bring hulle tot sak en as. ‘n Woord van God was kragtig genoeg om totale boosheid om te keer. Jona se krisis was God se kans.

As dit alles met Jona gebeur het, hoeveel te meer nie met Jesus nie – die een wat groter as Jona is.

Hierdie woorde van Jesus kry nou ‘n sterk reliëf wanneer dit met die res van die boek Jona verbind word. Hierdie Ou-Testamentiese teks gee vir ons insigte in die geestelike reis wat op ander maniere in die res van die Nuwe Testament na vore kom. Jesus se opsomming van die goddelike genade-boodskap van Jona was nie so maklik soos ons dalk sou dink ni. Die boodskap was vir Jona in meer as een opsig te veel. Hy probeer van die eerste oomblik dat God hom tot só ‘n genade-profeet wil maak, hom uit die voete te maak. Hy hou net niks van wat hy van God hoor nie. Dit is nie sy idee van hoe God behoort op te tree nie. Hy klim sommer dadelik op ‘n skip om na Tarsis te vlug. Dié stad was volgens sommige in die suidweste van Spanje geleë. Jona wil dus na die eindes van die aarde padgee – so ver weg dat God hom met rus sou laat. Hy wou so ten alle koste heeltemal van God se vreemde weë wegkom en sy eie pad met sy lewe loop.

Maar sy weë is nie God se weë nie. En Jona weet presies wanneer God hom weer inhaal. Toe daardie storm oor sy skip losbreek, toe wéét hy. Hy word van die skip afgesmyt toe hy vir die matrose vertel die storm is sy skuld. Die doodsbenoude matrose was bang dat God hulle ook sou bykom. Hulle het nie in hulle godsdienste genadige gode geken nie. Jy bly maar uit die gode se pad en assossieer veral nie met ouens vir wie die gode kwaad is nie. Dus voldoen hulle met graagte aan Jona se versoek.

Maar God is goed en red Jona. Genade onbegryplik groot: die ongehoorsame profeet kry nog ‘n kans. En Jona, berouvol, bid ‘n pragtige, aangrypende, opregte gebed (Jona 2). Ons hoor hoe naby hy aan God is. Die profeet, die reisiger, hoop ons, het uiteindelik sy les geleer. Hy word gered. Ons sien hoe naby God aan Jona bly. Hy ervaar ‘n noue, intieme band met God.

Maar helaas. Hoe voorspelbaar die weg van die mens wat God se rol wil oorneem. ‘n Hoofstuk verder en ons kry hom weer ontevrede, woedend en opstandig. Die Nineviete kom sowaar tot bekering as hy by hulle profeteer! Sy boete-prediking werk.

Maar wat het hy gedink? Dat die Nineviete, tipies heidene, horende doof sou wees? Tot sy ontsteltenis is hulle nie. En toe is die vet in die vuur: Hoe kan God, mor Jona, hierdie verdoemde nasie, die uitwissers van die 10 stamme, die simbool van uiterste kwaad, sowaar met ontferming bejeën! Hy sien nie hoe kragtig God se boodskap ‘n nasie van moordenaars en plunderaars in boete-doening op hul knieë bring nie. Selfs die koning trek rouklere aan – en – hoor hierdie boodskap – laat proklameer: “Mens en dier moet hulle van hul verkeerde dade bekeer en berou hê oor die geweld wat hulle gepleeg het” ! Voor hom sien Jona, die profeet, net ‘n klomp goddelose heidene wat niks anders as uitwissing verdien nie.

Ek verwonder my ook oor die spiritualiteit wat na vore kom in die karakterisering van die Nineviete. Die boete-prediking van Jona is ingrypend. Dit is nie sommer net vroom praatjies wat die Nineviete hier aanbied wanneer hulle God se aanraking ervaar nie. Hulle kom tot ‘n koersveranderende ommekeer. Hulle doen boete (Jona 3:5). Maar hulle ommekeer is meer as dit. Hulle transformasie het ‘n praktiese, etiese karakter. Dit word vir hulle meer as net gepraat en boetedoening. Hulle “ervaar” en “beleef” ‘n nuwe lewe. Want, staan daar in Jona3:8 hulle wil heel konkreet ‘n einde maak aan hul gewelddadige geskiedenis. Die tyd is verby dat hulle mense sou onderwerp, gedood, stede verbrand en as slawe wegvoer. In Jona 2:10 staan ook vir die tweede keer hoe prakties-eties hul nuwe lewe lyk: "Toe God sien wat hulle doen, en hoe hulle hul bekeer van hul verkeerde dade, het God afgesien va die ramp."

Die krag van God se boodskap het hierdie groot boosdoeners getransformeer tot vredemakers. Jona se boodskap, die man wat drie dae in die vis was, word vir hulle die bron van radikale omvorming. God se genade is die bron-ervaring van hul nuwe bestaan in vrede.

Die ondenkbare het gebeur. Die mense wat in die geskiedenis van God se volk as die groot boosdoeners bekend geraak het, is in sak en as – sonder dat iemand ‘n swaard uit sy skede getrek het en dit teen hulle nekke hou! Die geweldlose, genadige boete-prediking van Jona het hulle tot vredemakers omvorm.

Al wat gebeur het, was dat ‘n boete-profeet met hulle oor God kom praat het. Terwyl Israel deur sy geskiedenis sy eie profete sou doodmaak, het hierdie harde kwaaddoeners die krag van die goddelike boodskap gevoel en beleef. Dit het iets dramaties aan hulle gedoen.


Maar steeds moet ‘n mens onthou dat hulle geskiedenis net ‘n binne-deel van die groter geskiedenis is. Terwyl die heidene positief reageer, is Jona as tipe van die gelowiges van alle tye in reaksie teen God se genade. Die Nineviete is, tragies genoeg, die mooi deel van die Jona-boek. Hulle “wonder-like” verhaal omraam die tragiese verhaal van Jona, van die gelowige mense se reaksie op God se oordadige genade.

Daar is iets tragies omtrent Jona se tragiese reaksie. Die boek Jona het ‘n “oop einde.” Terwyl ons weet wat van die Nineviete geword het, verdwyn Jona in die donker van die geskiedenis. Ons wonder...

Duidelik en helder bly praat die boek verder oor God se genade tot die einde toe. Ons sien Jona wat opnuut weer vir ‘n verdere keer genade ontvang: God gee vir hom ‘n skaduwee om onder te skuil daar waar hy dikbek in sy woede buite die stad gaan sit het omdat God die Nineviete nie vernietig het nie. Vir hom is daar geen vreugde-partytjie saam met die verlore kinders wat huis toe gekom het nie. Hy bly buite, kies die ruimte buite die stad. En vir oulaas praat God met hom deur die skaduwee van die plant weg te neem. As Jona kwaad is daaroor, leer God hom weer wat genade is. Jy is woedend (jona 4:9!) omdat die plant nou verdroog het. “Jy kwel jou oor ‘n plant. Maar as Ek my oor mense kwel, raak jy kwaad?”

Ons sien hier op ‘n aangrypende manier die onrustige Vaderhart wat gekweld is oor mense – keiharde boosdoeners wat hulle ook al mag wees.

Daar is niks verder in hierdie boek oor Jona nie. Wat het Jona gedoen nadat God vir hom vertel het van die gepynigde Vaderhart? God het vir hom gevra “Het jy rede genoeg om kwaad te word oor die komkommerplant?” En die laaste woorde wat ons van hom het is: “Ek het rede genoeg: ek is besig om te sterf!” Sou hy sy lewe só tot ‘n einde bring?

Hierdie verhaal laat my opnuut besef: Dit is tog maar ‘n ding om vanuit die krag van Jesus se opstanding te leef. Dit kan jou anders maak as wat ‘n mens ooit gedink het jy sal word. Jy kan die teken van Jona verstaan, selfs omhels. En tog, is daar 'n oomblik, 'n deurslaggewende tyd, dat jy kan besluit jy weet beter as God. Hoe verleidelik is dit om ons eie geestelike pad, weg van genade, te wil loop.

Dit is tog maar ‘n groot uitdaging om jou kruis op te neem en Hom te volg. Dit is maar ‘n waagstuk om as besielde en toegewyde apostel in jou binnekamer te gaan bid tot God en dan later berouvol te moet erken : “Wie is ek dan om God te probeer verhinder?” (Handelinge 11:17). Selfs die grootste van groot leiers kan nog laat in hulle lewe beter as God wil weet.

‘n Mens kan as getroue, oudste kind naby die ouerhuis bly. In die huis van jou vader en jou moeder woon jy vir jou hele lank, maar steeds bly jy ‘n vreemdeling in die huis van liefdevolle genade. ‘n Mens kan kilometer vir kilometer agter Jesus aanloop, selfs tot op die letter vir Jesus se geldsake sorg, saam met hom die goddelike ritueel van die pasga, die bevryding vier, maar steeds ‘n verraaier wees. ‘n Mens kan in groot getalle na die Nasarener stroom en sy wonders beleef, maar nog steeds vir hom aan ‘n kruis vasnael.

Christus merk sy volgeling met die teken van Jona, die krag van sy opstanding. Wie daardie teken ontvang, moet gereed wees vir groot dinge – groter as wat hy of sy ooit voorsien het.

Jesus het die profeet Jona se boek gelees. Hy het dit geleef. Maar, anders as Jona, het hy nie van God se wil weggevlug nie, afdraaipaadjies gevat of onder skaduryke bome gaan bly nie. Hy wou, soms. In die woestyn het hy drie keer ‘n ander pad vir sy lewe bedink. En elke keer weer uit die Ou Testament ‘n antwoord gekry om eerder God se moeiliker pad te loop. In die tuin wou hy liewer ‘n ander beker ledig, maar tog toe die beker van bloed gepleng. Jesus is hiervoor sekerlik ook geïnspireer deur Jona – ‘n boek wat hy geken en beleef het. Maar dit was meer as boeke-kennis wat hom die pad laat loop het. In die woestyn, in die stilte van afsondering kon hy uiteindelik in God rus vind toe engele hom kom voed het en hy saam met die wilde diere vertoef het. In die tuin, in ‘n worstelgebed kon Hy hom afsonder om in die Vader se teenwoordigheid te wees. Dit was uiteindelik sy nabyheid aan God wat Hom die pad van vrede laat opsoek het – al het dit sy dood gekos.

Die kruis-verhaal het nie ‘n oop einde nie. As Jesus willens en wetens vir die wêreld sterf, is daar ‘n duidelike slot, onmiskenbare closure, deurtrek met kinderlike vertroue en oorgawe: “Vader, in U hande gee ek my gees oor” (Luk.23:46).

Die skaduwee van die boom waaraan hy hang, die donker van boosheid wat hom omring het, het die kragtige wete van die goddelike teenwoordigheid in sy lewe nie uitgewis nie. Hy kon nog, in sy finale oomblik, sy hart biddend aan God toevertrou. Sy lewe was deurtrek met die krag van die Gees.

Hy het krag gehad, maar vir ‘n moeilike reis. Hy het krag geput uit God se verhaal in die Ou Testament. Dit was die krag wat hy herken het uit sy intieme, direkte verhouding met God.

Wie weet. Miskien het daar ook in Jesus se laaste oomblikke ander gebede stilweg uit sy hart opgeklim na God. Wie weet. Dalk was hierdie een ook onder hulle:

“In my nood het ek tot die Here geroep, en Hy het my gebed gehoor.
Diep in die doderyk het ek hulp gevra, en U, Here, het my gehoor.”

Jona 2:2.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive