Sunday, February 28, 2010

Jesus het opgestaan. Kom ons gaan aan met ons lewe...

Johannes 21 wat in vorige blogs bespreek is, bly my bybly. Dit is tog merkwaardige verhale: Johannes 21:1 som die hoofstuk op as: “Jesus het daarna weer aan sy dissipels verskyn.” En dit word duidelik in ‘n spesifiek area geplaas, naamlik die See van Tiberias.

In ‘n sekere sin is die hoofstuk ‘n ontnugtering en ‘n teleurstelling.

Johannes 20 vertel hoedat Jesus met ‘n vredesgroet aan hulle verskyn het toe hulle die Sondagaand met sy opstanding bang bymekaar was. Daar het hulle die Heilige Gees ontvang (Joh.20:22-23). Ons neem dus aan dat hulle nou kragtig in Jesus se opstanding glo. Dis nog net Thomas wat vasgeskop het. Maar hy het intussen bygekom (Joh.20:26-28).

En nou? In Johannes 21, anders as wat ‘n mens uit Handelinge 2 verwag, is die apostels nie die wêreld in met die boodskap van Jesus se opstanding nie.

Hulle vang eerder weer soos in die ou dae vis. Sewe dissipels is langs die see bymekaar toe Petrus sê: “Ek gaan visvang.” En dadelik gaan hulle almal uit om die hele nag lank te probeer iets vang.

Is hulle nou maar weer die ou klomp, sonder Jesus, terug in hul ou bestaan asof alles nou tot niet is en die Jesus-verhaal dan verby is? Het hulle geloof tot ‘n einde gekom?

Daar is ‘n paar sleutels wat ons help om hier anders te dink. Hierdie sleutels ontdek ons in die ryk simboliek van hierdie hoofstuk:

Eerstens is dit, soos Sandra Schneiders in haar Johannes-boek skryf, nie om dowe neute dat daar sewe dissipels genoem word nie (Joh.21:2). Hulle verteenwoordig ‘n ronde getal. Dit is die kerk in die klein wat hier al bymekaar kom. Hier word dus op ‘n rare manier simbolies na die nuwe gemeente van God verwys.

Tweedens kom Jesus in hulle gewone lewe in. Hy neem hulle nie na die bo-kamer of die tempel of Jerusalem toe nie. Hy word deel van hul daaglikse lewe – hy wys selfs vir hulle hoe om ordentlik vis te vang... Terwyl hulle nog visvang, staan Jesus eenvoudig op die strand. Hy volg hulle waar hulle leef.

Die hoofstuk bied egter ‘n ander sleutel. Jesus maak hulle bewus dat daar iets spesiaals in hulle lewens aan die gebeur is. Hy voed hulle met vis. Hulle weet dan ook sonder meer dat dit die Here is (vers 12). Hulle herken Jesus se binnekoms in hul lewens, in hul gewone, alledaagse bestaan. Hulle gehoorsaam al Jesus se bevele – om die nette aan die regterkant uit te gooi (vers 6), om die vis te bring wat hulle gevang het (vers 10) en om te eet (vers 12). Hulle eet ‘n normale dag se ete saam met Jesus langs die see. Hulle besef ook selfs dat die die “Here” is wat nou na sy opstanding met hulle is (vers 7). Maar terselfdertyd is hulle verwonder. Hulle kan nie eintlik peil wat hier aan die gang is nie – hulle wil nie vir Hom vra “Wie is U” nie? (vers 12). Daar is iets anders, iets verborge aan hierdie maaltyd. Dit is tog nie so ‘n gewone maaltyd nie. Iets gebeur met hulle wat hulle laat wonder. Hulle wat hom so dikwels gesien en gehoor het, wil nou eintlik nog meer van hom weet. Johannes 21 wil dus onderstreep dat die opgestane Jesus op ‘n gewone, maar besondere manier in die lewe van die kerk teenwoordig is.Terwyl hulle met hul gewone lewe aan die gang is, tree Jesus dit binne en keer dit om in ‘n spesiale ervaring. (Johannes 14:23: “As iemand My liefhet, sal hy my woorde ter harte neem; en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woon.”)

Dit laat ‘n mens aan die nagmaal dink. Hulle sit aan by die ete, soos altyd maar, reg om gevoed te word. Maar dan vermeld Johannes uitdruklik: “Jesus kom toe, neem die brood en gee dit vir hulle, en net so ook die vis.” Hier word hulle gevoed, word die elemente in ‘n sakramentele handeling aan hulle gegee deur die opgestane hande met die merke van die spykers daarin (Joh.20:25!) – die hande wat ‘n mens sien en tot geloof kom. In die Bybelwetenskappe is dit ‘n algemene insig dat Johannes-Evangelie só vertel is dat dit in die konteks van die nagmaal en liturgie verstaan moet word (kyk ook bv. Joh.6:9-12). Dit het wonderlike betekenis: hier word die gewone, alledaagse bestaan geheilig – versakramentaliseer. In die sweet van ons aangesig, is Jesus heiligend en voedend teenwoordig. Wat ons doen, doen ons in die lig van God se teenwoordigheid.

Maar dit is nie om dowe neute dat Jesus sakramenteel teenwoordig is waar die groot visvangs – 153 visse! – plaasvind nie. Die simboliek van die visvangs sou deur nie een van Johannes Evangelie se lesers misgekyk word nie. Hulle sal onthou dat Jesus duidelik by hulle roeping vir die dissipels gesê het: “Kom hier! Kom saam met My, en Ek sal julle vissers van mense maak” (Matteus 4:18-19). Maar meer nog: ons herken in Johannes 21 die verhaal van Lukas 5. Petrus vertel daar aan Jesus, toe Jesus vir hulle sê om te gaan vis vang, dat hy die “heel nag deur geswoeg het sonder om iets te vang” (vers 5). En dan gehoorsaam hy tog – met die groot visvangs wat dan volg. En aan die einde, nadat Petrus sy sondigheid bely het, sê Jesus: “Moenie bang wees nie, van nou af sal jy mense vang” (vers 10). En dat Jesus dit ook hier in gedagte het, blyk aan die einde van die hoofstuk wanneer hy vir Petrus drie keer (!) vra om sy skape te laat wei en op te pas. Die drie keer wys dat Jesus die ganse sendingwerk van die kerk in gedagte het (sien ook hier onder verder oor die drie).

Dit alles beteken dat die evangelies hierdie verhaal gebruik het om sy latere lesers daaraan te herinner dat Jesus van die begin af by die dissipels was in hul visserstaak. Jesus heilig hul lewe tot die sending, tot ‘n eenvoudige woordverkondiging. Hulle vertel van Jesus sodat mense moet glo (Joh.20:31). Dit is hulle groot taak – die uitreik na ander met die Jesus-boodskap. Dit is ‘n swoeg en sweet taak, maar in die sweet van hulle aangesig is Jesus voedend, liefhebbend teenwoordig.

Nog ‘n sleutel wat Johannes vir die leser gee om die hoofstuk te verstaan is die frase: “En toe dit al lig geword het.” Die dissipels swoeg en sweet om vis te gaan vang. Hulle verdien hulle brood in die sweet van hulle aangesigte... Maar dan begin ‘n nuwe dag as Jesus in hul lewens kom. Dit word ‘n dag van groot visvangs, van wonderlike, kragtige, Pinsktergebeure. Hulle eie lewens word getransformeer. Wat met Jesus gebeur het, gebeur nou ook met hulle. Hoe peil ‘n mens dit? Wie is hierdie Here wat die nag van sweet in ‘n dag van vervulling transformeer? Die ontmoeting met Jesus sou Petrus tot trane bring. Hy is diep geroer deur die Here se vrae oor die liefde.

Dit is geen wonder dat daar ‘n finale sleutel heel opvallend in vers 14 aangebied word nie: “Dit was al die derde keer dat Jesus aan sy dissipels verskyn het nadat Hy uit die dood opgewek is.” Drie keer. Die volmaakte getal. Soos Jesus op die derde dag opgestaan het, die getal van afronding, so verskyn Jesus drie keer aan sy volgeling en bring daarmee die opstandingstransformasie tot ‘n hoogtepunt.

Dit alles beteken dat hierdie hoofstuk wil vertel hoe lyk die lewe van die kerk na Jesus se opstanding. In die groot uitdaging van uitreik na ander, sou die kerk se geloofsreis dikwels skynbaar op niks uitloop nie. Die nag van mislukkings en wanhoop oorval die kerk ook na die opstanding. Die dissipels gaan aan met hul lewens. Hulle leef soos altyd met aardse sorge en bekommernisse. Maar nou, maar nou, is daar ‘n verborge, maar boeiende krag in hul lewens losgelaat.Waar die geloofsgemeenskap vir Christus kontempleer en leef in die teenwoordigheid van die Opgestane Een, hoe ontsagwekkend dit ook al mag wees, sal hulle die ryk oes inbring, maar ook self weer telkens gevoed word. Hulle word vissers, skaapwagters!

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive