Monday, February 01, 2010

Teleurstelling.

Teleurstelling is vir baie mense ‘n slegte en negatiewe ervaring. Ons het só gehoop, dink ons, dat ons sukses sal behaal, ‘n vriendskap sou kon aanknoop, ‘n goeie salaris sou verdien of die bevordering/aanstelling sou kry. Óf ons verloor ons werk, ontdek iemand het ons bedrieg, verlang na iemand wat ons verlaat het, word onbillik behandel, word verwerp. Ons beleef baie daaglikse terugslae en ontnugterings. Net ‘n harde, ongevoelige mens kan aanspraak maak daarop dat hy of sy nooit teleurgesteld voel nie. Dit is ‘n baie algemene menslike ervaring.

‘n Mens kan verstaan dat ons lewe so vol teleurstellings is. Ons leef só dat dit onvermydelik is dat ons een of ander tyd ontnugter sal word: ons wil graag baie dinge besit, ons wil graag met respek behandel word en ons wil graag gewild wees. As ons dit nie het of kry nie, val ons wêreld uitmekaar en oorweldig treurigheid ons.

Wat eintlik vreemd is, want ons hoef baie keer nie regtig so teleurgesteld te raak nie. Veral omdat ons elke dag weer sien ryk mense is nie noodwendig gelukkig nie, bekende sterre jaag maar baie rot aan en selfs ‘n staatspresident kan maar ‘n onbenydenswaardige lewe voer. Ons is nie noodwendig slegter daarvan af as ons nie kan kry wat ons wil hê nie. As ons maar net meer en meer kan besef dat ‘n eenvoudige, stil lewe propvol geluk kan wees. Dit is tog dikwels juis lekker mense vol lewenslus en lewensvolheid wat kan sê dat hulle wel arm-kwaste is wat nie veel besit nie of beroemd is nie, maar hulle harte is vol vrede.

Soms wil ons dit egter nie besef nie. Ons dink dat ons sal darem nie so dom wees om ryk en ongelukkig te wees nie. Ons dink dat ons beroemd kan wees sonder om aan te jaag. Ons het ‘n hoë dunk van onsself. Juis daarom dryf ons onsself, jaag ons vasberade om op die boonste leer uit te kom en dink ons dat ons, daar bo aan die top, alles sal regkry wat ander nie kon regkry nie. En wanneer dit dan nie gebeur nie, word ons ontnugter.

Daar is niks verkeerd daaraan om die boonste sport te wil bereik nie. Wat verkeerd is, is as ons dit tot nadeel van onsself wil doen. Wanneer ons onsself druk om die onmoontlike te wil doen, vernietig ons onsself.

Die teendeel is so sinvol. Wat tel is of ons ons beste lewer. Dit is die vervullende – om voluit te leef. Nou onlangs kyk ek een van die vele kompetisies op die televisie waar die beoordelaars vir ‘n seun prys vir sy optrede, maar dan ook vir hom kritiek deurgee. Heel ontspanne sê hy voor ‘n reuse-gehoor na al die kritiek: “Well, I tried my best...” Dis nou al ‘n opmerking waarvoor hy myns insiens ‘n groot prys kan kry. Wat tel in die lewe is nie hoe hoog ons kan uitstyg nie, maar hoe deeglik en toegewyd ons leef. Ons weet dit tog: ons hoef nie die Comrades te wen om gelukkig te wees nie. Iemand wat ‘n staptog in die Visrivier-canyon geloop het en met ryk, ryk herinneringe terugkom, met seer voete en ‘n uitgeputte lyf en sonder ‘n goue medalje, het nie minder lewensplesier en –vreugde as ‘n Comrades-wenner beleef nie.

Om teleurstellings te voorkom deur te leer om realisties en nugter in ons strewes te wees, lyk vir my na goeie, volwasse insigte. Daar is dus “verwerkbare” teleurstellings waaroor ons gouer kan kom as ander. Ander teleurstellings skok ons, maak ons dae lank depressief en ongelukkig of is vir ons onhanteerbaar. Óf, wat vir ander eintlik maar net ‘n klein terugslag is, is vir ons ‘n verskriklike ontnugtering. Henri Nouwen het vir maande lank in ‘n depressie verval omdat ‘n goeie vriend van hom nie ‘n afspraak nagekom het nie. Die vriend het later vertel dat hy nie eerst bewus was van die afspraak of van Nouwen se sensitiwiteit daaroor nie. Óf ons kan soms dinge doen sonder om vir ‘n oomblik te besef hoeveel ons ander daardeur teleurstel.

Dit help dat ons vir onsself soms moet vra of ons in ons teleurstellings nie oorreageer of oorsensitief is nie. Dikwels is dit waar dat mense onsensitief oor ons teleurstelling is. Maar hier weer kry ‘n mens perspektief deur ‘n stuk realisme. Ons is sekerlik self ook by tye minder sensitief vir die terugslae wat ander beleef. Ons dink soms dit is kleinighede waaroor hulle hul ontstel. Hieraan sit ek en dink toe ons so ‘n jaar terug ‘n lekker aandjie met vriende deurbring. Die gesprek loop vlot, onderhoudend en die een spesiale herinnering na die ander word deur ons met kleur en geur opgediep en met humor bekyk en bepraat. Mense wat ek al vir jare van vergeet het, word in ons gesprek weer opnuut in my gedagtes opgeroep. Ek geniet die aandjie. En toe, so uit die bloute, vertel iemand aan tafel ‘n verhaal wat lyk na ‘n tipiese boelie-agtige houding wat ons so dikwels in ons kultuur gekry het. Ek is teleurgesteld. Veral omdat ek haar as ‘n sensitiewe mens ken wat altyd bedagsaam na ander uitreik. Wat vir haar ‘n verhaal vol humor is, is vir my ‘n geniepsige storie met ‘n afknouerige einde.

Dit het my ‘n tyd geneem om te besef dat ek nie mag toelaat dat hierdie een klein opmerking die groter prentjie van ‘n mens wat omgee vir ander bederf nie. Of dat een storie al die ander goeie, lekker verhale oordonder nie. Of, dink ek later, het ek regtig goed geluister? Was dit regtig die bedoeling van ons kuiergas om kru-weg ‘n geboelie goed te praat?

Ek besef egter uiteindelik toe hoe waardevol teleurstellings kan wees in die leerskool van die lewe. Wanneer só ‘n slegte ervaring oor ‘n mens se pad kom, kan dit ‘n mens leer om op te beur, te ondersteun, uit te reik eerder as teleur te stel en te ontnugter. En dit kry ‘n mens reg deur op ‘n baie diep vlak te begin werk met jou teleurstellings. Omdat ons ook feilbaar is, mense wat self ook ander dikwels seermaak en ontnugter deur ‘n enkele woord of gebaar, maar ook omdat ons die geestelike pad van heling en integriteit wil loop, mag ons nooit aan ons teleurstellings in ander vasklou nie. Teleurstellings wat ons lewens oorheers, maak ons siek. Ons het lang geheues as dit kom by dinge wat ander mense vir ons gesê en gedoen het waarvan ons nie gehou het nie. Waar dit gebeur, word ons die gevangene van afbrekende kragte.

Ek besef, terwyl ek hierdie dinge bedink, hoe ontnugerend dit eintlik is dat ons so teleurgesteld voel en dan nog jare lank daaraan vashou as griewe. ‘n Mens sou dit spitsvondig kon sê: daar is net een groter probleem as ‘n teleurstelling en dit is dat ‘n mens teleurgesteld voel. Dit is teleurstellend dat ons so teleurgestel kan word!

Juis omdat ons so gou teleurgesteld voel of juis omdat ‘n mens teleurstellings lewenslank met jou kan saamsleep, moet ‘n mens op ‘n geestelike manier daarmee kan omgaan.

Teleurstellings moet iewers omgebuig word sodat hulle nie in die pad van heling staan nie. 'n Mens moet daaraan werk om teleurstelling doelbewus om te buig. Daarom behoort ‘n mens eintlik ‘n “sakrament” vir jouself te bewerk wanneer jy voel jy word teleurgestel. Dit sou byvoorbeeld kon beteken om na te dink oor wat dit is wat jou so ontnugter het sodat jy dit goed begryp en beleef. Dit maak baie sin om vir ‘n mens uit te spel hoe jy voel, maar veral waarom jy so voel.

Maar as ‘n mens dit dan so deurdink en beleef het, moet ‘n mens die teleurstelling laat gaan en agter jou laat. Dit maak ook baie sin om ‘n teleurstelling in gebed met God te deel en dan in God se hande te laat, sê die mistagoë. ‘n Mens kan nie teleurstellings vermy nie, maar jy kan kies hoe jy daarop wil reageer.

Dit hoef nie al te wees nie. Met ons meditatiewe benadering tot teleurstelling, kan ‘n mens ‘n hele ritueel verbind. Op die manier kan 'n mens byvoorbeeld doelbewus 'n teleurstelling kontrasteer met alles wat waardevol is: in tye van ontnugtering kan ‘n mens sinvol mense vir wie jy lief is, saam met jou neem na ‘n plek waar ‘n mens gewoonlik baie gelukkig is. In só ‘n kring van geborgenheid kan ‘n mens dan die teleurstelling kontrasteer met wat ‘n mens in mense naby aan jou het.

Of: Iemand vertel dat sy ‘n kers aansteek wanneer sy ontnugter is. Sy maak daarvan ‘n ritueel. Sy bedink die swart pit as simbool van wat fout gegaan het. Dan steek sy die kers aan en wanneer die pit brand, beleef sy in haar gemoed vir haarself dat sy nie moet toelaat dat haar teleurstellings as ‘n swart merk in haar lewe uitstaan nie. ‘n Mens kan in jou lewe deur God se krag en energie die swartheid van ontnugtering wegbrand. Daarvoor moet ‘n mens kies.

Uiteraard is daar baie ander maniere om teleurstellings te oorwin en oorkom. Elkeen sal dit op sy of haar eie manier doen. En dit sal nie altyd sommer net maklik gebeur nie. Vir sommige sal dit ‘n lang proses wees, in sommige gevalle miskien selfs jare lank neem - hoe ondenkbaar dit ook al mag klink.

Teleurstellings kan verbysterend vernietigend wees. Die hart van ons geloof bring ons egter by ‘n punt waar ons die kragte van vernietiging moet besweer. Ons sal dikwels maar hard daaraan werk – dikwels, veral wanneer die teleurstelling diep loop, op ‘n byna-sakramentele manier.

Ons moet eenvoudig ons teleurstelling kan heilig, geestelik daarmee omgaan, die Gees laat oorneem in die verwerking daarvan.

Een van die groot verhale in die Bybel is vir my Jesus se reaksie op Petrus se verraad. Die bybelteks vertel dat Jesus gaan stilstaan het en Petrus in die oë gekyk het. Net Lukas vertel in Lk.22:61: “Die Here het omgedraai en Petrus aangekyk.” Petrus, hoor ons dan, het buitentoe gegaan en bitterlik gehuil.

Ek dink baie oor daardie oomblik waarin Jesus vir Petrus aangekyk het. Wat ‘n ewige oomblik... Hoe ongelooflik is hierdie toneel nie, hoeveel die gedagtes wat 'n mens kan bedink wat in hierdie twee se koppe gemaal het nie.

Later sou Jesus na hierdie man wat hom teleurgestel het, liefdevol uitreik. Hy, die verraaier, is deur God tot die prediker van die Pinkster-boodskap gemaak. God leef verby die menslikheid, die verraad, die ontnugtering. Ons, immers, is die beeld van God wanneer ons ook só verby die teleurstellende tye in ons lewe kan beweeg.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive