Monday, February 08, 2010

Jona uit 'n Dominikaanse perspektief....

Ek lees in Green se artikel oor die geestelike lees van die Ou Testament hoe Hugh van St-Cher Jona verstaan het. Vir hom het die boek Jona ook verskillende boodskappe. Jona is byvoorbeeld ‘n figuur wat na Christus heenwys, hoewel hy beklemtoon dat ‘n mens nie die ooreenkomste tussen die twee moet forseer nie. Soos gebruiklik van die eksegese in die antieke tye, lees hy die Ou en die Nuwe Testament saam. Die twee vloei vir hom inmekaar. As ‘n mens Jona sien, sien jy Jesus. In altwee herken ‘n mens God se redding. Daar is nie sprake dat die Ou Testament ‘n mindere boek as die Nuwe Testament is nie.

Maar die kardinaal haal ook nuwe insigte na vore deur Jona met ander Ou-Testamentiese gedeeltes te vergelyk. Hy verbind die verhaal van Jona in die walvis met die deurtog deur die Rooi See. In beide gevalle word God se redding in drie dae volbring. ‘n Mens herken dus op hierdie vergelykende wys in verskillende gedeeltes van die Ou Testament die geestelike voedsel wat ‘n mens vertel van God se genadige uitkoms aan mense.

Maar, daar is ander, vreemder eksegese van Jona. Green wys in haar artikel ook op taamlike “wilde” allegorie by Kardinaal Hugh. Hy vergelyk byvoorbeeld die boom waaronder Jona skuil met Israel. Dit is Israel die volk wat Jona skaduwee bied terwyl hy wag op die bekering van die heidene.

Kardinaal Hugh, kennelik bekommerd oor Jona wat so woedend is omdat God genade vir die Nineviete wil skenk, probeer bedagsaam ‘n die beeld van Jona so bietjie poets. Op ‘n vreemde manier vergelyk hy dit met Jesus aan die kruis. Hoe hy dit doen, verduidelik Green nie, maar sy poging om Jona se optrede te verduidelik is ook gedryf deur ‘n spiritualiteit. Dit is duidelik dat Jona se onbarmhartige verwerping van sy sending na Nineveh vir lesers soos kardinaal Hugh bekommerd het. Iemand wat naby aan God staan kan tog nie só wees nie.

Geen wonder dus dat Green Kardinaal Hugh beskryf as iemand wat gedryf is deur sekere basiese elemente van spiritualiteit: studie en liefde, gebed en prediking, kontemplasie van God en omgee vir die naaste. Maar in Green se bespreking van kardinaal Hugh, bly veral die volgende sin by my. Nadat sy kardinaal Hugh se spiritualiteit beskryf het, verduidelik sy meer oor die opvallende “studie” wat sy hier genoem het. Dit val my op, want ons stel dikwels die intellektuele teenoor die geestelike lewe. Maar, haal Green vir Tugwell aan (p.43), “die intellektuele lewe wat met ‘n diepe erns gesoek word, kan al ‘n opregte vorm van vroomheid wees, op voorwaarde dat dit gedryf word deur liefde en veral as dit gedryf word deur die begeerte om die waarheid vir mense te kommunikeer.”

Natuurlik is dit alles ‘n bietjie Dominikaans, maar tog: Kardinaal Hugh se verskillende interpretasie-grepe op Jona, hoe wild ook al, lyk vir my is gedryf deur so ‘n begeerte na “verstaan” en na intellektuele insig, gekoppel aan liefde en omgee.


Wat my vanaand nogal laat dink aan Jesus wat vir sy dissipels, toe hulle so slim was oor die waarheid, gemaan het met die woorde: “wie nie teen ons is nie, is vir ons.” (Markus 9:38-41). Die dissipels wou mense wat nie deel is van hulle binnekring, belet om duiwels uit te dryf. Jesus, daarenteen, is nie gepla nie. Sulke mense wat duiwels uitdryf, vertel Jesus ontspanne, werk kragtig in Jesus se naam – en daarmee doen hulle Jesus geen onreg of kwaad aan nie. Wat tel, dus, is nie of jy deel is van ‘n binnekring van die slimmes en bevoorregtes nie. Wat tel is of jou dade goeie gevolge het.

Ek vind dit ook pragtig om sommer ook oor Markus 9:41 na te dink. Jesus sê dat mense wat vir die dissipels water gee om te drink, daarvoor beloon sal word. Alles wat ‘n mens doen, so klein as wat dit nou ook al in mense se oë mag lyk, sal ons baat. Want dit wys dat ons omgee vir Christus en vir die wat aan hom behoort.

Daarmee dwaal ek so bietjie weg van Jona om bietjie na te dink oor die aard van Kardinaal Hugh se slim opmerkings oor Jona. Dit is duidelik dat wat vir ons nogal vreemd en anders mag lyk, vir hom ‘n kwessie is van omgee vir Christus. Worstel met Jona op so ‘n manier dat dit konsekwent jou liefde vir die Woord wakker maak. Wie net teen ons is nie, is vir ons!

Dit is tog 'n ding vir my: hoedat ons godsdiens skeiding bring tussen mense. Hoedat ons uit ons vroomheid die geestelike erfenis van ons geestelike leiers oor baie eeue heen so maklik kan bevraagteken, al is dit mense wat in hul omgewings in moeilike tye 'n skynende lig vir die evangelie was.

Om af te sluit met Jona: daardie woede van hom is miskien nie so vreemd nie. Hy was kwaad vir God omdat God die evangelie gegee het aan skorrie-morrie vyande van Israel. Hy wou, soos die dissipels van Jesus, mense weghou van God - vir hulle belet van God se liefde. Jona was 'n vroom man. 'n Baie vroom man.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive