Sunday, February 07, 2010

Die oor van God is in die hart van die een wat bid....

Augustinus, die beroemde kerkvader, het daarop gewys dat die Bybel ‘n klomp inligting en baie detail bevat, maar terselfdertyd was dit vir hom duidelik dat die Bybelboeke met al hul detail almal handel oor die een boodskap van God se verlossingsdade. Ook hy het dus, soos baie ander van die vroegste kerkvaders, beklemtoon dat ‘n mens die Bybel vir sy geestelike boodskap moet lees.

Die lyk so eenvoudig dat ons die Bybel vir sy geestelike boodskap moet lees, maar dit kan 'n ryk ervaring word. Augustinus het, soos Green wys, verskeie geestelike boodskappe in die boek Jona terugvind wat almal saamhang met die Bybel se plek in ons geestelike reis na God. ‘n Mens is verbaas hoeveel aspekte van die boek het hy met een of ander geestelike ervaring verbind.

Green vertel dat Augustinus Jona eers vanuit ‘n persoonlike geestelike hoek beleef. Hy vergelyk Jona met sy eie jeug. Jona illustreer wat gebeur wanneer die jongmens nie meer God se plan vir sy lewe nastreef nie, maar agter ‘n skaduwee jaag – soos wat Augustinus self gedoen het.

Augustinus het egter ook nagedink oor ander aspekte van die boek. Vir hom illustreer die verhaal van die Nineviete dat God aan alle soorte mense die geleentheid gee om tot bekering te kom. Hy het ook gewonder oor die feit dat die Nineviete tot bekering gekom het sonder dat hulle direk en openlik God se genade vir hulle opgeëis het. Daar was ook ander aspekte van die boek waaroor hy geskryf het wat alles illustreer hoe diep hy oor die boek nagedink het.

Maar ek hou veral van hoe Augustinus Jona met Psalm 130 verbind. Hy skryf:

“Uit die dieptes het ek na U geroep, o Here: Here, hoor my stem” (vers 1). Jona het uit die dieptes geroep, vanuit die walvis se maag. Hy was nie net onder die waters nie, maar ook in die ongedierte se ingewande. Tog kon die waters en die ingewande nie keer dat sy gebed God bereik nie. Die maag van die walvis kon nie sy gebed inperk nie. Dit het deur alles gedring en verby alles gebars. Dit het die oor van God bereik. Want dit het die ore van God bereik toe dit verby alles gebars het omdat die oor van God in die hart was van hom wat gebid het.”

Dit is boeiend om te sien hoe Augustinus een van die mooiste Psalms neem en dit kombineer met Jona se verblyf in die walvis se maag. Augustinus dink nie na of die verhaal “waar” is of nie. Die Psalm vertel van iemand wat in diepe nood na God roep. Vir hom is dit presies wat Jona in sy tyd van krisis doen. En, soos die Psalmis bid dat die Here hom sal hoor (vers 2) en “seker verlossing” verwag, so kan Jona dit ook doen. Augustinus wil fokus op Jona se gebed om verlossing: niks, selfs nie die allermoeilikste omstandighede nie, kan keer dat die smeekgebed om verlossing deur God gehoor sal word. Die verhaal van Jona illustreer dus vir Augustinus die teenwoordigheid van God in die diepste nood van die gelowige. Weer eens word die eenvoudige vertelling van Jona se verblyf in die walvis gebruik om ‘n geestelike boodskap te illustreer.


Dink net: die oor van God is in die hart van die bidder. God is naby, na aan ons en hoor ons wanneer ons in ons nood uitroep. Daarom kan ons met vertroue bly bid, want ons weet God se nabyheid word nie deur ons omstandighede bepaal nie.


God is naby, in die hart van die een wat bid. Soms lyk ons asof ons heeltemal weggesink het in die dieptes - byna soos Jona wat in die dieptes van die dieptes was. En dan weet ons elke keer weer op 'n stadium dat God ons nie laat wegsink in die dieptes nie. Want God is weggesink saam met ons - in ons hart.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive