Saturday, February 13, 2010

Om wonderlike dinge te onthul....














Albert Herbert (gebore 1825), wat twee jaar gelede dood is, se skilderkuns word deur sommige mense met die groot mistieke kunstenaars in die Britse kunsgeskiedenis soos William Blake vergelyk. Hy teken in sy skilderye op ‘n eie, besondere manier Bybelse figure wat vir hom ‘n mistieke, godsdienstige boodskap ingehou het. Hy wou nie deur sy kuns ‘n blik gee op die wêreld daarbuite nie. Sy kuns was vir hom ‘n manier om uitdrukking te gee aan die mens se innerlike lewe en ervaring. Hy het dus dinge geskilder soos hy gevoel het hulle lyk – nie soos hulle “regtig” sou gelyk het nie.

Hy het Bybelse motiewe gebruik om uiting hieraan te gee omdat hy geweet het dat mense wat na sy kuns kyk, die motiewe sou herken en dus die ervaring ten grondslag van en in sy kuns sou kon deel.

Op ‘n sekere stadium het hy ‘n Koreaanse klooster opgesoek om in kontak met die Zen-Boedisme te kom, juis in sy soeke na die diepere dinge. Maar juis daar het hy besef dat hy volledig ‘n Westerling is en dat sy wortels in die Christendom lê. Ook daarom het hy Bybelse motiewe herontdek. Hy het lank kinderkuns bestudeer, soos ‘n mens duidelik uit sy latere skilderye kan agterkom. In sy naïewe kinderfigure wou hy ‘n diepsinnige ervaring uitbeeld. Sy figure het ‘n primitiewe karakter, maar hulle is besonder kleurryk. En gedurig is ‘n mens bewus daarvan dat hy besig is om onder die oppervlakte te delf. Hy wil met sy kuns die diep, innerlike wêreld van ervaring bekyk. En hierdie ervaring is ook vir hom polivalent. Dit kan nie in een betekenis vasgevat kan word nie. Daar is gedurig verborge insigte en ervaring wat in ‘n mens wakker word – nie net wanneer ‘n mens die Bybel lees nie, maar ook wanneer ‘n mens sy skilderye bekyk.

Daar is in ‘n sekere sin ‘n skynbaar logiese gang van sake in sy lewe. Herbert het as ‘n jong, onervare agtienjarige seun in die Britse weermag as soldaat ervaar hoedat driekwart van sy groep deur Duitse opponente tydens die inval in Normandië doodgeskiet is. Hy sou as ‘n godsdienstige mens van die oorlogsveld terugkom. Vir die res van sy lewe was hy in godsdienstige kuns betrokke. So sou hy veel later net een openbare kommissie ontvang to ‘n kerk hom gevra het om 14 stasies van die kruis te maak. Maar uiteindelik het die kerk die finale produk nie geskik bevind nie. Dit sou dan “te ontstellend” gewees het. Vandag hang dit in ‘n kapel iewers in London. Hy het, volgens sy familie, as laaste woorde op sy sterfbed gesê: “Ek dryf op ‘n meer.”

Green verwys in haar artikel oor die geestelike lees van die Ou Testament na Wendy Beckett wat ‘n skildery van Herbert oor Jona in die walvis bespreek. (Herbert het ten minste drie skilderye oor Jona in die walvis geteken - Beckett bespreek die derde een van bo). Jona, skryf sy, verteenwoordig mense wat in ‘n tipiese reaksie vir God wegwys en vir God “nee” sê. En wanneer dit gebeur, laat God “in sy desperate liefde” vir Jona besef wat gebeur met mense wat nee sê vir God. In die walvis se maag word Jona gekonfronteer met die vraag waartoe hy geroep is en wat hy met sy menslike talente moet doen. Jona moet kies: hy kan of veilig in sy eie vertroude omgewing bly. Óf hy kan waag, himself prysgee en hard aan die werk gaan. (Waarom dink ek hier aan Eckhart se interpretasie van Martha! – sien vorige blog).

Dit is nie ‘n maklike keuse nie. Die skildery beeld Jona uit as ‘n armsalige, kaal, verskrikte mens wat die wêreld staan en bekyk. Gaan hy die volwasse ding doen en sy verantwoordelikheid nakom? Hy is in ‘n verskriklike dilemma. Hy moet die keuse maak. Dit is alles in sy gedagtes. Maar, en dit is wat saak maak, skryf Green: “In alles is God se liefde by hom….”

In ‘n sekere sin is Herbert se skildery van Jona outobiografies. Hy was amper verlei tot die modernisme in sy skilderkuns. In sy tyd het al wat ‘n kunstenaar op die mode-wa van die abstrakte kuns geklim, want figurasie, is geredeneer, was swak kuns. Hy wou egter dieper kyk, die mistieke dinge ontdek, agterkom hoe veelvoudig en ryk aan betekenis ons lewe is. Kuns, het Herbert geskryf, is om die wonderbaarlike te onthul. Daarom het hy uiteindelik die risiko gewaag om nie abtrak te werk nie, maar figure uit te beeld. Daarvoor het hy ‘n hoë prys betaal. Hy is nie gereken nie, of selfs by ‘n geleentheid of twee geminag deur die manier waarop sy skilderye eenkant uitgestal is.

Herbert wou vir die moderne mens daaraan herinner dat ‘n mens nog verheffende ervarings kan hê. Hy wou mense herinner aan die transendente, aan die dieper Verborgenhede wat van ons verantwoordelikheid en reaksie vra. Ek kyk na sy ander skilderye. Aangrypende beeld hy Christus wat van sy klere gestroop word uit. Of Moses by die brandende bos. Of Die Vrou en die kind.

Mistieke onderwerpe. ‘n Mistieke aanbieding. En iewers kom die Bybel en kuns saam om ‘n mens innerlik só aan te raak dat jy opnuut weer nadink oor dinge wat in jou eie lewe werklik saak maak, oor keuses waarvan ‘n mens soms in vertwyfeling terugstaan. Opnuut weer besef ek – spiritualiteit gaan om ‘n mens se verhouding met God wat jou al hoe meer, soos jy deel in ander se ervaringe, maar soos jy aangeraak word deur God se liefde, verander, laat groei en dryf tot die volwasse lewe van toewyding.

Meimaand in London kry vir my ‘n proposisie by: ‘n besoek aan ‘n kapel in London….

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive