Friday, February 05, 2010

Die Bybel het meer skatte as wat ons graag dink.... Oor die geestelike lees van die Bybel

As jy langs die see loop en jy sien ‘n groep mense staan en see-kant toe beduie, raai ‘n mens gewoonlik hulle sien ‘n walvis. ‘n Walvis het ‘n besondere bekoring en gee ‘n mens altyd die gevoel van sensasie.

En dit was van alle tye die geval. Een van die interessantse verhale in die Bybel word in die boek Jona vertel. Dit is die verhaal van elke mens se nagmerrie: ‘n groot man wat deur ‘n walvis ingesluk word. As 'n mens aan Jona dink, dink jy gewoonlik aan die walvis.

Die boek is deur die eeue altyd weer oor en oor gelees. Uit die Nuwe Testament weet ons dat Matteus en Lukas dit ook geken het. Dit is boeiend om te kyk wat hulle met die boek gemaak het – veral omdat dit in ons tyd ‘n “omstrede” boek is. Want moderne lesers baklei hand en tand met mekaar oor die een groot vraag of die storie oor Jona in die walvis “waar” is of “regtig” gebeur het. Ons wil dus weet of die boek “histories” is.

Die Nuwe-Testamentiese skrywers stel glad nie belang in die vraag was ons moderne mense met ons historiese bewussyn vra nie. Matteus gebruik die boek Jona om ‘n punt oor Jesus te maak. In sy evangelie sê hy dat mense gedurig vir Jesus kom wonders vra het, wat Jesus weier. In Matteus 12:38-42 sê Jesus hulle gaan een teken kry: Hulle moet maar baie fyn let op sy kruisdood, want dit is vir hulle die teken wat hulle nodig het. En toe vergelyk Matteus Jesus se drie dae-dood met Jona se drie dae in die vis. In hierdie gedeelte lees Matteus Jona dus inderdaad as ‘n boek oor ‘n man in die walvis se maag. Maar hy vra nie of dit regtig gebeur het nie. God het wonders in die lewe van Jona gedoen, God sal in Jesus se dood ook weer wonder-uitkoms gee.

Lukas, weer, haal iets anders uit Jona. Hy praat van mense wat Jesus teenstaan en sy prediking verwerp. En dan vergelyk hy Jesus se opponente wat goeie en godsdienstige mense was, met die groot, heidense stad Nineve. Daardie klomp heidene, skryf Lukas, het op die ou end darem na Jona geluister en tot bekering gekom. Julle het vir Jesus, soveel groter as Jona, maar julle verwerp hom. Julle, die vroom Jode, is verder van God weg as die groot, goddelose en verlore stad Nineve.

Die boek Jona het dus in die Nuwe Testament vir verskillende skrywers verskillende betekenisse en nie een van hulle stel belang daarin of Jona nou regtig in die vis was of nie. Hulle gebruik die boek om ons bewus te maak van dinge in ons geestelike reis wat nie reg loop nie. Meer nog, vir hulle kan ‘n mens die lewe van Jesus op ‘n sinvolle manier verstaan wanneer ‘n mens dit verstaan in die lig van die Ou Testament.

Bybelskrywers het die Bybel dus gelees vanuit ‘n Christologiese hoek. Jona se geestelike betekenis en die manier waarop hy ons help om ons eie geestelike reis te voltooi, is wat regtig saam maak. Wanneer ons iets meer van Jesus wil verstaan, dieper wil indring in die verborge betekenis van Jesus, help dit ons wanneer ons die geskiedenis van God se dade in die eerste bybel, die Ou Testament, lees.

‘n Laaste voorbeeld. In die tweede eeu na Christus, omtrent 60 jaar nadat Matteus en Lukas geskryf is, het die beroemde kerkvader Irenaeus (130-200 n.C) ook graag die boek Jona gelees. Weer eens is hy glad nie geïnteresseerd of Jona nou in die vis was of nie. En ook hy lees die boek polivalent. Hy ontdek hoe hierdie boek op meer as een manier vir ons bewus laat word van verwaarloosde aspekte van ons geestelike reis en hoe hierdie boek ons help om die verborge betekenis en bedoeling van ons verhouding met God dieper te ervaar en te beleef. God stuur vir Jona uit, skryf hy. Jona ken die wil van God. Hy is ‘n gelowige man. Maar Jona weet van beter en hy probeer hierdie opdrag van God ontvlug. En moet nou nie te vinnig die vinger na Jona wys nie. Dit, skryf Irenaeus, is nie die eerste keer dat ‘n gelowige mens sy geestelike roeping verontagsaam nie. Trouens, skryf hy, dit gebeur van die begin van die mensdom se geskiedenis. En dan vergelyk Irenaeus Jona met Adam. Kyk maar vir Adam in die paradys. Terwyl hy die volmaakte beleef, terwyl hy salig wandel in die teenwoordigheid van die heilige, is Adam nie gelukkig met die opdragte wat God aan hom gee nie.

Ek leer uit hierdie intertekstuele leef van Jona en Adam eintlik iets meer van ‘n baie ou waarheid: ons menslike natuur het inherent ‘n self-vernietigende neiging. Hoe mooi ook al die dinge is wat ons beleef, kan ons maar net nie wegkom van die krag in ons wat ongenoeglik is, wat altyd maar steeds weer méér vra, opeis, en wat steeds weer selfsugtig na nog groter wonders soek. God se wil, volmaak, lyk soms vir ons darem nou nie so wys nie.

Irenaeus het die menslike natuur oor eeue heen bedink, vanaf Adam tot by Jona. Die mens se val in die paradys is uiteindelik op ‘n ander manier weer Jona se wegvlug van wat God van hom gevra het. Is dit allegories? Dit is seker allegories dat Irenaeus Jona en Adam só direk saam lees. Maar, dink ek, hoekom kan ons Jona nie lees as ‘n boek van menslike onwil, beterweterigheid, selfsug, ongoddelikheid en gebrek aan heiligheid nie? En is dit dan nie juis Adam se sonde nie? “Allegories” is soms sleg as dit arbitrêr en willekeurig is. Maar as allegorie beteken om die diepere betekenis van dinge onder ons aandag te bring, is daar niks mee verkeerd nie. Daarom word daar dikwels onderskei tussen “wilde” allegorie en legitieme allegorie.

Daar word tans hoogs interessante navorsing oor allegorie gedoen. Dit is ‘n baie ou uitlegmetode wat die Grieke al vervolmaak het toe hulle gesê het ons kan nie die kru verhale oor die uitspattige gode “letterlik” lees nie want dit sou godsdiens verspot maak. Ons moet, het die Grieke geleer, daarom die dieper betekenis daarvan vasstel.

En ons kry ook in die Bybel voorbeelde van allegorie – juis soos hierbo in die geval van Jona, maar ook in baie ander plekke wanneer Matteus, Lukas, Paulus (dink maar aan sy uitleg van Sara en Hagar en die twee verbonde) en die ander skrywers die Ou Testament gebruik om mense geestelike te begelei. Maar daaroor ‘n ander keer meer uitvoerig.

Op hierdie manier het die Nuwe-Testamentiese skrywers en latere interpreteerdes hul lesers gehelp om die betekenis van Jesus en van die Ou Testament vir hul geestelike reis uit te spel.

Om terug te keer na Jona. Irenaeus lees Jona lank nie net op hierdie "een" manier nie. ‘n Bietjie vreemder vir ons waarneming is sy ander opmerkings oor die boek. Kyk net hoe sorg God vir Jona in die vis, skryf hy. Jona word ingesluk en opgeëet. Maar hy oorleef. Hy word nie in die ingewande van die walvis verteer nie. Ons sien dus God se hand in die lewe van Jona raak. God is daar, beskermend, wat ook al met hom gebeur op pad na die Nineviete. Dít moet ons nou verstaan in die lig van Jesus se geskiedenis, skryf Irenaeus. Jesus se dood was nie die laaste woord nie. Die opstanding wys hoe God vir Jesus “behou”, selfs in die dood. Net so het dit gewerk met Jona.

Ons sou kon sê dat ons hier met ‘n “tipiese” verskynsel in die geestelike lewe te doen het wat ons herken wanneer ons hierdie twee verhale verbind en toelaat dat hulle vir ons iets oor God se onderhouding en voorsienigheid laat ervaar. Deur die twee tekste só langs mekaar te plaas, herken ons deur die dood en opstanding van Jesus iets nuuts aan die geskiedenis van Jona.

Irenaeus werk op ‘n mistieke manier. Hy begelei sy lesers deur allegoriese eksegese om die diepere betekenis van hul godsdiens te ontdek. Maar hy doen nog meer: hy help die leser deur ‘n tipologiese uitleg om te ervaar hoe Christus en sy lewe iets “tipies” van die betekenis van die Ou Testament te belig.

Alles, alles van hierdie dinge is uiteindelik bedoel om die geestelike weg te begelei. Die Gees sal julle dieper in die waarheid inlei, skryf Johannes op sy mistieke manier. Dit is geestelike, spirituele eksegese: om die verhale oor God en oor die geestelike lewe te gebruik om ons dieper in te wy in geloof.

Dit alles het uitsonderlike hermeneutiese implikasies. Hierdie polivalent aard van die gebruik van die Bybel bepaal ons verstaan van die Bybel ingrypend. Waar is die dae dat ons so getrou gevra het wat “die boodskap” van ‘n Bybelboek is. Wat “vertel” Jona nou vir ons “eintlik,”? het ons gedink is “regte” eksegese.

Nou weet ons meer. Spiritualiteit help ons om meer en meer bewus te raak dat die Gees waai waar hy wil, veral wanneer geloofservaringe op mekaar inwerk. As ons deur ons geloofservaring met Jesus te doen kry, lees ons ewe skielik die Ou Testament met ander, nuwe oë. Dan ontdek ons verborgenhede wat ons inspireer. Skielik ondek ons hoedat ‘n boek in die Bybel baie geestelike insigte kan oplewer en ryk is aan inspirasie. En dit is nie net soms die geval nie. Gedurig weer ervaar ons in die geloof nuwe dimensies van Christus. En elke keer weer as ons met nuwe oë na Jesus kyk, sal ons ook nuwe dinge raaksien in die Bybel. Daar is baie skatte in die kruik van die evangelie.

As ‘n mens dus vir Jona optel en ‘n mens sien net die walvis in daardie verhaal raak, is dit tyd om saam met die spiritualiteitsskrywers op reis te gaan. Hulle sal ons leer dat die boek Jona oor baie meer as net 'n walvis gaan. Baie meer.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive