Saturday, February 27, 2010

Om in stilte gereed vir God se stille teenwoordigheid te wees. Oor Psalm 65.

Ek lees vanaand ‘n stuk wat ek op 20 Oktober 2009, skaars vier maande terug, geskryf het:

Ons sou vreemd opkyk en self ongemaklik voel as iemand vra dat ons stilte bid. Ons dink “bid” beteken noodwendig “woorde” en “praat.” Die bekende Psalm 65:1 begin in ons Bybels met “Aan U kom ‘n lofsang toe.” Luther het dit vertaal met: O God, die mens loof U in die stilte. In die Afrikaanse vertaling sien ons die vooroordeeel teen stilte raak. Want ‘n mens moet dit inderdaad eintlik vertaal met: “Daar is stilte voor U.” Of: "U word geprys met stilte." (Sommige kommentators verbind hierdie woorde met die gebed van mense in die tempel as hulle in stilte wag op God, veral op die belangrike feesdae.)

Daarna het ek meer uitvoerig oor Psalm 62 geskryf (waarna ek ook nog 'n keer weer sou wou terugkom). Ek het intussen nog nie kans gehad om verder na te dink oor Psalm 65 nie. En ek wou graag die eksegetiese detail naderby bekyk.Dit het my nou besig gehou en uiteindelik na die vorige blog hieroor teruggeneem.

Uit die nalees oor hierdie Psalm kom ek weer agter hoe Bybelvertalers uit onlangse tye maar katvoet vir stilte is, veral as dit gaan om die rol van stilte in aanbidding.

Psalm 65:1 gee ‘n mooi voorbeeld van hierdie versigtigheid. Normaalweg word die vers heel eenvoudig vertaal as: “Aan U kom ‘n lofsang toe, o God.” Of in Engels (NIV): “Praise awaits you o God, in Zion.”

Maar ‘n letterlike vertaling van die Hebeeus is: “Aan U, stilte – lof, O God, is in Sion.” (A Song. To Thee, silence -- praise, O God, is in Zion.)

Sommige mense dink die Psalm open op dieselfde manier as Psalm 62:1: “Ja, my siel is stil tot God; van Hom is my heil.” Maar weer eens is die vertalers ook nie met Psalm 62:1 op hul gemak nie. Daarom word hierdie frase in Psalm 62:1 (soos in baie Engelse vertalings) in Nuwe Vertalings meer dikwels vertaal met: “Net by God vind ek rus.” Dit is `n tragedie dat die stilte deur hierdie vertaling uit die vers wegvertaal is.

Die Latynse Kerkvader, Hieronymus, het die frase in Psalm 65:1 (“aan U, stilte- lof”) vertaal as: “Silentium tibi laus.” Hy het die frase dus verstaan as: “Stilte is lof vir U.”

Meer letterlik beteken die frase in die Hebreeus: “Vir U, stilte, lof.” Hierdie kort en kriptiese uitdrukking veroorsaak hoofbrekens vir die vertalers, wat al klaar so ongeneë tot stilte is. Twee moderne Engelse vertaling gee darem meer erkenning aan die motief van stilte en vertaal dit as: “Daar sal stilte voor U wees en lof in Sion” (NASB) en “U word met stilte geprys in Sion” (God’s Word). Maar hulle is nie eintlik onder die belangrikste en mees gelese moderne vertalings nie.

Die Hebreeuse woord vir stilte in die frase is die selfstandige naamwoord דֻּמִיָּה (dumiyyah, “silence”). Dit word deur vertalers feitlik konsekwent verander na die deelwoord דּוֹמִיָּה (domiyyah). Dit is ‘n vervorming van die werkwoord דָּמָה (damah, “om stil te wees”), maar hulle verstaan dit dan in die sin van “wag” of “toekom.” Vandaar die vertaling – “aan U kom toe die lof.”

Maar die vertaling van die letterlike “Vir U, stilte, lof” sou kon wees: “Stilte is lof vir U!”

So begin die Psalm-lied waaroor ek gister geblog het (om by hierdie vers uit te kom) dus met die woord “stilte” – en dit in ‘n lied! Die lied besing stilte en lof.

Stilte is nie vreemd in die Psalm nie en kom ook nie net in die eerste vers voor nie. In vers 8 word vertel dat God “die gebruis van die seë stilmaak, die gebruis van hulle golwe en die rumoer van die volke.” Die natuur en die aardbewoners word stil. Hulle staan in ontsag voor goddelike wondertekens.

Dit is ‘n komplekse belewenis: ‘n mens kan nie vir God se werking ontvanklik wees, as ‘n mens nie in ‘n ruimte van stilwees beweeg nie. ‘n Mens, sing die digter, kan nie in God se teenwoordigheid wees as ‘n mens nie eers in jou eie gemoed alle woorde en geraas uitgeban het nie. Die gelowige reik uit na die stilte, na die plek anderkant raserige woorde. Maar terselfdertyd word hierdie stilte ook gegee, geskenk en geskep. God werk die stilte. God kom skep die oop plek waar woorde nie langer raas nie (vers 7) sodat mense God “ontsagwekkende dade” kan sien (vers 5), God as Redder kan ervaar (vers 6) en op God kan vertrou (vers 6). Stilte kom God toe. God skenk stilte.

Stilte as eerste woord, staan byna as motto, interpreterende opskrif bo hierdie Psalm en veral sy inleidende gedeelte. In die gedeelte vind daar reiniging plaas – ‘n belangrike aspek van die mistieke weg. Ongeregtighede en oortredinge, verkeerde dinge en dade het ‘n lang skaduwee oor die digter se lewenspad gewerp. Hy moes daarvan gereinig word (vers 4). Gereinig daarvan, maak die gelowige hom of haar nou reg vir die aankoms in die ouerhuis, vir die belewing van God as die Redder en as die Onderhouer van die skepping.

God kom dus in mag (vers 7) tot hulle wat in stilte wag. Die soeke na stilte is dus meer as net om uiteindelik op God gerig te wees. Die soeke na stilte is om gereed te wees wanneer God ingryp nadat die gelowige hom of haar gereed maak vir God se geestelike ingryping. Dit het te doen met bekering, met oopstelling, met instelling, gereedheid, luister.

Weer eens vertel Psalm 131:3 die ware verhaal – ek bring myself tot stilte (vers 2). Want hieruit volg: “Wag op die Here, o Israel.” Dit is ‘n gedurige wag, ‘n geloofinstelling, want die siel wat op die Here “van nou af tot in ewigheid.” God kom tot hulle wat in die stilte geraak het...

Om dan maar weer te ontdek dat dit God is wat die stilte in my werk. Vandaar die lof aan God.

Ons praat maklik van "stilword-dienste." En dit is sekerlik goed so. Want in ons raserige eredienste, het ons 'n gevaarlike tekort aan stilte. Ons moet kan leer om stil te wees. Trouens, ons moet kan leer dat stilte lof is. Ons kan God op geen groter manier eer en prys as deur stil te word nie.

En daar sit ook 'n waardevolle element in van geloofsaktiwiteit: ons is op soek na stilte, juis omdat ons weet hoe leeg ons woorde is of hoe dikwels ons woorde 'n grens tussen ons en God oprig.

Maar uiteindelik is ons stilword-dienste ook "laat-stilword" dienste. Of "stil-maak-dienste." Want hoe aktief ons ook al is, kan ons ook maklik 'n ongemaklike, leë stilte binnegaan. Uiteindelik is die egte stilte, daardie stilte wat ons uit God se hand ontvang. Daarom is ons stilte alleen maar 'n bewustelik oopstel vir God, verby alle woorde sodat God ons kan vul met God se stilte, met 'n teenwoordigheid wat in geen woorde vasgevang kan word nie en wat ons tot lof oorrompel weens die goedheid daarvan.

Dit is dan dat ons, woordeloos, vir God loof en prys - vanuit die stilte wat die Gees in ons werk.

Sheila Cussons se mistieke gedig: Op ‘n velletjie vergeelde papierin ‘n antikwariese boek (sien my blog van 4 Junie 2009) eindig met die volgende strofe:


Ek is die aarde: hoor my: maak stilte
In julle harte sodat ek deur julle
kan vrug dra in die Heer
want slegs so sal julle my, en ek myself
uiteindelik transendeer.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive