Saturday, February 06, 2010

Was arme Origines werklik so ‘n ou gevaarlike allegoris?

Een van die eerste dinge wat vir ‘n lang tyd in teologiese fakulteite aan die studente geleer is, is dat dat daar veral twee belangrike “skole” van Bybel-interpretasie in die vroeë Christendom was. Die beste van die twee, is gesê, was die Antiocheense skool wat die bybel “histories” uitgelê het. Hierdie rigting het die Bybel verstaan het as ‘n boek wat in ‘n sekere tyd vir ‘n groep mense in ‘n spesifieke land oor ‘n bepaalde probleem geskryf is. Só, is bygevoeg, moet ons ook vandag die Bybel lees. ‘n Mens moenie ‘n Bybelteks dus uit sy konteks uithaal nie en die letterlike betekenis daarvan ignoreer nie.

Die ander rigting, die Alexandrynse benadering was allegories, is aan ons en aan baie studente (gewoonlik met afkeuring) vertel. Hulle was wild in die manier waarop hulle sommer enige betekenis in die Bybel ingelees het. Die groot oortreder in die verhaal was gewoonlike die kerkvader Origines (185-254) wat van die stad Alexandrië af gekom het (vandaar die tipering van hierdie beweging as Alexandryns). Hy was iemand wat, is vir ons geleer, willekeurig met die Bybelteks omgegaan het. Hy was, om die bietjie ironiese opskrif te herhaal, die gevaarlike ou allegoris by wie dinge begin skeef loop het....

Uit die kontras wat tussen hom en die Antiogeense skool geskep is, het ons afgelei dat Origines hom nie gesteur het aan die historiese en letterlike konteks van Bybelboeke nie. Origines, die skurk, was ‘n verdraaier van die Bybel-boodskap teenoor die getroue uitleg van die Antiocheense eksegete.

Wat nie vir ons vertel is nie, is dat Origines beslis nie die letterlike betekenis van die teks opsygeskuif het nie. Ons leermeesters, en baie ander in ander teologiese fakulteite het Origines eensydig gelees en verstaan. Origines het deur baie beelde juis die letterlike betekenis van die Bybel uitgewys en vertel hoe ‘n mens met hierdie letterlike betekenis moet omgaan. Die Bybel was vir hom baie meer as net die “menslike” getuienis oor God, die “letterlike” teks oor wie God is. Die Skrif was daarom vir hom die vleeswording van die Woord, net soos wat Jesus ook die Woord was wat vlees geword het. Die letterlike is deurspek met die geestelike. Die vlees word deursuur met die Gees. Ons sou kon sê dat die Bybelwoorde dus die liggaam of die verletterliking van die gees is. Ons moet dus nie vassteek by die woorde van mense nie, want hulle woorde wys heen na die Woord. En ons taak is om die Woord te herken en te beleef in die letterlik mensewoorde wat ons lees. Juis dit is mistiek - om die dieper, verborge betekenisse van die Skrif uit te spit en te bedink en toe te laat dat hulle ons in God se teenwoordigheid bring.

Origines het diepe respek vir die Bybel as mensewoorde gehad. Maar hy het die respek daarin gevind dat die mense-woorde oor God se woorde gegaan het. As die mense praat, wil hulle dat ons God moet hoor praat! Hoewel Bybel-woorde van mense af kom, kan die lesers van hierdie mensewoorde hulle nooit ten volle verstaan en veral peil nie – juis omdat hulle heenwys na die Woord. Die Bybel as getuienis van Bybelskrywers is gelaai met oneindige verborgenhede wat ons herhaaldelik moet ontgin. Vir hom was die Bybel daarom ‘n mistieke boek wat onontbeerlik in ‘n mens se geestelike reis is.

Origines wou dus veral die “geestelike” betekenis van die teks uitlig. Hy het homself afgevra hoe ‘n mens die letterlike woorde moet verstaan. En hy het dit volgens ‘n drievoudige skema gedoen. As ‘n mens die Bybel lees, het hy geskryf, moet ‘n mens die geestelike betekenis soek, die morele betekenis uitlig en dan die “hemelse” betekenis.

Om Origines te verstaan, het Paul Decock ‘n baie interessante aanhaling uit sy werk gegee. Origines skryf naamlik dat die drie aartsvaders hierdie drievoudige skema illustreer. Hy gebruik ter illustrasie van hierdie drie manier van Bybel-lees die bekende formule in die Bybel vir God as die God van Abraham, Isak en Jakob.

  • Abraham is die een wat God gehoorsaam het. Hy staan dus vir aanvaarding van God se wil. Ons moet met ons lewe só toegewyd leef dat ons kan deel in eenwording met God. Ons moet dus soek na die morele betekenis van die Bybel om dat dit ons voorberei.
  • Isak is die een wat putte gegrawe het, skryf Origines. Hy het dus in die dieptes gaan soek. Dít is vir hom ‘n illustrasie van die geestelike betekenis van die Woord. Ons kan nie net by die letterlike stilstaan nie, maar ons moet dieper graaf na verdere betekenis.
  • Jakob is vir Origines die een wat gedroom het oor die leer na die hemel (Gen.28:12 en 17). Hy het ‘n innerlike visioen van God. Hy kontempleer die goddelike dinge.

Op die oog af sou ‘n mens kon sê dat hierdie darem regtig “wilde” allegorie is. Hoe kan ‘n mens Abraham, Isak en Jakob só uitlê? Dit is vir ons moderne ore werklik vreemd en ons wil eintlik nie eers meer sulke eksegese lees nie.

Maar as ons gaan terugsit, is dit duidelik dat Origines eintlik niks vreemd sê nie: hy beklemtoon dinge wat in die hart van die Christendom staan. Dit blyk duidelik wanneer ons elkeen van hierdie drie fasette bekyk:

  • Ons kan nie sommer maar net die letterlike betekenis van die Bybel vashou nie, want dan moet ons slawe aanhou, vrouens moet hoed dra en kinders moet, soos Jesus, besny word. Ons moet inderdaad die geestelike betekenis van die Bybel opsoek.
  • Ons kan ook nie met vuil voete God se heiligdom betree nie – daarom is ons morele vorming deurslaggewend.
  • En uiteindelik is dit waar dat ons geestelike lewe ons bring in God se teenwoordigheid. Ons lees van die Bybel is onlosmaaklik hiermee verbind.

Daar is niks vreemds aan hierdie drie aspekte nie. Wat wel vir ons vandag vreemd mag lyk, is dat Origines dit verbind met die figure van Abraham, Isak en Jakob. Abraham, sou ons kon redeneer, het tog nie net ‘n “morele” betekenis nie. En Isak moet ook uiteindelik by kontemplasie uitkom, net soos Jakob seker die ander twee aspekte ook insluit.

Ons moet Origines nie letterlik verstaan nie! Hy wil nie sê die drie aartsvaders het as mense net een van die drie vlakke van betekenis geken nie. Origines wil die drie vlakke vir sy lesers konkreet verduidelik en as goeie skrywer sluit hy aan by hulle wêreld en by dinge omtrent die aartsvaders wat sy lesers sal help om die drie vlakke te verstaan. Hy bespreek dus nie vir Abraham, Isak en Jakob nie, maar hy besin oor die veelvlakkige manier waarop ons met die Bybel behoort om te gaan.

Hy doen dan wat ons vandag nog in baie preke doen. Ons neem ‘n geestelike tema en gebruik konkrete verhale om dit te illustreer. Origines het dit gedoen deur skrif met skrif te vergelyk, deur op ‘n kreatiewe manier elkeen van die drie fases met een van die drie aartsvaders te vergelyk.

Ten slotte: Origines onderstreep dat die doel van ons lees van die Skrif is om ons te help om ons lewens te transformeer. Die Bybel is bedoel om mense tot ‘n nuwe lewe te bring. Die Bybel wil nie vir ons “sekerheid” gee nie, soos Decock tereg skryf nie. Daarom lees ons die Bybel nie om meer sekerheid oor die verlede, oor die oorspronklike konteks van die Bybel te vind nie. Die Bybel wil nie vir ons in die eerste plek die “waarheid” leer nie. Bybel-lees is baie meer as informasie optel. Dit gaan om transformasie. Die doel van die Bybel is om ons radikaal te omvorm sodat ons in ons verhouding met God al hoe meer die beeld van God sal uitleef. Decock haal Augustinus aan: die Bybel bring ons om God lief te hê ter wille van God en om ons naaste lief te hê ter wille van God.

Dit is wat Origines ook wou onderstreep. Daarom het hy onderstreep dat elke woord van die Bybel belangrik is.

Die ironie, egter, is dat wanneer ‘n mens nou die ander groot skool, die Antiogeens skool, bestudeer, ons inderdaad sien dat hoewel hulle groot klem op die konteks en die geskiedenis van ‘n Bybelteks lê, hulle nooit hierby stil gestaan het nie. Ook hulle het beklemtoon dat die Bybelse geestelike betekenis uitgespel moet word.

Die antieke mens, Antiogeens of Alexandryns, het geweet dat die Bybel is nie maar net die getuienis van mense wat ons verstaan in die lig van iets wat lank gelede gebeur het nie. Dit is die boek wat die leser vertel van hoe God deur mensewoorde wil aanraak en nou, in hul geestelike reis, radikaal nuut wil maak. Decock haal in die verband vir Augustinus aan: Die Bybel hervorm ons gevoelens, skep in ons ‘n nuwe karakter en bring ons om in die teenwoordigheid van God te leef.

Die afgelope paar dae, in gesprekke met kollegas elders in die land, sit en dink ons terug aan wat die afgelope drie of vier dekades in ons Bybelwetenskappe gebeur het. Ons het baie geleer. Ons het ontsaglik veel insigte ontwikkel in hoe dit in Bybelse tye gelyk het en hoe die Bybeltekste ten nouste inpas in die wêreld van destyds. Maar, besef ons, dit het vir ons nie noodwendig nader aan God gebring nie. Trouens, hoe meer ons vasgekyk het teen die Bybel as ‘n menslike boek, hoe minder het ons uitgekom by die groot leesstrategie van gelowiges in baie eeue – naamlik, hoekom is hierdie menslike boek van geestelike belang? Wat is die verborge krag van hierdie feilbare, konkrete menslike woorde?

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive