Wednesday, February 03, 2010

Mense-slagting. Oor ongevoeligheid.

Op die BBC-K sender was daar vanaand ‘n program oor Auschwitz, die mees berugte konsentrasiekamp in Nazi-Duitsland in die tweede wêreldoorlog. Tot 10 000 Jode is op ‘n dag in die gaskamers daar uitgewis. In Europa, volgens verskeie T.V. senders, is daar tans in verskillende lande herdenking van die 65e jarige bevryding van die laaste gevangenes in die kamp. Die BBC-program dra sy deel by tot hierdie besondere herinneringsgeleentheid.

‘n Mens dink meestal aan die Nazi-ideologie as anti-Semities. Maar dit was ‘n ideologie wat sy tentakels wyer gestrek het. Nie net Jode is in Auschwitz vermoor nie. Sigeuners, homoseksuele, Jehova-getuies en Kommuniste is daar om die lewe gebring, hoewel in kleiner getalle. Die Nazi-ideologie met sy totalitêre, arrogante karakter was dus veral gemik teen minderheidsgroepe – met die uitdruklike doel om hulle uit te wis.

Die BBC-program het nie net plein feite meegedeel nie. Dit het baie van die gesprekke tussen die bevelvoerders soos Eichmann en sy medepligtiges uit offisiële dokumentasie ge rekonstrueer. Daardeur word ‘n mens meer bewus van die tragiek van die situasie, veral omdat dit insig bied in die koelbloedige en berekende manier waarop die uitwissing van hierdie groepe bewerk is.

Daar was ook verder onderhoude met oorlewendes wat eerstehands vertel het wat hulle in Auschwitz ervaar het.Die inligting het gewissel van die alledaagse tot die mees morbiedste feite. Een vrou vertel hoe hulle in vee-trokke gelaai is toe hulle uit hul stad na die kamp geneem is. “Dit kan tog nie,” het sy aan haar mede-reisigers gesê. “Dit is sekerlik ‘n fout. Hulle kan ons nie in vee-trokke laai nie.” Sy het gou uitgevind dat dit geen fout was nie. In elke trok is twee potte gesit – een vir “sanitêre gebruik” soos sy dit gestel het, en ‘n ander vol drinkwater. By hul aankoms in die kamp, vertel sy verder, is hulle in twee groepe verdeel. Die vroue en kinders het een groep gevorm en die mans ‘n ander. In elke groep is die sterkes uitgekies en die ander is onmiddellik na die gaskamers geneem waar hulle doodgemaak is. Dit is op ‘n groot, georganiseerde skaal gedoen. Vir maande, vertel ‘n ander gevangene, het die stank van brandende lyke oor die kamp gehang. Want hulle het nie net ‘n paar mense vergas nie. Elke dag is stelselmatig ongeveer tienduisend mense vergas.

Die verraad het nie net van een kant gekom nie. Engeland, Amerika en hul bondgenote het nie uit hul pad gegaan om die kampe te keer nie. Op ‘n stadium toe die Geallieerde Magte die oorhand begin kry het, is hulle gevra om die gasoonde met bomme op te blaas om sodoende die meeste moorde te keer. Die Engelse het geantwoord dat dit nie vir hulle vliegtuie moontlik sou wees nie, hoewel hulle goed geweet het van die massa-moord wat daar aan die gebeur was. Intussen het hulle in dieselfde tyd wel ‘n wapenfabriek, net ‘n skrale vier kilometer van die gasoonde af weg, met bomme aangeval en vernietig.

Een van die oogetuies sê stil-weg in ‘n onderhoud: “God het ons in die steek gelaat. Maar ook die mens wat ons sou kon help, het ons in die steek gelaat.”

Dit alles het in Christelike Wes-Europa gebeur, in die lande waar die kerke ‘n sterk teenwoordigheid gehad het.

Die Jodeslagting of die Shoah (“stormwind van vernietiging”) het die gesig van die Christendom onherroeplik verander. Daar was baie reaksies: Baie mense in Wes-Europa het vertroue in die kerk verloor het omdat dit die Jode-slagting grotendeels geïgnoreer het of om omdat hulle geskok was deur die koelbloedige houding van sommige dat die slagting God se straf was vir die Jode se verwerping van Jesus. In ander gevalle het mense prontuit vertel dat God dood is omdat ‘n God van liefde nie so iets sou laat gebeur het nie. Nog ander het geredeneer dat God ‘n God is wat afknou. Nog ‘n klomp bevraagteken die leer van God se almag asof God in beheer is. God , glo hulle, heers nie soos ‘n magtige koning oor mense nie, maar ly saam met die slagoffers van geweld (Moltmann). God treur oor die kampe, net soos God smart gehad het oor Jesus se kruis.

Ek ervaar iets anders: as ek die slagting bekyk, staan ek verskrik voor die hardheid en naakte ongevoeligheid waartoe mense in staat is. Daardie soldate wat die Jode in die gasoonde ingejaag het, toegesluit het en toe die gas oopgedraai het – hoe kon hulle ooit snags slaap? Hoe kon hulle hul gesinne in die oë kyk? Hoe het hulle Sondae in die kerkbanke kon sit? Hoe kon hulle in die spieël kyk?

Daar is, soos Openbaring ons leer, nie grense aan die kwaad waartoe mense in staat is nie – selfs al is hulle deel van die Christendom.

Dit is ‘n sobere les, hierdie ervaring van kwaad. Maar laat ons ook nie die fyner vorme van die kwaad miskyk nie – daardie tye, elke dag, wanneer ons in ons daaglikse wandel so maklik oor ander heen trap. Auschwitz moet ons miskien nie te maklik net in die verlede raaksien nie. Ons weet dit – ons lewens is vol slagvelde.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive