Thursday, February 25, 2010

Wanneer die toekoms ons lewe stuur. Oor die ewige lewe by God.

Ek besef vandag, toe ek nadink oor Jesus en die Nuwe-Testamentiese leer oor die toekoms, skielik hoe ryk hierdie perspektief aan betekenis kan wees.

Die eskatologie, of die leer oor die toekoms / die einde is vir baie denkende mense ‘n tameletjie. Boeke en boeke is daaroor geskryf – om dit te bestry, te verwerp en om dit belaglik te maak. Die “nugter” mens met sy wetenskaplike vermoëns, vertel ‘n slim vriend van my vir my eendag, moet eenvoudig aanvaar dat as ‘n mens doodgaan is alles onherroeplik verby. Jy het een lewe. Aan die einde van jou lewe, neem jy afskeid en jy sal tot in ewigheid nooit weer wees nie. Dit is laf én arrogant om anders te dink.

En tog bly die Bybelse leer oor die toekoms vir mense “fassineer.” Dink maar aan die onvoorstelbaar gewilde kultus wat rondom die wegrapingsliteratuur van Hal Lindsay ontstaan het. Dit is asof die weggelegde sug na die ewigheid net nie verdring kan word nie.

En daar is tye, soos by begrafnisse, dat mense, selfs onder die wildste van sinici en twyfelaars wat andersins niks voel vir ‘n toekoms anderkant hierdie aardbol nie, sentimenteel kan vashou aan ‘n “hemel” en emosioneel kan vertel hoe hulle uitsien na herontmoetings met vriende wat gesterf het. Dit bring vir hulle momentele katarsis en humorvolle aanvaarding van trauma en verlange.

Wanneer Jesus vir sy volgelinge ‘n toekoms by God beloof, bied dit vir die meeste mense besondere troos. Baie toegewyde gelowige mense dink daarom aan die “hemel” as die voortsetting van aardse verhoudinge, die herwinning van ‘n verlies, die hervatting van tye wat onderbreek is. Wat hulle hoog geag het op aarde, sal in die “hemel” weer hulle deel en lot word.

En inderdaad is Gods toekoms ‘n troosvolle ervaring vir Bybelskrywers. Die “trane afdroog” van Openbaring se toekoms, wys dit helder uit.

Maar vir my is daar meer.

Vandag het ‘n ander, ouer ervaring rondom die eskatologie skielik vir my nuut geword. As ons op elke blad van die Bybel meer leer oor die toekoms, skuif, soos Thurston my laat besef in haar artikel oor spiritualiteit en die Nuwe Testament (Blackwell’s companion to Spirituality), die fokus weg van tydelike kwessies na die ewige sake. Die leer oor God se toekoms wil, soos in spiritualiteit, die geloofsoog wegneem vanaf die sigbare en die geloofsblik vestig op die onsigbare. Ons word deur die Bybelse toekomsleer heel konkreet aan die hand geneem om ‘n bietjie dieper as ons huidige bestaan te kyk. (Mistiek kweek die bewussyn van die verborgene).

Moenie jou hart aan hierdie wêreld verkoop nie. Dit kom skielik by my op toe ek Thurston se opmerking lees. Daar is, onderstreep die eskatologie, baie meer aan ‘n mens se bestaan as hierdie aardbol en die dinge wat daarop aan die gang is.

Die sentrum van ons bestaan is nie meer in hierdie wêreld te vinde nie, maar ons lewe vind sy fokus in God se komende wêreld.

Ons moet delf. Dieper. Op soek na goddelike goud.

As ons dit doen, ontdek ons hoe tydelik alles is waarmee ons elke dag besig is. As ek nou ‘n dag agter die blad het, my lewe van opstaan tot gaan-slaap beleef het, wat dan? Prediker het die gevoel van ‘n vlietende bestaan skrynend uitgewerk. Alles, alles, alles is sommer bollie – sou ‘n mens sy woorde in studente-slang kon vertaal.

Prediker het ‘n ruimte geskep waarin die mistici gaan delf het en waar hulle gaan luister het na die Wyses van alle tye. Want naas Prediker was daar byvoorbeeld in die heilige boek ook Esegiël wat in sy roepingsvisioen oorweldig word deur God se heiligheid. In Esegiël 7 teken hy ‘n profesie op waarin mense hulle silwer op die strate weggooi, wanneer hulle goud nutteloos sal wees, hulle silwer en goud hulle nie kan red nie “die dag as die toorn van die Here” oor ongeregtigheid losbreek. Maar, skryf Esegiël in hoofstuk 37, daar wag ‘n toekoms op ‘n geheiligde Israel wanneer hulle gereinigd sal terugkom na die land Israel. “Ek sal julle grafte oopmaak en julle laat uitkom, my volk en Ek sal julle terugbring na die land Israel toe.... Ek sal my Gees in julle laat kom sodat julle kan lewe en Ek sal julle in julle land laat woon. Dan sal julle besef dat Ek die Here is.” Die toekoms gaan oor die nuwe land waar God woon, waar God geestelik onder die volk sal woon, by hulle sal wees.

Die dieper delf, agter die vorm van hierdie wêreld, bring die belewing van ‘n nou-nog verborge ewigheid. Die belofte van ‘n toekoms by God vertel aan ons hoedat God ons opneem in ‘n verhouding wat nooit ten einde loop nie. Tyd kan die band wat God met ons het nie los maak of laat verweer nie. Ruimte is vir God nie ‘n kwessie nie. Die goddelike liefde oorspan alle plekke, spasies, ooptes en ruimtes. So breed, en, so sonder einde neem God ons op in ‘n verhouding. Dit is bedoel om te vertroos, maar dit doen ook baie meer as dit. Dit wil ons vertel waar ons hart werklik ‘n tuiste vind: in God se ewigheid, in God se immerskynende Lig.

Dít voel ek aan, is wat groter saak maak. Nie dat ons in die nuwe hemel en nuwe aarde oorvloed sal hê nie. Maar dat ons diep geborge in die Goddelike bestaan is – ongeag die wisseling van die tye en die verwering van ruimtes. “Kyk die woonplek van God is nou by die mense.... Die dinge van vroeër het verbygegaan” (Open.21:3-4).

Die Wyse onder wyses het oor God se toekoms nog radikaler gepraat. Die toekoms word nie meer afgewag nie – dit is hier, dit is te belewe. Paulus het gevolg: Mense is nuut in Christus is en leef daarom anders, nuut, getransformeerd (Efes.4:17-5:20). God se toekoms is aan die deurbreek, is aan-die-kom. Ons staan met ons een been in die hede en die ander een in God se komende ryk. Ons leef in hierdie wêreld, maar ook in die ander, komende wêreld.

Dit laat ons ánders leef. Ons leef hier nou vir God se wêreld.

Hoewel ‘n mens nie deur jou geloof weg uit die wêreld geneem word nie, word jou houding teenoor die wêreld onmiddelllik op sy kop gekeer. Die verdrietigheid en vaalheid van hierdie aarde tref jou skielik soos ‘n bak kou water in die gesig as jy begin besin oor die deurbreek van die Ander Koninkryk. ‘n Mens ontwikkel ‘n passie vir die wêreld, maar juis omdat die wêreld so blind is vir sy eie vaalheid, so verstrik is in sy eie dinge, deurtrek is van narsisme. Kan mense maar tog net diepere dinge raaksien!

Jy herken die wêreld se identiteit: Babilon die groot hoer, skryf Openbaring meewarig en intens ironies, het trots gesë: “Ek sit as koningin op my troon. Ek is nie weduwee nie, en treur sal ek nooit nie” (Open.18:7). Maar gelowiges het heel anders na haar gekyk: “Geval, geval het die groot Babilon. Die het die blyplek van die bose geeste geword, die skuilplek van alle onrein geeste, die skuilplek van alle onrein roofvoëls, en die skuilplek van alle onrein en afskuwelike diere” (Open.18:2).

Ons visie van die wêreld sal nie altyd so dramaties polemies wees nie. Soms sal ons die wêreld nie as vyand, as hoer beleef nie, maar as leeg, vaal, verdrietig, soekend, oppervlakkig, sonder inhoud, oninteressant, vervelig. Ons vind nie vervulling daar nie, hoe aan die gang en gejaagd ons ook al daarop bestaan.

Die hart van die egte mistikus, die een wat in die goddelike verborgenheid leef, is ook ‘n hart wat warm klop vir die wêreld.

Maar selfs al bring ons geloof ‘n passie vir hierdie megalomaniese wêreld en vir sosiale geregtigheid en al plant dit ‘n liefde vir die wêreld in ons, weet ons onherroeplik dat die wêreld uiteindelik tog nie ons ware bestemming is nie.

Maar uiteindelik is daar vir my ‘n diepste punt, wat al indirek hierbo dikwels ter sprake kom. Wanneer die nuwe wêreld daar is, is dit die plek waar God gaan woon. Ons ware bestemming is om by God te kan wees. Die ou wêreld en hemel, die een wat ons nou beleef, sal dan verby wees. Dit sal opgerol word soos ‘n mens ‘n boek oprol (Open.20:11!). Maar wanneer ons in die nuwe wêreld is, is dit maar bloot net ‘n ruimte vir God se wees-met-ons.

Die toekoms vertel ons van ‘n wêreld wat God se ruimte is – vir altyd. Hieroor, oor God se direkte aanwesigheid, kan ‘n mens alleen maar in metafore praat – in poëtiese taal probeer uitsê wat ons verstand nouliks kan peil of ons tonge skaars kan beskryf. Ons, ons sal daar, in God se ruimte, skuil onder die vleuels van die Almagtige, die Skepper van alles. En ons sal ewige rus vind in die teenwoordigheid van die Een wat die begin en einde van alles is, die Alfa en die Omega.

En altyd weer is hierdie metafore so fragiel – uitgelewer aan misverstande, aan kru verletterliking, aan siniese bespotting. Maar ons sal hulle, hierdie metafore, saam met die Wyses en die mistici van alle tye, moet bly bedink en praat. Dit is ons kruisweg tot die opstanding. Hulle praat van ‘n werklikheid wat volkome rus bied – hulle probeer uitspel hoe ons hongerende hart in versadiging kan verstil.

Ons hart is aan hierdie Ander Wêreld waar God woon, uitverkoop. Ons het die dieper dinge, God se verborge koninkryk ervaar. Om in geloof te wees beteken om te wees waar God die mag het en dit met ons deel.

Geen wonder dat baie teoloë en veral Bybelwetenskaplikes gedurig beklemtoon dat lank voordat Jesus enige aandag op Homself wou vestig, hy aan die praat was oor God se nuwe toekoms. Dit was sy egte passie: die koninkryk van God het naby gekom! God raak aan. Die eskatologie is die hart van die geloof, die opsomming van die evangelie, die kern van Jesus se bediening. Die boodskap oor die einde vertel vir ons van die laaste dinge. Die dinge wat werklik saak maak. Die dinge wat mot en roes nie kan laat vergaan nie. Dit praat oor God se koms na hulle wat wag....

Dit is egte spiritualiteit: Jesus vestig ons aandag op die “absolute waarde” van die ewigheid wat alle dinge op die oppervlakte stuur en bepaal. Ons leef daarom in ons voorlopigheid vanuit hierdie dieper, absolute waarheid – dat ons deel is van God se toekoms. Alles wat nou met ons gebeur, word gekleur deur daardie toekoms. Die atleet wat die lint eerste breek, word deur uitgelatenheid oorval. Die sweet is verby. Die goue medalje hang nog nie om sy nek nie, maar hy is reeds die oorwinnaar. Jy kan dit aan sy lyftaal sien. Hy het nou, terwyl die podium reggeskuif word, die volkslied begin speel en die vlag gehys word, ‘n hele ander belewing van sy stryd. Hy wag op die goue medalje wat op sy bors by sy hart sal hang en hom steeds sal herinner aan die nabyheid van die oorwinning. Binnekort is die stryd uiteindelik bekroon. Die vreugde sal volmaak wees.

Dit alles beteken dat ons met nuwe oë na ons wêreld kyk. Vaal en verlep lyk ons aarde in die lig van God se komende wêreld. Hoe ongeduldig was, verstaanbaar, die eerste Christene nie daarom nie. En hulle het selfs, sonder skroom, teenoor God biddend gewys hoe ongeduldig hulle is: “Maranatha! Kom, ja kom, Here Jesus. Kom sommer gou!”

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive