Friday, February 26, 2010

“U voetspore drup van die vettigheid.” Of: “Waar u ook al gaan, is daar oorvloed!” (Psalm 65 as lied oor die heiligheid van God.)

Psalm 65 is een van die mooiste psalms in die Psalmboek. Eintlik gee die Psalm se self-beskrywing al iets van sy eie digterlikheid en sy eie musikaliteit weer. Dit is naamlik “‘n Psalm van Dawid. ‘n Lied.” Hier is dus ‘n digter aan die sing. Net ‘n paar Psalms is liedere (byvoorbeeld Psalm 30 en 48, maar ook in die volgende drie psalms 67-69). Die teks word dus eintlik ook gesing, eerder as wat dit net gelees word.

Dit is duidelik, dus, dat hierdie gelowige digter se verhouding met God nie maar net ‘n stukkie kennis is nie. Hy stuur nie “inligting” oor God die wêreld in nie of vertel van ‘n interessante oomblik nie. Sy geloof sit sy hart in beweging, sy tong is lofprysend. Al sy sinne resoneer saam om iets omtrent sy geloof uit te druk. Hy ervaar sy geloof so intens dat hy dit wil uitsing.

Wat is dit wat so resoneer in sy lyf? Die twee mense wat dit in Afrikaans vertaal het, vertel vir ons nogal ‘n interessante verhaal van hulle resepsies van die teks. Die vertaler van die Ou Vertaling het die lied betitel met die opskrif: “‘n Loflied op die goedheid van God” – wat ‘n mens aan vers 5 wil laat dink. Die vertaler van die Nuwe Vertaling sien in die Psalm iets anders raak. Hy draai dit, merkwaardig genoeg om: “U laat die mense juig!” voeg hy as opskrif by. Daarmee lig hy vers 9 as die eintlike fokuspunt van die Psalm uit.

Twee mense wat intens met die teks gewerk het, beklemtoon twee verskillende aspekte daarvan as sy “boodskap.” Die een sien “juigende mense” raak. Die ouer, digterliker vertaler van die eerste Afrikaanse Bybel sien eerder ‘n loflied oor die goedheid van God raak.

Vir my is daar in hierdie tydlose lied ‘n ander fokuspunt. Ek voel wel nader aan die ouer vertaling, asof die Psalm veral oor God wil praat eerder as oor juigende mense. Die juigende mense is immers maar net daar in die aanloop van die Psalm. Hulle verdwyn van vers 10 prakties van die toneel. Hulle is ook juigende pelgrims eerder as juigende mense – reisigers wat al singende op pad is na die plek van God. Hulle juig oor wat met hulle gebeur en oor die Een met wie hulle ‘n verhouding het. Hierdie plek van God en die Een wat daar woon is die begin en die einde en eintlik ook die inhoud van hulle reis.

Hulle sing omdat die Een na wie hulle reis, uit pure genade na hulle uitreik: God kies hulle uit om nader te kom (vers 5). Dit is God se welbehae wat hulle so gelukkig maak om te kan reis na die heilige woonplek. En terwyl hulle sondig is, vol onreg, is dit God wat hulle versoen, wat hulle bekwaam maak vir die reis (vers 4). God is die bron-ervaring! Wat met hulle gebeur, is wat God met hulle laat gebeur.

Terwyl hulle reis, hierdie proses van hul lewensreis voltrek, sing hulle dus oor God. Die reis is opwindend, want hulle nader tot God en die heiligdom. Hulle is op pad, nader aan God. Terwyl hulle biddende op weg is, weet hulle hulle praat met die Een wat die hoorder van gebede is (vers 3).

Die tweede deel van die Psalm fokus sterk op God (verse 9-14), maar God is die roepende, reddende Een wat selfs in die eerste deel van die Psalm eintlik maar die inisiatief het. Ons geestelike reis begin, pure genade, wanneer ons deur die dieper dinge van die lewe aangetrek word, wanneer die absolute waardes ons tydelike lewe beheers.

Maar daar is nog meer in die eerste deel van die Psalm. Die pelgrims weet hulle is pelgrims. Hulle kyk na hulleself en hulle herken hulleself as intiem verbind met die Here. Hulle wil die Here wat hul liefhet, gaan aanbid. Dit is hoe hulle vol verwagting en afwagting hul reis aanpak. Die eerste deel van die Psalm handel dus ook oor die instelling, die houding van die mens wat tot God nader (lesershouding! of: die aanbiddingshandeling). Hulle is biddend, singend, afhanklik voor God. In hierdie afhanklikheid is nie passief nie. Mense wat deur God geroep word, wil aktief, bewustelik kies om na God te kom, by God genees te word en by God te woon. Daar is toewending en toewyding. Dit is biddende verlange.

Hierdie lied, dink baie eksegete, vertel dus van pelgrims op pad na die Groot Versoendag. Dit was die belangrikste fees wat saam met die loofhuttefees die hoogtepunt van die godsdienstige jaar was. Op hierdie stadium aan die begin van die herfstyd, is die oesjaar gevier. Dit is die tyd van groot blydskap oor goeie dinge wat God uit die aarde vir hulle gee. Dit is ook die oomblik in hul godsdiens wat hulle mees intieme ontmoeting met God verteenwoordig het: die oomblik dat die Hoëpriester die Allerheiligste sou ingaan en hulle verhouding met God opnuut gereinig en herstel word. Hierop is die reis ingestel – om na God te gaan vir die groot reiniging. Dit is die tyd vir transformasie. By God soek die gelowige mens die vrug van die Gees – ook al is die oes in, ook al is aan al die menslike behoeftes voorsien, is die belangriker behoefte na God se brood en God se drank daar in die heiligdom.

Die lied is ‘n aanbiddingslied. Dit is die lied oor daardie verborge behoefte na dit wat nie in die gewone gang van die lewe gevind word nie. Dit is die lied van mense wat agtergekom het waar hulle die voedsel kan kry wat werklik versadig maak. Hulle stel hulle oop om nog nader as ooit tevore by God te kom. Dit is ‘n proses van groei, van intenser bewuswording. Sion, Jersualem, die tempel, God se huis is die plek waar God op ‘n spesiale manier by mense woon en op ‘n spesiale manier by mense is. Dit is die heilige ruimte: die ruimte van God se goedheid; die sfeer van genade wat die deel word van hulle wat vir God kies. Die pelgrim op pad na die plek, met ‘n bewuswording oor die naderende ontmoeting wat steeds intenser groei, is ‘n singende pelgrim.

Om dit te verstaan, moet ‘n mens veral die tweede deel van die Psalm bekyk: Hier skuif die aandag nog meer pertinent na God toe, weg van die pelgrims. Dit handel nou oor God se verhouding met die volk en alle volke, maar ook met aarde, oorweldig deur gawes van ryk, onvoorstelbare goddelike seëninge (65:6-13). Mens en natuur leef uit ‘n verhouding met God.

Kyk net die beeld van God wat in hierdie lied deur die naderende gelowige gevier word:

God is eerstens die Een wat alles begin, maar ook die “verlosser” (vers 6) waarop alle mense vertrou. Maar dan is God ook die een wat die land seën. God is die besige, betrokke, saaiende en ploegende God. God voorsien alles, doen alles – en in oormaat. God besoek die land om oorvloed te gee, verryk dit en berei die koring: die vore is nat, die reënbuie deurdring die grond, die groen plante spruit uit. Hier word God se voorsienige, onderhoudende Skeppersmag gevier.

‘n Mens hoef nie ‘n boer te wees om hierdie digterstaal in te drink nie:

“U kroon die jaar van u goedheid, en u voetspore drup van vettigheid. Die weivelde van die woestyn drup, en die heuwels gord hulleself met gejuig. Die weivelde is bedek met troppe kleinvee, en die dale is bedek met koring; hulle juig, ook sing hulle.”

Die Nuwe Vertaling is net so mooi:

Die groot riviere is vol water, U laat koring welig staan. Alles is u werk! U maak die ploegvoere vol water en die kluite nat, U laat hulle sag word van die reëns, U laat alles welig groei. U kroon die jaar met u goeie gawes. Waar U ook gaan, is daar oorvloed!

“Waar u ook al gaan, is daar oorvloed!” U voetspore drup vettigheid.

‘n Mens merk ‘n God van mag in hierdie lied. Vers 7 lui immers uitdruklik: “Wat die berge grondves deur u krag, wat omgord is met mag.” Die natuur praat daarvan. Selfs die wêreldnasies word deur God se mag aangespreek (vers 9).

Maar dit is ‘n mag van goedheid wat vir mense oorvloed wil skenk.

Vandaar dat mense aan God lof verskuldig is. God maak hulle nie net nuut van hul sonde nie, maar skenk boonop aan hulle meer as mildelik ‘n land vol vettigheid. God verfris geestelik. Maar God spaar ook nie op die alledaagse, gewone dinge nie. Die hele lewe, liggaam en gees, staan in die teken van God se ontfermende voorsienigheid en voorsiening.

Die boeiende is hoe hierdie mag van God ingebed is in ‘n verhouding met die mens en natuur. God se mag dien die mens. Waar God ook al gaan (vers 12) is daar vir die mens oorvloed. Of in die letterlike, beeldende taal: as God ‘n voetspoor trap, is dit voetspore van vettigheid! Die Skepper-God is die God wat gee en deel.

Die Psalm is ryk aan ervarings en roep allerhande gevoelens by die leser op. God gee om, God gee baie om. God reik uit, sommer tot alle mense. God voorsien sodat mense in ‘n land vol vettigheid woon. God sorg ryklik. God trek nader, roep, kies. God belê onmeetlik baie in die verhouding met mens en wêreld.

Daarom pas dit die mens om God se gang na die mensdom te antwoord deur nader te gaan tot God se “voorhowe.” God gee oorvloediglik, sê die Psalm. Maar die geloofsoog weet dit is maar net die begin. Die reis kom daarmee in beweging. Want vanuit die land van oorvloed trek die pelgrim nou op na God se huis, die Here se paleis. Natuurlik is daar die goeie dinge in die natuur, op die land (verse 9-14), maar bo alles troon uit die goeie dinge in die Here se huis (vers 4). Die mens het soveel om te geniet van die land. Maar groter dinge wag: “Ons wil versadig word met die goeie van u huis, die heiligheid van u paleis” (vers 5). God se natuur, die ruimte waar God in oorvloed word, is die vertrekpunt na God se eintlike woonplek, daar waar God in goedheid, maar veral in heiligheid woon. Dit is die diepste behoefte van die mens. Heiligheid! Of liewer: In die Heilige God se teenwoordigheid.

Daarom is vers 5 vir my die eintlike fokuspunt van die Psalm. Die lied is ‘n lofsang op die goedheid en heiligheid van God. Die pelgrim vind sy eintlike tuiste nie soseer in die land nie, hoe vettig ook al in oorvloed nie. Maar hier, in God se tempel, wil die lewensreisiger woon. Hier eindig die pelgrimstog. Al singende voel die reisiger hoe die krag van God in die gewone lewe iets reflekteer van die krag van God wat in die tempel is, in heiligheid. Dit is die fees waarheen die pelgrim op pad is. Ons kan oor alles baie dankbaar wees, maar uiteindelik soek ons harte veral om te woon in die ruimte van heiligheid.

Die Psalms fokus sterk op die tempel as die sentrum van die gelowige mens se bestaan.

Daar is die aangrypende Psalm 27:4 waar die digter vra: “Net een ding het ek van die Here gevra en dit sal ek najaag: dat ek my hele lewe lank in sy huis mag woon om sy goedheid te belewe en daaroor na te dink in sy tempel.” ‘n “Hele lewe lank”! Om die Here se goedheid te belewe.

Psalm 23, die bekende een, eindig met die sug: “ek sal tuis wees in die huis van die Here tot in lengte van dae.”

Die gelowige is slegs in die heiligdom, by die Heilige, werklik tuis.

Miskien pas as opskrif by hierdie Psalm: "God se heiligheid laat ons sing".


No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive