Thursday, February 18, 2010

Wanneer daar net 'n sluier tussen jou en God is. Oor mistiek, ervaring en bewuswording

Bede Griffiths se outobiografie, “The Golden String,” herinner my aan ‘n verwaarloosde, of geringgeskatte aspek van spiritualiteit en spesifiek van die mistiek.

Dikwels sê ons dat spiritualiteit gaan oor die intieme verhouding van God met die mens, of dat mistiek handel oor die eenwording met God.

Maar implisiet hierin is dat die mens bewus word van sy eenheid met God. In die mistiek is die verborge dinge in fokus. Agter alles waarmee ons van dag tot dag te doen het, is daar dieper dinge. Agter die oppervlakte, verborge, skuil daar dit wat werklik saak maak.

Maar baie mense gaan deur die lewe sonder dat hulle hierdie verborge, dieper rykdomme herken. Hulle is nie bewus dat die lewe bestaan uit meer as net die daaglikse gesleur.

Bede Griffiths vertel hoedat hy aan die einde van sy skooljare een skemeraand alleen gaan stap het en voëls hoor sing het wat net daardie tyd van die jaar met sons-opkoms en ondergang te hoor was. Die tweede sin van sy eerste hoofstuk lui: “Ek onthou nog die skok van verbasing waarmee die gesing in my ore geklink het. Dit het vir my gevoel asof ek nog nooit tevore die voëls hoor sing het nie en ek het gewonder of hulle die res van die jaar ook so sing. Ek het dit dan nooit opgelet nie.” As hy verder stap, sien hy bome in volle bloei, net om weer te besef dat hy nog nooit so iets gesien het of sulke skoonheid ervaar het nie. Sy wandeltog deur die natuur oorweldig hom. Hy onthou, skryf hy, hoe ‘n gevoel van ontsag oor hom gedaal het. Hy wou op die grond kniel asof in die teenwoordigheid van ‘n engel. “En ek het skaars gewaag om na die hemel te kyk omdat dit gelyk het asof dit net ‘n sluier oor God se gesig was.”


Soms raak 'n mens bewus daarvan dat daar net 'n sluier tussen jou en God is.


Baie jare later het Bede Griffiths woorde gesoek om daardie ervaring uit te druk, maar besef woorde kan nie meer doen as om net te suggereer wat hy werklik beleef het nie. Tot op daardie stadium was hy ‘n gewone skoolseun wat heel tevrede met sy lewe was. Maar deur hierdie beslissende oomblik is hy bewus gemaak van ‘n ander wêreld van skoonheid en verborgenheid wat hy nooit van kon droom nie.

“Dit was", skryf hy, "asof ek vir die eerste keer begin sien en ruik en hoor het.”

Maar die besondere ervaring was nie net bloot ‘n sintuiglike opskerping nie. Hy het ‘n oorweldigende ervaring gehad van die natuur – ‘n ervaring wat amper ‘n sakramentele karakter gehad het. Dit was vir hom byna asof ‘n godsdienstige ontsag oor hom gekom het. In die aanbreek van die skemeraande het hy gevoel asof hy die teenwoordigheid van ‘n onpeilbare geheimenis beleef het.

Hy skryf dan dat so ‘n beslissende ervaring nie so ongewoon is soos wat 'n mens dalk sou dink nie. Sulke sleutel-ervarings kom op die allergewoonste manier oor 'n mens se pad. Mense kry so ‘n ervaring wanneer hulle verlief raak, of bergklim, of ‘n ongeluk het, of bankrot gaan (onthou ek die vrou wat op ‘n blog skryf watter ongelooflike vryheid sy ervaar het die dag toe sy besef het sy het al haar aardse besittings verloor!), of een of ander gebeurtenis wat ‘n mens se daaglikse roetine tot stilstand bring en ‘ n mens in jou diepste wese aanspreek.

Met hierdie ervarings, skryf Griffiths, word 'n mens bewus van die verborgene. “Skielik weet ons ons behoort aan ‘n ander wêreld, dat daar ‘n ander dimensie aan ons bestaan is. Ons ervaar iets wat nie in woorde uitgedruk kan word nie.

Twee dinge bly by my uit hierdie openingsbeskrywing van een van die beroemdste mistici van ons tyd. Die eerste is hoe “gewoon” ‘n mistieke ervaring kan wees. Die verrukking van sinne, die opraping in ‘n hemel, weg van ons daaglikse sleur, hoef nie sensasioneel te wees nie. Ons kan op ‘n simpel en eenvoudige manier in ‘n doodgewone oomblik iets ervaar wat ons lewenskoers beslissend omkeer en wat ons in aanraking met die verborgene bring.

Die ander ding is hoe Griffiths se beskrywing van sy spesiale ervaring ‘n mistieke uitwerking het. ‘n Mens lees dit en jy voel hoe sy woorde jou tot stilstand bring. Deur hom hoor jy en sien jy en smaak jy vir die eerste keer wat hy vir die eerste keer gesmaak en gesien en gehoor het. Dit is asof sy woorde jou woorde word, asof sy beskrywing vir jou laat besef maar dit is wat jy ook ervaar het.Sy bewuswording kweek as te ware by my ook 'n bewuswording.

Maar daar is ook ‘n derde ding: hierdie mistieke oomblikke kan maklik vervaag. Ons weet spiritualiteit is ‘n proses. Ons mistieke weg kan so maklik weer vervang word deur ons vaal, verdrietige ou lewensweg en –gewoontes. Dit is maklik, skryf Bede Griffiths, om die mistieke ervaring te laat verbygaan, om die oomblikke van genade agter te laat.

Die mistieke ervaring moet gevoed word, vertroetel word.'n Mens moet bewustelik daarop wag. Maar 'n mens moet ook op reis gaan daarmee.

Griffiths haal daarom aan die begin van sy eerste hoofstuk ‘n gedig van William Blake aan:

The Golden String / Die Goue Draad

I give you the end of a golden string;

Only wind it into a ball,

It will lead you in at heaven’s gate,

Built in Jerusalem’s wall.

Ons kry, skryf die gedig, die goue koord van die mistieke ervaring in die hand gegee. Ons kan dit stadig oprol en volg om uiteindelik in die wêreld wat regtig saak maak, te kan gaan woon.

Bede Griffiths se outobiografie se naam is daarom “The Golden String.”

Dus: Mistiek gaan nie maar net om eenwording met God nie. Dit gaan uiteindelik om ons bewuswording van ons eenheid met God, maar ook om die kweek van 'n bewuswording.

Die mistieke weg beteken dat ons dieper moet ingroei in die besef van ons eenwording met God.

Dit is nie altyd so maklik soos wat dit lyk nie. Trouens, dit kan heel pynlik wees, skryf Griffiths. Ons moet soms deur ‘n pynlike stropingsproses gaan.

Griffiths skryf: Ons dink dikwels ons geloof in God bring ons tot die mistieke weg. Die teendeel is eerder waar: ons ontmoeting met God, ons ervaring van God se mistieke aanraking, bring ons tot geloof. Geen woorde, geen leer, geen teologie, geen argumente, niks sal ons kan laat glo nie. Dit is net wanneer God se mistieke aanraking oor ons kom, dat ons glo.

Miskien beteken dit alles dat ons meer moet maak van spiritualiteit as ‘n proses. Die aanraking van God en die ontmoeting van God verander ons bewussyn. Ons ervaar 'n "bekering", 'n ommeswaai. Ons word gebring tot 'n verhouding met God. En hierdie "ervaring" maak ‘n lewenslange verlange in ons wakker. Ons het net die puntjie van ‘n lewenslyn in die hand ontvang. God het daardie puntjie in ons hand kom stop. Nou moet ons hom oprol soos ons die pad na God toe stap. Dikwels in die donker nag van ons stroping, sal net die goue kleur en die dun draad van die lyn ons op spoor hou. Maar altyd, altyd sal ons maar moet bly rol, moet bly soek, moet wag, moet uitkyk, ons moet instel, bewus moet bly, ons ore spits, ons oë rek.

Paulus het daarvan gepraat op so ‘n glashelder manier: ek strek my uit na wat voor is (Fil.3:14). Filippense 3 is 'n boeiende hoofstuk: Paulus is "gegryp" deur Christus (Fil.3:12). Hy is nie so arrogant om te dink dat hy self die dieper dinge "gegryp" het nie (Fil.3:13). Maar omdat hy gegryp is, omdat hy in sy hart hernuwe is, daarom strek hy hom uit. Hy "jaag" daarna om die krag van Jesus se opstanding te leer ken (Fil.3:10).

Maar om jou "uit te strek", om te "gryp" veronderstel gedurig dat 'n mens naby aan Christus bly. 'n Mens moet jou instel daarop. Bewuswording is 'n sleutelwoord in die mistiek.

Hoe kan 'n mens verwag om deur God geseën te word as 'n mens nie bewustelik op God wag nie?

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive