Monday, February 15, 2010

Die opstanding vanuit spiritualiteitsperspektief.

Markus, Matteus en Lukas deel met mekaar baie dinge oor Jesus wat dieselfde is. Hulle beskrywing van Jesus se lewe en dood het dieselfde patroon: Jesus word eers met groot bewondering ontvang en beluister deur skares van mense wat na hom stroom. Maar spoedig begin die teenstand teen hom totdat hy uiteindelik doodgemaak word. Die kruis is die ergste vorm van verwerping en nederlaag. Op die agtergrond, soos Schneiders skryf, hiervan sien ons die werking van Deuteronomium 21:23 dat iemand wat skuldig bevind en opgehang word, die vloek van God dra.

Al drie sinoptiese evangeliste dink dus oor Jesus se dood as ‘n skanddood. Vir hulle is die opstanding dan God se ingryping om Jesus se skanddood om te keer en Hom uit te wys as die regverdige een. Jesus se vernedering word omgebuig in sy verhoging. Jesus se ontlediging, sy vernederend kenosis in die skanddood aan die kruis word omgekeer. Die opstanding bevestig God se regverdiging van Jesus se lewe en bediening. Die opstanding word daarom ook verbind met Jesus se hemelvaart. Jesus tree in in hemelse heerlikheid aan die regterhand van God. Dit is sy verhoging tot God se regterhand – die finale bewys dat sy lewe vir God goed was.

Ons kry dus in die sinoptiese evangelies ‘n spesifieke patroon wat ook in Filippense 2 gevind word. In daardie ou Christus-lied wat Paulus in sy brief oorneem, lees ons van Jesus wat nie vasgeklou het aan sy hemelse heerlikheid by God nie en wat as ‘n slaaf aan mense gelyk geword het. Sy menswording het uitgeloop op die kruis. “Daarom” skryf Paulus in Filippense 2:9, het God Hom tot die hoogste eer verhef en ‘n hoë naam gegee. Hy is die “Here.” Hier word die goddelike bevestiging van Jesus ten volle en uitvoerig uitgewerk.

Dit is ‘n merkwaardige ommekeer. In die oë van die Joodse wêreld was Jesus se kruis baie meer as net ‘n verkriklik aaklige lot en gruwel. Dit was uiteindelik ‘n teken van goddelike oordeel – ‘n teken van God se vloek wat oor hom gehang het. Paulus, byvoorbeeld, neem hierdie motief direk oor in Galasiërs 3:13-14: Christus, skryf hy, het in ons plek “’n vervloekte” geword. Hy haal dan Deuteronomium 21:23 aan: “Vervloek is elkeen wat aan ‘n hout opgehang is.”

Hierdie skandelike kruisdood word in die opstanding op sy kop gesit. Die opstanding, vertel die sinoptiese evangelies, het Jesus geregverdig. Die goddelike oordeel word nou die goddelike verheerliking – Jesus is nou in die teenwoordigheid van God.

Die kruis en die opstanding is dus twee kante van die munt. Ons kan nie die een sonder die ander een verstaan nie.

Kyk ‘n mens na hoe Paulus oor die opstanding in sy briewe praat, kan ‘n mens voorlopige die volgende dinge uitlig:

· Die opstanding is God se inisiatief. God gryp in. Die kruis spreek nie die laaste woord nie.

· Die opstanding is ‘n kragtige gebeurtenis in die vroegste Christendom. God het magtig ingegryp. In die opstanding merk ons God se skeppende aanraking. Juis dit is waarom die opstanding soveel vrae, vrees en verwondering oproep by mense wat dit beleef. In die opstanding staan mense voor ‘n verborgenheid, voor ‘n dinamiese, magsvolle daad. Teenoor die destruktiewe mag van die mensdom wat Jesus aan die kruis vasnael, staan die vernuwende mag van God.

· Die opstanding is ‘n transformatiewe, omvormende daad. Waar God raak, word die dood ontbind en in die teendeel omskep. Waar God raak, kom lewe tot stand. God se mag word die instrument van herskepping.

· Dit weer, illustreer transformasie verder. Transformasie is baie meer as die terugkeer van die verlede. Jesus word nie na sy kruisdood bloot net tot die lewe herstel nie. Hy word tot ‘n nuwe lewe getransformeer. Jesus se menslike liggaam word nou Jesus se verheerlikte liggaam.

· Die transformasie het ook ‘n groeiende intensiteit. Die beperkinge van die verlede, die trane, word vervang deur die vreugde van die toekoms. Die proses van transformasie beteken om voortdurend nader aan God te kom, intiemer met God verbind te word totdat God uiteindelik in die groot einde alles in almal sal wees. Die proses is klimakties. Jesus se verheerlikte liggaam, verborge by God, word uiteindelik in die einde weer aan mense bekendgemaak. Sy heerlikheid sal deur almal gesien word – ook die wat hom deurboor het (Open.1!).

· Die opstanding is ‘n uitkringende gebeurtenis. Dit dy uit in wye ruimtes: dit is ‘n proses wat die hele mensdom raak. Wat in Jesus gebeur, raak ook alle mense. Die opstanding van Jesus word die opstanding van mense wat in Jesus is. Transformasie word ‘n hele proses – die opstanding stop nie by Jesus nie. Maar die proses hou nie op by die eerste Jesus-groepe nie. Dit du voort in die geskiedenis. Vir gelowiges is die opstanding van Jesus net die eerste vrug van ‘n groot oes wat deur die eeue heen onder baie groepe ingesamel sal word.

Dit is maar ‘n paar aspekte van hoe Paulus en vele Christene in die algemeen oor die opstanding gevoel het. Wanneer ek hieroor nadink, help dit my om verskeie aspekte van spiritualiteit beter te verstaan. Spiritualiteit gaan oor God se verhouding met die mens wat transformatief bly werk. Daarmee is drie kernmomente uitgewys deur die drie woorde van “verhouding,” “transformasie” en “bly werk” (proses). Maar elkeen van hierdie woorde kan weer deur verdere motiewe uitgebrei word. In die opstanding byvoorbeeld, neem God die inisiatief, tree God kragtig op, bevestig God Jesus. Die mens wat in ‘n verhouding met God verbind is, word dus opgeneem in ‘n dinamiese, sterk, regverdige verhouding. Die verhouding van God tot die skepping word aangevuur deur God se vurige liefde en sin van geregtigheid. “Transformasie” het ook baie aspekte: dit raak tyd en ruimte, mense en tye word onherroeplik verander waar God aan die werk is. En dit word ‘n proses wat voortdurend vormend bly werk. Die geskiedenis en ons geestelike reis het gedurig nuwe dinge wat ons ontdek en mylpale wat op ons wag.

Dus is, uiteindelik, die groot vraag wat die opstanding doen. Wat gebeur, wat word beleef, wat word omgekeer wanneer God ingryp en lewe skenk in die plek van die dood.

Dit is maar net nog die begin. As ‘n mens hierdie algemene patroon herken het, is dit boeiend om te sien hoe die opstanding in elke boek van die Nuwe Testament iets anders “doen” aan die spesifieke lesers van daardie boeke. Die skrywers van die Nuwe Testament wou nie ‘n algemene “leer” oor die Nuwe Testament neerskryf nie. Die skrywers het gedurig vir hul lesers ingelyf in watter verskil die opstanding aan hulle lewens maak. Vir hulle was die opstanding nie ‘n stuk teologie nie. Dit was ook nie ‘n les of dispuut oor die geskiedenis van Jesus nie. Vir hulle was die opstanding ‘n ervaring wat hul lewe op sy kop gekeer het. Jy praat nie sommer net los en vas allerhande dinge oor die opstanding nie. Deur die opstanding word ‘n krag losgelaat wat op mense beslag lê en hul radikaal omvorm. In die opstanding van Jesus, het hulle geglo, het God ‘n mistieke krag gewerk wat alles begin verander het. Maar – die boeiende is dat hierdie krag orals waar dit aan die werk was, nuwe dinge gedoen het. Daarom sien ons so baie gesigte van die opstanding in die Nuwe Testament. Elke boek bring nuwe aspekte van die opstandingskrag na vore.

Hieroor later meer.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive