Tuesday, February 16, 2010

Fliekpiek: Sherlock Holmes, die man met die helder verstand

Die nuwe fliek oor Sherlock Holmes is een van die baie films wat oor hierdie legendariese en onortodokse speurdersfiguur uit die laat negentiende eeu gemaak is. Dit is duidelik ‘n Britse produk aangebied in die keurigste van presisie. Hier hoor ‘n mens keurige Ingels, geniet pittige humor en ontdek ‘n mens hoe lyk London in Holmes se tyd met sy kronkelstrate vir koetse, sy indrukwekkende brue, groot fabrieke, Parlement met sy Big Ben, met sy klasse-stande – die arm massa’s en die rykes, met sy geskiedenis en kultuur. ‘n Mens kan die fliek bloot gaan kyk net vir sy historiese inligting.

Sherlock Holmes is een van die bekendste bakens van die laat negentiende eeu. Dit is die hoogbloei van die rasionalisme. Hierdie speurder is ‘n slim man. Hy ken van alles – nie net in terme van die geskiedenis nie, maar hy is ‘n boffin in die natuurwetenskappe. Maar, interessant genoeg, is hy by uitstek die waarnemer. Die kleinste detail val hom in ‘n fraksie van ‘n sekonde op: die kalk op die professor se baadjiekraag, die vorm van die pupil, die reuk van ‘n voorwerp. Maar wat hy raaksien, is net die begin. Logies bedink hy dit en trek dan konklusies daaruit wat ander mense verstom laat staan – hoewel hulle, as hulle maar net so oplettend soos hy was, dit self ook sou kon ontdek het.

Lord Blackwood, sy opponent in hierdie fliek, is die beliggaming van die Boosheid self. Daarom is ‘n mens nie verwonderd dat hy lang stukke in Openbaring lees en aanhaal nie. Lord Blackwood sien homself megalomanies as die een wat ‘n nuwe toekoms vir die hele wêreld sal bring, maar hy is duidelik die absolute teenpool van alles wat goed en reg is. Hy omhels die sataniese greep na wêreldheerskappy van Openbaring 13 vuriglik en sal nie huiwer om mense wat in sy pad staan, uit te wis nie. Hy wil inderdaad mense laat dink dat hy hulle kan "toor."

Maar wat ‘n mens die meeste opval is dat die fliek sy grypsug verbind met die okkulte, toorkuns en swart magie. Op die oppervlakte gebruik Lord Blackwood allerhande swart toorkrag om sy bose doelwit te bereik. Vrees, sê hy, is wat hy daarmee wil aanjaag. As hy die massas kan laat sweet van die angs, is sy heerskappy verseker. Die vrees kan hy net inboesem as hy hulle begelowigheid uitbuit. Daarom laat hy skynbaar allerhande geheimsinnige dinge gebeur sodat mense kan dink dat hy buitengewone magte het wat hom bystaan. Hy laat met opset die menigtes dink dat hy bonatuurlike kragte het. Hy wil dat hulle hom as 'n goddelike figuur sien.

Dit is op hierdie punt dat die fliek ‘n tipiese ontmaskeringstegniek toepas. Sherlock Holmes is by uitstek die dekonstrueerder van mitiese oortuigings en aansprake. Hy wys konsekwent en meedoënloos deur sy skerp, wetenskaplike brein en sy verstommende waarnemingsvermoë hoe ‘n mens eenvoudig alles “natuurlik” kan verklaar. Dat Lord Blackwood in die tronk gehang word, maar dan lewend word, is die gevolg van sy slim gebruik van ‘n middel wat die indruk van ‘n skyndood skep en veroorsaak dat iemand se pols nie meer gemeet kan word nie. En so onthul hy van geval na geval die werklike oorsaak van raaiselagtige gebeurtenisse.

Wat my laat dink: die toorkuns, bygelowigheid en ander sensasionele aansprake het niks te doen met die mistiek nie. Ek hou daarvan om nie in godsdienstige kontekste maklik van “geheime” te praat nie. Of op sy Engels van “secrets” nie, asof ‘n mens met spesiale, uitsonderlike dinge van towenaarskwaliteit te doen het nie. Spiritualiteit gaan nie om uitsonderlike geheime waardeur sommige mense dinge weet wat ander nie kan weet nie en wat hulle gebruik om oor ander die septer te swaai nie.

Paulus praat op ‘n stadium van die evangelie as die openbaring van die verborgene (bv. Efes.3:5). Dit is vir hom baie belangrik en 'n grondmotief in sy prediking. Hierdie "verborge" dinge het niks te doen met geheime, vreemde formule's of kennis waardeur 'n mens ander onder 'n "spell" kan plaas nie. Die verborgene is dit wat nog altyd by God bekend was en by God bestaan het, maar wat in die volheid van die tyd aan die soekers geskenk word. Vir Paulus beteken dit dat God nou in Christus al die beloftes sigbaar en konkreet in Jesus waar maak. Die verborgene is dus niemand anders as Christus nie - Christus kom verkondig God se heil aan almal. Alle mense kry toegang tot hierdie dieper, lewegewende dinge.

Hier gaan dit dus nie om duistere sake wat vrees by ons inboesem nie. In Markus Evangelie is Jesus die Verborge Een wat ontsag opwek – wie is Hy, vra sy dissipels verstom, dat Hy die storms kan stilmaak? Jesus is daarmee nie ‘n towenaar wat allerhande bygelowige kunsies bemeester het nie.

Ons kan dus nie 'n "Sherlock Holmes" op die Bybel uithaal nie. Geen verstand sal Hom kan ontsyfer of ontmasker nie, want in Christus sien ons God se teenwoordigheid en staan ons voor die onontsyferbare, ontsaglike teenwoordigheid van dit wat die sin en betekenis van alles is. Jesus is by uitstek die een in wie die soeker God se gesig van goedheid ontdek. Dit is ‘n mistieke ervaring wat slegs in die geloof toeganklik is.

Sherlock Holmes as fliek laat ons met ‘n salige gevoel: ons kan alles verklaar. Die ergste vorms van boosheid het sy logiese oorsake. Daar is niks wat ons verstand kan ontsnap nie. Net die oningeligte massas, vertel die regisseur Guy Ritchie vir ons, sal aan vrees ten prooi val.

Hierdie sterk uitbeelding en verheerliking van die menslike vermoë en verstand is in ons tyd nie onnodig nie. As ‘n mens kyk na die kwaksalwery wat aan mense verkoop word as die waarheid, is daar nog te veel mense wat deur uitbuiters mislei word en nie agterkom hulle word meedoënloos bedrieg nie. En dit gebeur soms ook van die preekstoel en kateder af. Maar dan het daardie soort van kwaksalwery en bedrog ook min te doen met wat ons as die verborge, dieper dinge van die evangelie ken.

Die mistiek as die eenwording met God wat in die geloof aan hulle wat dieper kyk geskenk word, staan nie teenoor die verstand en die rede van die mens nie. Spiritualiteit het iewers ook te doen met God wat ook ons verstand heiig. En God verwag sekerlik ook van ons dat ons ons geloof met ons vestand sou kon bedink. Juis deur ons verstand kan ons groei in heiligmaking.

Maar iewers gaan ons geloof ook verder en dieper as die menslike verstand. Hoe belangrik die verstand ook al mag wees, het ons geloof met baie meer as net verstandsake te doen.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive