Wednesday, February 17, 2010

Kan 'n mens God sonder die kruis verstaan? Oor die verstaan van Jesus se dood in die Johannes Evangelie en


Matteus, Markus en Lukas praat almal min of meer dieselfde oor Jesus se dood as die diepste punt van Jesus se pad van opoffering en lyding. Met die kruis word sy vernedering en vernietiging tot die uiterste punt gevoer. Mense verwerp Jesus totaal. Hulle word nie eers deur moord gestuit nie. En hierdie moord op Jesus kan nie meer afskuwelik wees nie. Jesus sterf soos die slegste van kriminele tipes.

In hierdie drie evangelies is Jesus se dood ‘n teken dat God se vloek oor Jesus gehang het. Die drie skrywers haal daarom, soos ons gesien het, die Ou Testament aan. Vir hulle is Deuteronomium 21:23 die bewys dat Jesus se skandelike dood ook God se vloek weerspieël.

Neem byvoorbeeld Markus 10:45:

“Die Seun van die Mens het nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as ‘n losprys vir baie mense.” Jesus is die Een wat sy lewe vir mense opoffer. Dit is dan ook die betekenis van die nagmaal: Jesus se lewe en bloed word vergiet vir baie mense (Markus 14:24).

Paulus, het ons gesien, dink ook só oor Jesus se lydensweg.

Die opstanding is nou vir hierdie skrywers die oomblik van die groot ommekeer: God wys in die opstanding dat Jesus reg was. Die pad van skande wat hy geloop het, word nou deur God omgekeer en Jesus as die Regverdige uitgewys. Die skandeweg word vervang deur Jesus se verheerliking in die opstanding en hemelvaart.

Die Johannes Evangelie kyk na Jesus se dood en opstanding vanuit 'n ander perspektief. Johannes vertel heelwat van die verhale van Jesus se lyding wat ook by die Sinoptiese Evangelies voorkom. Tog het Johannes ook ‘n unieke manier van praat oof Jesus se kruis.

In die evangelie word op ‘n baie spesiale manier oor Jesus se dood gedink. Hier word nie gepraat van ‘n ontlediging en ‘n skandelike dood nie. Vir Johannes word Jesus naamlik in sy dood “verheerlik.” Christus se “oplig” aan die is reeds die oomblik wanneer hy verheerlik word. Johannes 3:13-14 vertel dit in ryk simboliese taal:

Niemand op die aarde was al in die hemel nie behalwe Hy wat uit die hemel gekom het, naamlik die Seun van die Mens. Moses het die slang in die woestyn hoog op ‘n paal gesit; so moet die Seun van die Mens verhoog word, sodat elkeen wat in Hom glo, die ewige lewe kan hê.

En Johannes 12:32 is net so boeiend:

“En as Ek van die aarde af verhoog is, sal Ek almal na My toe trek. Dit het Hy gesê en daarmee ook aangedui op watter manier Hy sou sterwe.”

Johannes gebruik daarom doelbewus ‘n woord (oplig) wat dubbelsinnig is en wat beide kruisiging en verheerliking beteken.

Jesus se kruisdood is dus vir Johannes die oomblik van verheerliking wat vir die mensdom verlossing bring. Dit laat ‘n mens dink aan die Ou-Testamentiese beeld van die Kneg van die Here in Jesaja 52:13.

Wat dit alles beteken, word die duidelikste uitgespel in Jesus se hoëpriesterlike gebed. Daar bid Jesus op die vooraand van sy dood vir sy volgelinge en verwys dan na sy naderende kruisiging in Johannes 17:1, 5:

Nadat Jesus dit gesê het, het Hy na die hemel toe opgekyk en gesê: “Vader, die tyd het gekom. Verheerlik u Seun, sodat die Seun U kan verheerlik.... Verheerlik U My nou ook by U, Vader, met die heerlikheid wat Ek by U gehad het voordat die wêreld bestaan het.”

Hier kry ons een van die mees intieme kykies in die spesiale verhouding tussen Jesus en die Vader. Die kruisiging is vir Johannes die plek waar die durende, ewige en noue verhouding tussen God en die Vader die helderste na vore kom. Aan die kruis keer Jesus terug na die Vader. Dit is die plek en tyd dat Jesus weer tuis is by die Vader.

Die kruis is vir Johannes die plek waar gelowiges uiteindelik ervaar wie Christus werklik is. Dit is die oomblik wanneer Hy “almal” na Hom “toe trek” (Joh.12:32), wanneer die heilswerk van God vir die mens onmiskenbaar en duidelik blyk.

Wanneer Johannes oor Jesus se dood praat, lyk dit daarom vir baie verklaarders asof hy juis nie bloot net Jesus se lyding wil beklemtoon nie of die gruwelike kante daarvan wil uitbeeld nie. Wanneer ‘n mens sy kruisverhaal lees, is daar iets sterks aan die verhaal. Jesus is die Een wat volledig volgens God se wil sterwe: wat met hom gebeur as die soldate vir sy klere die lot werp en sy uitroep dat hy dors het, vervul die Skrif. Hy kwel hom aan die kruis nie oor sy eie pyn nie, maar bring nog sy ma en die geliefde dissipel bymekaar uit. Hy sterf ook met die tevrede uitroep: “Dit is volbring.” Sy taak is afgehandel. In sy dood doen Hy wat die Vader van hom gevra het. Hy laat sy kop sak en blaas sy laaste asem uit. Jesus behou die inisiatief. Hy is nie ‘n slagoffer van lyding nie. Hy is ‘n sterk magsfiguur.

Dit is, dus, ‘n heel besondere beeld van Jesus wat ons hier raakloop: In Johannes leer ken ons ‘n Jesus wat ‘n besondere intieme band met God het en dat Hy by uitstek die een is wat mense ‘n kyk in diehart van God kan bied. Uiteindelik is hierdie Jesus die een wat God aan die mense verkondig. Jesus maak byvoorbeeld volgens Johannes 17:25-26 hierdie besondere sterk aanspraak:

“Regverdige Vader, die wêreld ken U nie, maar ek ken U, en hulle hier weet dat U my gestuur het. Ek het u Naam aan hulle bekend gemaak, en Ek sal dit verder bekend maak, sodat die liefde wat U aan My bewys het, in hulle kan wees en Ek ook in hulle.”

Jesus is dus dwarsdeur die Evangelie in sy aardse bediening dus al ‘n uitsonderlike heerlike figuur.

Dit is dus byna te verwagte dat Johannes ook in die kruis Jesus se heerlikheid sou raaksien.

Maar hoe presies moet ons hierdie merkwaardige dubbelsinnigheid verstaan dat Jesus wat gekruisig word ook die Jesus is wat verheerlik word? Is Jesus eintlike die “heerlike” Jesus wat maar net deur die stadium van ‘n kruisdood moet deurgaan of word Jesus verheerlik omdat hy gekruisig is?

In die een geval is die kruis maar net byna ‘n “toevalligheid,” ‘n “voorlopigheid.” In die tweede geval is die kruis ‘n noodsaaklikheid.

Wil Johannes vir sy lesers vertel dat Jesus die een is wat gekruisig is en wat deur sy kruisiging tot heerlikheid gebring word? Word Jesus verheerlik omdat hy gekruisig is? Is die kruis vir Johannes die allerbelangrikste motief in sy evangelie?

Hierdie siening van Jesus se kruisdood sou kon beteken dat wanneer ‘n mens oor goddelike heerlikheid nadink, dit nie sonder die kruisweg kan gebeur nie. Die heerlikheid van God word in hierdie siening altyd gekwalifiseer deur die kruis – en dit is dan ‘n radikale herdefinisie wat Jesus daarmee aan God se heerlikheid gee. As ‘n mens goddelikheid wil verstaan, sê hierdie interpreteerders, kan ‘n mens dit nie sonder die kruis verstaan nie.


Maarten Luther, skryf Larsson in ‘n artikel, sê dat Jesus openbaar God in die mees fundamentele manier in die kruis. Om Jesus as Seun van die Mens aan die kruis te sien, is om God te sien. Wanneer Jesus sterf, sien ons die helder glans van God se heerlikheid. Alles wat ons normaalweg van God se heerlikheid dink, word deur hierdie kruisdood van Jesus ondermyn en gedekonstrueer. Dit is ‘n radikale hersiening en omkering van ons tradisionele beskouing van wie God is. En ditis nie die eerste keer dat Jesus dit doen nie. Wanneer Jesus aanspraak maak daarop dat hy die lig van die wêreld is (Joh.8:12), is Hy weer ‘n keer radikaal en ondermynend. Ons, skryf Luther, sou Hom nie kwalik geneem het as Hy gesê het Hy is die lig van hierdie land nie. Maar van die hele wêreld? Dit klink dom en laf, arrogant en aanmatigend. Dit voel vir ons na onuitstaanbare verwaandheid. Dit is net so ‘n radikale hersiening van ons manier van dink as wat die kruis ‘n hersiening en herinterpretasie van Jesus se heerlikheid is.

Of is Jesus die een wat veral verheerlik is en in wie die heerlikheid van God in die eerste plek raakgesien word? Is die kruis, soos vir sommige interpreteerders, maar net ‘n aspek van sy heerlikheid wat nie regtig enige noemenswaardige invloed op sy heerlikheid het nie? Speel die kruisweg en die lyding aan die kruis in Johannes se evangelie skaars enige betekenisvolle rol? Is die kruis vir Johannes, anders as vir die Sinoptiese Evangelies dan nie ‘n skande nie?

Calvyn, skryf die Nuwe-Testamentikus, het hierdie standpunt gehandhaaf lank voor enige moderne Nuwe-Testamentici dit verwoord het (bv. Brown). Die heerlikheid van Jesus, skryf Calvyn, kan ‘n mens raaksien selfs wanneer die Bybel Hom as swak en magteloos teken. Jesus se heerlikheid is te sien wanneer die evangelie as oorwinning oor die Satan verkondig word (Joh.3:14 en 8:28). In Johannes 17:8 sê Jesus dat sy volgelinge Sy woorde van die Vader van Hom gekry en aangeneem het en dat hulle geglo het dat die Vader Jesus gestuur het.” Dit, volgens Calvyn, beteken dat geloof op die heerlikheid van Christus gerig is. Geloof weet niks aards of veragteliks van Jesus nie. Geloof tel ‘n mens op na Christus se goddelike krag sodat ‘n mens oortuig word dat ons in Christus die volmaakte God het en alles wat aan God behoort.

Ek is nuuskierig oor wat ander hieroor dink. Skryf hieroor aan my by pgdevilliers by mweb.co.za (vervang die “by” met ampersand of @ teken).

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive