Monday, January 21, 2013

Die innerlike sug van dankbare tuiskoms. Oor die nagmaal.


Hoe word ‘n mens omvorm in die geestelike weg? Hoe lyk die proses van transformasie? Dit is vrae wat die geestelike voorouers indringend besig gehou het.

Want die mens se pelgrimsreis is steeds ‘n proses van dieper inworteling in die verhouding van God met die mens. Altyd weer is daar die oefeninge wat ‘n mens se ingesteldheid op die geestelike reis voed en wat ‘n mens rigting laat vind.

Iewers begin alles – soos blyk uit ‘n vorige blog. Die geestelike voorouers het geweeet daar is ‘n eerste dimensie van omvorming. ‘n Mens kom uit niks tot ‘n nuwe lewe – net soos toe God aan die begin uit niks die mens geskep het.

Om dit te begryp, moet ‘n mens kyk na die mens se vroeëre verknogtheid aan niks. Die ou bestaan, die bestaan sonder en buite God, is ‘n tyd waarin die mens ten alle koste op selfbehoud, selfbeskerming en selfverryking ingestel is.

Gelowiges word deur God hiervan omvorm, weg van ‘n mens se fokus op jouself en weg van ‘n mens se beheptheid met aardse sorge. Iemand wat in God is, word tot eenvoud en suiwerheid omvorm om eerder op God te fokus en om die geestelike reis in afhanklikheid van God af te lê. Dit was, soos in ‘n vorige blog bespreek, ‘n eerste fase van omvorming.

Die nuwe mens word deur God geskep en die ou mens word agtergelaat. God se liefdevolle teenwoordigheid deurtrek en deurstroom ‘n mens in sy of haar nuwe bestaan. Die mens se lewe het ‘n nuwe vorm. Dit is ‘n mens wat die aardse ontgroei het omdat die aardse dinge mense vasvang, gevange hou, innerlik onvry maak en van God weghou. Genadiglik kom God, raak die mens aan en in die aanraking vind die mens ‘n nuwe bestaansvorm.

‘n Tweede fase in die omvormingsproses hang ten nouste saam met die geestelike oefening van deelname aan die nagmaal.

Iets gebeur met die mens wat aan tafel saam met God gaan. ‘n Mens word skoongebrand en ingebrand in die goddelike liefdesvuur.

In die nagmaal as ‘n intieme ontmoetingsgebeure met die Lewende Here, met Christus, ontdek ‘n mens hoe afhanklik ‘n mens van God se liefde is, skryf Blommestijn. ‘n Mens kan nie daardie liefde beetkry en bewerk nie.

Jy moet dit afwag, ontvang. Jou hande kan dit nie gryp nie, net ontvang.

God moet aan die mens die liefde in Christus gee, want die mens staan arm, blind en naak, met ‘n innerlike koudheid en kilte voor God in ‘n situasie van ontbering en gebrek.

Jy sit naamlik innerlik verhongerd, uitgemergel en maer by die tafel aan. ‘n Dik, vol mens het immers nie veel aan ‘n ete nie. Of, skryf Blommestijn, ‘n mens wat warm kry in die somer gaan nie nog voor ‘n verwarmer sit nie.

Dit is alleen maar God se teenwoordigheid wat ‘n mens omvorm, of, soos Blommestjin dit stel, die vuur van God se liefde omvorm die mens se kilheid. Want kil is die mens se bestaan sonder God. Die mens is immers niks. Die mens is onvry, bestaan eintlik nie regtig nie.

Net soos God in die skeppingsdaad uit niks die mens gevorm het, net so bring God se vurige liefde die mens tot ‘n nuwe bestaan in die mistieke gebeure van die nagmaal.

“Ons geslotenheid word deurbreek deur die goddelike Gelaat wat in oorweldigende skoonheid aan ons geopenbaar word.”

Aan tafel is ‘n mens by die Een wat uitdeel, ontfermend, genadiglik – ‘n Vader wat die gemeste kalf vir die honger, verlore seun slag.

‘n Mens kan nie na die nagmaalstafel gaan wanneer ‘n mens vol is van klagtes en kilheid nie. As jou aardse sorge, waaraan jy buitendien niks kan doen nie, jou innerlik besig hou, is jy verlangend na aardse ding en afgesluit van die ryk maal wat God voorberei het.

Eers wanneer ‘n men jou afhanklikheid insien, jou leegheid begryp en jou wanhopige, sinlose greep op jou lewe loslaat, kan ‘n mens die hemelse voedsel in die nagmaal inneem.

Die mens word slegs gevoed wanneer hy of sy honger en met leë hande en sakke aan die tafel gaan aansit. Dit is dan dat ‘n mens insien en tot die besef kom dat dit die nagmaal is wat hom of haar voed.

Die voedsel is God se liefdevolle teenwoordigheid, God wat ‘n mens in Christus omvorm en transformeer.

Wie bewus word van God se teenwoordigheid, word met God verenig en kom tot nuwe lewe. So iemand verloor sy of haar self-gerigtheid en ontdek hoe sy of haar hart op Christus ingestel is. Nie ‘n mens se eie prestasie nie, nie weens ‘n mens se eie behoeftes nie, maar deur Christus as gawe word ‘n mens vry en vervuld. Dit is ‘n liefde wat van maal tot maal herhaal en uitgedeel word, wat nooit uitbrand nie, wat nie ‘n rekening uitskryf of ‘n betaling eis nie. Vrye genade, verniet word die liefde uitgedeel.

Meer nog: dit is ‘n liefde wat ‘n mens innerlik verteer en in liefde laat ontbrand. ‘n Mens eet en drink die liggaam en bloed van Christus. Dit is jy wat die brood eet en die beker drink.

Maar ‘n mistieke gebeurtenis vind plaas. Dit is nie wat die mens doen, die eet of die drink wat die mens omvorm nie. Dit is eerder Christus se teenwoordigheid in die nagmaal wat die vuur van Goddelike liefde in mense se innerlike laat ontbrand. Dit is nie ons wat Christus inneem en verteer nie. Dit is Christus se liefde wat ons opneem en deur vuur verteer. Die mens word een met die Goddelike liefde en word opgeneem in ‘n intieme eenheid met God.

Blommestijn haal die volgende onvergeetlike deel uit Thomas a Kempis aan (3.16.9-12):

Verkwik u hongerende bedelaar,
maak warm my koue deur u liefdesvuur,
verlig my blindheid deur die glans van u teenwoordigheid,
verander al die aardse vir my in bitterheid,
en elke las en teenslag in lydsaamheid,
en elke lae en geskape ding in veragting en vergetelheid.
Hef my hart tot U in die hemel op,
en laat my nie swerf op aarde nie.

Thomas wil sy lesers bring om nie op aardse dinge, teenslae, angste en benoudhede te fokus nie. Alles wat aards is, moet die mens agterlaat as niks wanneer dit met God se teenwoordigheid vergelyk word nie.

Daarom kom die tweede deel van die merkwaardige lied:

Hef my hart tot U in die hemel op,
en laat my nie swerf op aarde nie,
U alleen sal van nou af aan my verlustiging wees tot in ewigheid,
want U alleen is my spys en drank,
my liefde, my heuglikheid,
my soetheid en al my goed.
O, Mag U my volslae ontbrand deur u teenwoordigheid,
my verteer en laat oorgaan in U,
dat ek een van gees met U mag word
deur die genade van innerlike vereniging
en versmelting deur liefdesvuur.
Laat nie toe dat ek honger en dors tot U nader nie,
maar handel barmhartig met my,
soos U dikwels so wonderlik goed gehandel het met u heiliges.
Is dit te verwonder dat ek geheel deur U ontvlam,
en beswyk in myself,
terwyl U is die immer brandende, nooit verswakkende vuur,
die liefde, wat harte reinig en die verstand verligting gee?

Geyser se vertaling van die oratiewe, die versugtig, die verlange na wat werklik kan versadig. 

En terselfdertyd dit ontdekking, die kontemplatiewe, die innerlike sug van dankbare tuiskoms: U is die immer brandend, nooit verswakkende vuur, die liefde, wat harte reinig en die verstand verligting gee.

Net iemand wat nie weet wat liefde is nie, kan hierdie gedagtes as wêreldmyding sien.

Blog Archive