Tuesday, January 22, 2013

God se woord is soos doudruppels … Oor die lees van die Bybel as ‘n weg tot omvorming.


Die geestelike pelgrimsreis van ‘n mens word op verskillende manier gevorm. Dit loop langs ‘n bepaalde weg en word deur verskillende dinge bepaal. 

In Thomas a Kempis se Navolging van Christus word dit aan die hand van veral drie dimensies uitgewerk. Hein Blommestijn het dit in ‘n artikel op ‘n boeiende manier beskrywe.

Dit begin wanneer God ‘n mens nuut maak (die transformasie in skepping) en jou uit jou niks-wees bring tot ‘n sinvolle bestaan.

Dit gebeur voorts herhaaldelik wanneer ‘n mens aan Christus gelykvormig gemaak word.

En dit gebeur ook, derdens, wanneer ‘n mens God se stem hoor.

Anders gestel:

Prakties gebeur hierdie drie dinge eerstens wanneer ‘n mens beheer oor jou eie lewe afstaan en jouself oopstel vir die grotere, goddeliker liefdesweg.

Dit gebeur ook, tweedens, wanneer ‘n mens op ‘n spesiale manier die binnekoms van Christus in ‘n mens se lewe ervaar – veral in die nagmaal. 

Of, derdens, en dit is die tema van die blog: wanneer ‘n mens God se stem in die lees van die Bybel beluister.

Of nog anders:

Die oopstel vir God kom eerstens elke keer wanneer ‘n mens die fokus op jouself opgee. Die wandel met God word, tweedens, intiemer wanneer ‘n mens in die liefde van Christus veranker word en wanneer ‘n mens deur die stem van die goddelike tot ‘n liefdesbestaan vernuwe word.

‘n Mens word derdens getransformeer, of, beter nog, omvorm, wanneer mens deur God se stem aangespreek voel. Die verdieping in ‘n mens se geestelike lewe gebeur wanneer ‘n mens bewus raak dat iets groters en iemand buite jouself in jou lewe inkom: in geloofstaal word gepraat van God se woord wat tot ‘n mens kom, jou ore open en van jou ‘n ware luisteraar maak.

Hier, in die hoor van God se stem is op sy beurt weer twee dimensies te merk: aan die een kant is dit ‘n woord van buite jouself, wat in jou lewe inkom. Dit is die Bybeltaal, die geloofsgetuienis van vele mense wat voor jou pelgrims op die lewensweg was. Maar die heel belangrikste is die tweede dimensie: Die Woord werk in ‘n mens se innerlike. Wat ander geskryf het, mensewoorde, anker in jou binneste ruimte en verander, word God se woorde.

Blommestijn haal hier vir Thomas a Kempis aan wat skryf: “Spreek, Here, want u dienaar luister. Ek is u dienaar. Gee my insig sodat ek u getuienisse ken. Buig my hart na die woorde van u mond. Laat vloei u strome woorde soos dou.”

Maar nog moet ‘n mens verder dink. God se woord kom in mensetaal. Dit kom as woorde van Moses, die profete, die Bybelse woorde, die voorlees van die Bybel in die erediens en die woorde van vele ander mense wat praat oor God, en oor ‘n intieme ontmoeting met God.

Tog is dit nie die woorde self waarop ‘n mens fokus nie. Daardie woorde moet ‘n mens se bestaan deurgrond en deursuur. Mensewoorde moet vir die mens deursigtig word – ‘n mens moet God in hulle raaksien en hoor.

As God swyg, sal die mooiste woorde oor God nie die mens se innerlike aanraak nie. God, skryf Paulus immers duidelik, is die een wat laat groei. Dit is God dus wie se spreke mensewoorde tot lewe bring.

‘n Mens word omvorm alleen maar wanneer ‘n mens deur God aangespreek voel.

Wat gebeur wanneer ‘n mens God se stem in mensewoorde herken? God se stem bring ‘n mens se lewe in beweging. Die spreke van God maak nuut. Dit bemagtig. Dit gee krag om die geloofsweg te loop. Van ons innerlike af na buite vorm God se woord en spreke die mens, help die mens om sy eiemagtigheid en selfgerigtheid agter te laat (skryf Blommestijn). Dit maak die mens betrokke. Om God se stem te hoor, is om die lewensweg met nuwe moed en energie aan te vat.

In plaas van strome van menslike woorde wat ons nie werklik raak en wat ons eintlik koud laat, kom God se woord en buig ‘n mens innerlik om tot vernuwing. God, skryf Thomas, terwyl hy die skrif aanhaal, het die woorde van die ewige lewe. “Spreek met my tot vertroosting van my siel en tot verandering van my hele lewe. Maar altyd weer tot U lof, heerlikheid en ewige eer.”

Wie God hoor praat, voel die lewe en liefde van God deur hul lewe stroom en hulle aanraak in die kern van hulle bestaan. Die Woord bring ‘n mens tot lewe. Dit is ‘n Woord wat nie as ‘n ornament iewers uitgestal kan word nie en waarna ‘n mens af en toe kyk nie. Wie die Woord so afstandelik hanteer, weier eintlik om nuutgebore te word.

Telkens weer wil ‘n mens die Bybel as ‘n menslike boek tot ‘n interessante leesboek verskraal. Die Bybel word daardeur nie lewewekkend nie. Dit is ‘n onskuldige boek wat allerhande netjiese lesse en insigte oplewer. Wie die Bybel as Woord herken, ontvang ‘n brandende verlange na die ewige dinge. Die aardse, nuttelose en leë gesukkel en besorgdhede verdwyn op die agtergrond. Wat tel is die diepere.

Blommestijn sluit sy nadenke af oor die weg waarlangs ‘n mens getransformeer en omvorm word en wat hy saamvat as ‘n transformasie in skepping, in konformiteit aan Christus deur die nagmaal en as die hoor van die Woord van God  met ‘n pragtige slot:

Wanneer God se woord ‘n mens innerlik aanraak en omvorm, hoor ‘n mens die gees van waarheid in jou innerlike klink. Dan vra ‘n mens nie meer hoe dinge in ‘n mens se lewe lyk nie. ‘n Mens besef: jou lewe is nie jou projek nie. Jou lewe is die projek van God. Wanneer ‘n mens dus God se woord hoor, herken ‘n mens jou diepste waarheid. Ons word ingetrek in die geheim van die goddelike lewe wat in ons bewaarheid wil word.




Blog Archive