Sunday, January 27, 2013

Self-prysgawe as geestelike weg. Wanneer 'n mens heiligheid misbruik.

-->
Die afsterf aan die self behels vir iemand soos Thomas a Kempis dat ‘n mens nie angstig en bekommerd oor gewone, alledaagse dinge is nie.

Beheer gee ‘n mens af aan God, wat ‘n mens in die goddelike liefde opneem en deur Wie se liefde ‘n mens gedryf en deurtrek word.

‘n Mens word daarom minder materialisties, minder ingestel op die alledaagse, veral omdat dit ‘n futiele, krampagtige poging is om die onbeheerbare te beheer. Die gewone dinge het ‘n neiging om ‘n mens se lewe oor te neem.

Dit behels, onder andere, dat ‘n mens afsterf aan erkenning, die sug na applous en die afhanklikheid van ander se goedkeuring.

Mens sou nou, in ‘n siniese reaksie, kon dink dat so ‘n houding masochisties is en ‘n mens sou dit kon bedink as ‘n tipiese manier van ontvlugtig: Dit sou beteken dat jy maar as swakkeling aanvaar wat oor jou pad kom omdat jy geen keuse het nie.

Dit sou selfs ‘n slagoffer-mentaliteit kon aanwakker: ek is die gevangene van my ellende, maar kyk hoe mooi aanvaar ek dit en berus ek daarin.

Of dit kan beteken dat ‘n mens sê: ander mense waardeer my nie. Kyk hoe selfsugtig en onsimpatieke is hulle. Maar God is aan my kant.

Of, ‘n mens sou ook ‘n heel godsdienstige houding kon inneem van : Ek ken God en dit is genoeg. Niemand kan vir my oor die geestelike dinge beleer nie. Wat ander dink, raak my nie. Dit moenie my geloof aantas nie.

Op vele maniere kan ‘n mens dus die geestelike weg van askese, van eenvoud en van die soeke na 'n lewe in die liefde misbruik, manipuleer of misverstaan. 

Elke stuk spiritualiteit het immers die vermoë om in sy teendeel omgebuig en geperverteer te word.

Dan word die geestelike weg afgebreek en verdraai tot, weer eens, ‘n stuk self-gerigtheid wat ‘n mens se eie ervarings en gedagtes heilig verklaar.

Daar is ‘n diep menslike wysheid in die spirituele wysheid van self-prysgawe. Oor die eeue het Spiritualiteit dit as ‘n wesenlike kenmerk van God gesien. God is God, veral omdat God die volmaakte self-opoffering verteenwoordig. God is God omdat God so volmaak gee – weggee aan Godself, aan God se eie bloed, die Seun, aan eie krag, die Heilige Gees. So volmaak is hierdie God wat gee dat dit gebeur selfs te midde van onreg wat mense God aandoen. In die lig van onbeantwoorde liefde, liefdelose lewens, bly God die Een wat genadiglik gee.

Die mees konkrete voorbeeld hiervan is Christus. Die mooiste verhaal hiervan is die verhaal van die verlore seun se pa.

Die teendeel van hierdie goddelike self-gawe is self-gerigtheid, self-regverdiging, self-bejammering, self-verdediging, self-gelding, self-ophemeling, self-gesentreerdheid.

Daarom die nodigheid om elke dag weer ‘n mens se leë hande raak te sien waar ‘n mens in die teenwoordigheid van God staan. Die hande is leeg aan die liefde, vol van die self. En, ook, vol van die heilige self.

Vandaar die nodigheid om in gebed die hande uit te strek, oop, na Bo, sodat die gawe van die Liefde daarna uitgedeel kan word. 

Dit is ‘n mens se verlange en hierin vind ‘n mens die regte vorm van kommer: om gevul te word met die Liefde.

Blog Archive