Thursday, January 17, 2013

Wanneer die verstand ‘n mens se geestelike reis in onskuld laat eindig. Oor ‘n derde naïwiteit.


Spiritualiteit het nog nooit enige vat gehad aan ‘n domme en onkritiese instelling nie.

Neem byvoorbeeld die hele proses van Bybellees as spirituele oefening wat in Lectio divina so indrukwekkend weergegee word.

‘n Geestelike lees van die Bybel was nooit on-krities nie.

Reeds op die eerste vlak van die geestelike lees van die Bybel is ‘n mens se verstandelike, analitiese denke aan die werk: wanneer ‘n mens ‘n Bybelteks optel, moet ‘n mens reeds ingestel wees op hoe jy dit doen. Hier is ‘n teks, besef jy, wat wel lyk soos alle ander tekste, maar tog ook uniek is.

Dit is ‘n teks wat bewustelik op geestelike vorming en omvorming ingestel is.

Wie dit nie besef nie, gaan nie met die teks kommunikeer soos dit vra om gelees te word nie. Jy moet dus bewustelik, verstandelik besluit hoe jy teenoor die Bybel ingestel is om die geestelike proses sinvol te kan beleef.

Ook wanneer ‘n mens doodeenvoudig net die Bybel sag of hardop lees, in die handeling van “lectio”, wanneer jy dus die teks jou eie maak deur sorgsaam daardeur te lees, is jou verstandelike vermoëns aan die werk. Die leesproses is veel ingewikkelder as wat ‘n mens dink. Jy besef dit eintlik eers wanneer jy sien hoe jong kinders in graad 1 hakkelend en stotterend lees terwyl jy dit self vloeiend kan doen. Jy as vlot leser weet hoe om die teks in sinne te verdeel, waar om aksente te lê, wanneer om vreugde in die teks te herken, wanneer om somberheid op te let. Jou blote lees van die teks vra al dat jou brein hard aan die werk is.

Maar, derdens, in die mymerende nadenke oor die teks, veral, is ‘n mens se insig en brein aan die werk: wie sê wat vir wie en waarom? Niemand kan geestelik met die Bybel omgaan sonder om diep daaroor te wonder en om deeglike vrae te vra nie.

Ook die vierde stap in die geestelike lees van die teks is spesiaal. Hier gaan dit om oratio, of om die biddende oomblik in die geestelike reis. Wanneer ‘n mens in oratio reageer op die teks – biddend, verlangend, smekend, vierend – is ‘n mens ook met al jou logiese insigte en vermoëns betrokke.

Ook die kontemplatiewe moment in lectio divina het ‘n rasionele dimensie. In die oratiewe oomblikke, gebeur dit soms, verrassend genoeg, dat ‘n mens God ervaar, onpeilbaar, bo-verstandelik. Maar ook dan is ‘n mens weer eens met jou verstand bewus dat jy uitsinnig betrokke was, dat iets Groters met jou gebeur het.

As ‘n mens hierna kyk, kry ‘n mens dus twee groot dimensies: die verstandelike en die geloofsdimensie.

Hierdie twee dimensies was nog altyd in spanning deur die eeue: ‘n Mens kan praat van drie groot bewegings in die geskiedenis van die lees van die Bybel.

Daar was die eerste fase toe mense direk, eenvoudig en onbemiddeld hul geloof ervaar het. Hulle het die Bybel gelees en aanspraak gemaak dat hulle dit aanvaar “soos dit daar staan.”

Daar was ‘n tweede fase toe mense besef het geloof vra ook dat ‘n mens se verstand aan die werk bly, dat ‘n mens geloof en sy valse vorme moet kan onderskei, dat die Bybelse teks nie sommer net geglo kan word nie – asof almal aan die loofhuttefees moet deelneem, besny moet word, groot gedoop moet word, vrouens in die huis hoort, in tale moet spreek, moet kan profeteer.

Dit is ‘n fase waarin die menslike, historiese karakter van die Bybel beklemtoon is en allerhande dinge gesif, gekritiseer, bevraagteken en getoets is.

Tog, is in hierdie nuwe fase geglo, kan ‘n mens, selfs al het jy verstandelik en krities die Bybelse teks gelees en geweeg, agterkom wat die waarde van die Bybelse teks is. Ricoeur het gepraat van ‘n tweede naïwiteit: om, deur kritiese denke heen, gelowig te kan bly. Die mens kan op ‘n verbeeldingryke manier die lewegewende boodskap van die Skrif ontdek en deur hierdie interpretasie van die Bybel tot ‘n lewe van vernuwing aangespoor word. Wat hier gebeur is dat ‘n mens die toepassing van historiese-kritiese werk en die afbreek van valse, fundamentalistiese misverstande oor die Bybel (bv. Vroue mag nie ‘n amp beklee nie, slawerny is nie verkeerd nie, die doodstraf is noodsaaklik) verbysteek en nou vra: wat is daar in die Bybel wat geloof dryf, inspireer en vreugdevol maak.

Maar daar is nog meer wat kan gebeur en wat ons bring by ‘n derde groot beweging – wat ons, opwindend genoeg, weer verbind met die vroegste van vroeë geloofshelde en  hul geloofservarings. Wanneer ‘n mens die waarde van die teks ontdek het en die rykheid van geloof in jou eie lewe daardeur versterk word, kom daar ‘n derde dimensie by. ‘n Mens kan dit inderdaad ‘n derde naïwiteit noem. Dit lê op die vlak van die kontemplatiewe: Nou is daar verwondering, stilte, ontsag – nie net vir die Bybel as ‘n gelaaide, durende en bevrydende teks nie, maar veral vir die Een wat deur die Bybel en soms selfs ondanks die Bybel die mense-hart aanraak en roer. Nog meer: die derde naïwiteit beteken ‘n verlangende openheid vir die werking van God hic et nunc – in die mens se lewe hier en nou. Want waar dit gebeur ontdek die mens dat hy of sy die beeld van God dra, dat God nie net in die Bybel en in die geloof teenwoordig is nie, maar by die mens inwoon.

In die derde naïwiteit word aan die mens opnuut weer onskuld, soos in die paradys, geskenk – om nakend in die teenwoordigheid van mekaar en God te woon.

Blog Archive