Tuesday, January 08, 2013

In eenvoud in God se teenwoordigheid.

-->
Ek onthou hoe ek die  tweede Afrikaanse vertaling van Thomas a Kempis se Die Navolging van Christus ervaar het toe ek dit moes geresenseer het.

Die inhoud daarvan was op die oog af heel prakties, doodgewoon en, het ek by tye gevoel, herhalend. Dit lyk na ‘n eenvoudige, eintlik simplistiese boek – soos Waaijman dit ook beskryf.

Maar, het ek destyds geskryf, dit is ‘n boek wat ‘n mens nie soos ‘n storie lees nie. Jy lees dit stukkie vir stukkie. Ruminerend, herkouend.

En dan was daar by tye die wonderlike lewenswysheid en die sterk bewussyn van God se liefdevolle teenwoordigheid wat my geraak en geboei het. Sy viering van die liefde in Boek 4 is enige dag net so aangrypend soos 1 Korintiërs 13.

En, het ek later besef, jy lees die boek in die lig van die geheel om nog meer daarby ingetrek te word en daardeur aangespreek te word.

Eers wanneer ‘n mens die gang van die boek in gedagte hou, begin jy agterkom waarom geslagte van mense die boek as ‘n bron van geestelike groei en inspirasie gelees het.

Net om hieroor na te dink, bring ‘n stuk geestelike verryking.

Daar is vier afdelings:

Daar is, eerstens, wenke (nie reëls nie!) vir die geestelike lewe in boek 1. Hier het ‘n mens te doen, volgens Waaijman, met die ommekeer wat in mens se lewe moet plaasvind wanneer jy op jou geestelike reis vertrek. Op die weg onderskei ‘n mens die lig van die duisternis en groei jy na die lig toe. Waaijman skryf hieroor: “die selfgenoegsame wete, die ongeordende drifte en die strikke van sosiale vervlakking word verlaat, om binne te gaan in die waaragtige eenvoud, die luisterbereidheid en die onderlinge liefde. Op die manier kom die wêreld van God aan die lig.”  ‘n Sin om aan te kou – en wat wêrelde van betekenis oproep. Thomas, in ‘n tyd van vervlakking in die korrupte kerk en maatskappy, vra dat ‘n mens moet iewers moet begin om daarmee te breek. Die reis moet begin en ‘n mens moet goed weet waarheen jy reis.

Dan volg in Boek 2 die wenke wat met die mens se innerlike te doen het. Dit gaan in die deel om ‘n godsdiens wat meer is as blote pligpleging, as blote formaliteit en as uiterlike handeling. In hierdie opsig gaan dit in die Navolging om die onderskeiding van wat werklik saak maak, wat godsdiens innerlik aan ons doen en hoe dit ons transformeer. Hier is daar sprake van ‘n wedersydse innerlikheid van God en mens. Wie sy innerlike oopstel vir God, deel in die innerlike van God. Met groeiende toewyding en innigheid, skryf Waaijman, gaan ‘n mens binne in die innerlikheid (interioritas) van God. Dit gebeur wanneer ‘n mens God in jou innerlike toelaat. Die gevolge kan jou nie onaangeraak laat nie. Want waar God in mense woon, leef ‘n mens heilsaam. Om met God innerlik te wandel vra ‘n pynlike proses van afsterwe aan jouself, van onthegting aan jouself. Hoe meer ‘n mens sterf aan eie belang, hoe meer lewe ‘n mens vir God. Ja, dus, dit gaan om die mens se innerlike – maar dan om die innerlike as die woonplek en werkplek van God.

In boek 3 skryf Thomas oor die nagmaal (nie, soos in die meeste teks-uitgawe’s in boek 4 nie). Die nagmaal is ‘n belangrike deel van die geestelike reis: ‘n Mens ontdek Christus as die ewige middelpunt van die lewensweg. ‘n Mens groei in gelykvormigheid aan Christus en deur  Hom draai ons na die ewig lig van die waarheid, wat God is (Waaijman). Maar hoe word ons gelykvormig aan Christus? Veral deur die nagmaal, maar ook deur Bybellees, deur naasteliefde, deur gebede, deur die oorskryf van manuskripte (‘n tipiese kloosterbedrywigheid) en deur onderwys. Dit is alles  geestelike oefeninge waardeur ons Christusgelykvormig word.

Boek 4 handel oor die innerlike vertroosting. Hier praat Thomas oor die voltooing van die geestelike reis wanneer ons uiteindelik die troosryke genade vier. In die laaste verse van die boek skryf Thomas: “Die voltooing van alle goeie dinge, die hoogtepunt van ons lewe en die diepste grond van ons spreke is U. En die sterkste troon van U dienaars is om op U te vertrou bo alles.”

Elke hoofstuk van die Navolging moet in die boeke en in die lig van die hele teks gelees word. Soos die naald van ‘n kompas altyd na die noorde wys, so is elke wysheidspreuk en aforisme in die Navolging steeds weer gerig daarop dat ons bewus moet wees van God se liefde en die weg daarheen. Dit gaan om geestelike groei, steeds meer en meer op soek na die diepere bewussyn van die goddelike omgee en troue liefde. In ons geestelike reis rus ons en eindig ons in die goddelike troos. Meer nog, dit wat werklik saak maak is om in God se teenwoordigheid geborge te wees. Dit is ons enigste troos. 

Waaijman skryf oor die vraag of die Navolging van Christus 'n simplistiese boek is. Hy antwoord: "Dit is nie eenvoudig om die boek te lees nie. 'n Mens het 'n stuk eenvoud daarvoor nodig. Maar by die eenvoud moet 'n mens met 'n kritiese insig en met kritiese versigtigheid lees terwyl 'n mens 'n "gedugte leesvertraging" handhaaf. 

Die Navolging se eenvoud is dus bedrieglik. Dit is 'n boek gelaai met insigte. Dit is nie verniet 'n klassieke teks  nie: die versigtige, geduldige leser wat presies en sorgvuldig lees ontdek daarin 'n mistieke mede-reisiger op die geestelike lewensweg. 


Blog Archive