Sunday, January 13, 2013

Vanwaar mense se belangstelling in die kloosterlewe?

Waarom wil mense vandag meer leer oor die kloosterlewe? 

Kan die vroeëre kloosterlewe vandag nog enige sin maak?

Die eeue-oue kloosterlewe is  vir vele ‘n verskynsel uit die verre verlede wat moeilik in ‘n moderne konteks inpas. Vir 'n lang tyd het mense dit ongebalanseerd of eenvoudig lagwekkend gevind. Selfs binne die kloosters het die getalle opgedroog soos monnike weggegaan het of nuwelinge nie aangemeld het nie.

En tog bly ‘n klomp mense aangetrokke tot die gedagte in die kloosterlewe. Films oor die kloosterlewe maak groot opslae en word wêreldwyd treffers (Of Gods and Men, The Great Silence) wat groot gehore lok.

Die monastieke lewe word weer in ons tyd ernstig opgeneem. Dit laat mense verwonder en bring hulle selfs tot bewondering en benyding.

Des te meer omdat tradisionele stutpunte aan die wegval is. Godsdienstige instellings is onder druk. Kerke kwyn. Bekende kerkleiers word geïgnoreer as hulle leiding gee, indien hulle nie geminag word nie.

Tog mis mense iets deur hierdie proses van agteruitgang. Hulle is ongemaklik met hul lewens en vind dat hulle net tot op ‘n punt die besige, gulsige en uitspattige kultuur waaraan hul geestelik ondergaan, kan verdra.

Teenoor hierdie haastigheid staan die stil lewe in die klooster. Daar, idillies selfs, is ‘n mens weg van die druk en oor-moegheid wat ‘n mens se daaglikse roetine oproep. Hier kan ‘n mens oor dieper vrae nadink, die verborge, durende dinge ontdek. 

In baie gevalle het mense hierdie verwondering van die kloosterlewe omgesit in dade. Afsonderings in stil plekke en meditasie kry daarom weer veel aandag. Met tye in "retreats" en reise op pelgrimstogte wil hulle die behoefte vul.

Tog is selfs hierdie alternatiewe te gefragmenteerd. Daar is nie samehang tussen die ruspose’s en die besige lewe nie. Dit antwoorde is te selektief, te willekeurig.

Dit is nie altyd maklik om durende antwoorde te vind en die afgeronde lewensstyl te ontdek nie. Soms kom die dieper antwoord net deur stryd, stroping en prysgawe van diepgevestigde gewoontes en oortuigings. In die stryd om antwoorde en alternatiewe word al die vrae wat ‘n mens altyd het, akuter. Om jouself te vind te midde van die geweld van die konvensionele lewe en die verval van tradisionele strukture is nie maklik nie. 

Iemand wat weet dat dit nie verder so kan gaan nie, dat dit ‘n saak van lewe en dood is, pak die reis dus moedig aan. Net soos sweet en toewyding ‘n gesonde liggaam en gees kweek, net soos toewyding nodig is om versorgd te leef, te bly en te werk, net so moet die sin van die lewe deur inspanning ontdek word.

Dit is ‘n reis na self-vervulling, na daardie punt in jou lewe wat vervulling bring en sin gee.

Wat gebeur wanneer ‘n mens jouself te midde van die onstuimigheid van ‘n sinlose bestaan ondersoek?

Heel eerstens begin jy oortolligheid raaksien. Jy ontdek hoe die tyd van stroping aangebreek het. Jy besef hoe onsinnig vele van jou aktiwiteite is waaarmee jy onnadenkend en ongetoets besig is.

‘n Mens herken in die proses dat alles wat ‘n mens so onnodiglik jaag, gedryf word deur begeertes en gevoelens waaroor ‘n mens nooit vrae vra nie. Die oortolligheid is die gevolg van onnadenkendheid, van ‘n lewe wat deur ander gedikteer word en waarvoor eise van buite jouself aan jou gestel word.

Dit kom na vore in so ‘n eenvoudige saak soos ‘n kostafel. Ons eet byvoorbeeld dikwels enige iets wat voorkom, net omdat ons lus is of omdat ons dit altyd doen. Die eet-soveel-as-wat-jy-wil of kan advertensie-veldtog het ons siel ingedring en van ons vrate gemaak. In die kloosterlewe eet die monnik sober, op vasgestelde tye en – merkwaardig – in stilte terwyl iemand ‘n diepsinnige werk voorlees. Die ete is deel van ‘n lewe wat ‘n patroon het. Daar is ‘n tyd om te bid, ‘n tyd om te werk en ‘n tyd om te eet. Die patroon van sinvolle lewe begelei al hierdie aktiwiteite. Eet omdat dit sinvol is. Nie om sommer net te eet nie.

Wat belangrik is is om te dink oor mens se bedrywighede – hoe eenvoudig ook al – en om hulle te toets. Die versigtige nadenke oor mens se dade is ‘n verdere stap tot ‘n sinvolle bestaan. Mense leef met ‘n innerlike gerustheid dat hulle die regte ding doen.

Neem ‘n ander voorbeeld van sake wat aan mense krap: ‘n Mens het vreugde in ‘n lekker, ontspanne saamwees met ander in gesprekke or klein of oor groot dinge. Tog kan sommige soort gesprekke ook ‘n barometer van mense se geestelike vlakheid word. Mense stap soms weg, skaam oor roekelose praatjies vol veroordeling en negatiwiteit waaraan hulle deel gehad het. Thomas a Kempis skryf in sy Navolging dikwels hieroor.

Miskien sal dit ‘n goeie geestelike oefening in die teken van meditatiewe besinning wees om saans, voor slaaptyd, boedel op te neem oor wat ‘n mens alles deur die dag kwytgeraak het. Opvallend is dat mense in hierdie opsig veral ook na stilte vlug, weg van ydel praatjies wat hul lewenssfeer elke dag bedompig maak en hul aftrek in ‘n spiraal van vlak- en hardheid.

Dus, net soos met liggaamlike oefening wat ‘n mens goed laat voel, kan stilte, nadenke en geestelike oefening aan ‘n mens ‘n innerlike lewensstyl gee wat vervullend is en ‘n mens geestelik opbou.

Hiervoor maak ‘n mens ongewilde keuse’s of leef soms stroom-op. Dit bring ook mee om dinge op te gee wat familie, vriende en kollega’s steeds weer as normaal beskou. Maar ongewilde keuse’s is nog lank nie ongebalanseerde keuse’s nie.

Self-ondersoek behels ‘n keuse vir volwasssenheid – om nee te sê vir die dinge waarvan ‘n mens sat is en wat jou lewe aftrek na onder. Dit beteken egter veral ook om te besef ‘n mens is deel van ‘n groter geheel, opgeneem in ‘n groter raamwerk. Dit bring mee dat ‘n mens dikwels jou eie wil prysgee en inval by wat ander wil. ‘n Mens begryp dat jou eie dinge ‘n tweede plek moet inneem. Dit verstaan jy, leer jy aan en oefen jou daarin – want dit is nie maklik nie.

Iewers bring self-ondersoek jou om te besef hoe nodig jy ander mense het, hoe sinvol goeie verhoudings is, hoe self-opofferend, maar juis ook goed (selfs) onbeantwoorde liefde is, hoe verniet vriendelikheid is en hoe belonend omgee vir ander kan voel. Dit bring, weer eens in die monastieke idioom, jou om jou omgewing hoog te ag, sober en eenvoudig met besittings om te gaan en om jou hande in koue water te steek om wille van ander. Soekers vind in verhoudinge, transformasie en die durende reis ‘n uitkoms – in die rigting wil ‘n mens loop, ontdek ‘n mens ‘n vervullende lewe.


Blog Archive