Thursday, January 31, 2013

Om in liefde te groei

Geseend, sou sommige ons konferensie van vandag noem. Ek sou, stemmig, hierop amen roep.

Ek is dankbaar. Dit was goeie oomblikke.

'n Klomp mense waaarvan sommige oor jare heen met spiritualiteit besig is. Maar dit is ook in die grein van hul bestaan ingegraveer.

Jy hoor hulle praat - met insig, met soveel sinnige bydraes en soveel wysheid. Egte wysheid.

Daar is 'n gemeenskaplike band wat tussen ons ontwikkel het oor die afgelope paar jaar wat kollegialiteit en 'n fokus op Spiritualiteit transendeer.

Iewers, sou 'n mens dit miskien kon beskryf, is dit mense wat steeds weer gefokus is op die Verborge, op die Een wat al ons denke dryf en dra, maar wat dit ook bevraagteken en dikwels ook te bowe gaan.

Die wete is : die wetenskap is maar net nog 'n manier om in jou 'n ruimte oop te maak sodat God, genadiglik, op die regte tyd en op die regte manier 'n mens se hart kan aanraak.

Dit, hierdie aanraking, dit is wat tel, dit is die verlange wat teenwoordig stel, wat vrymaak.

Dan was daaar die jongetjies, die manne en die susters wat nog bietjie vra en vingerwys en rondtas.

Mooi mense.

Kom ek dus terug, hier op die lughawe, op pad huis toe, na vyf dae op die pad, met 'n woord van Paul vandag so tussenin al ons gesels uitgestrooi, soos die spreekwoordelike saadjie wat sommer summier in my hart ontkiem.

Wat is liefde?, vra hy. Wanneer 'n mens onderskei, soek na hoe 'n mens in God se teenwoordigheid met jou lewe bly, moet 'n mens natuurlik steeds toets of dit werklik God is met wie 'n mens op weg is. Ons idee van God kan soms lelike skeef en krom wees. Dit kan soms 'n afgod word. 

Dus moet ons gedurig weet wie God is oor wie ons praat en tot wie ons bid.

Maar ons moet ook nadink oor so iets soos die liefde, voeg hy by. Die liefde is 'n woord wat ons maklik praat. Maar wat bedoel ons daarmee? En hoe bedink 'n mens die groot koms van die liefde in 'n mens se lewe? Hoekom gebeur dit dat 'n seker teken van geloofsgroei gevind kan word daarin of 'n mens 'n liefdevoller mens word?

'n Seker teken van God in 'n mens se lewe dus: of die liefde steeds weer meer en dieper en groter word in jou innerlike.

Ja bedink ek : dit is sekerlik waar. Sekerlik is dit 'n teken dat God inwoon as die liefde meer en meer word.

Maar hoe mooi is dit, hoe oorweldigend om ook te besef dat daar sommige mense is, onbekende, ongerekende mense, in die wereld maar ook tuis wat vroeg-vroeg in hulle lewens deurdrenk is met die liefde. Hulle leer nie liefde nie. Hulle groei nie in die liefde nie. Vroeg reeds woon hulle voluit in die liefde.

Daar is sulke mense. Daar is.

En, genadiglik, as gawe, is dat hulle vir jou, wanneer jy vra wat liefde is, antwoord. Hulle roep jou toe, sonder woorde, sonder praat, as jy maar net daarop ingestel is: die liefde is hier. Kyk net. Dit woon naby jou. 

.

Blog Archive