Saturday, January 12, 2013

Egte omvorming


‘n Mens is, word dikwels gesê, die een wat jou eie bestaan kan bepaal. Jy maak die keuse’s wat dinge in jou lewe in ‘n goeie rigting stuur. Jy veg vir jou ‘n pad in die lewe oop.

Dit lyk na ‘n opvatting wat te doen het met ‘n verantwoordelikheidsin, met toewyding en idealisme. Om suksesvol te kan presteer, is die begeerte van baie mense en is ‘n goeie karakter-trek.

Dit lyk na ‘n algemene manier waarop ‘n mens getransformeer raak.

En tog is die vraag wanneer hierdie lewensdrif en selfbemagtiging omslaan in eie-magtigheid. En net so ook is hierdie drome vir jouself soms die stalmaat van ‘n tipe self-bemagtiging wat net op jouself ingestel is sodat al jou behoeftes, begeertes, welsyn en geluk om jouself draai en jouself in die oog het.

Jou lewe word, in die woorde van Blommestijn, ‘n “eie projek” wat jy self aan die gang hou.

Tog hou dit nie met die werklikheid rekening nie.

Eintlik sit daar in so ‘n self-gerigte gedrewenheid ‘n stuk ontvlugting. Met allerhande “bokspronge” probeer mense wegkom van die waarheid wat diep in hul binneste leef.   
Eintlik ontken mense hulself deur hulle self-gerigte greep op hul eie lewe. Mense vlug maklik weg in allerhande onrealistiese rigtings eerder as om te begin waar dit werklik saak maak. Hulle begryp nie eintlik dat alles wat ons altyd so geniet en opsoek, verganklik is. Een oomblik is dit daar, dan is dit weg.

En al die tyd kom hulle nooit eintlik in aanraking met wat werklik saak maak nie. Hulle besef nie dat al die uiterlike dinge wat die lewe so vol maak en mense so besig hou, ver verwyderd is van die belangrikste van alles nie.

Wat is die belangrikste en wat maak saak? Wat is dit wat lewens verander en waarna mens moet streef?

Die antwoord vind ‘n mens eintlik veel nader as wat mense ooit dink. Wat saak maak, is te vind in ons innerlike ruimte. Dit leef in ons binneste.

In godsdienstige taal praat mens van God wat in mense woon en werk. Elke dag is die krag van God teenwoordig in ‘n mens se innerlike bestaan.

God se teenwoordigheid in mense sal nooit ophou nie. Die is die enigste volle waarheid wat daar bestaan, want daar is niks verganklik aan God nie.

Terwyl mense vasgevang is deur onbetroubare, wisselende, verganklike en tydelike dinge, versper dit die pad na vryheid.

Die groot uitdaging is om te ontdek dat mense in hul binneste totaal vry kan wees.

Dit is waarom spiritualiteit gaan.

Dit wat werklik saak maak, woon in die innderlike en stroom onophoudelik deur mense. Dit is die krag wat mense in stand hou.

Wanneer ‘n mens dit ontdek, is die volgende stap dat ‘n mens omgevormd moet word in God.

Dit is nie ‘n wettiese proses nie asof ‘n mens deur allerhande reëls en regulasies ‘n goeie Christelike lewe lei nie.

Prakties beteken dit ‘n proses om Christus uit te beeld. Ook dit is nie ‘n wettiese proses asof ‘n mens allerhande voorskrifte van Jesus volg en gehoorsaam nie.

Wanneer ‘n mens soos Christus leef en optree, word ‘n mens bewus van die intieme verhouding van Jesus met die Vader, skryf Blommestijn. Christus baan die weg vir die mens en skep die ruimte vir die mens om ook die intieme verhouding met God te ervaar. Gedurig, ontdek mense, word ‘n mens deur God nuut gemaak, tot nuwe mens geskep.

‘n Mens se lewe is dus nie in die eerste plek op jouself gerig en om jouself te bemagtig nie. Die keuse’s is nie joune om te maak nie.

‘n Mens se lewe bestaan veel eerder daaruit dat jy jou oorgee aan God se skeppende liefde. Dit behels dat ‘n mens na binne kyk, na die ruimte in jou waar God woon, waar ‘n mens steeds weer vanuit ‘n intieme verhouding met God word wat God wil hê jy moet wees.

Waar dit gebeur, word ‘n mens omgevorm om God se wil te doen. Dan word die wet van God die rigsnoer van die lewe.

Deur in die binneste te kyk, in die ruimte waar God woon en met ‘n mens ‘n intieme verhouding aanknoop, raak ‘n  mens vry en ontdek ‘n mens hoe blind ‘n mens kan wees vir die krag van God wat in ‘n mens se binneste vloei.

Blog Archive