Tuesday, January 29, 2013

Ewige skoonheid

Seuntjie se kersvakansie breek aan, weer eens, by die geliefde strand. Hy kom ver vir die kuiertjie, van verre lande af.

Hy is eintlik al 'n seun. Seuntjie-tyd begin verdwyn. 

En hierdie jaar ontdek hy die branderplank. 

Dieperig, verder as vantevore, kan hy al inswem. 

Hy is ouer, vaster op die voet, meer durfdadig. Hy sukkel-sukkel om die ritme van brander-ry te vind. Maar met die gawe van jeug se vindingrykheid en spoed, kom dit gou, byna vanself. 

En spoedig is hy die jaagduiwel op pad strand toe.

Keer op keer weer spoel hy uit - elke keer 'n ander brander, 'n ander belewenis, nuwe genot.

Maar die see bly soos dit is. Dit bly hom optel en uitdra

Die see ken dit al. Geslag na geslag, onthou ek, net uit my kort bestaan, loop die wonder-pad van ontdekking, van opwinding, van lewensvreugde - sommer net lewens-blydskap. 

Die see het al vele sulke grootword-fase's bekyk.

Ewig die branders, wat jaar na jaar spoel en speel. Die  diep-blou lig bly altyd by en om ons. Die see sprei sy wit waters nog 'n keer, nog 'n jaar, kerswit om ons. Op die agtergrond lê die heuwels van oertye af geduldig, groen, wakend, stil.

Dit is suiwer en durende harmonie. In die skepping, in die tyd, van generasie tot generasie, 'n ritme van goedheid en herkenbaarheid.  

Die mense kom en gaan. Tye verander. 

Maar niks verander nie.

Tog geen wonder dat die Bybel 'n skeppingsgeloof verkondig nie en dat van die mooiste Psalms, die natuurpsalms (8, 19, 29, 104 en 148), vertel van glo, van die blydskap wat ons aardse dinge bring, van die dankbaarheid wat die natuur in 'n mens laat opkom.

Maar dan steeds weer nie soseer oor die natuur nie, as om die Here van die natuur te erken en te loof vir voorsienigheid en getrouheid. 

A minore ad maius.

Ewig, bedink ek, terwyl ek die woelige vreugde inneem, is God se goedheid - die goedheid om vir mens soveel vreugde te skenk, op soveel maniere, in soveel plekke en deur soveel skoonheid. En om, dan, nog meer, te kan weet, dit gebeur nie maar net nie. Dit is genade, herkenbaar deur opwindende, blye geloof. 















Blog Archive