Monday, January 14, 2013

Nuutgemaak in eenvoud en suiwerheid. Hoe om angs en kommer kwyt te raak.

‘n Mens wat innerlik vry geraak het, wat losgemaak word uit die greep van  uiterlike, verbygaande dinge, word ‘n “nuwe” mens. Sy of hy leef uit en vir hul verhouding met God.

Die vernuwing kom deurdat God die mens bo hom- of haarself uitlig. God gee aan mense, wanneer hulle vernuwe word, by wyse van spreke “vlerke” om uit te styg bo hulle omstandighede. Soos die beroemde beeld van die arend van Jesaja 40:31.

Die oorgang tot ‘n nuwe manier van bestaan is eintlik opvallend: Die mens is normaalweg deel van ‘n situasie waarin mense hulle bekommer oor allerhande bedreiginge: armoede, hongerte, liefdeloosheid, ontrou en verganklikheid is van die sake wat mense gevange hou, onseker maak en waarteen mense hulle self wil afskerm.

Dit is nou een maal hoe ‘n mens jou situasie beleef.

‘n Mens word vry uit die tronk van hierdie self-gerigtheid en kommer wanneer ‘n mens alles vanuit God se perspektief bekyk.

Daar is twee dinge waardeur God die mens laat uitstyg bo sy of haar omstandighede.

Dit gebeur wanneer mense in eenvoud totaal afhanklik is van God en hulle heeltemal op God instel. Die mens kom tot die punt dat hulle hulself herken as skepsels van God en hulleself heeltemal instel op God as skepper wat ‘n totale aanspraak op mense se lewens het. Hulle besef dat hulle skepsels is, dat hulle hul bestaan aan God te danke het en dat hulle gedurig deur God herskep en vernuwe word.

Terselfdertyd leef ‘n mens in suiwerheid getrou aan die verhouding wat ‘n mens met God het. Deur hierdie eenvoud en suiwerheid word die self en die kommer uit die weg geruim en sien ‘n mens weer die gelaat van die Ander, skryf Blommestijn. God kry die totale aanspraak op ‘n mens se lewe. ‘n Mens probeer nie meer die werklikheid netjies beheer en na jou hand te reël nie (sien NC 2.4.6-15).

Ek is veral geboeid deur Blommestijn se opmerkings oor die implikasies van die lewe in eenvoud en suiwerheid. Die gevolg van eenvoud en suiwerheid is dat ‘n mens nuut na die skepping kyk. Die skepping en elke skepsel word ‘n verteenwoordiger van God se goedheid. “Soos iemand van binne is, so oordeel hy of sy na buite,” skryf Thomas a Kempis wanneer hy praat oor die hele skepping wat ‘n openbaring is van God se onvoorwaardelike liefde. As jy van binne nuut is, in eenvoud en suiwerheid leef, bewus van God se genadige skepping, gaan ‘n mens ook so na buite leef. Niks of niemand het of besit op sy of haar eie die lewe nie. In elke mens en skepsel werk en praat God. “Selfs die kleinste en mees onooglike wese wys vir ons die volheid van God se goedheid”, skryf Blommestijn.

In vreugde oor God se lewegewende werking in die skepping, dra ‘n mens ligter aan dinge wat ‘n mens andersins so swaar en moeilik gevind het.

Hoe meer ‘n mens in die liefde bly, hoe vryer ‘n mens word van angs en kommer wat God se teenwoordigheid in ons lewe verdonker, hoe meer word ‘n mens tot die nuwe mens omvorm. “’n Mens word deur die vuur van God se liefde losgeweek van die angstige besorgdheid oor jouself” haal Blommestijn vir Thomas a Kempis aan.

Die mens as nuwe skepsel besef dat jy as skepsel niks het en op niks kan aanspraak maak nie. God het ‘n mens immers tot lewe gebring. Mense het in hul self van nature alleen maar nie-syn. Uit niks is ‘n mens gebore en uit niks het die mens ontstaan.

Hierdie insig van jou eie geskapenheid en skepsel-wees bring die nuwe mens tot dankbaarheid en lof. Dit is die mens met ‘n suiwer hart wat in blydskap leef.

Die kernvraag wat ‘n mens vanuit jou menslike bestaan moet vra is of ‘n mens God erken as die Gewer van goeie dinge. Die mens is nie outonoom nie en “beskik” nie oor sy of haar lewe nie. Wanneer ‘n mens dink jy die reg op bestaan het, vergryp ‘n mens jou aan die genadegawe van God en sluit ‘n mens die deur vir die intrede van God in ons werklikheid.

Nou begryp mense: God vorm die werklikheid, God skep die nuwe dinge. Angs en kommer wyk voor hierdie wete.

Mense word dus omvorm in skepping: Hulle raak bewus daarvan dat hulle bestaan ‘n geskenk van God is. Uit genade het God die mens gevorm. En hierdie omvorming van God duur voort. Wat God begin het, word daagliks voortgesit wanneer God gelowiges gedurigdeur tot nuwe mense maak. Nooit kom die omvorming in skepping tot ‘n einde nie.

Wie innerlik vry geraak het, woon in die teenwoordigheid van God – die Een wat nuut geskep het en steeds weer nuut maak.

Blog Archive