Saturday, January 26, 2013

Die treurlied op die lier. Oor weggesteekte lyding.


By die stil Vroue-monument in Bloemfontein, seker een van die aangrypendste gedenk-plekke ter wêreld, is daar ‘n reeks gedenkstene langs die wandelpad wat na die monument self loop. Jy sien hulle nie sommer raak nie, veral nie op 'n foto nie.

Onskuldig lyk hulle soos blote versierinkies.





Anders as in Dachau, daardie verskriklike monument waarin die barre toestand van die konsentrasiekamp waarin vele Jode gewetenloos vermoor is, is by die Vroue-monument geen sigbare of opvallende uitstallings van die grusaamhede wat die slagoffers van die oorlog aangedoen is nie.

Heel eenvoudig is daar net die een gedenksteen langs die ander.

Op elke gedenksteen word ‘n dorp se naam gelys en onder die naam die getalle van kinders onder 16 wat gesterf het, gevolg deur die getalle van mense bo 16 jaar. 

En dan volg daar 'n Bybelteks (kan iemand tog nie 'n skripsie oor die tekste skryf nie?). 

Die eenvoudige lys sal die onoplettende, vinnige verbyganger nie maklik roer nie, selfs al sien 'n mens hulle raak.

Maar as jy gaan stil staan en daarna kyk, jou inleef in die werklikhede agter die syfers, word die monument ‘n cri de Coeur, meer nog, ‘n verdoemende klag teen hulle wat mag so vanselfsprekend dink te besit en uit te oefen. 


Hier staan in getalle uitgeskryf waaroor Openbaring praat: die kwaad wat hom veral in geweld uitdruk, maar vermom deur allerhande edele motiewe van die eerbare oorlog, vaderlandsliefde, regte vir mense, die Britse Ryk, dapper soldate, helde-vegters. Want op die manier het die Britse Ryk sy moorde in daardie nuttelose oorlog verdedig. 

En die eerste teikens van daardie o so nobel gepresenteerde  stryd is die sagte mense, die kinders, die jonge’s onder 16 jaar, die vroue en die oumense. 


Dit is die skreiende getuienis van gedenksteen na gedenksteen, in die nou meestal vergete, selfs bietjie verwaarloosde monument in die wye Vrystaatse ruimte. 


Ry na ry, ‘n klein steentjie in die breë pad van herinneringe, staan hierdie onopvallende heenwysings na liefdeloosheid, hatigheid, onverdraagsaamheid, gierigheid en vele ander van die dryfkragte wat ons menslike bestaan kenmerk.

Hoe sal ons ooit die greep van die kwaad ontkom? Want eeu na eeu is daar maar nuwer en dodeliker vorme van gewelddadigheid?

Het, om Paulus dan te onthou, Christus verniet gesterf?

Spiritualiteit moet sulke tekens uitlig, bekyk en beleef – want deur sulke kwaad word die stryd om lewe aangevuur. Die Gees ken nie geweld nie en wil dit oorwin. 

Ter nagedagtenis van die 546 kinders onder 16 jaar  van Aliwal-Noord wat in die oorlog gesterf het, is daar die Job-teks:

Al wat vir my oorbly is 'n treurlied op die lier, 'n lied van trane op die fluit. (Job 30:31.) 

Blog Archive